Soete verleiding. Helena Hugo
>
Soete verleiding
Helena Hugo
Koeksisters en kolwyntjies, melktert en rosynebrood, suikerbolletjies, lallimala, tameletjies – dís wat Sharise van Harte se teekamer, Soete Verleiding, jou bied. Want Sharise het met kos in die Maleiertradisie grootgeword. Ná die dood van haar man was sy verplig om uit te spring en iets te doen.
Dat haar jeugliefde, Jacques du Plessis, ná jare se verblyf in Frankryk na die De Doorns-vallei sou terugkeer, kon Sharise nie voorsien nie. Hulle het destyds aan mekaar trou beloof, maar nou, jare later, lyk dinge heeltemal anders. Sy is seker daarvan dat hy nie meer in haar belangstel nie, al kom hy gereeld in die teekamer. Want die gerugte loop dik dat hy en die beeldskone internasionale model wat hom vergesel, op trou staan.
~ 1 ~
Dis Sondagnag skuins voor twaalf toe Sharise eindelik die kombuisdeur van Soete Verleiding sluit, die ligte afsit en met die trap boontoe klim. Die voordeur kon sy eers halftwaalf toemaak agter ’n groepie gaste wat heel gesellig geraak het rondom ’n paar bottels goeie wyn en haar tradisionele Kaapse kos. Hulle sou heel Sondagnag om die etenstafel kon kuier! En sy kon nie bekostig om in te meng nie. Hulle het agtuur begin en aanhou bestel, met groot fooitjies vir die kelners.
Die kombuispersoneel kon darem intussen die eerste sarsie skottelgoed deur die masjien sit en die stowe skoonmaak, anders sou hulle Maandagoggend moes inkom. Nou het hulle ook die hele dag af, want Maandae is Soete Verleiding gesluit vir besigheid. Dankie tog! Sy wou vroegoggend ’n baksel botterbeskuitjies bak, voor sy winkels toe gaan. Soos sy nou voel, slaap sy laat.
Dis Julie en die dae bly koud en nat – goed vir die kosbesigheid, maar uitputtend vir haar. Sy neem ’n vinnige stort en klim in die bed. Die kat het hom vroeër die aand al daar tuisgemaak en sy moet hom wegrol sodat sy gemakliker kan lê.
“Sorry, Sokkies.”
Hy hou nie daarvan nie en kyk haar boosaardig aan, maar toe hy sien sy het gekom om te slaap, gaan lê hy op haar voete en begin hulle warm broei. Dis gaaf van hom, want sy was te moeg om ’n warmwatersak te maak, en dan is daar niks beters as ’n kat om ’n bed op te warm nie. Hy moet net nie dink die bed behoort aan hom nie, maar by gebrek aan ’n man se warmte is ’n kat seker net so goed.
Sharise het nie ’n elektriese kombers nie. Sy het by haar ouma grootgeword en dié glo vas elektriese komberse is gevaarlik. Jou bed kan aan die brand slaan en dan brand jy in jou slaap dood.
Soos sy kan slaap, is dit beter om haar ouma se raad te volg. Sy werk heeldag volstoom en as sy haar oë toemaak, is sy dadelik weg en slaap soos ’n klip. Beter so, dan hoef sy nie te verlang nie, en op die ou end skuldig voel omdat sy na die verkeerde man verlang.
Sy wikkel haar lyf tot sy gemaklik voel, knyp haar oë toe en stuur ’n vinnige gebedjie op. Sy het immers die Here se dag gebruik om besigheid te doen, sy móét om te kan oorleef. Soete Verleiding het nou wel as ’n teekamer begin, maar mettertyd het sy agtergekom sy kan nie op die winste van tee en koek alleen vertrou nie, die geld wat sy in die bank het, is besig om gans te vinnig te verdwyn. Sy is elke maand onderdeur, al lyk dit op die oog af of die teekamer floreer. Sy trek soms nog geld uit haar spaarrekening om salarisse en versekering te betaal.
Dié dat sy begin het met ligte etes, en die eerste Sondag van die maand afskop met ’n Kaapse Maleierbanket – haar naam vir die Soete Verleiding-buffet. Skaars vyf maande en die mense dring nou by haar aan om dit elke Sondag te doen. Miskien moet sy, sy het nooit gedink dit sal soveel gaste trek nie. Byna soos vlieë het hulle vandag op haar toegesak, soveel dat sy op die ou end groepies gaste moes wegwys. In die vervolg sal sy duidelik adverteer dat hulle vooraf moet bespreek. Miskien moet sy dit meermale aanbied, elke tweede Sondag.
Sy roer haar tone. Sokkies lê te swaar op haar voete, maar sy sien nie kans om hom nog ’n keer weg te stoot nie. Die bed wat so koud was, is besig om op te warm. Ver weg hoor sy hoe die rivier sy klippe omrol, dis van daardie kant af wat die koue kom.
