Toe-Val-Lig. Amore Bekker
Toe-Val-Lig
Saamgestel
deur Amore Bekker
Die beste stories van toeval uit
Tjailatyd
Tafelberg
Voorwoord
Mense hou nie altyd van die woord toevallig nie, maar ek glo alles gebeur toevallig, want toevallig beteken ook “toe val lig”.
Die sosioloog William Bruce Cameron het gesê: “Nie alles wat tel, kan getel word nie en nie alles wat getel kan word, tel nie.” Hierdie woorde laat jou besef dat daar perfekte orde in die wêreld is en dat dinge gebeur soos dit moet.
Ook nadat my kêrel Robbie Nutt en sy medevlieënier, Paul Geng, op 13 Desember 2009 dood is in ’n vliegtuigongeluk. Paul was ’n direkteur van ’n sagtewaremaatskappy en sy vennoot, Vaughan Russel-Smith, het ná sy dood oral in die maatskappy-argief gesoek na Paul se testament, maar kon dit nêrens kry nie.
Vaughan het destyds in Bryanston in Johannesburg gewoon en omdat dit dié Desember baie warm was, het hy snags die skuifdeur laat oopstaan. Kort ná die ongeluk het die alarm wat aan die sekuriteitstrale in die tuin gekoppel was, elke oggend klokslag om 03:17 gelui. Hy ontdek toe dat ’n kat elke oggend sewentien minute oor drie deur een van die strale loop. Dit het vir dertien dae aangehou en toe net so skielik opgehou. Toe Vaughan die storie vir sy suster vertel, sê sy hy moet in laai 317 in die argief gaan soek vir Paul se testament. Hy is reguit kantoor toe en toe hy die laai oopmaak, lê die testament bo-op al die dokumente in die laai.
Net so vertel dié versameling toeval-stories van baie ander ervarings wat moeilik is om te glo. Iemand ontmoet ’n sielsgenoot op ’n trein waarop nie een van hulle moes wees nie. ’n Familie word ná dekades in Duitsland herenig danksy ’n ryloper wat iemand in Mpumalanga opgelaai het. Selfs by ’n sluipmoordpoging op dr. H.F. Verwoerd het ’n Amerikaner en ’n Suid-Afrikaner se paaie toevallig gekruis. Twee krygsgevangenes uit die Tweede Anglo-Boereoorlog word dekades later familie.
Dit is maar net ’n paar van die stories van toeval wat Tjailatyd-luisteraars met my gedeel het. Elkeen is bewys daarvan dat daar meer in ons lewe aan die gang is as wat ons altyd sien of hoor of voel.
Kom, lees saam en verwonder jou!
’n Preek vir die president
Dit was die tradisie by die Groote Kerk in Kaapstad om die Sondag voor die parlementsopening ’n erediens te hou waarheen die staatspresident, die vier administrateurs en parlementslede uitgenooi word. In die verlede is hierdie uitnodiging deur die betrokkenes as vanselfsprekend aanvaar.
Met die nuwe bedeling in 1994 was dit egter nie so vanselfsprekend nie. Die president het immers nie aan een van die drie Afrikaanse kerke behoort nie (soos in die verlede altyd die geval was) en die regering was die ANC (destyds nog ’n vreemde gedagte).
Hoe nou gemaak? Die voorstel van ’n wyse gryse is aanvaar: Stuur die uitnodiging aan die president en laat hy besluit. Plaas só die bal in sý baan.
So gesê, so gedaan. Twee maande voor die opening van die parlement is die uitnodiging aan die kantoor van die staatspresident gestuur. Sonder reaksie.
Nou moet ek erken: Omdat ons geen reaksie van die president se kantoor ontvang het nie, het ek aanvaar dat hy nie gaan kom nie. Daarna het ek van die uitnodiging en die preek wat daarmee gepaard sou gaan, vergeet. Die preek wat ek voorberei het, het glad nie met die moontlikheid van die president se teenwoordigheid rekening gehou nie.
Die Vrydag voor die erediens skakel ’n joernalis van Die Burger my. Hy wil weet of die staatspresident die Sondag se erediens gaan bywoon.
