'n Reënboog vir Aralie. Ettie Bierman
’n Reënboog vir Aralie
Ettie Bierman
Satyn
Die mens kan nie skep nie, nie eens hérskep nie, hy kan slegs bewaar.
– Franco Conradie
1
“Niel was in ’n ongeluk,” sê Aralie se eks-skoonma oor die foon.
Of word sy nie jou eks-skoonma as jy van haar seun geskei is nie? Aralie weet nie. Sy klem die gehoorbuis gespanne vas. “Ongeluk? Wat het gebeur?”
“Hy het oor die straat gestap, nie na die aankomende verkeer opgelet nie en reg voor ’n taxi ingeloop.”
Tipies Niel, dink Aralie. Altyd in ’n droom en sy kop op ’n ander planeet. “Het hy seergekry?”
“Beenbreuke en kopbeserings. Hy vra na jou. Hy sê dis ’n kwessie van lewe of dood.”
Haar skoonma huiwer voor sy sê: “Ek weet Niel het nie reg gemaak nie. Jy het alle rede gehad om jou tasse te pak. Maar daar was tóg gelukkige tye tussen julle, en ek weet hy’s nog lief vir jou. Sal dit altyd wees … Kan jy die kwade gevoelens ’n rukkie opsy skuif en hom besoek? Dis dalk die laaste keer …”
Die laaste keer? Aralie sukkel om dié gedagte te verwerk. Sy sal ook altyd vir hom ’n gevoel hê. Vanselfsprekend. Hulle was immers vier jaar getroud en Niel was haar droomheld. Die man wat sterre in haar oë aangesteek het en haar hart in die holte van sy hand gehou het. Net ’n oogknip, ’n glimlag en haar wêreld het bolmakiesie geslaan. Dis al ’n jaar sedert hulle uitmekaar is, maar sy betrap haar steeds dat sy aan hom dink – wonder of sy dalk oorhaastig was, te krities en veroordelend. Of sy meer toegeeflik moes gewees het, of harder moes probeer het om sy komplekse beweegredes te verstaan. Wie weet, as sy geleer het om te vergewe, was hulle dalk nog saam . . .
“Ja, natuurlik,” antwoord sy. “In watter hospitaal is hy?”
“Windhoek se privaat hospitaal. Saal 7B. Hy vra jy moet maar gou kom, kindjie …”
“Ek kom dadelik!”
Aralie se hande is bewerig toe sy haar motorsleutels gryp en die woonsteldeur agter haar toetrek. Skok veroorsaak ’n warboel van emosies in haar binneste, ’n mengsel van ontsteltenis en verwyte. Die arme Niel … Maar kon hy nie sy oë oopgemaak en die taxi sien aankom het nie? Mens loop mos nie toe-oë oor ’n straat nie.
Hulle het Sondag nog gesels, toe hy gebel het om te sê hy is terug in Windhoek. Die wildbewaringsprojek in Kenia het nie uitgewerk nie en hy is weg by Kisumu – ’n sameloop van swak fasiliteite, gebrek aan infrastruktuur en verlange huis toe. Asook ’n nuwe proposisie vir hom: ’n pos as veearts by ’n private wildreservaat naby Etosha. ’n Wonderlike geleentheid om die soort werk te verrig wat vir hom saak maak, wat hom sal laat voel hy lewer ’n bydrae om van die wêreld ’n beter plek te maak. In die stilte en rustigheid van die veld sal hy homself weer vind, die rafels van sy lewe aanmekaar knoop en ’n nuwe begin maak.
Niel was so vrolik en positief, asof hy uiteindelik ná ’n jaar se depressie hul egskeiding verwerk het en gereed was om aan te skuif. Hy was opgeruimd en gemotiveerd, amper weer sy ou self. Sy kan nie glo hy lê nou in die hospitaal nie, in pyn.
Sy steur haar nie aan stopstrate en spoedbeperkings nie. Tien minute later hou sy halsoorkop voor die hospitaal stil, draf die trappe twee-twee op en haas haar in die gang af na die intensiewesorgeenheid.
Die suster by die dienssentrum kyk fronsend na die lys pasiënte wat in die loop van die dag van ongevalle af ingekom het. Nee, daar’s nie ’n Van Dyk opgeneem nie.
“Dokter N. van Dyk. Nielen Wilhelm van Dyk,” probeer Aralie weer. “’n Motorongeluk. Mooi donkerkop ou met blou oë. Laat twintigs.”
Die suster skud haar kop. “Nie in intensiewesorg nie,” herhaal sy. “Probeer 7B, die algemene mansaal. Verder aan in die gang, derde deur regs.”
