Hartstog in Malawi. Lizet Engelbrecht
om ’n aanmerking te maak.
Meteens ontmoet hulle oë.
Haar aanmerking stol in haar keel en skok ruk deur haar liggaam toe sy donkerblou oë hare gevange hou. Sy het nog nooit so ’n aristokratiese kyk in iemand se oë gesien nie, en dis of hy haar woordeloos uitdaag om iets te sê.
Verbouereerd laat sy haar blik sak terwyl die wete deur haar pols: hy is verreweg die aantreklikste man wat sy tot nog toe gesien het. Sy voel die ligte bewing in haar hande. Wat is dit met haar? Sy het vrese, sy weet, maar nie as gevolg van mense nie. En definitief nié as gevolg van bekoorlike mans nie. ’n Wyle is sy só uit die veld geslaan deur die onbeheerste emosie in haar dat sy verbaas besef die man is weg toe sy weer opkyk.
“Hoop jou werkdinge verloop soos beplan,” groet die dame en waai toe sy en haar man wegstap.
Rochelle glimlag, tree vorentoe en oorhandig haar dokumente aan die immigrasiebeampte.
“Ken u die lang man wat met die privaat vliegtuig gearriveer het?” vra sy so ongeërg as moontlik op Engels terwyl die beampte deur haar dokumentasie blaai.
Die beampte kyk haar ongelowig aan en dis ooglopend dat hy nie kan glo daar is steeds iemand wat nié die lang man ken nie.
“Kaptein Costa,” antwoord hy bot.
Sy swart ogies staar haar ’n oomblik ondersoekend aan voordat hy ’n stempel in haar paspoort plaas. “Volgende!” roep hy en kyk by haar verby.
Waar Rochelle ’n ruk later agter in ’n huurmotor sit, vlieg die onbekende landskap by haar verby. Als lyk so vreemd en anders. Die land is pragtig groen, maar die armoede skrei ten hemele. So ver hulle ry, sien sy murasies, geboue waarvan die verf in repe afdop en lappies land waar mense nog met ’n skoffel en pik in die bloedige son die grond omwoel.
Meteens voel sy bang, werklik bang. Dis ’n vreemde motor, ’n vreemde bestuurder, ’n vreemde land en sy weet nie eens of hulle in die regte rigting ry nie. Is sy veilig?
2
“Rochelle, Xavier hier. Is jy veilig by die hotel? Hoe was die vlug, en hoe lyk Malawi?”
“Veilig, dankie.”
Hy is die laaste persoon met wie sy wil gesels. Sy soek iemand wat na haar noue ontkominge sal luister en kan simpatiseer.
“Ag nee, my meisie, is jy steeds kwaad omdat ek jou aanbeveel het vir die opdrag? Ek het dan –”
“Aanbeveel? Ek kon nie anders as om die opdrag te aanvaar nie en jy weet dit baie goed!” Haar stemtoon styg en sy haal diep asem.
“Ek weet,” sê Xavier en sug hardop.
“Hoekom, Xavier? Hoekom het jy dit gedoen? Hoekom het jy my verplig om na Malawi te kom?”
“Jy weet tog self dat jy die beste gekwalifiseerde kandidaat vir hierdie delikate situasie is en dat jou ondervinding van onskatbare waarde is. Jou manier van werk is nie ortodoks nie, maar ongetwyfeld deurslaggewend. En verder, my meisie, sal ek –”
“Ek is nié jou meisie nie – nie meer nie. En wat verder?” vra sy. Sy’t mos geweet hy het ’n verskuilde agenda.
“Na my mening sal jy jou vrese oorkom wanneer jy uit daardie beskermende kokon geneem word wat jy vir jouself gespin het. Wanneer jy gedwing word om te aanvaar dat jy nie in beheer is nie. Solank jy toelaat dat jou vrese jou lewe manipuleer, sal jy nooit ’n volkome lewe kan lei en ten volle mens wees nie.”
“En ek het jou vantevore gesê jy oordryf, Xavier. My vrese is niks meer as ander mense se daaglikse vrese nie.”
Hy gee ’n droë laggie. “Jy is bang vir die donker, jy is bang vir die see, jy is bang vir die verkeer, jy is bang vir nuwe inkopiesentrums. In hemelsnaam: jy is bang om ons verhouding verder te neem, want my huis is onbekend aan jou! Na my opinie het jy ’n fobie vir die onbekende en dít is ernstiger as die normale mens se daaglikse vrese.”
Lank nadat sy die gesprek met Xavier afgesluit het, lê Rochelle in die ovaalvormige bad en bepeins sy woorde. Sy het vandag ’n paar maal vir haar lewe gevrees, maar was dit abnormaal? As dit nie was vir haar beroep wat absoluut haar passie is nie, sou sy seer sekerlik nooit hierdie land besoek het nie. Maar beteken dit dat sy ’n fobie vir die onbekende het? En haar verhouding met Xavier is iets heel anders – sy het bang geraak dat hy haar gaan versmoor.
