Wat Seuns moet weet. Jan van Elfen

Wat Seuns moet weet - Jan van Elfen


Скачать книгу

      

      Wat seuns moet weet

      Dr. Jan van Elfen

      Tafelberg

      Inleiding

      Dr. Jan van Elfen is dekades lank reeds sinoniem met die grootwordproses van ontelbare jong Suid-Afrikaners. Die vraag na leiding tydens die adolessente jare het net toegeneem soos wat ons samelewing meer kompleks geword het. Daar is ’n al hoe groter behoefte aan ’n vertroude stem wat kan help om die nuwe realiteite waardeur seuns en jong mans in die gesig gestaar word, die hoof te bied. Daarom is dit goedgedink om ’n nuwe uitgawe van dr. Van Elfen se gids vir die tienerjare uit te gee. Vir hierdie hersiene en bygewerkte teks is gesteun op inligtingsbronne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), die Sentrum vir Toegepaste Regstudies (CALS), die Mediese Navorsingsraad (MNR) en Health24.com. Die essensie van dr. Van Elfen se betoog is egter behou.

      Alles is anders

      Deesdae ken jy jouself skaars – jy voel en lyk so anders as ’n paar jaar gelede. Eers het jy al hoe meer bewus geword van jou voorkoms en hoe jy optree – en ook dat jou huismense jou anders begin behandel. Nou voel dit met tye amper of jy vir jouself ’n vreemdeling geword het.

      Wat het hier gebeur? Hoe het dit gebeur?

      Soms lyk dit of die mense by die huis nie meer van jou hou nie en of jy hulle heeltyd pla. Almal werk ook op jou senuwees! Daar word soveel van jou verwag. Wanneer daar nie gekla word oor jou musiek te hard of jou kamer deurmekaar is nie, moet jy in die kombuis help. Dit maak jou kwaad.

      Dan is daar jou sussie wat aanhou karring: “Ek gaan Ma vertel jy het nie jou huiswerk gedoen nie.” Klikbek! Maar niks pla jou soveel as jou eie buierigheid nie. Sodra jy rustig lê en droom oor een ding, hardloop jou gedagtes ’n ander rigting in.

      Jy verknies jou gedurig en wonder of jou lang bene vir altyd so dun gaan bly. Dit pla jou ook as jou toetspunte swak is. Soms lyk die toekoms duister en glo jy daar is niks goeds wat op die lang pad vorentoe vir jou wag nie. Maar met tye voel jy uitbundig, volwasse en selfstandig, oortuig daarvan dat jy jou eie besluite kan neem.

      Ander kere wil jy niks anders hê nie as dat jou ma ’n bietjie met jou gesels en jou gerusstel oor bekommernisse wat jy nie eens altyd in woorde kan uitspel nie. Of jy wens jou pa was daar sodat julle op die grasperk ’n bal kan gaan rondskop. Dit is baie verwarrend om so te voel, amper vasgevang halfpad tussen grootmens en kind.

      Skool was voorheen lekker. Nou raak jy moeg as jy net aan huiswerk dink. In die klas dwaal jou gedagtes gedurig by die venster uit. By die huis vervies jy jou as jy rondgestuur word. “Julle pak al die werk op my!” kap jy terug voor jy jou kan keer. Jy voel soos almal se slaaf en of niemand jou raaksien en waardeer vir die mens wat jy is nie.

      Jy is ’n mengelmoes van geesdrif en twyfel, vriendelikheid en befoeterdheid, lag en grynslag. In jou kop spook die gedagtes. Oor en oor wonder jy: “Watter soort mens is ek? Sal meisies in my belang stel? Sal ek eendag werk kry, en watse werk? Sal ek die werk goed kan doen? Sal mense dink ek is die moeite werd?”

      Wat moet jy doen? Sal hierdie tyd ooit verbygaan?

      Dikwels dink jy sommer aan niks. Wat is al die inspanning tog werd? Dit voel of die tyd stilstaan. En dan wonder jy of jy nie ’n bietjie van jou kop af is nie.

      Jou gedagtes maal woes rond, maar jou lyf maak jou senuwees nog meer gedaan. Jy voel soms so lomp! En hoekom is jy dikwels lam en tam? Soggens kan jy skaars jou oë oopkry en jou bene oor die kant van die bed swaai – en dan is dit gewoonlik die verkeerde voet wat eerste grondvat!

      Soms skaam jy jouself omdat jy so kort van draad is, veral teenoor die mense naaste aan jou. Jy weet jy behoort dankbaar te wees vir alles wat hulle vir jou doen, maar voor jy jou kan keer, is jy weer ongeskik met hulle.

      Alleen in jou kamer dink jy terug aan die kere toe Ma op koue wintersaande ’n ekstra kombers om jou skouers kom vou het. En jy onthou hoe bang jy geword het toe Pa, toe jy nog kleiner was, vir jou spookstories vertel het. Dan het jy gekerm jy is so bang hy mag nie loop nie – net sodat hy langer by jou moet bly.

