Tot die dood ons skei. Malene Breytenbach
Tot die dood ons skei
Malene Breytenbach
Melodie
1
Vir wat loei daardie sirene so aanmekaar? wonder Kira terwyl sy van die Coetzenburg-sportterrein af wegdraf, in die rigting van haar huis langs die Eersterivier. Dit klink naby ook. Daar is dit uiteindelik stil. Sou daar ’n brand wees, of het ’n ongeluk hier naby plaasgevind?
In die vars en skone vroegoggend van Stellenbosch waar sy onder die eike draf, wil sy nie aan ongeluk en teenspoed dink nie. Sy luister hoe die rivier oor die klippe ruis en die voëls kwetter. Agter alles vorm die berge ’n manjifieke blou tafereel. Soggens as sy al met die bergpaadjie tot by die dam opdraf, wil sy eerder haar kop skoon kry sodat haar dag nuut en vol kreatiewe gedagtes kan afskop.
Sy is net terug oor die bruggie en in die Laan, toe sy met ’n skok sien dat daar vlak by haar huis ’n ambulans, ’n heldergeel motor en twee polisievoertuie staan. Nee, dit moet langsaan wees. Tog nie by Reinhard-hulle nie? Met ’n aaklige gevoel van onheil kry sy spoed en kom uitasem by die hek van die imposante huis aan.
’n Polisievrou keer haar voor. “U kan ongelukkig nie ingaan nie, dame. Of is u familie?”
Kira voel onrus soos ’n vuur deur haar trek. “Nee, ek is die buurvrou en ’n vriendin van die Brands. Wat gaan aan?”
Die konstabel frons. “Iemand is dood, juffrou … Mevrou?”
Sy kyk na Kira se kaal ringvinger, maar Kira reageer nie, want haar hele lyf word lam. Net nie Reinhard nie, bid sy geluidloos.
“Mag ek vra wie u is?” dring die konstabel aan.
Kira antwoord nie, want sy sien haar suster Liana met Reinhard se vierjarige seuntjie, Riaan, by die huis uitkom. Liana wuif, maar sy lyk ontsteld.
Kira se hart ruk. Sy wag dat Liana naderkom en skrik nog groter toe sy sien hoe bleek haar suster se gesig is, dat sy klein Riaan se hand styf vashou en dat hy grootoog en bang toelaat dat sy dit doen. Hy lyk nie asof hy weet wat aangaan nie.
Kira kyk smekend na Liana, wat onmiddellik verstaan. “Reinhard is Kaapstad toe vir ’n kongres by die universiteit,” sê sy vinnig en Kira slaak amper hoorbaar ’n sug van verligting.
Liana beduie subtiel met haar kop na Riaan en Kira veronderstel hulle kan nie voor die kind praat nie. “Hierdie is konstabel Berens,” stel Liana die polisievrou voor. “Ek en sy ken mekaar, want op dié stadium van my lewe ken ek al wat ’n geregsdienaar op Stellenbosch is. Konstabel, hierdie is my suster, professor Kira Trollip.”
“Jinne, aangename kennis, professor. U lyk te jonk en mooi vir … Ekskuus.” Sy bly verward en verleë stil.
“Aangename kennis, konstabel,” sê Kira bedaard, want sy is gewoond dat mense haar onderskat. En sy weet dat sy jonger as haar dertig jaar lyk, veral in drafklere en sonder grimering.
Sy kyk na die kind wat begin wriemel. “Is jy oukei, Riaan?”
“Ek is honger, tannie Kira. Mamma het my nie wakker gemaak nie en Soekie het nie vir my ontbyt gemaak nie.”
“Ek het hom sommer gou aangetrek,” sê Liana. “En kyk hoe mooi lyk hy nou in sy nuwe denimbroek.”
Kira en haar suster wissel ’n vinnige blik. Sy buk en druk Riaan se skouer. “Toemaar, jy kan na ons toe kom, dan maak Souf vir jou lekker spek en eiers.”
Hy kikker sommer op. “En lemoensap?”
“Lemoensap ook, om jou sterk en gesond te hou.”
“Ek neem jou gou-gou na Souf,” sê Liana en fluister vir Kira: “Ek kry hom net hier weg voor hy iets sien wat hom ontstel.”
Kira brand om te weet wat gebeur het en raai allerhande vreeslike dinge. Sy draai na die konstabel. “Vertel my nou om vadersnaam wat gebeur het. Het mevrou Brand iets oorgekom?”