In antwoord op die joernalis se vraag moes ek hom meedeel dat ons wel ’n uitnodiging gerig het, maar geen reaksie ontvang het nie. Ons het aanvaar die skrywe het iewers verlore geraak. Die Saterdag verskyn daar toe ’n berig in Die Burger wat melding maak dat die Groote Kerk mnr. Mandela na die tradisionele erediens uitgenooi het, maar geen reaksie ontvang het nie.
Vyfuur daardie Saterdagmiddag skakel mnr. Jakes Gerwel, privaat sekretaris van die president, my. Hy sê hulle het kennis geneem van die koerantberig, maar die president sal wel die volgende dag se diens bywoon. Hy vlieg spesiaal van Pretoria af Kaapstad toe daarvoor.
Kan jy jou indink watter geskarrel dié nuus toe veroorsaak: Veiligheidsmanne wat die hele kerk moes deursoek; daar is elke Sondag blomme in die kerk, maar nou moet die rangskikking ekstra groot wees; benewens die gebruiklike tee ná die diens moet daar nou ook koekies wees; die orrelis speel elke Sondag baie mooi, maar nou sal hy moet uithaal …
En my preek? Sou ek ’n nuwe een moes uitwerk? Nee. Dis hier waar die lig toe val.
Want die teksvers wat ek vir die diens – ’n doodgewone een sonder Mandela – gekies het, was Romeine 12 vers 21: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Dit het soos ’n handskoen by die geleentheid gepas en het juis mnr. Mandela se lewensfilosofie weerspieël. Met ’n paar klein aanpassings was die preek perfek vir die geleentheid.
Toevallig? Nee. Toe val lig – beskikkingslig!
’n Stertjie: Ná die tyd het ek ’n handgeskrewe brief van Nelson Mandela gekry waarin hy verskoning vra vir sy karige bydrae in die kollektebord; hy het sy beursie by die huis vergeet.
Ds. Johann Smith
’n Beursie onder ’n kar
In 1974 was ek in matriek in die destydse Oos-Vrystaat. Saam met my in die klas was Chrissie; ons was van sub A tot matriek in dieselfde klas. Chrissie se familie was skatryk. Ek het daarenteen aan die verkeerde kant van die spoorlyn grootgeword.
Ons het alles saam gedoen en was onafskeidbaar. Ons het as tieners saam leer dans en is saam matriekafskeid toe. Ek het haar dié aand die eerste keer gesoen. Ons verhouding het ernstig geraak en ons het drome gehad van trou en kinders kry. Ons het mekaar belowe dat as een van ons iets sou oorkom, die ander een daar sou wees met ’n rooi roos en sou fluister: “Ek is lief vir jou.”
Chrissie is toe universiteit toe, maar ek het agtergebly. Dit was die eerste keer dat ons geskei was en ons het elke moontlike geleentheid gebruik om bymekaar te wees. Ses maande later is ek weermag toe en het ons mekaar nog minder gesien – slegs een keer per maand. Maar ons het bokse vol briewe vir mekaar geskryf.
Toe ek grens toe is, het die briewe opgedroog. Op ’n dag kry ek een van haar pa om my mee te deel dat Chrissie in Amerika verder gaan studeer het en dat ek nie moet probeer om met haar in verbinding te tree nie. Sy het iemand anders ontmoet en hulle is verlief, maar sy het nie die moed om dit self vir my te sê nie.
Ek het vir jare oor haar getreur en het intussen gehoor dat sy getroud is. Die tyd het aangestap en ek het ook later iemand spesiaals ontmoet. Sy was ’n wonderlike vrou; ons was baie lief vir mekaar en het mekaar ondersteun.
Nogtans het ek af en toe aan Chrissie gedink en het dit gevoel asof daar ’n gemis in my lewe is.
My vrou het skielik siek geword en is twee jaar terug oorlede. Ons was 38 jaar lank getroud. Later het ek ook siek geword en het die dokter my meegedeel dat ek ses maande oor het om te leef.
Een middag, voor ’n besoek aan die onkoloog, klim ek uit my motor in die parkeerarea en merk ek iets onder ’n voertuig voor my lê. Ek buk en tel dit op. Tot my verbasing is dit ’n beursie. Binne-in is kontant, kredietkaarte en ’n kwitansie met ’n naam en selfoonnommer op.
Ek bel die nommer en ’n jong vrou antwoord die foon. Dis Anita, die naam op