Seisoen van ons liefde. Elize Mitchell
Seisoen van ons liefde
Elize Mitchell
Melodie
1
“Die son is vinnig besig om te sak, Tanya, hoe ver dink jy is dit nog na die kampeerplek?”
Die stem langs haar bring haar terug na die werklikheid. Sy kyk vervaard na die kaart.
“Dit kan nie meer té ver wees nie, Andries.”
“Goed, as jy so sê,” antwoord hy, maar daar is ’n effense klankie van ongeduld in sy stem.
Die twee viertrekvoertuie beur dapper voort op die klipperige grondpad wat kronkelend oor die ruwe terrein loop. Vandag is dit warm en droog hier in die Richtersveld en omdat daar amper geen wind is nie, dam die stof in dik walms agter elke voertuig op. Tanya van Heerden sit en kyk na die barre wêreld om haar, verlustig haar in die verskillende skakerings van pers en blou van die rye bergreekse wat ingeryg in die dynserige verte lê. Sy is ’n vryskutjoernalis en geniet hierdie ekspedisies terdeë; sy sal glad nie omgee om elke keer so ’n projek mee te maak nie. Dis sekerlik een van die interessantste streke wat hulle nog besoek het en sy verkyk haar aan die eiesoortige plantegroei en die majestueuse kokerbome wat hoog die lug in troon.
“Ek weet nie so mooi nie, Tanya, maar ek dink ons is besig om in sirkels te ry. Hoe seker is jy van jou feite?” Andries se stem is nou openlik geïrriteerd.
Sy bestudeer weer die kaart aandagtig, glad nie meer so seker van haarself nie.
“Verbeel ek my, of moes ons lankal afgedraai het?” praat sy hardop met haarself.
“Moenie dit sê nie, ons kan wraggies nie nou terugdraai nie. Ons is al ure lank op hierdie roete.” Andries klink moedeloos. “Al waaraan ek nou dink, is om kamp op te slaan en te ontspan met ’n yskoue bier. Jy beter seker maak. Die twee hier agter gaan glad nie ingenome met jou wees as hulle uitvind ons is op die verkeerde pad nie.”
Tanya kyk skuldig weg. Sy was so droomverlore dat dit heeltemal moontlik is dat sy die afdraaipad misgekyk het. Sy sit skielik regop.
“Kyk, Andries, daar teen die koppie is ’n beweging. Dit lyk vir my soos ’n veepos. Ry stadiger sodat ons kan sien of daar lewe is. Miskien kan hulle vir ons sê waar ons is.”
Sy leun gretig vorentoe om beter te kan sien. Hulle nader die veepos stadig, hul oë soekend na ’n teken van lewe. ’n Tent is teen die koppie opgeslaan. Die oop tentflap klap lui in die namiddagbriesie. Verder aan is daar ’n groterige matjieshut en ’n netjiese kookskerm waaruit ’n rokie trek. ’n Paar donkies wei in ’n kampie, maar sy gewaar geen ander lewende siel nie.
Dan sien sy iemand wat besig is om vee heelwat verder aan in ’n kraal te jaag. Twee honde hardloop in kringe om die skape en bokke en help om hulle aan te keer.
“Kyk, daar is ’n man by die veekraal. Stop eers hier, Andries, ek sal gaan hoor waar ons ons bevind.”
Die ander voertuig trek agter hulle in. Tanya spring rats uit en begin haastig aanstap na waar die man besig is om sy vee in die kraal te jaag. Hy kom nie eens agter dat daar besoekers is nie. Tanya loop versigtig nader, nie seker wat om te verwag nie.
Hy staan met sy rug na haar toe; sy blonde hare blink in die son. Al wat sy sien, is sy soepel kaal bolyf, kastaiingbruin gebrand deur die genadelose son. Bultende spiere span met elke beweging van sy arms, sy natgeswete lyf glimmend in die namiddagson. Hy maak die hek met draad vas en draai dan om toe die honde begin blaf.
Die woorde stol in Tanya se mond. Die man is baie langer as sy en twee blouselblou oë in ’n bruingebrande gesig kyk verras en vraend op haar neer. ’n Stoppelbaard bedek sy gesig. Dit gee aan hom ’n ruwe voorkoms, maar een wat pas in hierdie wêreld. Sy kan haar blik nie losmaak van sy sterk ontwikkelde skouers en breë borskas nie. Sy sien sy harde maagspiere en haar oë volg die lyn fyn haartjies wat by sy naeltjie begin en wegraak in sy kortbroek.
Eindelik kry sy haar stem terug toe hy ’n tree nader aan haar gee. Sy glimlag huiwerig.
