'n Liedjie vir Anine. Elsa Winckler

'n Liedjie vir Anine - Elsa Winckler


Скачать книгу

      

      ’n Liedjie vir Anine

      Elsa Winckler

      Lux Verbi

      Vir Heinz

      Een

      Nog ’n fees, nog ’n tent vol mans wat te veel gedrink het en vroue wat hom uitlokkend of leepoog aankyk. Zander sluk die frustrasie af terwyl hy die laaste note van die song sing.

      Eens op ’n tyd kon hy nie wag om op die verhoog te klim nie. Hy wou sing, hy wou musiek maak wat mense raak, maar iewers langs die pad het wat hy doen ’n blote werk geraak, iets wat sy rekenings betaal.

      Die louter vreugde wat musiek nog altyd vir hom gebring het, is weg.

      Reg voor hom is daar weer ’n stampery en stoeiery tussen die mense, maar hy kyk af na sy kitaar en probeer dit ignoreer. Tydens sy eerste song het hy die bottle blonde al raakgesien. Dié een wat die meeste ander mense met haar elmboog eenkant toe gewerk het. Sy het baie min klere aan en dit maak nie saak in watter rigting hy kyk nie, sy is dáár. Nou het iemand heel waarskynlik voor haar probeer indruk en veg sy om haar plek.

      Daar is nog drie nommers op sy program, maar hy beduie vir sy klankman hy maak klaar en die eerste note van die finale song vul die tent. Die blondine begin om die bandjies van haar toppie af te trek, ’n dronk middeljarige man skree ’n belediging van dié kant af, en Zander maak sy oë toe en sing.

      Hy sny al die ander geraas uit. Hy wil sing, hy wil die klanke in sy hart met ander deel. Maar hy is moeg om van fees na fees te ry, om sy liedjies te sing vir ’n gehoor waarvan die helfte van die mense nie eens nugter is nie en dit die ander helfte nie kan skeel wie op die verhoog staan nie.

      Dis nié wat hy wil doen nie.

      Hy moes lankal ’n nuwe CD gemaak het, hy besef dit, maar die musiek wat vandat hy kan onthou in sy hart, in sy siel, in sy bloed, en rondom hom was, is net weg.

      As kind het hy gedink almal hoor wat hy hoor. Almal weet van die musiek in die lug. Almal hoor dieselfde note wat hy heeltyd hoor, en eers op skool het hy agtergekom hy is al een wat die musiek hoor.

      Dis ’n unieke gawe, het sy ma hom vertel.

      Maar ’n geruime tyd al hoor hy nou niks. Die musiek, die note – als is weg. Presies wanneer dit gebeur het, weet hy nie, maar die tyd wat hy nie kon wag om ’n volgende liedjie te skryf nie, om musiek te maak uit lirieke en note blyk verby te wees. Nou al vir maande.

      Wanneer ’n noot af en toe wel diep in die nag opklink, is dit ’n hartseer mineurklank. En hy weet nie hoe om die leemte, die gemis te hanteer nie.

      Hy soek na note, na woorde om uitdrukking te gee aan wat in sy binneste aangaan, maar sy vingers is vir die eerste keer dom op die kitaar. Hy het niks om te sê nie.

      Iets moet gebeur; dis tyd. Hy raak ongeduldig. Hoekom antwoord die Here hom nie? Waarvoor wag Hy? Wat is dit wat moet gebeur voordat hy musiek weer in sy lewe kan terugkry?

      Uiteindelik is die song klaar en met ’n wuif van sy hand stap hy gou van die verhoog af. Agter hom raas die mense in elk geval so, hy dink nie eens hulle kom agter hy is klaar nie.

      Charles, sy agent, wag hom in. “Jy het gouer klaargemaak as die uur waarvoor jy betaal is,” brom Charles.

      “Ek weet. Betaal hulle terug. Ek gee nie om nie, maar vir daai dronk spul sien ek nie verder kans nie.”

      “Daar is ’n paartie by …”

      “Ek gaan terug hotel toe,” val Zander hom in die rede.

      “Wat van die CD-verkope? Daar is klaar ’n ry mense wat op jou wag om foto’s te laat neem.”

      Zander sug. Of hy dit nou wil doen of nie, hy sal maar moet gaan staan en glimlag vir selfoonfoto’s en die omslae van CDs teken totdat sy hand kramp. Hy is dankbaar oor wat hy bereik het en besef goed dat as dit nie vir sy ondersteuners was nie, dit nooit sou gebeur het nie.

      Hulle verdien ’n stukkie van sy tyd.