      Jy weet jy behoort baie gelukkig te voel daar is mense wat vir jou omgee en neem jou voor om minder buierig te wees. Jy gaan jou woorde tel. Maar kort daarna stook die opstandigheid op: “Ek wil nie meer Ma se ou soet seuntjie wees nie. Ek kan nie help ek voel soos ek voel nie.”

      En hoekom moet jy probeer? Al wat jy gaan kry, is hel: “Ek het jou gewaarsku om harder te leer!” Jy het tog nie gevra om gebore te word nie, en jy skuld niemand niks. Die gekerm en gepreek maak jou gek!

      Jou ouers en die ander ouer mense is ook nie meer soos hulle was nie, noudat jy daaraan dink. Kyk net die pa’s se boepmagies! En die ma’s lyk soos regte tannies. In die openbaar kan jy jou selfs vir hulle skaam.

      En jou klere! Kyk net wat is in jou klerekas. Jou klere lyk vir jou so outyds en niks pas meer reg nie. Jy wil so graag moderne klere – met labels – hê.

      By die skool is jy onseker en ontuis. Dit voel vir jou of party onderwysers nie meer van jou hou nie. En jy kan nie verstaan waarom jou gunsteling-onderwyser nou die dag voor die hele klas ’n gek van jou gemaak het nie.

      Hulle moet net nie dink dat jy weer aan die skoolkonsert gaan deelneem nie. Jy is nie meer dieselfde oulike seuntjie wat doodgelukkig was om ’n paddastoel in die skoolkonsert te wees nie. Jy sterf tien dode eerder as om op ’n verhoog te moet gaan staan. Niemand sal in elk geval iets anders as jou dun beentjies raaksien nie.

      Dis ook nie meer altyd lekker as die klok vir pouse lui nie. Julle het altyd almal saam lekker woeste speletjies gespeel, maar nou is daar sulke groepies. Miskien praat hulle oor die skelm rokery nou die dag agter die fietsloods.

      En wat gaan met Ruan aan? Julle was jare lank beste vriende – julle was saam in ’n bende! Julle het geheime gedeel en saam pret gehad. Nou lyk dit of hy jou nie eens raaksien nie. Is dit vandat sy pa ’n nuwe motor gekoop het? Of sedert hy saans later as jy mag uitbly?

      Hoekom voel jy soms jy bars uit jou nate en dan weer jy is vasgekeer soos ’n papie in ’n kokon?

      Dis ’n goeie beskrywing.

      Jy is baie soos ’n papie wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan – ’n ruspe wat besig is om vlerke te groei.

      Want byna ongemerk het jy ’n TIENER geword – daardie rare wese wat ook bekend staan as ’n “adolessent”. Jy is nóg vis, nóg vlees – nie meer ’n kind nie, maar ook nog nie grootmens nie. Jy het ’n nuwe fase, ’n oorgangstadium, in jou lewe bereik.

      Jy het lank gedroom oor en uitgesien na hierdie wisseljare. Noudat jy daarin is, word jy deur ’n beklemming beetgepak soos ’n bergklimmer wat hoogtevrees kry wanneer hy amper by die kruin is. Daar is soveel dinge wat jou bang en onseker maak.

      Aan die een kant sal jy as tiener glo ’n nuwe identiteit kry. Intussen verstaan volwassenes tieners nie altyd nie en kritiseer hulle graag. Jy weet ook jy het geen keuse nie – jy moet deur hierdie stadium gaan. Aan die ander kant sien jy uit na hierdie nuwe avontuur.

      Noudat jy ’n tiener is, is daar die een na die ander teken van liggaamlike groei. Jy begin twyfel. Sal jou liggaam normaal ontwikkel? Sal jou stem ooit diep soos ’n man s’n wees en die donsies op jou ken harde baard word? Gaan jy spiere ontwikkel, gaan jy ’n six-pack hê, sal jou borskas breed word? Gaan jy nog baie langer word of kort bly? Jy bly bekommerd.

      Onthou net dat jy uniek is. Niemand anders lyk of voel presies soos jy nie. Dis nie nodig om angstig te raak oor adolessensie nie. Hoe ouer jy word, hoe meer sal jy agterkom dat jy dit geniet.

      Adolessensie is die oorgangsjare tussen puberteit (tekens van manwording) en liggaamlike sowel as emosionele volwassenheid. Jy kan moed skep vir dié tyd as jy onthou dat jou ontwikkeling nie tot jou liggaam beperk is nie. Jou gaan meer selfvertroue kry omdat jy byna daagliks verstandiger word en jou emosies al hoe beter kan beheer. ’n Mens is net een maal jonk en adolessensie is die hoogtepunt van jou jeug.

      Leef jouself uit en benut al die geleenthede wat die lewe vir jou bied. Jy kan byvoorbeeld deelneem aan sport en ander sosiale bedrywighede.


Скачать книгу