Ctrl Z my lewe. Cheréne Pienaar

Ctrl Z my lewe - Cheréne Pienaar


Скачать книгу

      

title.jpg

      Cheréne Pienaar

      Lux Verbi

      Vir almal wat soekend is

      en na ’n Pa verlang.

      Hoofstuk 1

      Kwart oor drie kom die WhatsApp deur.

      Sy knip haar oë ’n paar keer totdat die letters op die skerm stil staan. Die verekussing kraak onder haar elmboog soos sy haarself ophys. Fronsend lees sy die drie kort sinne ’n paar maal oor.

      Om in die vroeë oggendure wakker te word was nog altyd haar ding. Soos ’n geheim. Die hele wêreld is onder die slaapmantel en sy is alleen op haar planeet. Om net te lê en vir die ster in die hoekvenster te kyk en te dink.

      Maar dis haar pa se los krulhare en sy oë se konsertinaplooitjies wat nou voor haar verskyn. Hoe laat is dit by hom dat dit oukei is om haar nóú te soek?

      As hy haar naam in ’n boodskap gebruik, moet sy weet hier kom ’n ding. Hy voel sleg oor iets. Of dalk herinner hy homself maar net weer wat haar naam is.

      Lucky.

      Hoekom hy haar hier gelos het sonder om daai naam terug te vat en ’n beter een uit te dink, kon sy nog nooit verstaan nie.

      En om die een of ander rede koop niemand dit as sy sê haar regte naam is Carla van der Veen nie. Dis asof die naam ’n lieg was. ’n Tydelike een totdat Lucky ’n week later uitgedink is.

      Sy onthou die dag by die skool met die permanent marker … Hot Stefan wat haar gesig vashou terwyl sy ewe cool tweelingbroer allerhande strooi op haar gesig teken. Sy’t gedink sy’s verby die slagoffer-stadium, verby die stadium om geboelie te word. Sy dra dan al bra, wat nou wel ’n sportbra is, maar nog steeds. Die skok en die seer kon sy nie daai aand in die bad afgewas kry nie. Haar ma kon nie verstaan waaroor al die gehuil gaan nie.

      Gelukkig het die gespot in Graad 10 opgehou. Dis toe sy agtergekom het sy verstaan hoe ’n rekenaar se kop werk. Toe moes selfs die grootste jock kom bakhand staan sodat sy hom met sy tutoriaal kon help.

      “Dis omdat ek so Lucky is om jou te hê.”

      Whatevs. So “lucky“ dat hy sy goed gepak en haar met haar ma gelos het?

      Dit alleen is ’n full-time job.

      Maar vanaand se boodskap? Die kastige plan wat hy het … Dit verander alles. As hy dit bedoel.

      Kontak tussen hulle die laaste paar jaar het bestaan uit ’n maandelikse oproep, want ’n oorsese bellery is duur. Dan sal sy in die agtertuin se ruigtes gaan sit waar niemand haar kan hoor nie. Selfs in die winter, maak nie saak watter tyd nie.

      Altyd dieselfde uitvraery.

      “Ja, Pa, Elsa doen haar huiswerk. Ja, Pa, Ma is oukei.”

      Verjaarsdae kry sy R500. Nog elke liewe jaar. Haar ma moet dit in harde kontant in haar hand gee. Dis die deal en klaar. Dié transaksie is ook die enigste kommunikasie tussen haar ouers.

      Dan hou sy dit in ’n blik bo in haar kas. Vir eendag.

      Om haar Lucky te noem, was maar een van al die weird besluite wat haar pa al in sy lewe geneem het. Sy weet almal se ouers is ’n bietjie vreemd, maar haar pa vat die koek – mét die icing daarby.

      Teen haar kasdeur is daar ’n foto van pa en dogter opgeplak. Sonder om na die foto te kyk, kan sy dit voor haar sien. Sy ken elke millimeter van daai foto.

      Hy hou haar vyfjarige lyfie styf teen hom vas, terwyl dit lyk of die wind se onsigbare vingers met sy hare speel … hom lok om die normale agter te laat. ’n Toer om die wêreld is seker baie meer opwindend as om pa te speel vir sy twee dogters. Die paisley-serp om sy nek eggo sy avontuurlus. ’n Wêreldreisiger wat die lewe kén.

      Hy hou haar so styf vas, dit lyk of haar vet kinderlyfie wil bars. Sy kon haar altyd verkyk aan sy reusehande wat die klein skroefies van sy motorfiets raakvat. Hy was sterk en sy werk was sy als, maar hy het álles gelos as sy seergekry het.

      Dis die enigste foto wat sy van hom het.

