Veldpad van verlange. Helena Hugo

Veldpad van verlange - Helena Hugo


Скачать книгу

      

      Veldpad van verlange

      Helena Hugo

      Satyn

      1

      “Ons sou tienuur ry! Dis twaalfuur! Waar bly jy?”

      “Paulie, bedaar. Dis halftwaalf, en ek het jou gesê ons het ’n krisis.”

      “O nee, dis nie jy nie, dis julle ontvangsdame!”

      “Mevrou Nel.”

      “Jy is te bang om jou eie praatwerk te doen en dan stoot jy haar voor.”

      “Ek was besig.”

      “Jy is laat, Lüther! As jy nie binne tien minute hier is nie, ry ons sonder jou. En jy hoef nie moeite te doen om agterna te kom nie.”

      “Gee my twintig –”

      “Tien!”

      Paulie klap die selfoon toe en steek dit in haar sak. Sy is dors en warm en nou so kwaad, as daar ’n blik in die omgewing was, het sy hom geskop dat hy trek. Sy kán, sy het nie verniet tussen broers grootgeword nie. Haar oudste broer het haar geleer om ’n rugbybal sekuur tussen die pale deur te sit en hy is vandag ’n bekende afrigter.

      Maar sy knyp haar oë styf toe en haal diep asem. Sy moet ontspan voor haar humeurigheid soos senuwees begin lyk. Andreas het haar gister, toe hulle die voorraad uitgetel het, juis aangesê om te kalmeer en hom te vertrou, hy was al op tien veldwerkekspedisies en ’n jaar op Marioneiland. Hy ken sy werk net so goed soos Louis, haar gunstelingassistent, wat ongelukkig nie hierdie keer kan saamgaan nie.

      Probleem is: nie een van haar staatmakers kan van die begin af teenwoordig wees nie, en haar span is eers in die tweede week behoorlik voltallig. Vir die eerste week is dit net sy en Lüther en Andreas en sy meisie, Natika.

      Natika is ’n glansmodel, beeldskoon en onbehoorlik sexy. Sy gaan beslis moeilikheid gee en nie in die veld bybly nie. Kyk na haar! Kyk na Andreas!

      Paulie voel haar mondhoeke styf trek.

      Die twee verliefdes staan onder ’n boom langs die volgepakte viertrek en hang aan mekaar asof hulle op pad is na hul wittebrood. Hy is besig om haar met koue water te laaf, haar hare te streel en sag met haar te praat. Hulle was darem betyds, hy en die hulpelose skepseltjie met haar kaal maag en suggestiewe naeltjiering – ’n silwerhartjie met ’n goue sleuteltjie wat niemand kan miskyk nie.

      Andreas lig Natika se hare op en laat gly dit tussen sy vingers deur. Dis ’n goue waterval. Dit stort oor haar skouers tot op haar heupe.

      Vals verlengings, besluit Paulie grimmig. Sy gaan sit op die muurtjie om uit te reken hoe laat hulle in Boshof sal aankom as hulle twaalfuur eers vertrek.

      Sy kan nie konsentreer nie, want toe sy opkyk, sien sy Natika hang om Andreas se nek. Sy soen hom so vurig dat almal in die omgewing liewer wegkyk.

      ’n Onpaar paartjie as daar ooit een was – glad nie die soort meisie wat sy by Andreas verwag nie. Nie dat sy omgee nie. Sy en Andreas werk saam, hulle kuier nie, altans nie buite die departement nie.

      Hy is net so deel van haar lewe by dierkunde. Al het sy hom op akademiese gebied skoon verbygesteek, kan sy haar die plek sonder hom nie voorstel nie. Sy het respek vir sy praktiese kennis, maar hulle was toevallig nog nooit saam in ’n veldwerkspan nie en sy weet nie wat om te verwag nie. Soms lyk hy vir haar gans te ontspanne en onverskillig.

      Toe sy ses jaar gelede ingeskryf het vir haar graad, was hy al ses jaar in en uit, altyd gereed vir die volgende buitelugavontuur, terwyl sy pa betaal en van hom verwag om grade agter sy naam te skryf. Vanjaar het hy weer eens amptelik vir honneurs ingeskryf, aansoek gedoen vir ’n assistentspos om die finansiële druk op sy pa te verlig en ywerig begin klasse bywoon – tot Natika op die toneel verskyn het.

      Nou klou hy met die een hand aan haar en met die ander hand aan sy werkie, wat beteken dat hy haar nou en dan vir twee tot vier weke in die stad moet agterlaat.

