'n Sluier vir Shahira. Annelize Morgan
’n Sluier vir Shahira
Annelize Morgan
Melodie
Vir Sonja
Mag die bleek maan vir altyd deur die wuiwende palmtakke vir jou skyn, en mag daar eendag ’n aantreklike sjeik op ’n wit perd oor die woestynsand na jou aangery kom.
1
In een nag het Isabelle Deneuve se lewe vir altyd verander. Die vorige dag was daar nog drome in haar oë, was daar ’n lewensblyheid in haar wat haar onweerstaanbaar gemaak het vir die jongmans van Bordeaux. Sy was die middelpunt van elke bal, die droom van elke hubare jongeling. Buiten vir haar skoonheid, sou sy ook eendag skatryk van haar vader erf. Isabelle het alles gehad waarvan ’n meisie maar kan droom. Maar op hierdie besondere dag sou alles verander …
Teen laatmiddag kom ’n koets met die pad aangejaag. Elke nou en dan slinger hy gevaarlik asof hy gaan omkantel, net om weer steierend regop te kom. Die drywer spaar nie die perde nie, maar lê die sweep in asof die duiwel self op sy hakke sit.
Isabelle kyk geskok na die rytuig vanuit een van die vensters op die derde verdieping van hul herehuis. Enige oomblik, weet sy, gaan die koets omslaan, maar dit lyk nie asof dit eens in die gedagtes van die drywer is nie.
“Ninon!” roep sy toe sy met die gang afhardloop na die bopunt van die trap. “Sê vir Jacques hy moet gaan kyk wat die probleem is!”
“Mademoiselle!” Ninon verskyn uitasem halfpad met die trap op. “Jacques is reeds op pad! Dit lyk asof die perde nie beheer kan word nie.”
“Nonsens!” Isabelle druk by haar verby en hardloop met die trap af ondertoe. “Die drywer slaan die duiwel uit die stomme goed!” roep sy terug na Ninon, wat nog sukkel om haar asem terug te kry. “Daar is fout!”
Sy bereik die onderpunt van die trap en hardloop deur die ruim ingangsportaal na die voordeur. Die meeste van die huisbediendes het reeds buite vergader om te hoor wat aan die gang is. Toe Isabelle in die deur verskyn, staan hulle eenkant toe sodat sy kan verbykom.
Op daardie oomblik kom die koets om die laaste draai en jaag met die pad reguit na die huis. Die perde is natgesweet en die salpeter slaan op hulle uit. Hulle is ver en baie hard gery.
Nog voor die rytuig behoorlik tot stilstand kom, gaan die koetsdeur oop en klim ’n skraal ou man uit. Hy kom haastig na Isabelle toe en maak ’n buiging voor haar.
“Mademoiselle, u moet onmiddellik saam met my na Parys gaan. Ons moet vars perde kry en terwyl hulle ingespan word, sal u genoeg tyd hê om net die nodigste te pak.”
Sy kyk onthuts na hom. “Verskoon my, Monsieur, maar waarom moet ek Parys toe? En wat maak u met my vader se koets?”
Hy vee die sweet van sy gesig af. “U vader het my gestuur.”
Hy oorhandig ’n brief aan haar en sy lees dit vlugtig deur.
“Dit kan nie van hom af kom nie,” sê sy koppig.
“Hy was ’n paar dae gelede in ’n ongeluk, Mademoiselle, en hy is ernstig beseer. As u hom nog lewend wil sien, moet u nou saam met my gaan.”
Isabelle word yskoud. Haar pa is ’n week gelede hier weg om sy wyn in Parys te gaan verkoop. Hy het belowe dat hy gou sal terugkeer … kan dit waar wees dat hy sterwend is? Sy kyk na die man voor haar, maar sy kan niks sien wat haar laat vermoed dat hy nie die waarheid praat nie.
“Ek neem my chaperone met my saam,” sê sy, en hy maak geen beswaar daarteen nie. Dan kyk sy om na ’n man wat eenkant staan. “Jacques, help die man om vars perde in te span. Ek sal binne ’n halfuur gereed wees.”
Sy draai om en stap haastig die huis in, gevolg deur Ninon.
“Jy glo hom sommer net so?” sê-vra Ninon.
“Wat kan ek anders doen? As my pa ernstig beseer is, moet ek by hom uitkom.”
“Maar stuur dan net eers iemand om uit te vind wat gebeur het!”
Isabelle skud haar kop heftig.
