Boos en Bisar. Chris Karsten
ction>
Boos en bisar
Chris Karsten
Human & Rousseau
Vrou van wonderwerke
In Suid-Afrika word die jaar 1994 met groot verwagtinge, dog ook huiwering begroet. Dit is ’n gewigtige jaar waarin die land ’n nuwe staatsbestel kry, ’n volwaardige demokrasie word.
Maar in Port Elizabeth is die 26-jarige Frans du Toit, pa van twee klein kindertjies, min gepla met politieke magskuiwe. Hy is gepla met ’n inkubus. Dié demoon dwing hom om meer inkubusse by vroue te verwek, selfs by onwillige vroue.
Dié demoon dwing hom om meer inkubusse by vroue te verwek, selfs by onwillige vroue.
Volgens Middeleeuse legendes oor heksery is dit nie ongewoon dat hierdie geslagsverkeer deur ’n man wat met ’n inkubus besete is, tot die dood van die vrou lei nie.
Frans kom uit ’n Christelike huis, sy pa ’n hardwerkende polisieman, maar hy ken hierdie legendes.
Hy het alreeds as skoolseun op Adelaide, diep in die Oos-Kaap, met seksdemone in aanraking gekom. Dit was toe ’n sukkubus, die vroulike vorm van ’n inkubus, hom ingeneem het. Hierdie soort hekse verlei mans en dreineer hulle van hul lewensenergie deur seksuele omgang.
Al die heksemites pas Frans. Dit is ’n goeie verskoning vir sy onstuitbare seksuele drifte. Hy was twintig toe hy die eerste keer getroud is, as mynwerker op Virginia in die Vrystaat. Maar hy het sy vrou kort ná die geboorte van hul dogtertjie gelos omdat sy hom nie seksueel kon bevredig nie.
Nou is hy in Port Elizabeth en bedryf ’n sjebien in Sidwell nadat sy werk hom in die pad gesteek het omdat hy geld gesteel het. Hy is ook die vorige jaar weer getroud, met die 24-jarige Natalie. Hulle het ’n babaseuntjie.
’n Koeksister en ’n roos
Op Vrydagaand 25 Februarie 1994 is die inkubus opnuut in Frans se kop. Hy sê vir Natalie hulle moet die aand gaan uiteet. Sy wag vergeefs. Frans verdwyn, soos dikwels gebeur, en sy gaan slaap.
By ’n pizza-eetplek in Sentraal sit ’n jong meisie alleen op die parkeerterrein in ’n kar. Sy is ’n 20-jarige kunsstudent aan die PE Technikon en werk deeltyds by die pizza-plek.
Ineens verskyn ’n gewapende man langs haar kar. Hy dwing haar met sy pistool oor na die passasiersitplek en skuif agter die stuur in. Die student is bevrees en huil, maar begin dan om oor haarself te praat. Sy het gehoor ’n mens moet jou as ’t ware aan jou aanvaller bekend stel. Dit is glo ’n sielkundige set wat die aanvaller gerus maak, en hom twee keer laat dink as hy van sy slagoffers se intiemste geheime hoor.
Maar haar plan werk nie. Frans verkrag haar by Noordhoek in die kar. Nou pleit sy net by hom dat hy haar nie moet doodmaak nie. Hy ry met haar na die Something Good-padkafee en koop vir haar ’n roosterbroodjie, ’n koeksister en ’n roos. En sê hy sal die man doodmaak wat sy eie jonger suster verkrag. Daarna ry hy met haar tot naby die Pine Lodge-vakansieoord, verkrag haar weer, en beveel haar om haar liefde aan hom te betuig. Daarna ry hulle terug na Sentraal, hy klim uit haar kar en sê voor hy wegstap: “Jy’s ’n wonderlike mens.”
Omstreeks middernag stap Frans by sy woonplek in en sê vir Natalie hy en ’n vriend het sonder brandstof gaan staan.
Die student dien ’n klag by die polisie in en Frans word binne drie weke, op 15 Maart, in hegtenis geneem. Hy is die volgende dag weer vry op borgtog.
Sowat vier maande later, in Junie 1994, kom ’n jong man by Frans se sjebien ingestap op soek na drank. Theuns Kruger is 19 jaar oud.
Hulle word gou vriende, en het hekse-stories om met mekaar te deel. Theuns word gou beïndruk deur die wyshede van die ouer Frans, en vertel van sy eie baie onlangse ervaring in Pietersburg (nou Polokwane) waar hy ook, soos Frans vroeër, intense seksuele ervarings met ’n sukkubus gehad het.
Hulle sluit ’n gedoemde en onheilspellende vriendskapsband.
