Landskap met diere. Welma Odendaal

Landskap met diere - Welma Odendaal


Скачать книгу

      

      Landskap met diere

      Welma Odendaal

      Vir Wilna, met liefde en dank

      En erkenning aan al die wonderlike vriende

      in my lewe wat tyd, plek en ruimtes

      só mildelik afgestaan het – veral die girls in die

      Knitting Circle, altyd byderhand.

      1961

      Soms is dit die reuk van bloekoms en ’n klam grasperk op ’n warm middag, of ’n prentjie in ’n boek van ’n eiland toegegroei met wilgebome in die middel van ’n rivier, of ’n lyntekening van ’n late fifties Ford Fairlane met stertvinne, spaarwiel op die gatkant en breëbek-bumpers op ’n gekrulde, geel bladsy van ’n verslete tydskrif waarmee die bodem van ’n ou laaikas uitgelê is, of ’n strokiesprent van ’n ouderwetse vuurpyl, ’n properse sixties rocket met ’n skerp voorpunt en ’n silinder in die middel, enjins aan die onderent en drie pootjies om op te land. Of soms is dit die soet musiek van Tsjaikowski oor die radio wat so terloops ’n vroeë wêreld oproep en helder voor jou oë laat afspeel asof dit gister was.

      Haar vroegste herinnering is van ’n balletopvoering van Swanemeer op haar geboortedorp op ’n klein eiland in die middel van die Vaalrivier. Op die oewer het die mense rond en bont tussen die motors wat op die grasperk getrek is op tuinstoele gesit. Die rooi Coca-Cola-koelbokse en piekniekmandjies was binne bereik; die kardeure oop sodat daar ’n oog op die slapende kinders gehou kon word. Maar sy het uitgesluip in die nag en eenkant teen ’n wilgeboom gaan sit om die skouspel op die eiland van ver af dop te hou. Die balletdansers met hulle bolrokke van fyn satyn het deur die mis uit die rivier gerys en soos glimwurms in en uit die wasige lig gedartel. Dit was die mooiste iets wat sy nóg gesien het.

      Sy was ’n swerwerskind. Op die klein steenkoolmyndorpie langs die Vaalrivier was die mynhope omtrent ses jaar lank dor en klipperig haar horison. Maar hulle het van plek tot plek getrek en sy moes telkemale ander horisonne ontdek, nuwe vriende maak, grense verskuif. Haar pa se rusteloosheid was die spil van hulle lewe, maar later toe sy dieselfde ankerlose neigings in haarself ontdek, het sy besef die swerwersjare was nie altyd vir haar sleg nie. Die nuwe omgewings het gepaardgegaan met verkenningstogte en nuwe avonture; onbekende wêrelde waarna sy haar lewe lank bly uitsien het.

      Hulle eerste trek was na Sasolburg waar haar pa as passer-en-draaier by die olie-aanleg gewerk het. Sy is na ’n gewone laerskool verplaas en anders as op die mynskooltjie waar sy begin skoolgaan het, het die kinders hier uit ’n verskeidenheid van huise gekom waar nie almal mynwerkersgesinne was nie, en dus nie saam op een dorpie gewoon en mekaar geken het nie. Sy het op die skoolgrond rondgedwaal, verlore geraak in die groot klas, haar eerste tand gewissel en met groot hartseer een middag na skool ontdek dat sy die muntstukkie wat sy die oggend in haar skoen gekry het, iewers langs die pad verloor het.

      Na ’n paar maande het haar ouers weer teruggetrek en het hulle op ’n plot naby die Vaalrivier huis opgesit. Sy is in die oggende deur ’n skoolbus opgelaai, en was sku vir die giggelende meisies en bakleierige seuns. Hulle nuwe tuiste was heerlik groot met ’n grasperk, plate kannas teen die sipresheinings en ’n swaaibank onder hoë dennebome. Oorkant hulle het vriendelike mense met twee kinders van omtrent haar ouderdom gewoon. Hulle het probeer maats maak, maar sy het hulle laat verstaan dat sy Engelssprekend is en nie ’n woord kon uitmaak wat hulle sê nie. Of hulle haar geglo het, weet sy nie, maar hulle het nie weer toenadering gesoek nie. Dit het in elk geval nie saak gemaak nie, want net voordat die laaste kwartaal begin het, het haar ouers weer verhuis. Dié keer het haar pa sy heil ’n entjie verder in Vanderbijlpark gaan soek, waar die vooruitgang opsigtelik was in die woonuitbreidings en nywerhede wat soos wegholgediertes langs die hoofweë begin verrys het.

