Die laat lente. Linda Joubert

Die laat lente - Linda Joubert


Скачать книгу
ection>

      

      Die laat lente

      Linda Joubert

      Human & Rousseau

      1

      In die Brakelkom is die lente altyd traag. Die peer- en pruimblomme is al lankal gespeen in die tuine van die Hoogekraal- en Noodputboere, dan breek die Kombloeisels eers oop. ’n Mens kan daar tot diep in Oktober ryp verwag, en dit het selfs gebeur dat die oggende in November nog skerp koud is met wintermistigheid bokant die bergpoele.

      Maar wanneer die lente kom, is dit nie ’n suinige gety soos in Middelvlei se wêreld nie; dis oorvloed en oordaad: blond en blou en goud.

      Die peerlanings is ’n wit bewegende see, die perskeboorde is roos en rooi, en ver teen die lug staan die groen toppe van die rankskraal populiere.

      So kom die lente in die Brakelkom, en so het Lina op ’t Hoff dit onthou uit haar jeug. En net so het die liefde ook in haar lewe gekom: die een oomblik het sy nog in die klein, troostelose wagkamertjie van die haltetjie gesit en wag – haar hande gevou in haar skoot, haar koffer met die etiketjie langs haar – en die volgende oomblik het Johannes van Brakel in die deur gestaan met sy hoed in sy hand.

      “Is u mejuffrou Op ’t Hoff?”

      “Ja, Meneer,” sê sy nederig terwyl sy opstaan en haar hand uithou. En toe hy dit in syne neem, was dit kompleet of sy die piet-my-vrou in die verte hoor roep. Die wêreld het om haar oopgeblom, maar sy het haar oë neergeslaan en niks gewys nie, want sy het haar plek geken.

      “Die kar wag buite,” sê hy kortaf, en met dié vat hy haar koffer.

      “Ek kan dit self dra, dankie, Meneer,” probeer sy keer, maar hy was al by die deur.

      “Daar’s die kar, daar by die eikeboom.” Hy beduie met sy kop. “Ek is jammer ek is laat.”

      “Dit maak nie saak nie,” antwoord sy sag.

      Die eikeboom was ’n hele entjie van die haltetjie af, en hy het vinnig gestap. Lina moes haar inspan om by te bly, want haar swart rok was wyd en swaar en die donker reismantel ’n ekstra gewig om haar skouers.

      Halfpad staan hy skielik stil en draai om. “Ek stap te vinnig vir jou, maar ek is so in die gewoonte.” Met dié haal hy sy hoed af en vee senuagtig met sy hand oor sy hare.

      Lina glimlag. “Dis goed so, Meneer.” Vir die eerste keer kyk sy hom vol in die gesig, en noudat die eerste bly verwondering verby is, sien sy dat hy baie moeg lyk, eintlik uitgeput. Sy gesig is donker, skraal, en dis of die vermoeidheid soos ’n newel daaroor lê.

      Net vermoeidheid? Lina het die tekens so goed geken: die aftrek van die mondhoeke, die blou kringe om die oë … Maar hier was iets meer as net moeg wees. Sy vrou is natuurlik skaars vyf maande vantevore begrawe, en ’n mens kon verwag dat hy dit sou wys. En tog, die ongedurigheid, die onrustigheid, die gevoel dat hy totaal uit pas was met die wêreld – dit was dinge wat ’n mens moeilik uit die dood kon verklaar. Opstandig wees, ja, of terneergedruk. Maar Johannes van Brakel was soos ’n vreemdeling in die mooi Brakelkom. Dit was of hy ’n mens wou waarsku: Moenie aan my raak nie.

      “Is die plaas ver?” vra sy om geselskap te maak.

      “Vier myl,” en hy beduie in die rigting waar die son ondergaan. “Dis anderkant die rivier. Ons moet deur die drif gaan.”

      “Dan’s u naby die rivier.” Lina op ’t Hoff praat sag, maar die man hoor nogtans die blydskap in haar stem.

      Hy hou sy hand uit om haar op die kar te help. “Dit klink of u bly is.”

      “Dankie,” sê sy rustig. “Ja, ek hou van lopende water. Dis wat ek op die dorp altyd gemis het. Daar het ons net ’n put gehad.”

      “Die rivier is skaars veertig tree van die opstal af.”

      Byna teen sy sin gee die man die inligting, maar dis of iets hom noodsaak om met die donker, stil vrou te gesels. Miskien was dit omdat hy weer haar stem wou hoor. Johannes van Brakel het ’n fyn gehoor vir stemme gehad, en die meisie s’n was laag en sag en baie rustig. Miskien was dit ook maar net die skemeraand waarin hulle nou gery het wat hom so gestem het: die rooi waar die son agter die berge ingesak het, die stilte van die saailande langs die pad.

