Skitternag vir dokter Vasti. Rykie Roux

Skitternag vir dokter Vasti - Rykie Roux


Скачать книгу
ion>

      

      Skitternag vir dokter Vasti

      Rykie Roux

      Hartklop

      Vir Driesman. Dankie vir al die klankbordsessies.

      Baie dankie ook aan dokter Felicia Kleuver wat my so geduldig oor ’n cappuccino vertel het van haar lewe as ortopediese chirurg. En aan dokter Cathy van Rooyen, patoloog, wat my vrae oor FFI so vinnig kon beantwoord. Soos altyd dankie aan dokter Hendrik van Wyk. Hoe skryf ek mediese romanses sonder jou hulp, swaer?

      1

      “Hallo, Vasti,” sê hy.

      Vanwaar sy op die kombers langs die beseerde kind sit, kyk sy op.

      Frits.

      “Wat maak jy hier?” vra sy, en hoop sy steek haar blywees om hom te sien goed weg. Want Jacques is ’n faktor. Sedert verlede Saterdag ’n amptelike faktor.

      Hy hurk langs haar. Soos gewoonlik registreer haar liggaam sy teenwoordigheid, want die fyn haartjies op haar voorarms staan regop.

      “Kan ek help?” vra hy en hou sy hand na die kind uit.

      Eers flits vrees in die kind se oë. Frits vat nie sy hand weg nie, maar hy bring dit ook nie nader nie. Hy behou oogkontak, maar laat die seuntjie toe om self te besluit of hy hom gaan toelaat om aan sy arm te vat. Toe die kind nader aan hom leun, sien Vasti hom verlig glimlag.

      In die vier jaar wat hulle saam gestudeer het om mediese spesialiste te wees, het sy oor en oor gesien hoe intuïtief kinders hom vertrou. Eendag sal sy eie kinders dit ook doen. Dis hoekom sy en Frits nooit … Nee, nie nou daaraan dink nie. Net soos wat sy nie nou kan bekostig om oor haar ma te treur nie.

      “As jy sy arm kan vashou, kan ek vinniger die gips … daar is nog so baie … wat maak jy hier?” Klink sy so onsamehangend soos sy voel?

      “Wanneer laas het jy geslaap?” vra hy. As hy frons, maak sy vel twee ewe groot opstootjies tussen sy wenkbroue.

      Gisteraand? Eergisteraand? Of het sy nog nooit geslaap sedert dokter Pierre Peens haar by die vliegveld gaan haal het nie? Sy weet nie meer nie.

      Sy probeer lag, maar dis te veel inspanning. “Nie tyd nie.”

      Amper laat val sy die gips, haar hande bewe so.

      Hy vat die pak by haar. “As jy klaar is met hierdie kêreltjie, gaan jy eers ’n bietjie rus. Jy kan nie so aangaan nie, Vasti,” sê hy ontevrede.

      “Het jy gesien hoe sit hulle en wag?” vra sy.

      Vandat die sikloon Maandag die kus van Mosambiek getref het, raak die aantal slagoffers wat by die haastig ingerigte kliniek opdaag geleidelik al meer. ’n Tak het een se kop oopgeval; baie ander, soos die boepmaagseuntjie voor haar, is beseer toe hulle hutte omgewaai het terwyl hulle geslaap het. En al hoe meer kom kla oor ’n omgekrapte maag.

      Sy hoop die medisyne hou. Nes haar ma daar op die sendingstasie altyd moes hoop die medisyne hou. Verlange krater haar binneste oop. O, sy mis haar.

      “Wat maak jy hier?” vra sy weer vir Frits en skud haar kop om die gezoem wat die laaste paar uur in haar ore is weg te kry.

      Sy gesig kom al hoe nader, sy kan die swart baardstoppeltjies op sy kakebeen uitmaak. Hy het stippels porseleinblou in sy grys irisse. Sy het dit nog nooit raakgesien nie.

      En skielik is die gezoem weg. Met ’n vingerklap is sy weggevoer na vergetelheid.

      Vaagweg raak sy bewus van sy arm om haar skouers, haar voete wat asof vanself voortstrompel.

      “Amper daar,” sê hy.

      Is sy wakker of droom sy? Hy ruik so lekker. Na groen goed wat geil groei. Na Frits.

      Toe sy wakker word, lê sy op ’n slaapmat. Dis donker, maar skyfies maanlig peul deur die splete tussen die riete van die skuiling. Verder weg kan sy ’n dreuning hoor wat sy behoort te ken, maar nie kan plaas nie.

      Sy kom op een elmboog orent. Waar is sy?