      Sy onthou nie veel van die plek waar hulle gebly het nie, dit was ook nie vir baie lank nie, maar buite in die tuin het twee groot populierbome gestaan. Haar pa het een middag vroeg huis toe gekom, oorgestap na waar sy besig was om ’n boog en pyle uit populiertakke te maak.

      “Haai, ou Buddy, waarmee is jy besig?”

      Hy het by haar kom sit waar sy met ’n tafelmes elke pyl se punt skerp maak.

      Sy het hom eenkeer al gevra hoekom hy haar Buddy noem.

      “Weet jy dan nie?” het hy toe gesê. “Dis ’n spesiale naam vir álle Julianas!”

      “Ag, Paa-aa!”

      Hy’t haar gegryp en begin kielie, sy het gespartel en gestoei totdat sy bo-op sy bors gesit en hy om genade gepleit het.

      Maar nie dié middag nie.

      Dié middag het haar pa langs haar gaan sit en gehelp om die vislyn aan die boog styf te span, en verduidelik dat hulle weer gaan trek; dié keer Bloemfontein toe.

      Sy het aangehou om die punte van haar pyle skerp te maak.

      “Buddy, het jy gehoor wat ek sê?”

      Sy het geknik.

      “Jy moet Ma gaan help om jou goedjies in te pak. Ons vertrek al die naweek.”

      Dit was Woensdag. Die skole sou eers oor ’n paar weke vir die Desembervakansie sluit.

      “Is dit vir altyd?”

      “Ja. Ek gaan in ’n nuwe motorbesigheid in. Ek het vir ons solank ’n lekker woonstel bó teen die heuwel gehuur terwyl ons huis soek.”

      “En die skool? Ek sal mos dop as ek nou al weggaan?”

      “Wat? ’n Slimkop soos jy! Nee, ou Buddy, hulle gaan jou sommer volgende jaar in Sub B sit.”

      Haar pa het ’n stuk karton aan die boom vasgemaak en ’n ruk lank staan en kyk hoe sy een vir een die pyle afskiet, totdat sy die teiken tref.

      “Mooi skoot, Buddy!”

      Sy skiet nog ’n paar pyle, maar tref nie weer die stuk karton teen die stam van die populierboom nie.

      Sub B … wat vir ’n ding sou dit wees?

      Haar kamervenster in hulle nuwe woonplek, ’n driekamerwoonstel op die eerste verdieping van ’n gebou teen ’n heuwel, het op die buitekamers van die woonstelgebou langsaan uitgekyk. Die oorkantste kamers was vas teenaan ’n steil rotswand waar wilde katte rondgeloop en die mense buite hard gelag het. Maar die rantjie agter die gebou was vol voetpaadjies en moontlikhede. Sy het ure daar gespeel en soms op haar maag agter die groot klippe gelê en die buitekamers se mense van bo af bespied. Hulle het middae met tjailatyd op oop konkas pap en marog gekook wat haar mond laat water het.

      Eendag het ’n vrou haar agter die rotse gewaar en hard geroep: “Hoei! Kleintjie, wat maak jy daarbo? Dis lelik om die mense so af te luister!”

      Sy het agter die klippe probeer induik en op haar maag weggeseil, maar die vrouens se harde gelag het haar agternagesit lank nadat sy buite hulle sig was. Saans het sy uitgekyk na die sagte kerslig in hulle kamers en met die gorrelende klanke van hulle geklets en hulle vrolike gelag aan die slaap geraak.

      In die somer van 1961 is sy by die nuwe skool ingeskryf. Die skool was groot met tennisbane en hoë bome en die klaskamers was in ’n ou sandsteengebou. Daar was net meisies in haar nuwe skool, en aan die begin het sy haar eenkant gehou. Mettertyd het sy dit al hoe moeiliker gevind om die aansteeklike opgeruimdheid van alles en almal om haar te weerstaan. Sy het al hoe minder aan die buitekringe rondgehang en pouses meer by speletjies en bedrywighede betrokke geraak. Maar smiddae het sy alleen die groot pad voor die skool oorgesteek en deur die parkie na hulle woonstel teen die heuwel gestap. Daar het sy haar eie toebroodjie en tee gemaak en in haar kamer gaan eet terwyl sy oor die oerwoudavonture van Tarzan lees en soms die bedrywighede in die buitekamers van die woonstel langsaan dophou.

      Op ’n dag toe sy ná skool staan en wag dat die patrolliekinders haar oor die pad vergesel, kom staan ’n tenger, donker langbeenkind met groot bruin oë en ’n dik vlegsel reg voor haar. “Haai, wil jy nie saamry nie?” het die kind gevra.

      Sy het haar kop geskud. “Nee, ek bly nie ver nie.” Maar sy het gebrand om in die geel DKW’tjie met sy wit dak en deure wat verleidelik


Скачать книгу