In die skadu van soveel bome. Hennie Nortjé
on>
IN DIE SKADU VAN SOVEEL BOME
Hennie Nortjé
gedigte
QUEILLERIE
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van In die skadu van soveel bome mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Die dendroloog besoek die woud
Die dendroloog besoek die woud
Wie sou ooit gewoond kon raak
aan die gewuif van sulke skares,
die opgewonde samedromming,
orals linte, die see van groen vlae?
Geduldig het hy elke hand geskud,
hier en daar na ’n kleuter afgebuk,
beterskap gewens aan ’n bejaarde.
En dán, as hy weer vort moes gaan,
immer agter hom die groot geritsel,
die massas aan die fluister, stomverbaas:
Sy Hoogheid ken elke onderdaan sowaar,
op beide sy swaar Latyns en boerenaam.
Mite oor die fluweelsoetbessie
Mite oor die fluweelsoetbessie
(Bridelia mollis)
In Olifants se ruskamp, lank-lank terug
het hy ’n soetbessie se blaar gepluk,
dit jare knus in sy boomboek bewaar
en telkens weer geblaai daarna –
die sagte streel wou hy bly beleef.
Eers onlangs sou hy toe moes leer:
wie waag om hierdie boom te breek
se kalwers sal voortaan almal verse wees.
Onder die umzimbeet
Onder die umzimbeet
(Millettia grandis)
Wie sê hierdie hout
is vir bootbou te swaar?
Kyk net al die peule,
’n armada goue skepe
na verre lande aan die vaar
en ’n roeiboot na die strand,
so dobber elke blaar.
Klipkershout in die blom
Klipkershout in die blom
(Maytenus oleoides)
Jy was eers bra vreemd op die oog.
Ek moes ’n oomblik boekevat,
weetgierig hier onder jou loof
blaai deur die bybel van Van Wyk,
’n blaar, ’n saad of ’n vrug soek
om met joune te vergelyk.
Maar om die boomsoort te eien
verg soms naderby kersopsteek,
om al soek-soek te bly boontoe kyk
tot skielik, daar in die sterblomme
se skyn, fyn bessies soos was
die naam rotsvas laat staan:
’n boom gewortel in klip.
Oak sudden death
Oak sudden death
Die bosluisvoëls is tog te bly
dat soveel donker nagte al
die ou grote steeds verseg
om na behore te ont-
val.
Welwitschia mirabilis
(Die Tweeblaarkanniedood van die Namib)
Ou selakant van hierdie woestynland,
toe Dias en Da Gama net nou die dag
hier digby jou verbyseil, staan jy al
’n paar duisend jaar en swaardra
en dít aan twee sulke toiingrige blare.
Jy wat ná een maal se bot jou geloof
in alle verdere loof sou verloor:
êrens deur die newels in ’n uithoek
van die moerasse van Gondwana
moes ’n logge Tirannosaurus
jou oervoorvader in die verbygang
só vertrap, onderweg na uitsterf
jou vermink tot Darwinistiese frats,
om lank ná die laaste Armageddon
enig in jou soort te bly voortbestaan,
net genoeg blaar om te kan oorleef
hiér op Benguela se klam môrekleed.
Wortel dwarsdeur dor klipbank geskiet
staan jy diep ingegrawe, slaggereed
vir die volgende groot katastrofe.
Wyl weliger genote om jou kwyn,
bly jou stem steeds roep in die woestyn.
Hardekool-silhoeët
Hardekool-silhoeët
(Combretum imberbe)
Nog loodgrys
ná daardie laaste skrik
vir mensgemaakte vuur,
of skielik uit die bloute
die sekuur gemikte flits,
staan jy nou
brandbestand
teen selfs die son
se laaste vlam.
Papierbaskanniedood
Papierbaskanniedood
(Commiphora marlothii)
Mens bly op elke flenter
so ’n paar woorde skryf,
welwetend dat jy êrens
windaf die legkaart
sinvol bymekaar moet kry.
Saag gerus die groen stam af,
ja, kap voor die voet als uit:
binnekort fladder hier
weer kraakvars blaaie
om jou van voor af te kasty.
Peulmahonie
Peulmahonie
(Afzelia quanzensis)
Laat die kinders vir oulaas
om die stam rinkink,
die oues van dae
’n laaste agtermiddag
onder die geveerde blare slaap
en mag die aap,
voor hy verskrik wegvlug,
nog ’n paar peule laat val
sodat ons verlaas stringe
swart en rooi krale kan maak,
iets van ons samesyn