Abel se ontwaking. Chris Karsten
ection>
Abel se ontwaking
Chris Karsten
Human & Rousseau
Vir Christof
The timeless instant passed; the pendulum reversed its swing. In an empty room, floating amid the fires of a double star twenty thousand light-years from Earth, a baby opened its eyes and began to cry. – Arthur C. Clarke, 2001: A Space Odyssey.
1
In die spieël, klaar geskeer, sy vel tintelend, betrag Abel sy gesig. Die haatlike gelaatstrekke, onvoltooide knoeiwerk van ’n lomp beeldhouer. Dan die beeltenis van ’n hand, die een wat die skeermes vashou, en soms die skalpel. En strelende oor die voorkop, die wange en ken, oor die brug van die plat neus, ontsluit die aanraking van die vingers aan sy vel die gekoggel en verstoting.
Hy leun vooroor. Is dit ’n druppel water wat daar in die binnehoek van die lui oog uitglip? In die spieël dep die kussing van ’n voorvinger die druppel en bring dit na die punt van die tong. Souterig. ’n Traan, dink hy gelate. Hy het grootgeword met versmading en wantroue in die wêreld, ’n traan is gepas.
Net sy moeder kon hy vertrou. Van kleintyd af het sy hom aangemoedig om sy troos in isolasie te gaan soek. En by haar. By haar is hy homself, by haar hoef hy hom nie in hoeke en skadu’s teen die aanblik van mense te verskans nie, hoef hy nie ’n masker van meelewing te probeer dra nie.
Nou ’n trekking aan die mondhoeke, net ’n grimas. Abel glimlag selde. Maar oor ’n maand is sy verjaardag. En hy gaan homself bederf met ’n besondere geskenk: ’n nuwe gesig.
Dit is nie ’n impulsiewe besluit nie, hy het lank daaroor getob.
Hy staan voor die spieël en voel hoe die opwinding diep in hom roer en opwel. Dit begin met ’n trilling in sy bene asof hy in ’n atmosfeer van gewigloosheid wil sweef.
En ’n aanvallige gesig. Vir ’n spesiale okkasie, ’n spesiale gemoedstemming, wil hy ’n mooi gesig voorsit.
Maar natuurlik, dink hy met ’n wispelturige knip van sy lui oog, sal hy eers sy moeder se mening gaan vra. Soos die gebruik in alle groot besluite, is háár seën nodig. Tog het hy geen sweem van twyfel nie. Sy moeder sal begryp, sy sal sy behoefte verstaan aan ’n opwindende tussenspel met ’n nuwe gelaat.
Nie noodwendig die gesig van ’n man nie, verkieslik nié. Eerder die fyn gelaatstrekke van ’n jong vrou, peins hy voor die spieël. Die dogter waarna sy moeder so gesmag het.
Ja, dink Abel nou geesdriftig en effe duiselig, vir sy nuwe voorkoms wil hy die perfekte gelaat van ’n jong vrou hê, delikaat en nog onbedorwe; ’n teder vel van saggelooide maagdeperkament wanneer hy haar gesig oor syne aantrek.
2
Die vrou in byderwetse slenterdrag stap eers by die toonvenster verby, steek dan vas, soos winkelkykers doen as iets die oog vang. Op koers na die Gucci-boetiek, maar op ’n Saterdagoggend in ’n winkelsentrum is die bestemming net die hoogtepunt van ’n genotlike wandeltog. Slenter, drink koffie, blaai deur ’n nuwe boek, luister na ’n CD-snit, pas ’n deftige sonbril op, koop kaas en olywe vir die aand se gaste, miskien ’n vrylopende hoender, nou bevrore, vir Sondagmiddag se ete, voel aan jou palm die tekstuur van ’n handgeweefde tapyt uit Turkmenistan. Op pad na die Gucci-bloes en Zanotti-sandale is jy deel van die promenade. En as ’n bonte samekoms van makabere gesigte agter ’n toonvenster jou aandag trek, steek jy vas, al is dit net uit nuuskierigheid.
Sy ken etniese Afrikamaskers; tiekie-’n-bos in die padstalletjies van snuisternysmouse, saam met beeldjies uit seepsteen, Afrika-diere uit hout, bric-à-brac van leer, erdewerk en kleurryke kraletjies. Sy steek vas, hierdie is nie net nog ’n kuriowinkel nie, nie ingeprop met rakke vol nuttelose soeweniers nie, eerder ’n anti-kwariese galery. En dit is wat haar interesseer, dit is haar veld: oudhede. Sy stap in.
