Die kolonel. Esta Steyn
Die Kolonel
ESTA STEYN
Illustrasies deur Luan Serfontein
Human & Rousseau
Die Kolonel kom weer
Daar is groot konsternasie by die polisiestasie. Die Kolonel is weg! Skoonveld soos ’n groot speld. Niemand weet wat van hom geword het nie. Dat hy sommer net so kon verdwyn het is nogal vreemd.
Die Kolonel is baie bekend en baie bemind. Nie net by die polisiestasie nie, maar oral op die dorp. Almal ken die waardige heer met die wit snor en die grys hare.
Die Kolonel is nie net bekend en bemind nie. Hy is ook baie bekwaam. Daar word gesê hy kan diewe en dwelms op ’n afstand uitsnuffel.
Ja, baie sake sou beslis nooit opgelos kon word as dit nie vir die Kolonel se fyn aanvoeling was nie. Konstabel Bongani en sersant Sol de Waal sê altyd die Kolonel het ’n sesde sintuig. Hulle behoort te weet, want hulle werk saam met hom.
Maar nou is hulle baie bekommerd. Dis al pikdonker en die Kolonel is nêrens te sien nie. Wat kon van hom geword het? Is hy dalk ontvoer? Enigiets is moontlik. Daar is juis die afgelope maand ’n vlaag van misdaad op die dorp.
Sersant Sol kyk bekommerd na konstabel Bongani. “Was die Kolonel saam met jou toe jy sewe-uur op patrollie uit is?”
Konstabel Bongani staan flink op aandag. “Ja, Sersant!” sê hy.
“Waar was julle oral?” wil die sersant weet.
Konstabel Bongani dink vir ’n rukkie. “Ons was op die gewone roete.
O, ja, en ons was ook by mevrou Meintjies se huis. Sy is met vakansie en het gevra dat ons so af en toe na haar plek gaan kyk terwyl sy weg is. Dis mos ’n entjie uit die dorp uit.”
“Dis reg,” sê sersant Sol. “Jy moet asseblief later weer ’n draai daar gaan maak.”
“Goed, Sersant.”
Sersant Sol vou sy arms agter sy rug en loop heen en weer deur die vertrek. Daar is ’n groot frons op sy voorkop. “En jy sê die Kolonel was saam met jou toe jy daar was?”
“Ja, Sersant. Ons het nog saam uitgeklim en om die huis geloop. Alles het in orde gelyk.”
Sersant Sol sug: “Nou waar kan die Kolonel dan wees?”
“Dit val my nou by hy was besonder stil toe ons van mevrou Meintjies se huis af teruggery het,” onthou konstabel Bongani. “Miskien het hy nie lekker gevoel nie en het hy iewers gaan lê.”
Sersant Sol haal ’n bos sleutels uit sy sak en gee dit vir die konstabel. “Gaan kyk of hy nie dalk in een van die selle is nie. Hy het mos die manier om partykeer daar te gaan dut.”
Konstabel Bongani skud sy kop: “Nee, Sersant. Hy’s nie daar nie. Ek het klaar daar gaan soek.”
Sersant Sol gaan sit by die tafel en lyk bekommerd. “Is hy nie miskien in die vangwa nie? Hy gaan lê mos ook soms daar as hy moeg is.”
Konstabel Bongani skud weer sy kop. “Nee, Sersant. Ek het in al die voertuie gesoek. Hy’s ook nie daar nie.”
Sersant Sol buk onder die tafel in. “Hier staan sy melk nog net so. Dis baie vreemd.”
Konstabel Bongani loer ook onder die tafel in. “As die Kolonel nie sy melk gedrink het nie, is daar beslis groot fout.”
Salig onbewus van al die konsternasie wat hy veroorsaak, stap die Kolonel op ’n flinke passie en met ’n stokstywe stert straataf. Hy is op pad na die deftige huis van mevrou Meintjies.
Vanaand het die Kolonel groot planne. Hy hoop tog net nie die sersant en die konstabel mis hom en begin hom soek nie.
In sy verbeelding sien die Kolonel mevrou Meintjies se groot huis, en die agterstoep met die sifdeur. Toe hy en konstabel Bongani vroeër vanaand daar was, het hy iets besonders daar sien hang: ’n bossie bokkoms! Sy bek het behoorlik begin kwyl.