Hulle sluit ’n gedoemde en onheilspellende vriendskapsband.
Op Sondagoggend 4 Desember 1994 kry ’n 21-jarige donkerkopvrou en haar verloofde stry oor daar nie rookgoed in hul woonstel in Sentraal is nie. Die jong ma is sowat drie maande swanger met haar tweede baba. Sy bied aan om by ’n vulstasie naby hul woonstel te gaan sigarette koop.
Op pad terug woonstel toe merk sy twee mans wat vir kwaadgeld rond-drentel. Een is skielik by haar en druk ’n wapen teen haar maag. Sy pleit dat sy swanger is. Frans du Toit beveel haar om stil te bly, vleg sy vingers deur hare en begin aanstap, met Theuns Kruger kort agter hulle.
By die UPE se onderwyssentrum druk Frans haar vas en begin haar betas. Hierna verkrag Theuns haar. Maar hulle is nie klaar nie. Frans beveel haar om orale seks met hom te hê, maar toe sy naar word, verkrag hy haar ook terwyl Theuns haar hande vashou en sy heeltyd vir haar ongebore baba pleit.
Dan hoor sy verskrik hoe hulle bespreek of hulle haar moet doodmaak. Maar Theuns sê: “Dis amper Kersfees, ek wil nie nou moeilikheid hê nie.” Hulle waarsku haar om stil te bly oor die verkragtings.
Op pad terug na die woonstel keer sy ’n polisievoertuig voor en vertel wat gebeur het. Frans en Theuns word kort daarna, nog dieselfde Sondag, in hegtenis geneem, maar weer is albei net dae later op vrye voet en word gewaarsku om op 5 Januarie 1995 in die hof te verskyn.
Frans reken sy geluk gaan hou. Hy het nou al twee vroue verkrag, en die polisie laat hom elke keer loop.
Frans reken sy geluk gaan hou. Hy het nou al twee vroue verkrag, en die polisie laat hom elke keer loop.
Twaalf dae later, op Vrydag 16 Desember, ry Dané de Bruyn omstreeks halfeen die middag van dié vakansiedag om ’n vriend by sy woonstel in Humewood op te laai. Naby The Beaches-woonstelle sien sy twee mans met denimlangbroeke en langmouhemde. Hulle lyk vreemd aangetrek vir so ’n warm dag waarop almal op die strand in swemklere ontspan.
Sy parkeer en haal haar radiobandspeler uit die kar. Toe sy wil uitklim, staan Frans by haar deur, sy een hand op die handvatsel, die ander hand in sy hemp gedruk asof hy ’n wapen vashou. Theuns staan skuins agter hom en hou wag.
Sy reageer vinnig en sluit haar motordeur van binne. Hulle slenter weg.
Dané en haar vriend meld die voorval aan by ’n polisieman op Koning-strand se parkeerterrein. Later lees sy van twee mans se betrokkenheid by verkragtings en wys Frans en Theuns op ’n uitkenningsparade uit.
Dané is gelukkig om weg te kom, maar hul volgende slagoffer kry dit nie reg om van die moorddadige inkubus te ontvlug nie.
Alison is in Port Elizabeth gebore en het hier grootgeword. Sy toon van vroeg af leierseienskappe en in 1985 is sy hoofmeisie van die Collegiate High School for Girls. Hierna studeer sy aan die technikon en werk drie jaar voordat sy in 1990 na Londen vlieg. Sy werk en reis vier jaar oorsee en keer in 1994 na Port Elizabeth terug en begin met ’n loopbaan as versekeringsmakelaar. Sy en haar ma, Claire, is veral geheg aan mekaar, maar sy trek in haar eie woonstel in.
Sy is ’n mooi donkerkop, met ’n bruisende geaardheid en groot drome.
En haar paadjie kruis met dié van Frans du Toit en Theuns Kruger.
Twee swerwers
George en Aletta du Toit is goeie ouers, hul twee kinders, ’n seun en jonger sussie, word streng godsdienstig grootgemaak, gaan gereeld Sondagskool en kerk toe. George is ’n polisieman en Aletta werk in ’n bank.
Hul seun, Frans Adriaan, is normaal stout soos ander kinders, nooit lelik of gewelddadig nie, en op laerskool nie ’n moeilikheidmaker nie. Maar hy meng met verkeerde maats, sien sy ma. En hy is lui om te leer. Die probleme begin op hoërskool. In st. 6 (gr. 8) word hy uit die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar op Uitenhage geskors ná ’n brand in ’n koshuis en na die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp gestuur. Op 13 begin hy rook en drink.
Die volgende jaar verhuis die gesin en