'n Belofte vir Bippie. Elsa Winckler

'n Belofte vir Bippie - Elsa Winckler


Скачать книгу
ection>

      

      ’n Belofte vir Bippie

      Elsa Winckler

      Lux Verbi

      Een

      Reina lag opgewonde aan die ander kant van die lyn. “Bippie, sê nou weer stadig, ek wil seker maak ek verstaan mooi.”

      Met haar selfoon teen haar oor, druk Bippie die skootrekenaar toe en spring op. Die eerste mens wat sy dadelik moes gebel het, is natuurlik Reina, haar baas by die oudhedewinkel waar sy deeltyds werk, haar vriendin, een van die engele in haar lewe. Goeie nuus was skaars die afgelope tyd en vandag se nuus moes sy net dadelik met Reina deel.

      “Die twee eksterne eksaminatore het die verhandeling vir my MA goedgekeur! Denise, my studieleier, het my so pas gebel om te sê. Heerlike nuus so vroeg op ’n Maandagoggend. Ek sal die amptelike kennisgewing nog kry, maar ek vang graad aan die einde van die jaar!”

      “Aah, ek is so bly vir jou part!” roep Reina uit.

      Bippie sit haar hand op haar buik. “En teen daardie tyd behoort Papawer al ses maande oud te wees.”

      Papawer. Dis wat sy die dingetjie noem wat in haar groei. Met haar eerste besoek aan die dokter verlede jaar in September het hy beduie die embrio is aanvanklik maar so groot soos ’n papawersaadjie. Hier op twintig weke is die nuwe mensie lankal baie groter as net ’n saadjie, maar sy bly daaraan as “Papawer” dink.

      “Ons is almal so opgewonde saam met jou, Bippie. Ek weet die omstandighede is nie ideaal nie, maar die wonderlike nuus oor jou verhandeling is die begin van goeie dinge vir jou; dit glo ek met my hele hart. En onthou, jy het ’n hele span mense wat vir jou bid!”

      Bippie lag bewerig. “Dankie, dis net soms bietjie oorweldigend.”

      Reina is ’n oomblik stil. “Is jy nog seker oor jou besluit om Papawer self groot te maak? Om op McGregor te bly? Ek kan sien iets hinder jou. So met die tantes in die ronde en al ons gespook om die voorraad in die winkel uit te pak, het ons nog nie kans gehad om oor jou sake te gesels nie.”

      Bippie is sommer weer tranerig en moet ’n paar keer sluk voor sy kan praat. “Om eerlik te wees, is ek maar bietjie uitgefreak. Maar ek bly net vir myself sê, as jou ouma Reina so vreesloos kans gesien het om ’n baba op haar eie groot te maak in ’n tyd toe dit baie moeiliker was, kan jy dit ook doen. Uiteindelik is dit die enigste keuse waarmee ek kan saamleef, die enigste een wat reg voel, wat vir my vrede gee. Maar ek bly wonder …” Haar keel wil weer toetrek en sy moet weer sluk.

      “Praat met my, Bippie, wat pla jou nog? Het iemand iets gesê wat jou ontstel het?”

      “Nee, dis net … ek is in hierdie situasie omdat ek nie na die stemmetjie in my binneste geluister het nie. Sê nou iets gaan verkeerd omdat ek ’n fout gemaak het en die Here se stem geïgnoreer het? Sê nou iets gebeur met my of met Papawer omdat ek ongehoorsaam was?”

      “Bippie, luister nou vir my. Ons is mense, ons maak foute. Ek moes nooit met Bert getrou het nie, maar ek was alleen na my ouers se dood, kwaad vir die Here en het nie na niemand, nie eens ouma Reina se raad geluister nie. Maar ek is vergewe, die Here het Derek oor my pad gestuur en vandag is ek gelukkig. Diep, diep gelukkig. Dit beteken nie hiervandaan gaan ons nooit probleme hê nie; die lewe is onvoorspelbaar en ons weet nie wat voorlê nie. Maar wat ek wel weet, is ons hoef nie een enkele probleem alleen aan te pak nie. Jy moet begin deur jouself te vergewe en die verlede in die verlede te los. Daar is heelwat inligting op die internet daaroor – gaan kyk ’n bietjie.”

      “Myself vergewe?” prewel Bippie.

      “Jip. Onthou, Jesus het vir ons sondes aan die kruis gehang. Ons is vergewe, ons vergeet net so dikwels daarvan. Jy is vandag ’n ander mens as die een wat jy ’n jaar gelede was. Wat gebeur het, het gebeur. Dis tyd dat jy vorentoe kyk. En ek en Larissa en die tantes kan nie wag om te begin popspeel nie,” sê Reina. “Ek wou ook nog vra, het jy weer iets van Stan gehoor?”