Sy sug, trek die bad se prop uit en draai die handdoek om haar lyf. Haar eerste indrukke van Malawi was skokkend en vreesaanjaend, maar die Mount Sauche Hotel is onverbeterlik en gee haar weer moed.
Sy wil nog die persoon ontmoet wat mense so akkuraat kan ontleed soos sy. Dis haar werk. Sy geniet haar werk en triomfeer elke keer wanneer sy haar prooi so onverhoeds betrap dat hy of sy haar nooit sien naderbeweeg het nie. Maar ’n onbekende situasie is anders. Mense kan sy in die oë kyk en die geringste teken ontsyfer: die liggaamshouding spreek boekdele, woorde verklap ’n hele geskiedenis. Maar ’n onbekende omgewing bly geheimsinnig en daarom vermy sy dit eerder. Wel, nie die volgende paar dae nie, want sy móét met hierdie opdrag slaag as sy enigsins ’n kans op bevordering wil hê.
Sir J.C. Auther, dwing sy haar gedagtes na haar werk –
die man wat sy ongemerk moet benader, die man wat haar salaris betaal, die man wie se verhaal so belangrik is vir die voortbestaan van hulle besigheid. En om te slaag, is dit boonop noodsaaklik dat sy hom eerste opspoor. Sy moet hom jag en kry voor haar mededingers, die publiek of die pers snuf in die neus kry dat hy in Malawi wegkruip.
Met die handdoek om haar lyf stap Rochelle na haar kameratas om eers seker te maak dat haar kamera en bandopnemer se batterye gelaai is. Daarna verklee sy in ’n ligpienk somerrok en grimeer liggies. Terwyl sy grimeer, gly haar blik kort-kort na die lêer van sir J.C. Auther, ook bekend as John Auther. ’n Paar jaar tevore was hy ’n hoog aangeskrewe sakeman van Portugal en die tipe persoonlikheid wat die media oorheers het. Waar hy was, was geld, en die media het dit geweet en soos altyd uitgebuit. Toe gebeur ’n reeks onvoorsiene dinge en hy verdwyn.
Tevrede met haar voorkoms trek sy vinnig ’n kam deur haar hare. Sy besluit om haar hare vir ’n verandering los en natuurlik oor haar skouers te laat hang. Sy het nie lus vir haar professionele voorkoms vanaand nie, dink sy, maar sit tog ’n bypassende serp om haar nek. Ander vroue het juwele of skoene, maar sy is versot op haar serpe.
Sy neem haar aandsakkie, trek die deur toe en wandel deur die hotel na die eetsaal. Vanaand oornag sy in die Mount Sauche Hotel in Blantyre en môre begin haar soektog. Aangesien John Auther voortdurend rondbeweeg, het sy besluit om ’n motor te huur sodat sy te alle tye beweeglik kan wees.
By ’n ovaalvormige venster gaan sy staan en tuur oor die pragtige tuin en swembad. Sy rol haar nek en voel die spanning in haar skouers saamtrek. Vanaand is haar laaste semi-beskutte aand en sy beplan om dit ten volle te geniet en te ontspan. Die eerste keer besef sy hoe gespanne sy die laaste twee weke was – vandat sy verplig is om die opdrag te aanvaar. Sy het één rustige, ontspanne aand nodig voor sy môre na John Auther begin soek.
Voor haar geestesoog roep sy die foto’s van John Auther wat sy in die lêer gevind het op. Die enigste beskikbare foto’s van hom is van ongeveer drie jaar gelede. Hy is skraal, met swart hare, ’n ligte vel en ’n hoogmoedige uitdrukking in sy oë. Niks besonders nie, was haar onmiddellike vroulike beoordeling.
By die eetsaal steek Rochelle vas en bekyk ’n houtsneewerk. Hierdie visarend is ’n besonderse kunswerk, dink sy en buk om die prys op die kaartjie te lees. ’n Kelner staan gereed en lei haar na ’n kleinerige tafeltjie. Hy oorhandig die wynlys aan haar.
Terwyl sy ’n skemerkelkie geniet, gly haar blik ondersoekend oor die gaste. Sy het nie ’n kennersoog nodig om te onderskei tussen die sakemanne en opgewekte toeriste nie. Sy verlang huis toe, na die sekuriteit, gemak en bekendheid van haar lewe. ’n Plek waar sy soos elke aand haar skoene onder die tafel kan uitskop omdat hulle haar druk.
“Is u gereed om te bestel?” vra die kelner en hou sy notaboekie gereed.
“Dankie,