Stormpad na Vadersrust. Dirna Ackermann
Stormpad na Vadersrust
Dirna Ackerman
Mirre
Vir Nora
Jy was van die begin af so deel van hierdie een dat hy net vir jou is. Dankie, my meisietjiegoed-vriendin!
Soos ’n wildsbok smag na water, so smag ek na U,
o God. Ek verlang na God, die lewende God. Wanneer kan ek ingaan en weer voor Hom verskyn?
Ps. 42:1-2, Nuwe Lewende Vertaling
Aan almal wat Jesus egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van
God te word.
Joh. 1:12, Nuwe Lewende Vertaling
1
Ek lei blindes op ’n pad wat vir hulle onbekend is. Ek lei hulle op paaie wat vir hulle onbekend is. Ek maak die donkerte voor hulle helder lig en die ongelyke plekke maak Ek gelyk. Ek gaan dit alles doen, en hulle nie alleen los nie. Jes. 42:16
Die ruitveërs se byna vergeefse pogings teen die voorruit is nie bo die storm se lawaai hoorbaar nie, maar dis ook nie eintlik nodig nie. Sy weet dit sal dieselfde klink as die ongemaklike weloep-weloep van haar hart teen haar oortromme.
Die motor dwing al om sy eie weg te baan deur die bruinerige sop-laag daar voor waar sy hoop die gruispad is, en skommelskud skielik gevaarlik. Haar liggaam hik en wikkel saam toe dit hierdie keer die regtervoorwiel se beurt is om ’n gat te tref. Koue, stram vingers wat nie langer soos hare voel nie, klem byna wanhopig om die stuurwiel. Dis met die grootste inspanning wat sy weer die motor se neus rig in die algemene rigting waarheen sy dink sy veronderstel is om te gaan.
Maar wanhopigheid spoel deur haar soos die rollende modderwater in die ligbaan van die koplampe. Sy weet dis puur verniet. Sy het verdwaal! Absoluut, geheel en al en toetentaal verdwaal …
“Hoe groot is U!”
Michaela luister met toe oë hoe die vol, ryk stem van die aanbiddingsleier fluweelsag en eerbiedig vloei oor die woorde, voor die musikante se instrumente die loflied weer opneem en die gemeente met hart en siel verder saamsing. Maar dié keer sonder ’n poging van haar kant om deel te wees van die lofsang.
Sy vou haar hande oor haar hart. Daar waar wanorde heers vandat sy vanoggend wakker geword het, en dit sonder dat sy eintlik weet waarom. Sy loop met die ongemaklike gewaarwording dat sy iets wil onthou. Of dalk is dit móét onthou.
’n Idee? ’n Ervaring, herinnering? ’n Droom? Sy weet nie! Tog kan sy nie die gevoel afgeskud kry nie. So asof dit dalk iets is waarby sy kan baat. Asof dit net perdalks kan help dat die leë koppie wat haar hart is ’n druppel of twee ervaar van dit waarna sy smag.
“Hoe groot is U!” vul die volheid van die klank die gebou en sy sug. So half wanhopig. Dankbaar dat dit nie hoorbaar is nie.
Sy het die Here lief en sy probeer Hom na die beste van haar vermoë dien, maar sy weet nie. Êrens markeer sy baie lank nou al net die pas. Eens, toe haar verhouding met Christus haar Verlosser en Here jonk was, het sy ook met gejuig saam feesgevier. Het dit ook warm geklop in haar binneste. Maar nou …
Sy sing steeds uit volle bors saam – dis nou sover haar baie beperkte sangtalent haar toelaat – sy bedoel elke woord hartgrondig, en tog … Die enigste manier waarop sy haar ervaring van die aanbidding kan beskryf, is dat dit voel asof sy haarself by die huis vergeet het. Asof die Michaela wie se lyf hier ruimte in beslag neem, dalk nie die ware Michaela is nie.
Dis die geruis van ’n skare mense wat in hul sitplekke terugsak wat haar weer bewus maak van die onmiddellike. Sy gaan sit vinnig, loer onderlangs na haar ma langs haar. Nelia Beekman hou daarvan dat dinge ordelik moet geskied in die huis van die Here. Nee, eintlik oral. ’n Dogter wat lyk asof sy in ’n ander heelal is, val nie in die ordelike kategorie nie.
Michaela maak haar Bybel oop by die eerste brief van Johannes, maar luister sonder om die hoofstuk en vers te soek na die besoekende prediker. Hy begin lees: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God …”
Maar die eerste woord wat sy werklik begryp, is die “Amen” ’n driekwartier of so later. Die res van die preek het net eenvoudig by haar verbygevloei. Haar gedagtes het nie verder gekom as die woorde “liefde” en “Vader” nie.