      Bippie trek haar mond. Stan, Papawer se biologiese pa, stel hoegenaamd nie belang in die kind wat sy verwag nie. Toe sy hom vertel sy verwag sy baba, het hy net gelag. Nie sy probleem nie, het hy skouerophalend gesê. Sy kan mos ontslae raak daarvan.

      “Nee, ek het nie en ek verwag ook nie om van hom te hoor nie. Aanvanklik het sy reaksie my geskok; ons was tog saam vanaf my eerste jaar. Maar eintlik is ek verlig. Stan is die ewige student. Vir hom is die lewe een groot partytjie. Ek het eintlik lankal besef ons het bitter min gemeen.”

      “Jy is nie al vrou wat die fout maak om in ’n ongewenste verhouding te bly nie, Bippie, ek het dit self ook oorgekom.”

      “Stan was die eerste man wat in my belanggestel het, en ek besef nou eers ek het vasgeklou aan die verhouding omdat ek nie alleen wou wees nie. Ek was ontsteld toe hy Papawer so maklik wou afstaan, maar uiteindelik maak dit dinge net makliker.”

      “Wel, jy gaan Papawer nie alleen grootmaak nie, sy – of hy! – begin die lewe met ’n groot uitgebreide familie!”

      Bippie is sommer weer tranerig. “Dis so spesiaal, ek weet. Toe ek die dag by jou oudhedewinkel ingestap het op soek na deeltydse werk, was dit ’n bestiering. Wat ek nie dadelik besef het nie, is dat ek op daardie dag ook ’n hele nuwe familie bygekry het. Jy en Larissa – jou advokaat nogal! – is my absolute steunpilare. Ek weet nie hoe om dankie te sê nie.”

      “Ons help mekaar. Ek is weer bly jy sien kans om ’n ruk op McGregor by my ouma se vriendinne te bly, want ek was maar bekommerd oor hulle en oom Fred.

      Het jy vanoggend al vir Riekert gewaar? Hy het in die eerste weke van Januarie nog ’n paar dinge by ander projekte gehad om af te handel, maar Derek sê hy begin vandag met die restourasie van ons huis. Ek is al so opgewonde.”

      Skielik is daar ’n hol kol op Bippie se maag: Riekert Tredoux. Net die noem van die man se naam het ’n manier om haar binnegoed om te dop. Sy kyk by die venster uit. Daar is geen beweging voor die oorkantste huis nie. “Als is doodstil, maar dis nog vroeg.”

      “Derek is darem so in sy skik omdat Riekert ingestem het om die restourasie waar te neem. Hy het al by soveel mense gehoor van die puik werk wat dié man doen. Ek wil nog graag weet hoekom ’n ingenieur verkies om eerder huise te restoureer; hopelik kan ek hom oor die naweek vra wanneer ons kom kuier. Maar ek sien jou ook in die week wanneer jy dokter toe kom, of hoe?”

      “Ja, ek ry vroeg Dinsdagoggend deur. Ek wil by die universiteit ook ’n draai maak om vir Denise te sien – maar ek behoort so teen etenstyd by jou te wees.”

      Hulle gesels nog bietjie voor Bippie groet en hulle aflui.

      Bippie sluk. En sluk, maar dis asof sy net nie vandag die paniek wat haar keel so dikwels die afgelope ruk wil toedruk, weggesluk kry nie. Sy trek haar asem diep in.

      ’n Baba. Sy verwag ’n baba. Sy is vier-en-twintig, sy is besig met haar studie in Argeologie, sy is ongetroud en sy is swanger. Sy bly op McGregor in hierdie huis van Reina, haar tydelike werkgewer. Sy het nie ’n plek van haar eie nie en behalwe die ou motortjie vol nukke wat sy van haar ouma geërf het, besit sy op die aarde niks.

      Dis asof die vooruitsig van die reusagtige verantwoordelikheid van ’n baba haar die afgelope week of wat heeltemal wil oorweldig. Wat weet sy van babas af? Van kinders? Van ma-wees?

      Al wat sy weet, is dat sy nie ’n ma soos haar eie ma wil wees nie. Albei haar ouers is akademici, wat nooit ’n geheim daarvan gemaak het dat Bippie ’n onbeplande baba was nie, een wat hulle eenvoudig tussen hulle navorsingsprojekte ingepas het. Haar hele skoolloopbaan, en ook as student, het dit vir haar gevoel sy is nie by die regte huis nie, want sy hoort nie by hierdie adres nie.

      Papawer mag nooit so voel nie.

      En dis nie asof sy na ander voorbeelde kan kyk nie – sy ken niemand met ’n baba nie; dis die laaste ding waaraan enige van haar universiteitspelle op die oomblik dink. Die meeste van haar vriendinne begin vanjaar werk of gaan oorsee om hulle vlerke te sprei.

      Haar ouers het dit duidelik gemaak hulle wil niks met haar “probleem” te doen hê nie en haar aangemoedig om van “die ongewenste swangerskap” ontslae te raak. Dis die uitweg met die minste


Скачать книгу