      Die onthou tuimel oor haar soos wasgoed wat uit ’n mandjie geskud word. Mosambiek, sikloon, Frits.

      Frits! Sy het baie ander goed vergeet wat die afgelope ses en negentig uur gebeur het, maar sy onthou duidelik dat sy hom drie keer gevra het wat maak hy hier. Hy het haar nie een keer geantwoord nie.

      Hoe lank het sy geslaap? Ook dit weet sy nie. Maar sy voel meer uitgerus.

      Sy lig die rietmat op wat voor die deuropening hang, stap by die skuiling uit en voel die sand onder haar voetsole. Nou weet sy wat die dreuning is wat sy hoor: die see. Die see wat vier dae gelede al die speelgoed uit sy waentjie gegooi het. Onder die speelgoed was ’n siedende sikloon. En nou lê die water rustig soos ’n plaasdam in die maanlig en dein.

      By die groot weermagtent wat as die kliniek dien, sien sy lig brand. Dofweg kan sy mense sien kom en gaan. Dis die ry pasiënte wat een plek naderskuif soos wat nog een gehelp word. Sy wonder waar is Dorothy Twala, die verpleegsuster wat saam met haar grootgeword het en wat ook hier in Mosambiek kom hand bysit het.

      Sy moet haar gaan soek. Daar is so baie pasiënte wat al so lank wag.

      Maar sy is nou honger. Dalk is daar by die kostent nog iets om te eet. Sy draai haar rug op die ontoerekenbare see. Haar skoene moet iewers in die skerm wees. Sy soek daarna in die maanlig. In die hoek van die skerm hang ’n tamaai tros piesangs. Hoe die piesangs die storm oorleef het en hoe dit in die skerm beland het, weet sy nie.

      Sy breek vir haar drie piesankies af en gaan sit kruisbeen op die slaapmat en verorber hulle die een na die ander. Hulle is soet en styselrig. En hulle maak haar dors. Water sal sy seker by die kostent kry. Net toe sy wil regop kom, val haar oog op die blikkie koeldrank langs die mat. ’n Strooitjie, sindelik toegepapier, lê skuins oor die blikkie.

      Dis van Frits af, want dis creme soda. Dis ’n ou grappie tussen hulle. Hy terg haar altyd dat haar oë soos groen cremesoda-koeldrank lyk. Sy maak die blikkie oop, skeur die papier van die strooitjie en suig gulsig.

      Die laaste ding wat sy nou moet oorkom, is om cholera op te doen. Koeldrank uit ’n blikkie is veilig, veral as jy dit deur ’n higiënies toegedraaide strooitjie kan suig. Hy dink aan alles.

      Wat maak hy hier? wonder sy weer. Vier dae gelede het sy hom nog by die staatshospitaal in Pretoria gesien.

      Netjies op ’n hopie gaan pak sy die piesangskille teen die rietmuur.

      En toe sien sy die kitaar wat langs die tros piesangs staan. Sy glimlag soos ’n kind wat haar verjaarsdaggeskenk ’n dag te vroeg ontdek. Wie s’n is dit? Hierdie skuiling behoort seker aan een van die sendelinge.

      Die instrument voel net so vertroud in haar hande soos die bore of die naalde of die skroewe waarmee sy gewoonlik werk, al voel daardie werk op die oomblik of dit in ’n ander kwadrant van die heelal plaasvind. Sy moet gaan help by die hospitaaltent, maar om net gou ietsie te speel, sal seker nie so baie saak maak nie.

      Weer gaan sy kruisbeen op die slaapmat sit. Sy druk ’n paar akkoorde, pluk oor die snare en stem die kitaar. Toe sy tevrede is dat die klank reg is, kry haar vingers vanself die treurige deuntjie van “Herinneringe aan die Alhambra”.

      En tyd val weg en sy is weer klein en in Malawi en sy en Dorothy sit saam en swaai in die hangmat op die sendinghuis se stoep en die groen klowe van Nkumha strek voor haar uit terwyl haar pa vir hulle speel.

      Te gou is die lied klaar. Sy sug en wil opstaan, want sy moet seker weer gaan help.

      ’n Driehoek maanlig flits op die slaapmat. “Jy is wakker,” sê Frits in die skerm se deur, die rietmat in sy hande.

      “Hoe lank het ek geslaap?”

      “Heeltemal te kort na my sin.” Hy laat val die mat en kom binne.

      Hy trek ’n vuurhoutjie en oomblikke later verlig ’n gaslamp suisend die rietskerm.

      “Toe jy nou die vuurhoutjie so trek, het die tros piesangs vir ’n oomblik so grotesk soos ’n


Скачать книгу