Ware verhale van geloof. Helana Olivier

Ware verhale van geloof - Helana Olivier


Скачать книгу
tion>

      

      Ware verhale van geloof

      Helana Olivier

      Lux Verbi

      Aan my ouers, Hennie en Wilna Beukes,

      wat deur hul jarelange goeie voorbeeld in Christus,

      die keuse vir my maklik gemaak het.

      Voorwoord

      Die lewe gebeur terwyl ons vir iets anders beplan. Daar is geen kleedrepetisie, geen dress rehearsal om ons voor te berei vir die “eintlike” lewe nie. Die lewe gebeur meedoënloos, teen die spoed van een dag op ’n slag. Skaars het ons oor die muur van gister geklouter, of vandag is op ons voorstoep. Soms verg dit net een krisis vandág om ons lewe vir áltyd in ’n nuwe rigting te stuur. Dan is alles holderstebolder. En hoe gemaak as die lewe in een oogwink ’n totaal nuwe tekstuur aanneem? Gaan daardie een groot terugslag wat skielik oor my pad gekom het my verbitter en verwese agterlaat? Gaan my geloof permanent in trurat gegooi word? En wat van die suksesse? Gaan onverwagse deurbrake my in ’n arrogante, selfversekerde wese verander? (’n Ou wysgeer het juis gesê as die gode jou wil straf, maak hulle jou welvarend.)

      Miskien is die geheim van die lewe dat daar nie een groot geheim is nie. Die lewe speel op verskillende roetes af. Vir ons elkeen kronkel die lewenspad verskillend. Tog is dit midde-in sulke onverwagte oomblikke – goed of sleg – dat die ware helde van die lewe gebore word. Hierdie helde is nie silwerdoek-agtige figure nie. Nee, hulle is doodgewone mense van vlees en bloed, mense wat weier om die knie te buig voor daardie een groot “vandag-terugslag”. Dit is dié wat kies om stroomop te beur, teen alle teenstand in. Dit is dié wat glo ’n nuwe pad is moontlik, en dit dan dag vir dag oopkap en oopleef. Hierdie ware helde van die lewe is daardie bendetjie wat God se hand op ’n nuwe manier in die donker raakvat. Hulle kry dit selfs reg om ’n paar treë saam met Jesus op die water te loop.

      ’n Paar waterlopers se verhale word in hierdie boek eerstehands gedeel. Hulle roetes is aangrypend, besielend en pleinweg dapper. Hulle lewens vertel luidkeels dat onverwagte slegte dinge of onverwagte goeie dinge nie die laaste sê oor ons het nie. Ware karakter wys midde-in die storm, daar waar pyn en oordaad deur gewone individue in nuwe genaderoetes omskep word. Dít leer ek uit die verhale van die medewerkers aan hierdie boek. Daardie een dag in hulle lewe wat so totaal anders was, het hulle toe nie platgeslaan nie. Dit het hulle juis tot nuwe hoogtes geïnspireer. Hulle is lewende voorbeelde van wat Henri Nouwen, die bekende en geliefde skrywer, eenkeer gesê het: “I used to hate interruptions to my ministry until I understood that interruptions were my ministry.” Geen onderbreking dus nie; net ’n nuwe bediening – dít is die resultaat in elk van hierdie verhale! Wat ’n aangrypende en lewensveranderende boek!

      Stephan Joubert

      Buitengewone professor, Departement Nuwe Testament,

      Universiteit van Pretoria; Navorsingsgenoot, Radboud-

      universiteit, Nederland, en redakteur van ekerk

      Inleiding

      Elke mens maak elke dag keuses, en elke keuse wat ons maak, het ’n gevolg.

      – Liesel Krause-Wiid

      Dink ’n bietjie en verwonder jou daaroor dat God vir jou die voorreg gee om te kan kies.

      – Johan Jacobs

      Klink die volgende stellings bekend?

      • “Ek kan nie glo dit het my al weer getref nie!”

      • “Dís nou Murphy’s law.”

      • “Ek is ook altyd op die verkeerde tyd op die regte plek.”

      • “Dinge wil net nie vir my reg uitwerk nie. Ek kan glad nie verstaan hoekom nie.”

      • “Die lewe het my al weer ’n streep getrek.”