En die alleenheid wat saam met die koue op haar toesak. Om so met haarself saam te leef, sal nie deug nie – nie vir die res van haar lewe nie. Sy is nou tien maande alleen en dit voel soos ’n leeftyd sonder liefde. Hoewel, toe sy met Jermaine getroud was, het sy dikwels gewens hy wil haar uitlos en liewer nie snags terugkom en haar met sy drankasem en harde hande beklou nie.
Soms het sy hom wel nodig gehad, want sy is ’n warm meisie en Jermaine was ’n aantreklike mansmens met sy perfekte lyf en stout glimlag, daardie wit tande en swart oë. Alles aan hom was donker en duister, en tog kon hy hard lag en hard praat en optree asof hy niks het om weg te steek nie. Dís wat haar na hom aangetrek het. Hy was mooi en manlik, met ’n gemaklike geaardheid. Die meisies was mal oor hom, maar hy het háár gekies.
Hy het haar dikwels kom haal by die restaurant waar sy gewerk het en see toe gevat agterop sy bike. Sy vrolike uitgelatenheid het haar hartseer hart omgekeer en haar met ’n soort roekelose vreugde volgemaak. Ná ses maande van keer en verskonings maak het hy haar een aand op die strand vasgedruk en syne gemaak. Wat ’n verligting! Dit was of alles wat sy vasgehou het, losgeskiet en oopgebreek het. Haar besitlikheid oor haar kosbare maagdelikheid het toe skielik so verspot en onnodig gelyk.
Waarvoor sou sy haar spaar vir ’n man wat haar so maklik vergeet het en wat saam met sy hele familie op haar begin neersien het? Wat hom vir haar geskaam het en toe sommer die vliegtuig gevat en die wêreld in gevlieg het, om nooit weer ’n woord van hom te laat hoor nie? Hoeveel jaar toe al wat sy stukkies skindernuus by haar ouma moes gaan optel het, en soms weke lank uitgesien het na Colette en Teresa se afskeepbriefies sodat sy kon hoor hoe dit gaan, en of hy nog oorsee is.
Hier het sy dit nou, het sy in Jermaine se arms gedink, die kroon op haar vrouwees, die vervulling van al haar vleeslike begeertes, en sy hou daarvan. Seks is wonderlik, dit doen haar goed, sy geniet dit. Solank sy haar gedagtes afsluit en nie dink aan liefde nie, nie dink aan die een man wat sy van haar dogtertjiedae af bewonder het nie. Liefde is tog so ’n onbegryplike gevoel, jy kan dit nie regtig vasvat nie. Dis soos wasem en seeskuim, sodra jy jou hand daarom vou, smelt dit en bly daar net ’n vuilerige herinnering agter.
Sharise druk haar hande tussen haar lieste in, voel die warmte daar en skielik is sy so verlate, sy moet die trane wegknyp wat in haar oë opwel.
Ek is te jonk om alleen te wees, dink sy. Ek kan nie sonder ’n man nie, ek wil sy arms om my voel, ek wil weer begin leef. Die doodwerkery in die teekamer wat nou stadigaan in ’n restaurant verander, gaan nie enduit help nie. Ek klim nog saans in my koue bed met my warmwatersak en Sokkies op my voete en verlang na hóm. Ek is agt-en-twintig, ek wil nie agt-en-tagtig word en hom elke aand by my in die bed verbeel nie. Hom sien soos ek hom onthou en speel ek is saam met hom nie!
Daar is mans wat belangstel, sommige getroud, sommige nog los, en Sharise het al oorweeg om een vir ’n nag kamer toe te lok, maar gelukkig het haar goeie opvoeding haar gekeer. Mans is nare goed, hulle sal gou begin praat en vir mekaar vertel dat Soete Verleiding nie net oor eetgoed gaan nie, die jong weduwee is ook so soet en verleidelik soos haar klapperkoekies en kardemombeskuitjies.
Nee, daarvoor sien sy tog nie kans nie. As sy weer ’n man wil hê, sal sy die reguit pad moet loop. Hom toelaat om vir haar te kom kuier en begin uitgaan en seker wees van sy voornemens voor sy haar beddegoed vir hom oopvou.
Maar vanaand is weer een van daardie aande wat geen uitputting haar rusteloosheid kan stil nie. Is sy tussen slaap en wakker toe sy hom weer so duidelik sien, sy helder oë en sagte mond? Hulle het ’n staptoer onderneem, ewe met rugsakke en kos vir ’n week, die berg ingevaar, in ’n groep kastig. Sulke groepe het die manier om op te breek, en paartjies om hul eie koers in te slaan. Sy ouers sou hom vermoor as hulle sou weet, haar ouma sou ’n week nie met haar gepraat het nie, maar hulle was al voorheen op dieselfde wandelpad en hulle het die afdraaipaaie goed geken.
Die ander in die groep was ook soos hulle, soos die grootmense sou sê, “onverantwoordelik aan die speel met hulle lewe”. Dit was seker waar, maar as jy ’n tiener is en jy staan op die drumpel van grootword, het jy dikwels te veel selfvertroue en waagmoed.
Dis hoekom hulle daardie aand weer Jacques se tentjie gedeel het, ’n