      “Daai gesig van hom wil ek nooit weer sien nie!” het haar ma gesê die dag toe sy met die foto’s en die skêr op die mat gesit het. Haar hart het saam met die foto’s geskeur toe haar ma besluit het sy wil die “vibes” in die huis skoonmaak en alles met ’n “negatiewe energie” vernietig en verbrand. Sy wou haar ma iets aandoen toe dié selftevrede sê: “Kan jy dit voel? Nou’s die lug skoon, my kind.”

      Maar hier’t hy nou gereply. Met ’n WhatsApp-boodskap wat haar naam inhet. En instant messaging is só nie hy nie. Maar sy het ’n voeler uitgesteek, hom net gevra hoe dit gaan. Sy het gehoop vir ’n betekenisvolle chat, dat hy iets van sy lewe duisende kilo’s ver met haar sal deel. Nie dat hy iets voorstel wat haar hele lewe omver sal gooi nie.

      Met haar oë op skrefies lees sy weer elke woord op die skerm. Totdat die woorde bollemakiesie in haar binneste maak en ’n werklikheid word. Uit die hoek van haar oog is die ster sy blink self, maar die wêreld is nie meer wat dit gister was nie.

      Sy trek die duvet terug en sit regop, swaai haar bene oor. Met elke lees klop haar hart vinniger. Sy soek haar pantoffels. Die een lê doer onder die bed. Met een knie op die vloer kry sy hom.

      Sy moet dit vir iemand wys.

      Al weet sy goed watter dele om op te trap om tjoepstil oor die gang se houtplanke te beweeg, loop sy nou met mening.

      Sy gaan staan in haar ma se kamerdeur. Die lang, rooibruin slierte hang soos wasgoed oor die enkelmatras se kant. ’n Spierwit duvet verberg haar ma se gesig. Sy staar vir ’n paar oomblikke daarna en luister na die getik-tik-tik van die muurhorlosie.

      ’n Denneboom se silhoeët wieg stadig heen en weer teen die muur. Iewers begin ’n kriek sy gesanik, asof hy op haar wil klik. Sy vou haar arms oor haar lyf in die oorgroot T-hemp en draai terug gang toe.

      In die kombuis verblind die yskaslig haar en die aartappelslaai se eierreuk stroom haar neusgate binne. Dit was Elsa se beurt om kos te maak gisteraand. Met die pakkie hoender-schnitzel daarby was dit ’n duur Woolies-uitstappie, maar sy het dié keer anderpad gekyk. Danksy haar fyn berekening en die feit dat daar nie meer ’n gin-bottel in die voedselmenger se bak skuil nie, klop die somme deesdae.

      Aan tafel het sy en Elsa al weer die wie-het-dit-die-crapste-debat gehad. Sy is oortuig haar suster is in die beste skool ooit – made for life omdat dit Engels is. Op veertienjarige ouderdom praat Elsa ’n perfekte Engels en sý hakkel nog om die mees basiese sinne netjies uit te kry.

      “One cappuccino for me, please.”

      Die hot kelner by Get Together glimlag skaam toe sy haar bestelling plaas. Of dit vir haar dik Afrikaanse aksent is, sal sy seker nooit weet nie. Dan vlam sy wange skielik rooi.

      By die huis het sy die smeersels swart onder haar oë met ’n wet wipe afgevee. Dis die laaste keer wat ek ’n man met liquid eyeliner probeer beïndruk, het sy net daar besluit.

      “Hou op moan, Elsa, julle hoef nie kotsgroen rokke te dra nie! En julle het daily interaction met ouens,” het sy gisteraand die nimmereindigende geveg verder gevoer.

      Elsa maak haar lang hare so styf moontlik weg van haar gesig in ’n bokstert vas. Superballerina met ’n tjip op die skouer. Sy staar na die skoongeveede toonbank en asem in om nog iets te sê. Maar sug eerder terwyl sy langsaam ’n ertjie met haar vurk rondstoot.

      ’n Skelm glimlag tussen Lucky en haar ma daarby beteken die gesprek is afgehandel.

      Lucky is nie gewoond aan hierdie anderster weergawe van haar ma nie. Tot onlangs was sy ’n baie groter bekommernis as haar vroegryp suster. Hoe lekker is dit om nie meer die gin-bottels te moet wegsteek as Gideon, haar beste seunspel wat ’n klipgooi van hulle bly, kom kuier nie. Of om te moet vrees die bure hoor die geklingel op pad na die asblikke nie.

      Wie sou ooit kon dink dat ma en dogter saam in hulle mou kan lag?

      Sy


Скачать книгу