Liefde in die skemering. Lizet Engelbrecht
age target="_blank" rel="nofollow" href="#fb3_img_img_09cee523-143a-5af0-8835-16ae8e640f63.jpeg" alt="cover.jpg"/>
Liefde in die
skemering
Lizet Engelbrecht
SATYN
1
Hoe verhoed jy iemand ’n volle agtien maande lank om ware liefde te vind? Dis hieroor wat die vier-en-twintigjarige Monique, privaat verpleegster vir oom Matty Olsen, tob terwyl sy stadig en ingedagte na sy slaapkamer stap in die lieflike Yzerfontein-huis wat sy reeds ses maande lank met hom deel.
Veronderstel dit ís binne haar vermoë om aan oom Matty se verregaande versoek te voldoen. Veronderstel sy kan hierdie Joseph Greeff-persoon op haar verlief maak en sodoende vir oom Matty beskerm – ás sy hom dan inderdaad glo dat hy sulke beskerming nodig het.
Selfs al is dit moontlik, weet Monique nie of sy daarmee kan saamleef nie. Kan sy een mens mislei om ’n ander te plesier? Wat as die Joseph-vent in die proses seerkry? Miskien is hy skugter of het hy ’n swak selfbeeld. Sy kan mos onmoontlik só iemand misbruik!
By oom Matty se kamerdeur huiwer Monique. Hy gaan nou ’n antwoord van haar wil hê, dit weet sy. Sy was nog nooit ’n vlinderpop nie, en al wil sy vir oom Matty beskerm, glo sy nie sy weet hoe om te flirteer of die koket te speel nie. Boonop het die storie met Christof haar geknou; sy het geen selfvertroue waar dit by mans kom nie. Selfs ’n skugter of skaam een sal regdeur haar sien. Buitendien: Sy soek ook nie ’n nuwe man nie. Nee, daar moet ’n ander manier wees om oom Matty te beskerm.
Maar wat as daar nie is nie? En wat as sy weier, en die mansmens besteel as gevolg van haar lamsakkigheid vir oom Matty rot en kaal? Sy het al een keer in haar lewe toegekyk hoe fortuinsoekers iemand leegtap – nooit weer nie! As oom Matty haar tog net sou vertel hóé presies sy hom sou beskerm deur die Joseph-karakter besig te hou. En hoekom agtien maande lank?
Met hierdie strydige gedagtes steeds botsend in haar kop stoot Monique die kamerdeur eindelik oop en gaan in. Haar oë gaan teer en besorg oor die benerige liggaam wat byna heeltemal onder die lakens verdwyn. Hy’t so maer geword! ’n Vreemdeling sou dink oom Matty slaap, maar ná ses maande van versorging ken Monique hom beter. Sy verstaan hierdie gryskop omie. Wel, meestal. Vandag verstaan sy dat hy pyn het, en baie daarvan. Vandag brand sy maag weer soos ’n kaal voet wat op ’n rooiwarm kool trap.
“Oom Matty,” sê Monique sag. “Oom,” herhaal sy en stap nader terwyl sy krities deur die kamer kyk. Dit lyk darem asof die aflossuster haar wat Monique is se opdragte stip uitvoer. Dan let Monique egter die vensters op – die gordyne is nog altyd toe. Sy frons vies, maar onderdruk die begeerte om die gordyne oop te trek. Dis haar eerste vry naweek in vier maande. Sy het net vinnig kom inloer, sy gaan nié nou betrokke raak by die siekekamer se dinge nie. Maar eerlikwaar, hoe die vrou nie kan besef die lieflike see-uitsig doen oom Matty die wêreld se goed nie . . .
Oom Matty se oë gaan stadig oop. “Jy’s hier,” kreun hy. “Dis dan jou vry naweek. Jy’t planne gehad, hoekom is jy nou hier?”
“Watse nonsens vertel dokter Hougaard vir my?” Haar stem klink kwaai, maar sy weet haar oë gee haar weg. Sy is veel meer bekommerd as vies. “Hoekom weier oom om ’n inspuiting vir die pyn te kry?”
“Want ek moet eers met jou praat.” Hy probeer hom ophys teen die kussings en sy steek haar geoefende hande onder sy arms deur en lig hom op asof hy ’n veertjie is. Vir ’n sterk jong vrou soos sy is die skamele gewiggie van oom Matty se negentig jaar oue lyf soos niks om op te lig nie.
“Het jy ’n besluit geneem, Monique?” Sy ysige blou oë soek dringend ’n antwoord in hare toe hy gemaklik sit teen die kussings, of so gemaklik as wat sy pyn hom toelaat. Monique gaan sit langs hom op die bed.
“Jy’t gesê jy wil die naweek daaroor dink, maar ek kan nie langer wag nie, die pyn is verskriklik, Monique. Ek moet eers weet . . .”