Dis wat haar skoonma gesê het, onthou Aralie. Maar sy het gedink in so ’n kritieke toestand sal Niel in hoësorg wees. Sy haas haar verby die dienstoonbank, af in die gang en deur twee witgeverfde swaaideure wat oopstaan. Daar is ses beddens in die saal, waarvan net twee geokkupeer is. Niel is in die verste een, in die hoek by die venster. Hy lê gemaklik agteroor teen ’n stapel kussings, ’n pleister teen sy voorkop geplak en sy regterbeen in gips.
Sy gesig verhelder toe hy haar in die deur sien vassteek. “Dankie tog!” roep hy uit. “Ek dag jy gaan nie kom nie … Waar het jy so lank gedraai?”
Aralie staar hom verdwaas aan, haar brein nog lam geskrik en nie dadelik in staat om die toneel voor haar in te neem nie. So lank gedraai? Sy het byna haar nek gebreek om hier te kom en het haar Noagse ou tjor bo sy vermoëns gemoor. En dit vir wat? Vir niks. Niel is springlewendig.
Hy ken haar goed en raai wat deur haar gedagtes gaan. Daar is ’n onrustige trek in sy oë en sy onderstebo grinnik pleit om vergifnis. Hy probeer dit ligweg afmaak. “Is jy nie bly jy hoef nie my begrafnispolis te gaan soek nie?”
Natuurlik is sy bly. Dankbaar en verlig en als. Meer as wat sy gedink het sy sal wees. Maar kwaad ook.
“Is dít jou siek idee van ’n grap?” vaar sy uit.
Hy lig sy hande in ’n vredesgebaar. “’n Grap? Nee, dis ernstige sake.”
“Beenbreuke, kopbeserings, inwendige bloeding en wat nog daarby. Kastig ’n kwessie van lewe of dood?” eggo Aralie sarkasties.
“Dit ís,” beaam hy, “’n kwessie van lewe of dood dat ek jou moes sien.”
“Hoekom? Hier is seker genoeg mooi verpleegstertjies om jou hand vas te hou. Jy het my nie nodig nie.”
“Ek hét,” antwoord hy boetvaardig. “Ek sal jou altyd nodig hê, Ralie. Jy weet dit. Want ek het jou lief. Ondanks alles wat gebeur het, sal ek nooit ophou om vir jou lief te wees nie. Jy is die enigste vrou vir my en ons twee hoort bymekaar.”
Hy moenie dit sê nie, sy wil dit nie hoor nie. Wat tussen hulle was, is verby. Niel het haar soos ’n vloerlap behandel en moenie nou probeer terugkrabbel nie. Dis te laat, sy sal hom nie terugneem en haar ’n tweede keer oopstel vir seerkry nie.
Tog is daar ’n skielike branderigheid in haar oë toe sy die skok en gevoel van verlatenheid onthou wat haar getref het toe sy gedink het sy het Niel verloor. Vir die eerste keer let sy op hoe bleek sy gesig is, met donker kringe onder sy mooi oë.
Haar keelspiere trek saam en haar stem is onverwags hees. “Het jy pyn? Hoe voel jy?”
“Bietjie seer, bietjie gekneus. Maar onkruid vergaan nie.”
Aralie verwens haar oomblik van sentimentele swakheid. Niel is reg: hy ís ’n onkruid. ’n Ghwar en ’n boef wat haar in die rug gesteek het. Dis goed sy is van hom ontslae, en sy moenie nou vir sy snikstories swig nie.
Sy vee ongeduldig die trane uit haar oë. “Hoekom het jy nie gekyk waar jy loop nie? Seker weer ’n wulpse blondine in ’n minirompie gesien wat verbygekom het!”
Sy wange kry ’n kleur en hy kyk verleë anderpad. “Dis nie wat jy dink nie,” ontken hy die skimp. “Ek was ingedagte en het aan my nuwe jop geloop en dink – aan alles wat ek nog moet afhandel voor ek kan begin. Die taxi het uit die bloute op my afgepyl en nie eens probeer rem of uitswaai nie. Eintlik het ek lig daarvan afgekom, ek kon erger as net beenaf gewees het.”
Aralie is steeds kwaad omdat hy haar onnodig die skrik op die lyf gejaag het.
“Dit sou jou verdiende loon gewees het as al twee jou bene gebreek was. En jou nek ook! Mens is nie ligsinnig oor iets soos ’n motorongeluk nie – ek was buite weste. Jou arme ma ook.”
Niel is vol berou en reik uit om haar hand in syne te neem. “Ek is jammer.”
“Ja, dis wat die kat ook gesê het ná hy die kanarie opgevreet het,” antwoord Aralie suur en trek haar hand weg. Sy wil nie met Niel fisieke kontak hê nie, wil nie aan hom raak nie. Sy vingers, sy handpalm, sy vel se tekstuur is te bekend. Dit wek te veel nostalgie en seer herinneringe.
Sy