“Hallo, ek is jammer om lastig te wees, maar ek dink ons het verdwaal. Kan jy miskien help? Ons soek ’n kampplek vir die nag en ek weet nie hoe ver ons nog moet ry nie.”
Haar woorde droog op en sy word heeltemal ontsenu deur sy stilswye en die blou oë wat haar indringend staan en beskou. Sy draai hulpsoekend om na die res van haar geselskap, maar almal sit in afwagting na haar en kyk.
Eindelik praat hy. ’n Sweempie van ’n glimlag raak nou aan sy mondhoeke wat opwaarts krul.
“Ja, sekerlik. Julle is so te sê by die lieflikste kampeerplek in die hele Richtersveld. Dis op die oewer van die Oranjerivier. Kom, ek stap saam met jou, dan verduidelik ek sommer die pad om tot daar te kom.”
Sy is verras omdat sy stem welluidend en sonder die tipiese aksent van die mense van hierdie kontrei is. Sy val verlig langs hom in en moet haar treë rek om by te bly. Hulle stap saam terug na waar die res van die geselskap wag. Andries klim uit en sluit by hulle aan.
“Dagsê, ek is Andries van Blerk. Ek hoop jy sal ons kan help met die rigting. Eintlik is dit hierdie meisiekind se skuld, want sy was vandag die navigator,” sê hy verskonend. “Terloops, haar naam is Tanya.”
“Aangename kennis, en ek is Pierre.” Die blonde man steek sy hand uit om te groet.
“Jy behoort hierdie wêreld mos goed te ken as jou veepos hier is en jou vee hier rond wei?” vra Andries belangstellend.
’n Glimlaggie flits om die aantreklike man se lippe en daar kom lê ’n ondeundheid in sy oë.
“Ja, dit is so. Waar is julle veronderstel om te kamp?”
“Dit moet jy liewer vir Tanya vra, sy is die een wat die kaart het,” sê Andries onbehulpsaam.
Tanya bloos bloedrooi.
“Ook altyd die arme vroumense se skuld,” sê Pierre guitig. “Ja, ek ken hierdie streek soos die palm van my hand. Ek sal julle die beste kampplek hier rond wys.”
“Dankie tog,” sug Andries verlig.
“Al probleem is dat ek môre met die vee verder moet trek en die pad loop daarlangs verby. Dit kan hinderlik en stowwerig wees, so as julle nie daarvoor en vir die geraas omgee nie, sal julle nie ’n beter plek kry nie.”
“Dit sal wonderlik wees. Ons gaan in elk geval môre vroeg die terrein hierlangs verken, so dalk is ons al weg as jy daarlangs gaan,” sê Andries.
Tanya se hare is vaal van die stof en in ’n poniestert vasgebind en sy voel maar taamlik verlep van heeldag se hitte. Sy hou die kaart na Pierre uit. Hy neem dit by haar en hulle vingers raak vlugtig aan mekaar. Hulle oë vleg inmekaar en daar is skielik ’n klomp vlinders wat uitgelate in haar maag te kere gaan.
Hy vou die kaart oop en beduie sorgvuldig hoe die pad loop. Tanya verkyk haar aan hom, hoe sy hande beduie terwyl hy praat. Iets vreemds is aan die gebeur – sy ken nie hierdie gevoel wat besig is om haar hele wese te verlam nie. Hy is darem deksels aantreklik, en heeltemal anders as die mense wat hulle tot dusver langs die pad teëgekom het.
Andries se stem bring haar terug na die werklikheid. “Het jy geluister, Tanya, of droom jy al weer?”
Hy draai terug na Pierre. “Vroumense en rigting loop nou eenmaal nie saam nie, en hierdie een is altyd in ’n droomwêreld. Gaaf, dit klink darem asof dit nie meer te ver hiervandaan kan wees nie.”
Hy steek sy hand uit om te groet. “Baie dankie vir jou hulp, Pierre. Ek weet nie wat jy in die aande hier so alleen doen nie, of is daar iemand … ’n vrou dalk?”
Pierre lag sorgeloos en Tanya se hart klop woes toe hy omdraai en in haar oë kyk terwyl hy antwoord: “Nee, ek is ’n losloper. Ek loop maar nog my eie pad.”
“Nou maar as jy lus is, kom maak gerus later ’n draai en drink ’n bier. Dan kan ons ’n bietjie gesels. Ons soek juis soveel inligting as moontlik oor hierdie wêreld.”
“Goed dan, en baie dankie. Miskien maak ek nog so. Voorspoedige reis.” Sy oë priem in Tanya s’n, net om die vlinders in haar