“Nee, daar is nie tyd nie. Jy het gehoor wat die man sê.” Sy trek ’n valies nader. “Ons moet inpak, Ninon.”
“Ek wens jy wil net eers kalm daaroor dink.”
Isabelle kyk na haar. “Ek neem jou saam met my juis omdat ek nie weet wat om te verwag nie. Ek kan dit nie waag om die man te ignoreer nie. As my pa sterf en ek het nie eens na hom gegaan nie, sal ek my dit nooit vergewe nie.”
Ninon frons liggies, maar antwoord nie. Isabelle draai terug en gaan voort met inpak. Natuurlik is sy onseker, maar daar is nie ’n manier hoe sy die waarheid kan uitvind sonder dat sy self na Parys gaan nie.
Die son trek al water toe hulle Parys binnery. Die perde is moeg, maar hulle is nie meer ver van die huis waar Armand Deneuve lê nie. Jean, die drywer, beduie na ’n eenvoudige huis in die straatjie waarin hulle ry.
“Hy is in daardie huis.”
Isabelle frons diep, want dis die huis van ’n eenvoudige, arm man – nie die soort plek wat haar vader sal besoek sonder ’n besonder goeie rede nie. Jean sien haar huiwering en voeg by: “Hy is in goeie hande, want die vrou weet iets van medisyne. Sy het u vader se beserings verbind.”
Minute later loop Isabelle die vertrek binne waar haar pa lê. Sy herken hom skaars met die verbande om sy kop en sy bleek gelaat teen die kussings. Hy roer nie eens toe sy langs sy bed gaan sit en sy hand in hare optel nie.
“Ma fille …” vorm sy lippe die woorde toe hy agterkom dat sy by hom is. Hy draai sy kop moeisaam in haar rigting terwyl sy gesig vertrek van pyn. “Jy moet … na die Kaap de Goede Hoop gaan na my dood … Daar is geen ander uitweg nie …”
Sy leun vooroor. “Papá …”
Maar hy reageer nie. Sy asemhaling is vlak en sy weet dat sy tyd kort geraak het. Sy voel ’n beklemming om haar hart. As hy te sterwe moet kom, is haar sorgvrye dae iets van die verlede.
’n Rukkie later kom hy by en sê hygend: “Kyk … in die laai van die bureau … ’n brief van Etienne …”
Sy staan op en maak die skryftafel oop. In een van die laaie vind sy ’n brief met Etienne le Riche se seël op. Sy neem dit na haar pa.
“Lees dit,” sê Armand.
Etienne skryf dat hy vir haar in die Kaap de Goede Hoop wag. Hy sien daarna uit dat sy by hom aansluit, aangesien hulle reeds agt jaar gelede aan mekaar belowe is.
Terwyl sy lees, voel Isabelle al benouder, want sy het al begin hoop dat daar niks van hierdie verlowing sal kom nie. Dit was nog altyd eensydig.
Sy kyk af na haar pa se gepynigde gelaat. Net vir ’n oomblik aarsel sy voordat sy sê: “Ek sal gaan, Papá.”
Die verligting op sy gesig laat haar skuldig voel dat sy dit eens oorweeg het om te weier.
“Merci … ma fille.”
Hy maak sy oë toe en sy sit en luister na sy gejaagde asemhaling. Sy weet bitter min van medisyne af, maar sy besef dat haar vader in ’n ernstige toestand is.
Hierdie is die afskeid, dink Isabelle met intense hartseer. Dis die een dag in haar lewe wat sy die meeste gevrees het.
Met haar pa se hand in hare sit sy die hele dag langs sy bed, en sy onthou al die mooi dinge wat hulle saam geken het. Hy was altyd so opgewek en vol lewenslus en nou kan hy skaars sy hand optel.
Ninon sluit van tyd tot tyd by haar aan en dan praat hulle op ’n fluistertoon met mekaar. ’n Paar keer skrik die man op die bed nog wakker, maar teen die aand weet Isabelle dat hy besig is om te sterf. Sy huil geluidloos en Ninon probeer haar troos, maar die onvermydelike kan hulle nie meer keer nie.
Voordat die dag breek, sterf Armand Deneuve sonder dat hy weer bygekom het om finaal van sy dogter afskeid te neem.
Isabelle is ontroosbaar. Hy was al wat sy nog oorgehad het, want sy het nie broers of susters nie. Hiervandaan sal haar pad alleen loop,