      Toe hy twee uur later by die hotel aankom, is al waarna hy uitsien, ’n lang stort en sy bed. Dit was ’n rowwe week en die een wat voorlê, lyk nie veel beter nie. Volgende naweek het hy gelukkig geen besprekings nie, en hy kan nie wag om terug by sy eie huis te wees nie.

      Toe sy broer ’n jaar gelede getroud is, wou hy sy nuwe bruid nie na die huis neem waar hy en sy eerste vrou gewoon het en waar sy dood is nie.

      Stephen het ’n nuwe huis gekoop en Zander het die huis op Somerset-Wes by hom gekoop.

      Hy het tot in daardie stadium in ’n woonstel gebly, maar nou het hy ’n huis, ’n tuin, ’n plek wat hy sy eie kan noem. Hy is mal oor sy huis al is hy min daar. Die plek is heeltemal te groot vir hom; dis ’n huis vir ’n gesin, ’n hond …

      Goeiste, waar loop sy gedagtes vanaand? Trou en kinders kry is mylpale wat hy seker vorentoe sal wil bereik, maar haastig is hy beslis nie.

      Buitendien, van wat hy in die bedryf sien, is daar min vroue wat die uitdaging kan hanteer om met ’n bekende sanger getroud te wees.

      En, het hy die afgelope paar jaar agtergekom, die meeste vroumense stel ook net belang daarin om aan sy sy te wees sodat hulle mediablootstelling kan kry.

      Niemand stel hoegenaamd in hom as persoon belang nie, nie regtig nie.

      Hy is seker sinies, maar ses jaar nadat hy bekend geword het laat roem ’n wrang smaak in sy mond. Aanvanklik was al die aandag opwindend, maar hy het gou geleer die pers bou jou op sodat jy met mening van jou voetstuk afgemoker kan word. Dit maak nie saak hoe dit gedoen word nie, en of die feite reg is nie, daar word oor enigiets gespekuleer, van die kleur van sy hare tot die huis wat hy gekoop het.

      Kopskuddend sluit hy sy kamerdeur oop. En …

      Hy knip sy oë, maar hy hallusineer nie. Sonder ’n draad klere aan, sit die blonde daar wat vanaand voor by sy uitvoering gestaan het.

      “Hoe het jy hier ingekom?” vra hy bars.

      Sy spring van die bed af en kom heupswaaiend nadergestap. “Ek ken die regte mense,” glimlag sy.

      “Wat soek jy hier?”

      “Jy’t met my geflirt,” pruil sy. “Ek het die boodskap gekry. Kom, ek wag al lank vir jou.” Sy steek haar arms na hom toe uit, maar hy vlieg om en storm by die kamer uit.

      Hy bel vir Charles. Minute later stap hy saam met twee hotelsekuriteitsbeamptes terug na sy kamer toe.

      Hulle stap voor hom in. Die vroumens het ten minste intussen klere aangetrek.

      “Kom, juffrou,” sê iemand en vat haar arm.

      Sy ruk los en kyk Zander beskuldigend aan. “Jy’t my kamer toe genooi, hoekom is jy nou snaaks met my? Daar is iets tussen ons; ek verstaan nie hoekom jy daarteen baklei nie. Jy flirt die hele aand al met my!”

      “Ek het nie eens met jou gepraat nie,” sê hy vies.

      “Jy hét met my geflirt!” roep sy oor haar skouer terwyl die sekuriteitsbeamptes haar by die deur uitsleep. “Ek sal jou kry, hoor jy my? Niemand behandel my so nie. Wie dink jy is jy?”

      Hy druk die kamerdeur agter hulle toe en sluit die deur. Buite klim haar stemtoon amper ’n oktaaf, maar hy strompel na die kamervensters en maak hulle oop. Haar swaar, klewerige parfuum hang nog in die lug.

      Wat gaan met die vroumense aan? Magtig, vroeër vanjaar het een selfs beweer sy verwag sy baba!

      Walging maak hom naar. Hy voel vuil. ’n Stort. Dis wat hy nou nodig het.

      ’n Week later land hy uiteindelik weer in die Kaap. Dis Vrydag en ’n hele naweek sonder enige optredes lê voor. Hy kan ’n slag by sy mense uitkom. Hy kan nie onthou wanneer laas hy sy ma se kos op ’n Sondag geëet het nie.

      Hy is op pad na sy motor toe sy foon lui. Charles. Hulle het vanoggend gepraat voordat hy uit Johannesburg weg is. Iets moes gebeur het wat Charles nou weer laat bel. Met ’n naar kol op sy maag, antwoord hy die foon.

      “Charles.


Скачать книгу