Die beginsel van stof. Breyten Breytenbach
die beginsel van stof
(laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge)
Breyten Breytenbach
Human & Rousseau
Vir my ontslape broer Basjan
en my voorlopervriend FVZS
“elke slag as jy my lees
bly daar iets minder van my oor”
“outside of a dog, a book
is man’s best friend. Inside of a dog
it’s too dark to read.”
Kongfoe sê die begin van wysheid
is om elke ding by die naam te noem.
(Dit is ook die aanvang van waansin.)
1
tussen dooie vriende is ons gedigte slawe
“time flies like an arrow;
fruit flies like a banana”
– Groucho Marx
’n voetnoot onder die nag van geskiedenis
in die nag toe alles swart
verbrand is tot ’n kruis van as
teen die blinde ruit
en die hond se blaf ’n donker vlieër
weggewaai in die donkerte
na waar die maan
skeur soos die kiel van ’n sinkende skuit
het ek my taal gedroom
die titelblad swart besmeer
met tekens nou onontsyferbaar rou
en binne die boek
het ek my afbeelding
drie keer gesien staan
eers tussen dooie vriende
met die bespikkelde treurige gesigte
van honde wat direk in die blinde lens staar
terwyl hulle gedagtes soos leë glase
draai in die hande
en ek was daar
met dun nek en snor
ons gedigte is slawe elk met ’n volle wuif
vere fier op die kop
toe in ’n tableau by afskeid
in die tuin van die nag
met mantel en ’n hoed wit hare
my moeder ’n bejaarde maagd in my omhelsing
en verder terug
in die voue van verheue
ook ander vertroudes as fakkels van vergeet
was ek nou die profeet
weggestuur om te bespied of daar lewe
is in hierdie wêreld
of die sinnelose balling teruggekeer om te sê
ons taal was ’n voetnoot
onder die onleesbare bladsy geskiedenis?
’n laaste keer op ’n bank in die leë tuin
van ’n malhuis vir aftandse verjaardes
as geraamte met ’n bietjie bitter vlees
toegewikkel in die kombers
en wilde kuif en oë blinde albasters
buig en prewel buig en prewel
baie woorde o baie woorde
maar net die gefluister van dooie slawe
maar nie genoeg om keep of skip te maak nie
en buite die boek verby alle luister
die blaf en die wind en die as
van maan in donker water
die tweede vers
die een woord
’n blinde indoena
wat met skuifelstok
na die hoogte buite die stad
gesukkel het
om hand bo die oë
in die diepte te staar
roep die ander op:
’n drafstappie krygers
stowwerig asof met as bedek
wat deur dae en nagte
’n bottel seewater
aan die kus gaan skep het
en nou sing van die vure van verte
om leefweet se dors te les
draf in NY, 16 September 2007
op ’n koggelpas sal jy hol
deur klowe van hierdie megapool
met onder ooglede nog die spoeling
van ’n droom van donkerte,
Septemberlug is ’n blou vlag
rimpelende in torings glas
om ’n komende seisoen van koue
aan te kondig
met ’n koggelpassie bewimpel jy jou asem
tot aan die oewer van die Styx
waar laas nag se maan nog dobber
soos ’n pampoen vol water,
’n skool meeue vlieg stroomaf verby
om besinning te versin
en sing-sing die dood in te haal
want dit is tog die bedoeling
van die lyf:
aanhou beweeg
tot die gedig boontoe dryf
gedig 810
toe ek jare gelede
my eerste verse
aan Dirk Opperman gewys het
het hy gesê:
eers wanneer jy ’n duisend
skyf vir skuif skryf
tot jy lam is in die kruis
sal jy begin agterkom
waar-oor dit gaan
hy had waar-skynlik des-tyds gelyk
(nie waar nie, Dirk?
nou jy wie weet waar sooigelyk
met die tyd en die woorde lê)
New York, September 2007
Ounooi: wat ’n verrassing
dat jy vir die eerste keer sedert al die jare
hier in die vreemde
kom besoek aflê
terug in die boonste donker kamer
van daardie ouhuis
waar wind soms in die luike fluit
en die vloerplanke kraak
onder tyd se tred
en die hitte somers swaar en wit
soos ’n broeis hemel die aarde versmoor
nou