      Die meeste van ons wonder soms hoekom bepaalde dinge met ons gebeur. Of ons voel die lewe behandel ons onregverdig. Soms voel normaalweg opgewekte, energieke, positiewe mense hulle moet hulleself soggens uit die bed uit sleep. Hulle sien nie kans om ’n nuwe dag aan te pak nie. Hulle voel hulle het net genoeg energie om te oorleef. Moontlik het hulle vroeër die vermoë gehad om oënskynlik negatiewe situasies in positiewe situasies te omskep. Dit was nie eens baie moeilik nie, aangesien niks dramaties ooit die normale gang van hulle lewe versteur het nie. Niks het nog ooit werklik hulle appelkar omgegooi nie. Maar dan, op ’n dag, lê die hele straat vol vrot appels. Vroeër kon hulle die skaal min of meer balanseer. Nou hel die gewigte heeltemal oor na die een kant toe. En dit wat hulle besig was om te weeg, val boonop aan die ander kant uit. Hulle is geensins meer in beheer van sake nie.

      Dit is in sulke tye dat Christene soms vir God wil vra hoekom Hy hierdie onaangename gebeurtenisse in hulle lewe toelaat. Hulle het dan nog altyd gedink hulle leef volgens sy wil.

      Liewe leser, soms laat God dit nie toe nie. Deur ’n verkeerde keuse te maak wikkel ons onsself in onaangename situasies in. Debbie (Bingham) Nicholson skryf in haar storie: “… selfsugtige keuses word groot en harde lesse met swaar gevolge om te dra”. Sy skryf egter ook dat redding moontlik is, al het jy aanvanklik verkeerd gekies.

      Liesel Krause-Wiid skryf: “Ja, ons kies heel dikwels verkeerd, maar die wonder van die almagtige God vir wie ons aanbid, is dít: Al kies ons verkeerd, is God steeds daar vir ons. Hy kan selfs ons verkeerde besluite in sy diens gebruik.”

      Ek het 22 mense uit verskillende sektore van die samelewing genooi om vir ons te vertel van die keuses wat hulle in ’n sekere stadium van hulle lewe gemaak het. Al verteenwoordig hulle uiteenlopende sfere van die lewe, het hulle almal één keuse gemaak wat die gemene deler tussen hulle is: Hulle het die beheer van hulle lewe aan Jesus Christus oorgegee. Op ’n verrassend eerlike manier lees ons hoe hulle reis as Christene nie noodwendig altyd rooskleurig is nie.

      ’n Motorongeluk kan jou dwing om ’n rigtingveranderende besluit te neem. Soms sien ons dat ons geen beheer het oor sekere situasies nie, en dat ons op God moet vertrou vir krag om elke dag net te kan oorleef. ’n Verlede van verkeerde keuses – prostitusie, dwelmverslawing, alkoholisme, noem maar op – kan wonderbaarlik omgekeer word in ’n lewe wat God dien. Soms kan iets soos kanker, ’n liefdelose ma of kindermolestering deur vergifnis heen lei tot ’n lewe wat God behaag. En soms is iemand so gelukkig dat al hulle lewenskeuses net nog goeie dinge oplewer. Aan God alleen word dan die eer gegee.

      Lees gerus hoe elke medewerker in hierdie boek deur sy of haar eie woorde hulle ervarings neerpen.

      My opregte waardering aan elke medewerker vir die tyd wat julle aan hierdie projek afgestaan het. My gebed is dat julle elkeen in die toekoms ryklik geseën sal word vir julle deelwees van hierdie projek. Ek glo met my hele hart julle sal iewers ’n hartsnaar raak en mense tot nadenke stem.

      Helana Olivier

      1

      Kies om nie alleen te kies nie

      Liesel Krause-Wiid

      Die keuse is altyd joune

      Helana se uitnodiging aan my om deel te wees van ’n boek wat oor keuses gaan, het my onwillekeurig tot stilstand geroep. Dit het my laat terugkyk op my lewe en die keuses wat ek gemaak het.

      Elke mens maak elke dag keuses, en elke keuse wat ons maak, het gevolge. Ja, die keuses wat ons maak, bepaal in groot mate die gehalte van die lewe wat ons lei. Ek kan byvoorbeeld in moeilike situasies kies of ek ’n slagoffer of ’n oorwinnaar gaan wees. Ek kan kies of ek gaan moed opgee met die lewe, en of ek in die genade van die Here vorentoe gaan beur. Selfs die kos wat ek kies om te eet het ’n invloed op my dag en my liggaam. Sekere kosse en drinkgoed tap jou energie en maak jou moeg, terwyl gesonder kos vir jou energie en lewenslus gee.

      Eleanor Roosevelt het gesê: “Jou lewensfilosofie word nie in woorde uitgedruk nie. Dit word eerder uitgedruk in die keuses wat jy maak. En die keuses wat jy maak, is hoofsaaklik jóú verantwoordelikheid.”

      Ek en jy kan nie kies hoe ons gaan sterf nie, maar ons kan wel kies hoe ons gaan leef. Daar staan in God


Скачать книгу