      Paulie weet hoe klein sy salaris is en sy het geen idee hoe hy ’n meisie soos Natika kan bekostig nie. Dalk onderhou sy hom. Maar dis sy probleem en sy twyfelagtige geluk. Hy het ooglopend nog nie kans gekry om sy onderskeidingsvermoë te ontwikkel nie, want hy was ’n alleenloper tot hy Natika in die lente na een van hulle departementele pizzapartytjies saamgebring het.

      Almal het gesê dit kan nie werk nie, Andreas gaan een oggend wakker skrik en uitvind hy het al die tyd gedroom.

      Natika is oorbekend, van hoërskooldae af model en skoonheidskoningin, ook aanbieder van ’n televisieprogram wat op mooi mense en mooi klere konsentreer. Andreas is skaam en stil en lief vir diere, veral slange en reptiele. Hy het Natika ontmoet toe sy met mak slange moes poseer vir ’n modetydskrif en hy een van die slanghanteerders was.

      Sedertdien het hy ook nie die kollig vrygespring nie, en sy ruwe voorkoms kontrasteer goed met haar brose skoonheid. Hy het hom amptelik by dieselfde modelagentskap as Natika laat registreer en verskyn dikwels saam met haar in glanstydskrifte.

      Andreas sê hy hou niks van modelwerk nie, hy doen dit net vir die geld en om Natika te plesier. Advertensies betaal glo goed. En dis Natika wat hom aangemoedig het toe hulle die parfuumadvertensie gemaak het – in hul adamspakke aan weerskante van ’n reusebottel in die vorm van ’n vrouefiguur.

      Iemand het tot Andreas se verleentheid in tydskrifte daarna gaan soek, dit uitgeskeur en op die departement se amptelike kennisgewingbord vasgesteek, ook onder by die kafeteria vir almal om te sien. Die professor het hom ingeroep en gewaarsku, en Paulie het hom glad nie jammer gekry nie.

      As hy sonder sy klere vir geld wil poseer, is dit sy saak en moet hy die gevolge dra. Dis wat sy altyd vir Lüther sê, en dis hoekom sy nie kans sien om alles voor ’n kamera uit te trek nie. Al is dit Lüther se eie kamera en slegs vir private gebruik, sy weet waar sy die streep trek, Andreas kon ook.

      Hy is ’n man van die veld. Hy hou nie van parfuum vir mans nie, en hy oefen om fiks te bly, nie om mooi te lyk nie. Reptiele is pragtige diere om dop te hou en te bestudeer, hy kyk wetenskaplik na hulle habitat en gewoontes, hy hang nie graag ’n slang om sy nek omdat ’n modefotograaf so sê nie. Maar Natika het hom gevra en in ruil belowe om ’n slag saam met hom te werk, harde werk in die veld.

      Paulie loer weer na die twee wat nie kan ophou soen nie. Natika se beentjies is so maer, hoe sy kilometers gaan stap om insekte te vang, weet Paulie nie. En wat haar besiel het om in te stem dat Natika kan saamkom! Oukei, sy weet sy was desperaat.

      Paulie is nie lus vir hulle geselskap nie, maar sy is dors en die koelsak met water is in die viertrek se bak. Sy staan op en stap só doelgerig soontoe dat sy seker moorddadig lyk. Want Natika kruip verskrik onder Andreas se vlerk in.

      Het hulle gehoor hoe sy met Lüther baklei? Natuurlik het hulle, maar wat maak dit saak? Hulle weet Lüther is laat en dat sy geen onderskeid tref nie. Almal moet by die reëls hou. Sy is geregtig op ’n bottel vars water, is sy nie?

      Dis koeler onder die boom, al is daar teen hierdie tyd net ’n kringetjie skaduwee om die stam. Hier en daar tuimel ’n drooggebakte blaar na benede.

      “Wat sê hy?” vra Andreas asof hy nie kon aflei nie.

      Hy streel Natika se boarm met sy vingerpunte en vermorsel een van die blare onder sy skoensool. Sy gespierde kuite trek Paulie se aandag en sy kyk vinnig anderkant toe. Natika glimlag liefies en wikkel haar uit sy omhelsing los.

      “Jou verloofde vat darem sy tyd,” koer sy.

      “Hy kom, hy is nog besig by die spreekkamer.”

      “Dit word laat.” Andreas waag dit om op sy horlosie te kyk.

      Paulie haal vir haar ’n vars bottel uit die koelsak en breek dit oop. “Ek’t hom tien minute gegee.”

      “Maar ék was betyds,” protesteer Natika parmantig.

      Paulie maak of sy nie hoor nie, gooi haar kop agteroor en drink. Sy is dors genoeg om die bottel met een teug leeg te maak en woedend genoeg om die naaste kop af te byt – Andreas s’n, want hy het belowe om Natika onder sy duim


Скачать книгу