Uit die beek 2020. Barend Vos

Uit die beek 2020 - Barend Vos


Скачать книгу
ection>

      

      Barend Vos

      Lux Verbi

      Die uitleg van teks in hierdie digitale uitgawe van Uit die Beek 2020 mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

      Voorwoord

      Uit die Beek is Afrikaans se oudste Bybelse dagboek. Die eerste weergawe hiervan het in 1925 verskyn, in Nederlands, en word sedert 1927 Uit de Beek genoem. Die naam is waarskynlik ontleen aan Psalm 110 se laaste vers soos dit in die Nederlandse Bybel lui: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.”

      In 1929 is dié dagboek vir die eerste keer in Afrikaans gepubliseer, met die titel wat dit sedertdien dra.

      Die daaglikse Skriflesings in dié uitgawe, soos in die voorafgaande twee, volg grootliks dié van die bekende leesrooster Revised Common Lectionary (RCL). Dié rooster met teksgedeeltes is geskep om kerke oor die wêreld heen te help om die groot momente in die gang van die liturgiese jaar saam te volg: Advent, Epifanie, Lydenstyd, Pinkster, Koninkrykstyd.

      In 2020 kom die liturgiese Jaar A aan die beurt. En Jaar B met die aanbreek van Advent. Dit beteken dat hierdie siklus nou voltooi is: Die drie liturgiese “jare” soos dit deur die RCL gebruik word, is in die Uit die Beek-uitgawes van 2018, 2019 en 2020 eerbiedig.

      Baie dankie aan almal wat my tot hiertoe op ons daaglikse reis vergesel het. Mag 2020 se laaste skof ons gereeld herinner aan Jesusvolgelinge se opdrag om lief te hê, en om verwonderd te bly dat Hy daagliks ons dors op sy unieke manier les.

      BAREND VOS

      Pearly Beach, 20 Julie 2019

      Sake vir voorbidding

      SONDAG: Die uitdra van die evangelie

      •Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees

      •Dat die hoorders daders sal word

      •Dat gelowiges toegerus sal word vir die week

      •Dat ongelowiges tot geloof sal kom

      •Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel

      MAANDAG: Opleidingsinstellings

      •Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik

      •Dat elke leerder gehalteonderrig sal kry

      •Dat dissipline herstel sal word

      •Dat die jeug reg gevorm sal word

      •Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard

      DINSDAG: Die jeug

      •Dat ouers die regte voorbeeld sal stel

      •Dat kinders die Here tuis sal leer ken

      •Dat kinders groepsdruk sal weerstaan

      •Dat kinders die regte keuses sal maak

      •Dat kinders mekaar na Jesus sal lei

      WOENSDAG: Owerhede

      •Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg

      •Dat die regering die regte besluite sal neem

      •Dat die parlement God sal verheerlik

      •Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag

      •Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn

      DONDERDAG: Sending en getuienis

      •Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige

      •Vir sendelinge en hul gesinne

      •Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef

      •Dat die Gees harte sal voorberei en verander

      •Vir die nodige finansies vir die werk

      VRYDAG: Diens van barmhartigheid

      •Vir kundige hulp aan werkloses en armes

      •Vir bevryding uit die armoedespiraal

      •Vir die instellings wat mense probeer help

      •Vir die nodige finansies hiervoor

      •Vir elkeen wat in beproewing verkeer

      SATERDAG: Herlewing

      •Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam

      •Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word

      •Dat die Heilige Gees kragtig sal werk

      •Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak

      •Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus

Januarie

      Woensdag 1 JANUARIE 2020 Lees Prediker 3:1-13

      Nuwejaarsdag

      Dit is tyd!

      God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd (v. 11).

      Ja, dit is tyd. Oujaar se sandjies het finaal uitgeloop; die nuwe jaar is hier.

      Baie mense, gelowiges, sal sê: Vergewe my die gebrek aan opgewondenheid oor die aanbreek van hierdie nuwe jaar. En vergewe my sinisme oor daardie maklike trooswoorde: “Alles sal tóg regkom; ons moet net glo.” Nee, die tyd het ons finaal ingehaal.

      Regtig?

      Ons lewe dan in God se tyd. Hy is die Een wat nog altyd vir ons tyd gemaak het én aan ons die tyd gegee het om te doen wat ons hand vind om te doen. Tyd is nooit leeg nie. Dit is pasgemaak, sê die Prediker, vir wat gebeur en vir wat gedoen moet word. En tyd loop nie sommer self uit nie; God is tyd se baas en Hy hou die leisels stewig vas.

      Boonop is daar die kwessie van “die onbepaalde tyd”. Dit is dié soort tyd wat sommer in ons skoot val. En dit is hier waar ons oë gerus maar kan begin blink, want dit is ’n Godsgawe, ’n bonus soos min. Wat maak ons daarmee?

      Hopelik gebruik ons dit. Gryp ons dit met albei hande en ’n gretige hart aan. Dié jaar, soos die vorige een, is korter as wat ons dink.

      Laat jou hande en voete en hart en verstand vandag maar vir oulaas rus in dié wete: Ons leef in sy hand en ons eet uit sy hand. Dit was nog altyd so en dit sal altyd so wees, vir tyd én ewigheid.

      ____________________

      Help my, Here, om die tyd wat U my gee goed te gebruik. Om dit nie op nuttelose bekommernisse of woede of wraakgedagtes te verspil nie.

      Donderdag 2 JANUARIE 2020 Lees Genesis 12:1-7

      “Ek sal …”

      “Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën … Ek sal seën wie jou seën …” (v. 2-3).

      Aan die begin van die Ou Testament se verhale roep die Here vir Abram uit sy land uit, uit sy gemaksone, en gee hom ’n opdrag. En ’n driedubbele belofte.

      Só begin ons Abram se verhaal lees. Met al die kinkels en kabels, die hoogtes, dieptes en draaie. Dit sou uiteindelik ’n mooi storie word, met ook vele minder mooi hoofstukke. Ons leer Abram ken in al sy krag en sy feilbaarheid, sy geloof én sy twyfel. Die triomf en die teleurstellings.

      Wanneer Paulus later na hom as die vader van alle gelowiges verwys, sal ons wat hierdie Genesisverhaal van hom lees, net so liggies die kop skud en wonder: Is dit dan hoe ’n groot gelowige lyk? Is dit soos só ’n mens praat en optree?

      Miskien is dit dan dat ons besef dat geloof se wortels nie in ’n mens se doen en late lê nie,


Скачать книгу