      Die kar was goed geveer en die twee merries het mekaar en hulle drywer goed verstaan.

      Lina het teruggeleun, en haar kappiehoed het met die ry al agtertoe geskuif. Toe die man weer na haar kyk, was haar gesig heeltemal oop van die kant af.

      Sy was nie mooi nie, ook nie eens meer baie jonk nie. Haar hare was in ’n eenvoudige bolla in haar nek gevleg en haar gesig was eintlik te grof vir ’n vrou: sterk wangbene, ’n stewige ken – ’n boeregesig.

      “Hou u van hierdie wêreld?”

      Lina kyk na hom, dan na die donkerende landskap om hulle. Die koringlande was bruinerig in die laat lig, en ver na die een kant toe was die wilgers donker langs die rivier.

      “Ek ken dié wêreld, het hier grootgeword tot my tiende jaar,” antwoord sy. Die bly klank was weer in haar stem, sodat die man met nuwe oë om hom heen kyk.

      “Ja,” sê hy, asof hy dit skaars wil toegee, “dis mooi. Dis nou baie mooi, maar wat as die winter kom? Aprilmaand val die eerste ryp, en dan is dit net die mis en die aanhoudende reent.”

      “Selfs dan,” en sy tel haar hande op om haar kappiehoed reg te skuif. Haar hande is groot en sterk, selfs skurf, die hande van iemand wat werk, en die moue van haar bloese hang wyd weg van haar stewige polse. Toe sy klaar is met haar hoed, vou sy hulle weer in haar skoot.

      Die man kyk lank na haar hande. Hy vergeet eintlik om die perde aan te spoor, sodat hulle stadiger draf. “Jy het jou oupa opgepas?” vra hy uiteindelik.

      “My grootoom, ja.”

      “Vir lank?”

      “Die afgelope vyftien jaar.”

      “’n Leeftyd,” sê hy stroef. “Is dit al wat jy gedoen het?”

      “Ja,” sê sy en toe voeg sy uit haar eie by: “Hy het baie oppas nodig gehad, veral die afgelope vyf jaar. Toe was hy heeltemal bedlêend. Sy bene het ingegee en hy kon byna niks vir homself doen nie.”

      “Waarom het jy dan nie weggegaan nie? Jou grootoom, dis mos nie na-familie nie?”

      Die meisie antwoord eers nie. Sy kyk voor haar in die pad. “Dis soos dinge kom,” sê sy naderhand. “Hy het my ingeneem toe ek wees agtergelaat is.”

      “Jy is ’n goeie mens.” Weer sê hy dit asof dit vir hom moeilik is om die erkenning te maak.

      “Nee.” Sy glimlag. “Ek doen net wat my hand vind om te doen. Maar u het tog self ondervinding van sulke sake. U het my mos geskryf dat u stiefdogter kreupel is, dat haar bene …”

      “Ja,” sê die man kortaf. Hy draai weg van die meisie af, en meteens was dit of hy besef dat die perde te stadig draf. Hy roep ’n paar keer ongeduldig en die kar beweeg vinnig vorentoe. Maar hy praat nie verder nie.

      Lina het heen en weer geskud soos die kar oor die hobbelrige gruis beweeg. Skielik stamp sy teen hom aan toe een wiel onverwags wegsink in ’n sandgat. Onwillekeurig steek hy sy hand uit om haar te hou, maar sy sit byna onmiddellik weer regop. “Ek is jammer, Meneer,” sê sy.

      Hy sê niks, en sy voel hoedat die bloed opstoot in haar gesig. Gelukkig was dit nou al sterk donker sodat hy skaars haar verleentheid oor die onverwagte aanraking sou kon opmerk.

      Lina op ’t Hoff was dertig jaar oud. Sy het gedink sy ken haarself en haar wêreld, al was dit dan net tot by die laaste stofstraat van die dorpie waarin grootoom Dawid gebly het, maar toe die kar weer egalig beweeg, het sy geweet dat sy nou op ’n pad was waarvan sy die einde nie kon voorspel nie. Twintig jaar lank het haar lewe in ’n stil systroom ingegaan, ’n agterwatertjie wat tussen slaapkamer en kombuis opgedam het, ’n bestaan waarin een dag soos die ander verbygegaan het, en die sekerste teken van die wisselende getye die steeds hulpeloser wordende sieke was. Januarie kon hy nog sy arms gebruik, Mei moes hy gevoer word en Oktober was hy soos ’n pasgebore


Скачать книгу