“Mevrou Brand is dood. Die huishulp het vanoggend ingekom werk toe en haar liggaam in die agtertuin gekry.”
Kira moet na die hekkie gryp, want dit voel of haar knieë gaan knak. Reinhard se pragtige vrou, die een wat hom voor haar neus weggeraap het, dóód? Sy kan dit nie glo nie.
“Hoe is sy dood?” prewel sy.
“Doodgesteek met ’n skerp voorwerp,” sê die konstabel.
“M- … moord?” kry Kira uit deur lippe wat dood voel. “Maar … wanneer het dit dan gebeur?”
“Dit moes taamlik vroeg vanoggend gewees het. Die kind het gelukkig nog geslaap, die arme outjie.”
Op daardie oomblik hou ’n ouerige wit Corolla langs die ambulans stil en ’n blondine met styfpassende klere en hoëhaksandale klim uit. Kira herken Reinhard se sekretaresse, wat gevolg word deur ’n blondekopseuntjie ongeveer so oud soos Riaan.
Die blondine storm nader, haar gesig die ene ontsteltenis.
“Haai, môre, julle!”
“Môre, Riki,” groet Kira styf.
“Ek hoor van die vreeslike ding wat gebeur het en toe jaag ek hierheen om te kyk of ek kan help. Ek dink ek moet Riaan saam met my vat.”
“My suster het hom reeds weggeneem; hy eet nou ontbyt by ons huis,” lig Kira haar in. “Ek dink hy moet liewer by Souf bly tot sy pa terugkom. Hoe minder hy ontwrig word, hoe beter.”
Riki lyk asof sy haar vererg, maar sy probeer dit wegsteek. Sy slaan ’n jammerhartige houding in. “Die arme vrou! En sy was so mooi.”
Kira sien hoe die kind luister en sy frons kwaai vir Riki. “Nie so hard nie. Daar is ore wat hoor.”
Weer lyk Riki asof sy haar vererg, maar net toe sien Kira twee polisiemanne saam met ’n vrou in siviele drag by die voordeur uitkom.
“Daar kom die speurder,” sê die konstabel.
Dis ’n frisserige jong vrou van so dertig, met bruin krulhare en wakker ligbruin oë. Sy kyk van Kira na Riki. “Ek is kaptein Lucille Wiid. Mag ek vra wie u is?”
Kira steek haar hand uit. “Ek is Kira Trollip. Ons is bure van die Brands.”
Sy voel dat die vroulike speurder se handdruk so stewig soos ’n man s’n is. Die bruin oë bekyk haar takserend op en af.
“U is nie dalk familie van landdros Liana Trollip nie?”
“Sy is my suster.”
“Ek sien die ooreenkoms. Ons sal met julle onderhoude kom voer. Ons sal met al die bure moet praat.”
Sy fluister: “Die seuntjie weet nie sy ma is dood nie en sy pa is nie hier nie.”
Toe sê sy op normale toon: “Ons het professor Brand in kennis gestel; hy keer vandag terug van Kaapstad.”
Die kaptein draai na Riki. “Is u familie of ’n vriendin?”
“Ek is professor Brand se sekretaresse.”
“Ek sien. Ons sal met u ook moet praat. Kan u vir my u kontakbesonderhede gee, asseblief?”
Riki lyk vir Kira meteens skoon verbouereerd. “Natuurlik! Ek kan dink julle wil met almal praat wat iets met die Brands te doen het …”
“Sal julle my asseblief verskoon?” vra Kira. “Ek moet netnou klas gee en ek sal moet gaan stort en aantrek. U kan enige tyd kom, kaptein, skakel net eers of praat met my suster.”
By die huis kom hulle gemmerkat, Karools, om haar te verwelkom. Hy flikflooi om haar bene dat sy hom moet optel. Sy druk hom styf teen haar vas, asof sy troos by die sagte lyf soek. Verontwaardig miaau hy en wriemel hom uit haar arms. Hy kyk haar verwytend aan asof hy dink sy ounooi is van lotjie getik. Van optel hou hy eintlik niks, al is hy ’n skootsitter.
Sy staan lank onder die stort sodat die warm water haar sweet afwas en haar spiere laat ontspan. Sy was haar lang, donker hare bykans verwoed. Haar lewe is binne ’n enkele uur