Hy het met verlangende oë na die gedroogde vissies gekyk wat hoog teen die agterstoep se dak aan ’n draad hang.
Hy moes homself keer om nie sommer net daar deur die skeurtjie in die sifdeur te kruip en die bokkoms te gaan haal nie.
Maar hy kon niks doen nie. Konstabel Bongani was by hom. Sy eer was op die spel.
As die konstabel of sersant Sol moet weet hy is nou op pad om daardie einste bokkoms te gaan haal, sal hulle seker ’n toeval kry. Hulle sal nie sulke optrede duld nie. Dit hoort nie by die lede van die Mag nie.
Maar ai, hy kan homself nie keer nie. Vanaand is sy lus groter as sy eer. So ’n southappie sal darem baie lekker smaak. Veral vir ’n kolonel. En veral as die kolonel ’n kat is en die kat se naam die Kolonel is.
Die Kolonel gaan staan ’n entjie van mevrou Meintjies se huis af om dinge te bespied. Daar staan ’n motor voor die donker huis. Hy kan nie onthou dat dit vroeër vanaand daar was nie.
Hy sluip suutjies nader en sien niemand in die omtrek nie. Nee wat, dis veilig, besluit die Kolonel. Dis seker maar ’n motor wat onklaar geraak het.
Ligvoet, katvoet, sluip die Kolonel om die huis na die agterstoep. Hy maak sy lang lyf plat en kruip deur die skeurtjie in die sifdeur. Die swaar sout geur van die bokkoms hang in die lug en hy lek sy lippe af.
Hy spits sy ore. Hoor hy iets? Stemme in die huis? Onmoontlik. Mevrou Meintjies is mos weg met vakansie.
Wat het haar besiel om die bokkoms so hoog te hang? Hy bekyk die wêreld om hom. Daar staan ’n tafel met ’n omgekeerde waskom bo-op. Miskien sal hy tog kan bykom. Hy mik-mik, en met een ratse sprong beland die Kolonel op die tafel. Met nog ’n sprong is hy bo-op die waskom.
Klink! Klonk! Klank!
Die waskom begin te wikkel en wieg. Dit skuif onder die Kolonel se pote uit. Dit val met ’n groot gekletter op die sementvloer.
Klink! Klonk! Klank!
“Miaau! Miaauuu!” skree die Kolonel benoud.
Skielik is die gort gaar. Die agterdeur vlieg oop en twee mans met sakke oor hulle skouers kom uit die huis gestorm.
Die Kolonel dink vinnig. Hy is gewoond aan enige krisis. Hy sper sy kloue oop. Sy naels is dodelike dorings. Dit krap die eerste dief dwarsdeur die gesig.
“Eina! Eina!” gil die man. Hy weet sowaar nie wat hom getref het nie. Hy los die sak en bedek sy gesig met sy hande.
Hy struikel in die donker en val op die vloer.
Die tweede man kom verby. Die Kolonel gee ’n verwoede katspoeg. Die man skrik hom katswink. Hy val bo-oor die ander een.
Toe albei diewe op die vloer lê, spring die Kolonel op die boonste man se bors. En daar sit hy fier en regop soos dit ’n kolonel betaam. En hy grom en knor en blaas en raas met al vier kloue reg vir krap.
Die diewe het nie ’n kat se kans om weg te kom nie. Dit is op daardie oomblik dat die sifdeur oopgeskop word.
Konstabel Bongani en sersant Sol verskyn op die toneel. Hulle rig hulle wapens op die twee inbrekers wat magteloos onder die Kolonel se wakende oë lê.
“Gedink julle kan julle sakke vol stop en laat spat, nè!” skreeu die konstabel opgewonde.
“Ons hét julle! Danksy die Kolonel!” sê die sersant en pluk sy boeie uit. In ’n japtrap is die twee boosdoeners geboei en word hulle na die vangwa gelei.
Die Kolonel stap gedweë agterna. Hy kyk verlangend terug na die agterstoep waar mevrou Meintjies se bossie bokkoms nog steeds hang.
Toe spring hy rats agterin die vangwa en gaan sit op