Het die leë binnekant van die koppie meteens ’n naam gekry? Of dalk net ’n handvatsel? Liefde van ’n vader? Of die liefde van ’n Vader? Maak seker nie eintlik saak nie. Sy is tog maar ’n oningewyde wat al twee betref.
“Kom!” fluister haar ma en druk-druk teen haar knie toe Michaela blykbaar te traag na haar sin orent kom om agter die res van die gemeente aan uit te beweeg. Jy weet hoe sukkel mens om by die hek uit te kom met almal wat tegelyk wil huis toe, is nogal ’n gereelde gesang op Sondagoggende, alhoewel dit vanoggend afwesig is. Dalk omdat hulle voorgekeer word deur twee tantes, uitgevat in wat vir seker hulle Sondagbeste moet wees.
Michaela wag afgetrokke terwyl Nelia die vriendinne van die Vrouesorg-groep groet en vir ’n koppie tee die namiddag nooi. Sy wonder hoe sy gaan maak as haar ma oor die preek wil gesels, soos haar gewoonte is. Op die oomblik sukkel sy selfs om te onthou uit watter gedeelte die predikant gelees het. Die evangelie van Johannes of een van sy drie briewe?
Hulle begin aanskuifel. Toe hulle buite kom en oor die parkeerplek aanstap motor toe, neem Michaela Nelia se arm. Haar ma loop besonder moeilik. Sy sal Pepita en dalk selfs daai nuwe aanhangsel in haar lewe se hulp moet inroep sodat hulle Nelia sover kan kry om weer die spesialis te gaan sien. Haar ma lyk nie gesond nie, maar gehoor gee aan Michaela se pleidooie wil sy ook nie.
Dis hoogsomer in Pretoria en stikwarm. Michaela laat eers die motordeure ’n paar oomblikke oopstaan sodat die hitte kan ontsnap voor sy haar ma inhelp.
“Jy’s erg verstrooid vanoggend,” merk Nelia op toe haar dogter agter die stuur inskuif. “Weer te lank saam met daai pierewaaier van jou gerinkink laas nag?” wil sy effe asemrig weet en waai haar koel met die komende week se gemeentebulletin.
Michaela kry die aamborstige Volksie uit die jaar toet aan die gang en sug byna van dankbaarheid toe hulle die hek gou bereik. Sy wag ’n oomblik en swaai dan in die verkeer in. Kwaai woorde vorder tot op die punt van haar tong, voor sy hulle terugbyt en diep asemhaal.
“Ons het nou nie eintlik gerinkink nie, Ma. Ons het saam met twee vriende gaan uiteet, en hy het my elfuur al afgelaai. Ek het gesien Ma se lig was al af.”
Toe daar geen reaksie kom nie, moet sy haar hande bewustelik om die stuurwiel ontspan, al het sy eerder lus om te gil. Of te huil. Sy is nie seker watter een die stremming om haar hart sal verlig nie.
“En asseblief, Ma, Edward is nie ’n pierewaaier nie. Hy hou maar net daarvan om modieus aan te trek.”
Sy besef dit beantwoord nou nie eintlik die aanklag van verstrooidheid nie en soek rond vir iets om te sê, om net nie langer die fokus van haar ma se ongedurigheid te wees nie. ’n Viertrek-spogwa uit die soort prysklas wat jou bleek om die kiewe laat, swaai skielik voor hulle in, sodat haar voete tegelyk teen die rem en koppelaar vasskop.
En die res van die pad huis toe sê Michaela dankie vir die onbedagsame vent in sy blink koets. Haar ma het nie minder as twee geliefde onderwerpe om oor uit te wy nie: die onbeskoftheid van hedendaagse bestuurders in die algemeen, en die selfsug van mense in duur motors wat dink hulle is beter as ander in die besonder.
Hulle kom nog om die hoek van die groot oop stuk veld langs die huis, toe sien Michaela al die wit dubbelkajuitbakkie in die straat voor die huis staan. Sy voel die ongemaklike wip van haar hart en wonder hoe vroegoggend se Marmitebroodjie nóú eers sooibrand kan bring.
Pepita, haar beste vriendin en die naaste aan ’n suster wat Michaela ooit sal hê, en haar dogtertjie, Nina, is terug van hulle uitstappie saam met die nuwe man in Pippie se lewe. Hulle sou ’n vroegoggenddiens by Kayne Richardson se gemeente bywoon, en toe is die vierjarige Nina ’n besoek belowe aan die dieretuin – haar gunstelingkuierplek.
Die