Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale. Deon Meyer
DEON MEYER
DIE BALLADE VAN
ROBBIE DE WEE
EN ANDER VERHALE
HUMAN & ROUSSEAU
“Dit is baie deurmekaar hier,” is sy eerste woorde aan my.
Hy staan teen die kosyn van die skuifdeur aangeleun, sy hande in sy sakke, ’n diep frons tussen die oë wat deur die vertrek dwaal.
Ek bring die kwas tussen palet en doek tot stilstand, ongewoond aan besoekers, krities of onkrities.
“Wie is jy?” vra ek met ’n stemtoon wat hom moet laat verstaan ek hou niks van kinders nie.
“Ek is Buks Barnard, ek woon daar in Dolce Vita vier-een-ses en ek is soveel,” sê hy sy rympie met vier vuil vingertjies in die lug, onbeïndruk deur my stemtoon.
Hy stap die vertrek binne, hande weer in die sakke, oë wat ongewaste koffiebekers, verfblikke en -buise, kwaste, voltooide en halfvoltooide skilderye en potloodsketse op die tafels en vloer ondersoek.
“Wat is jou naam?” vra hy reguit.
“Wat is óóm se naam.”
“My ma sê as sy ’n broer gehad het, sou ek ’n oom gehad het.”
Touché. Maar voor ek kan probeer om die oorhand te herwin (het ek dit ooit gehad?), vra hy, met sy oog op die skilderye: “Is jy ’n skuldenaar?”
“ ’n Skilder.”
“Hoekom is al dié mense so kwaad?” Hy haal weer ’n hand uit ’n sak en wys met ’n krom vingertjie na van die kunswerke wat teen die muur aanleun.
“Hulle is nie kwaad nie,” sê ek verontwaardig. “Hulle kry seer. Binne.”
“Hoekom?”
“Want die lewe is pyn,” mompel ek en ek weet hy sal nie verstaan nie. Ek druk-druk ingedagte met die kwas teen die doek voor my. Dan besef ek Buks Barnard is nie meer in dieselfde vertrek as ek nie. Ek sit die palet en kwas vies neer en stap agterna.
Hy staan in die kombuis, voor die yskas, die deur oop, sy rug gebuig, sy neus daar tussen die halfliter melk, twee bottels konfyt, margarien nog in die foelie toegedraai en ’n kwart van ’n pizza. Ek staan in die deur en hou hom dop, ietwat oorbluf deur sy totale gebrek aan maniere. Wat leer ouers hul kinders deesdae?
Hy staan skielik regop en maak die yskas se deur toe. Die frons is terug tussen sy ogies. Hy kyk vol bewondering na my.
“Daar is bottervisse in jou jêm.” Hy sê dit respekvol.
“Daar’s wat?”
“Bottervisse.” Hy maak weer die yskas oop, haal een van die bottels konfyt uit en stap na my toe. Hy maak die bottel oop. Weer die krom vingertjie wat wys. “Kyk daar.” Hy hou die bottel omhoog en wys. Ek buk af en kyk. Daar is hier en daar mikroskopiese repies margarien in die konfyt.
“Daai cowboys op die televisie gebruik hulle jagmesse vir alles – vir brood sny en smeer en alles. Maar my ma sê dit is die teken van ’n lui mens. Sy sê ek moet ’n mes vir die botter en ’n lepel vir die jêm gebruik, want sy hou nie van bottervisse nie. Sy ken nie cowboys nie. Sy verstaan nie van man wees nie.” Hy sug diep en stap terug na my yskas om die bottel te bêre.
Die oulikheid vang my amper, maar ek skud dit af. “Dit is tyd dat jy teruggaan na jou ma en jul bottervislose huis toe,” sê ek en sleeptrek hom na die skuifdeur waarby hy ingekom het.
“Okay,” sê hy asof hy op sy eie besluit het om te loop. “Sien jou.”
Ek draai om, terug na my skildery.
“Wat is jou naam nou weer?” Hy loer om die hoek, met sy swart kuif wat grond toe hang.
“Christo Nienaber. Gaan huis toe.”
Die gesig verdwyn.