Monique staal haar. “Ek wíl oom help.” Sy tel een verrimpelde hand op en omvou dit met hare. “Ek sal mos nou nooit toesien dat enigiemand oom seermaak nie, maar daar móét ’n ander manier wees as wat oom voorstel. Daar moet net, dit sal nooit werk nie. En ek verstaan nie –”
“Daar is nie! Ek plaas ál my hoop op jou, ek het so gebid dat jy die regte keuse sal maak. Dat jy sal besluit om my te help, my te beskerm.”
“Maar ek het eintlik geen keuse nie, oom, want oom pers my mos nou af! En om alles te kroon weet ek nie eens waar oom aan die jafel kom wat ek kamstig moet verlei nie. En hoe kan ek en oom sommerso aanvaar dat hy eensklaps op my verlief sal raak? Die liefde laat hom nie voorskryf nie.”
“Ag nonsens, kind. In al die eeue het vroue nog altyd die mag gehad om ’n man, enige man, te verlei. As die vrou vasbeslote is, staan die man g’n kans nie.”
“Nie alle vroue het daardie gawe nie, oom! Ek is veel meer die muurblommetjietipe.”
“Dis onsin en jy weet dit, Monique. Jy is dan so ’n sprankelende kind! Jy wíl my net nie help nie.”
Oom Matty se gesig lyk eensklaps kompleet nes ’n neulerige kind s’n, dink Monique vies. Hy gee haar sowaar geen keuse nie! Sy verpes dit om so in ’n blik gedruk te word. Gmf, sprankelend, nogal. Sy voel allermins asof sy wil oorborrel van vreugde by die gedagte aan hierdie vreemde taak wat haar opgelê word.
“As oom my ’n werklik geldige rede kan gee hoekom ek moet doen wat oom vra, net dán kan ek dit dalk oorweeg – dálk, hoor oom my! Is oom se lewe in gevaar? Verduidelik tog net vir my!”
Sy kyk vraend na oom Matty, maar sy dun lippe wat stewig op mekaar geklem is, wys duidelik dat hy nie bereid is om verder oor die onderwerp te praat nie. Monique hou hom ’n paar oomblikke lank dop. Sou hy nou sowaar soos ’n stout kind ’n stilstuipe-aanval kry?
“Oom ken hom nie eens nie,” probeer sy weer, byna desperaat. “Wie sê hy’s nie ’n totale lummel nie, ’n vroueslaner of ’n dronklap!” Dalk sal ’n ander invalshoek oom Matty oortuig dat wat hy van haar wil hê buitensporig is. Word hy miskien seniel? Sy’t tot dusver geglo hy is glashelder, maar sy begin twyfel . . .
“Jy soek net verskonings, Monique. Jy wéét ek kan jou nie vertel nie, maar jy behoort ook te weet dat jy my kan vertrou. Dit is ’n saak van lewe of dood, daarvan verseker ek jou.”
“Dit sal vir seker oom se dood wees, ja,” mompel sy vies, “want solank oom aanhou om medikasie te weier is die dokters se hande afgekap. Die inflammasie raak al hoe erger en sonder antibiotika kan ek netsowel oom se graf begin grawe. Is dít wat oom wil hê?”
“Jy weet wat ek wil hê,” sê hy terwyl hy orent beur om so naby as moontlik aan haar te wees, kortasem van ontsteltenis en pyn. “En jy weet ek sal jou ruim vergoed. Baie ruim, Monique.”
“Hemel, oom Matty, oom is so verdomp hardkoppig! Oom weet goed oom se lewe is vir my baie belangriker as die geld. Oom speel nou net op my emosies omdat oom weet dat ek oom nooit wil sien swaarkry nie. Party dae dink ek oom het dit van my geweet nog voor ons ontmoet het.” Haar frustrasie kook oor en vir die eerste keer vandat sy hier begin werk het, skiet die gedagte haar te binne: Sy sou iemand anders kon gaan oppas. Iemand makliker.
“Dankie, my liewe kind. Jy sal nie spyt wees nie,” sê oom Matty egter tevrede en sak rustiger terug op die kussings.
“Ek het nie ingestem nie, oom! Ek het net gesê ek sal dit oorweeg, en dan net as oom verduidelik, ek het nog nie –”
“Het ek jou woord?” Hy beur weer vorentoe en sy oë lyk of hulle wil uitpeul. Monique skrik vir sy gesig.
“Agtien maande. En dan sal jy genoeg geld hê om vir die res van jou lewe in die beste hotelle te bly en die hele wye wêreld te sien. Jy sal nooit ooit weer geldnood ken nie. Ek sal jou ruim vergoed, baie ruim.”
“Dit gaan nie oor die geld nie, oom, hoeveel keer moet ek dit sê! Ek sal oom met my lewe beskerm, maar ek wil net hê oom moet my vertrou en vertel hoekom dit so belangrik is dat ek hierdie mansmens vir agtien maande lank besighou. En waarvan ek veronderstel is om hom weg te hou – ’n kleindogter van oom, weg van oom se boedel, wát is die verdomde storie?”
Sy wag en wag vir ’n antwoord, maar kan sien dit gaan