Die lokaal is yl gemeubileerd, byna gewyd uit luidsprekers sagte klanke van ’n vioolkonsert, ’n aroma van muskus in die lug. Enkele voetstukke in die middel van die vloer, op elkeen ’n bisarre artefak uitgestal. Teen die mure die starende oë, asof sy die fokus is van ’n heilskare van heidense gesigte wat op haar afkyk, haar opweeg, ’n swygende oordeel vel.
In ’n hoek, of hy wegkruip vir die uitgeholde oë teen sy mure, sit die eienaar, bestuurder, bewaker van hierdie gelate, agter die skerm van die skootrekenaar op sy tafel – geelhoutblad, stinkhoutpote, merk sy op.
“Sê as ek kan help.” Sy stem, ’n fluistering, styg skaars uit bo die musiek.
Sy betrap sy oë tersluiks op haar, asof hy haar spesiaal tussen die ander besoekers uitsoek vir sy attensies. Gewoond dat mans haar beloer. Dit vlei haar. Lenig, met swierige rondinge en ’n effense kurwe aan die nekrug, het sy ’n aura van afsydigheid. Hare agter in ’n lae chignon aksentueer haar lang, dun nek, wek die indruk van ’n slanke swaan wat op water verby die maskers dryf, met rustige verposings wanneer een haar aandag lok en sy ’n précis lees:
Afrikamaskers, nagespeur tot die vroeë Steentydperk, is van groot seremoniële, kulturele en godsdienstige betekenis. ’n Masker is die draer se band met voorvadergeeste om die kronieke van sy voorgeslag te laat voortleef. Hierdie Yohure van Tweneboa-hout, gepoleer en met metaalinleg, word in die Ivoorkus tydens ’n dodedans gedra om stamlede met die afsterwe van ’n familielid te vertroos. Dimensies: lengte 41,91 cm, breedte 20,32 cm; gewig 0,9 kg.
Sy dink sy bestee te veel tyd in hierdie galery, loer na haar horlosie. Maar die Gucci’s en Zanotti’s gaan nêrens heen nie. Haar kennis en belangstelling is in meubels van ’n honderd jaar en ouer, en in antieke silwerware, keramiek, glasware. Hierdie relikte nie haar smaak nie, maar die gesigte teen die mure lok haar. Soos die aardige artefakte op die voetstukke in die middel van die lokaal, gemummifiseerde kopvelle, verswart maar kompleet met hare en gesigte, groteske produkte van koppesnellers in Papoea-Nieu-Guinee, die Kongo, die woude van die Amasone.
Die skouerblaaie, met dun bandjies van haar bloes, prominent wanneer sy vooroor leun:
Tsantsa; Jivaro-Shuar, circa 1900.
Die Jivaro-Shuar van die Andes tussen Ecuador en Peru oes die tsantsa (verkrimpte kop) van ’n vyand in ’n godsdienstige rite as ’n demonstrasie aan familiegeeste dat ’n onreg in die hegte familiekultuur van die Jivaro-Shuar met bloedwraak nagekom is.
Van ouderdom ses word ’n seun onderrig in die rites wat verband hou met sy familie se vetes oor lang tye, soms selfs dekades, met ander stamfamilies. Van ouderdom agt vergesel hy sy huishouding se koppe-snellers vir praktiese ervaring. Hierdie daaglikse gesprekke met die seun, en sy deelname aan strafekspedisies, word voortgesit tot hy volwassenheid bereik en die stam tevrede is dat hy sy verpligtinge behoorlik begryp.
In die hoek van haar oog beweging by die geelhouttafel. Hy het opgestaan. Kort van statuur, maar kry dit reg om nog kleiner te lyk. Sy tred aarselend, of hy hom ontuis voel tussen mense. By die groepie nuuskieriges om die verkrimpte koppe kom hy tot stilstand, sy adamsappel wip ’n slag, en hy begin sy toeligting in ’n sagte stem, saaklik en stamelend, soos iemand wat skugter is om die aandag op hom te vestig.
“Om ’n kopvel as trofee te oes, sny die kakáram die kop tydens ’n plegtigheid eers heeltemal van die liggaam los terwyl hy dit aan die hare vashou. Die onthoofding duur net enkele minute vir so ’n gesoute leier van ’n stamfamilie.”
Van effe opsy beskou sy die Jivaro-gesig, luister na sy eentonige stem, sonder kadense of infleksies om stemming te probeer skep.
“Die proses om die hele kopvel met gesig en al van die skedel te skalpeer, duur vyftien minute. Dit word gedoen met insnydings weerskante van onder die ore tot agter aan die basis van die nek. Die los agterste flap word met hare en al opgetrek tot op die kroon van die kop sodat die lem van binne af die kraakbeenweefsel van die neus en