* * *
Ek sit in die lotusposisie op die mat, worstelend met die wete dat my karma besig is om in dié lewe ’n paar duike op te doen: kunstenaar wees, die pyn van die palet, die eensaamheid van die skeppende gees, die Weltschmerz van die kwas …
“Wat doen jy?”
Dieselfde stemmetjie. Ek maak nie dadelik my oë oop nie, probeer om kalm te bly, om aan die laaste strooihalms van die meditasie-beswyming te klou.
“Ek weet jy slaap nie, want jy sit.”
Ek maak my oë oop. “Wat soek jy hier? Het jy nie ’n huis nie? Ek wil jou nie hier hê nie. Ek hou nie van kinders nie. Waar is jou ouers?”
“My pa is in die hemel en my ma is by die huis.” Hy sê dit sonder om ’n oog te knip.
Ek sug en voel hoe die verleentheid rooi oor my daal.
Buks Barnard hou ’n CD-houer na my toe uit. “Ek het dit vir jou gebring.”
Ek neem dit by hom en kyk daarna. Mozart-klaviersonates.
“Maar dit is net om te leen, tot jy beter voel,” sê hy.
“Tot ek beter voel?”
“My ma sê dit was die musiek wat Dawid vir Saul gespeel het. My ma sê dit sal enigiemand weer sag en mooi van binne maak.”
Ek soek ammunisie. “Maar Mozart … Dawid en Saul was lankal dood toe Mozart gebore is.”
“Dit is wat ek ook vir my ma gesê het, maar my ma sê dis eintlik die liewe Heer se musiek en Hy kan dit gee vir wie Hy wil, en toe het Hy dit vir Dawid gegee en toe weer vir Mozart,” sê hy in een asem, sy stemtoon geduldig-verduidelikend, asof hy ’n vierjarige moet leer.
Wat kan ek sê?
Hy vervolg: “Dit moet waar wees, want my ma is baie slim. ’n Rekenmeesteres. Sy maak somme elke dag. Kan ons die musiek opsit? Ek wil kyk of dit werk.”
Ek is nie heeltemal ongevoelig vir die oulik-faktor van kinders, klein hondjies en eendjies nie. Die probleem is dat, in al drie gevalle, hulle grootword en ná die metamorfose al die oulikheid verloor. Die enigste manier om jouself daarteen te beskerm, is om hulle van meet af aan soos die finale produk te behandel.
“Nee, ons kan nie die musiek opsit nie.” Ek staan op, gee die CD terug en neem weer sy hand. “Jy en Mozart moet huis toe.” Ons stap in stilte na die voorste skuifdeur, waar hy weer met ’n “Okay, sien jou” groet.
“Nee,” begin ek. “Jy gaan my nie weer sien …”
Ek word onderbreek deur die klokhelder stem wat na hom roep.
“Bu-uks!” Twee soete lettergrepe, halwe note, E en C. “Bu-uks!”
Dan kom sy om die hoek van die meenthuis langs myne en sê: “O, daar is jy. Vir wie pla jy vandag? Ek is jammer, meneer, hy is ’n regte agie.” Sy is hier by my. Sy steek haar hand uit. Ek sien Buks het sy swart hare en sy donker oë by haar gekry.
“Monica Barnard,” sê sy, en ek skakel af sodat ek nie die musiek, die heuning, die speserye in haar stem kan hoor nie.
Ek neem haar hand. “Christo Nienaber.” Dan los ek dit weer.
“Die skilder?” vra sy amper hoopvol.
Ek is verbaas. Mense vergeet so gou.
“Ja.”
“Kom kyk hier,” sê sy en neem my hand, trek my in ’n rigting.
Ek is te verstom om teë te stribbel. Maar nou weet ek waar Buks Barnard sy gebrek aan maniere gekry het.
Ons is ’n optog: sy voor, die lokomotief wat my onwillige vragwa voortsleep, en die kind en die CD dek die agterhoede, om die hoeke van nog twee huise, tot by nommer 416, in by die deur, waar Monica Barnard gaan staan en na die muur wys. “Kyk,” sê sy trots en los my hand.
Dit is een van my skilderye, Wasgoedvrou. Uit my pre-Christine-periode.
“Weet jy, elke keer wanneer ek moeg of lui of blou raak, dan kom kyk ek na