Die Einde van verslawing. Dr Volker Hitzeroth

Die Einde van verslawing - Dr Volker Hitzeroth


Скачать книгу
ection>

      

      Die einde van verslawing

      Dr Volker Hitzeroth & Dr Liezl Kramer

      Human & Rousseau

      Bedankings

      Ek is ’n spesiale woord van dank aan ’n aantal mense en organisasies verskuldig sonder wie hierdie boek nie moontlik sou wees nie.

      In die eerste plek bedank ek die akademiese inrigtings waar ek die afgelope twee dekades gestudeer het, spesifiek die universiteite van Pretoria, Stellenbosch en Londen. Hierdie drie inrigtings het my akademiese loopbaan begin, oor die jare as mentors opgetree en my loopbaan gekweek. Sonder die Departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch en die M.Sc.-program aan die Universiteit van Londen sou hierdie boek nie moontlik wees nie.

      Tweedens bedank ek my gewaardeerde kollegas in Suid-Afrika en Brittanje vir hul bystand oor die jare. Ek het veel by hulle geleer en sien uit daarna om nog meer by hulle te leer. Die voorreg om naas hulle te werk, het my reis in die medisyne, geestesgesondheid en verslawing soveel lonender gemaak.

      In die derde plek gee ek erkenning aan al die pasiënte wat my toegelaat het om deel van hul behandeling te wees. Uit akademiese teorie kon ek veel leer, maar dit is slegs in die praktyk dat ek ’n waardering kon vorm vir die komplekse aard van elke pasiënt wat my spreekkamer binnegestap het.

      My uitgewer Ansie Kamffer, jy verdien ’n spesiale dankwoord omdat jou geduldige en gereelde aanmanings my aangespoor het om die boek te voltooi.

      En ten slotte, ’n dankwoord aan my vrou, wat die belofte gehou het wat sy jare gelede gemaak het.

      Voorwoord

      Oor die afgelope jare het ek ’n behoefte gevoel om my ervaring en kennis as psigiater in die veld van dwelm- en alkoholverslawing met ander te deel. Ek wil graag hê dat my werk tot voordeel van ander kan strek.

      Die terrein van dwelms en alkohol is berug vir sy verwaarlosing as psigiatriese subspesialiteit. Redes hiervoor is onder meer dat dit dikwels onvoldoende gefinansier word en erg gestigmatiseer word deur die algemene publiek. Die uiteinde is dat nie veel bekend is oor die sielkundige uitwerking van dwelms en alkohol en die gepaardgaande verslawing nie. Die beskikbaarstelling van hierdie kennis sal hopelik praktiese bystand bied aan diegene wat dwelms en alkohol misbruik, sowel as aan hul naasbestaandes en die professionele gesondheidswerkers wat in die veld werk. Ek hoop dat hierdie inligting mense wat deur verslawing geraak word, sal bemagtig om hul weg tot herstel te vind.

      Dwelm- en alkoholverwante probleme is sedert die begin van die mensdom, toe die eerste mense geesteswysigende middels begin inneem het, deel van ons bestaan en sal seker nog lank met ons wees. Navorsing wys dat dergelike probleme meer algemeen in sekere dele van die wêreld voorkom en in ’n erger graad, en dat jonger mense toenemend daardeur geraak word. In die lig van voortdurende veranderings in die samelewing en dwelmgebruikspatrone, en ons mediese insig in dwelms en alkohol wat ook voortdurend verander, is dit waarskynlik dat die aard van verslawing mettertyd sal verander en ook weer beskryf sal word.

      Hoewel navorsing (ook genoem die mediese getuienisbasis) geweldig gegroei het, heers veel onsekerheid nog in die veld. Dit is dié gebrek aan sekerheid en helderheid wat dikwels lei tot alternatiewe en onveilige behandeling. Daarom beklemtoon ek graag algemeen aanvaarde beginsels van behandeling. Hoewel ’n onlangse en omstrede subspesialiteit soos verslawing verskillende benaderings en opinies in die hand werk, is dit noodsaaklik dat ’n mens binne die fokus van veilige en doeltreffende mediese praktyk bly.

      In ’n poging om hierdie boek so toeganklik moontlik te maak, gee ek ’n hoofstroom-oorsig van die vak in ’n hopelik leesbare styl. Dienooreenkomstig sal ek nie op die jongste navorsing en wetenskaplike omstredenheid fokus nie, aangesien laasgenoemde nog min invloed sal hê op die huidige kliniese omstandighede in huise en kantore. Ek probeer ook om die leser bewus te maak van die verskille tussen geldige opvattings, benaderings en mites.

      Inligtingsbronne

      Die inhoud van hierdie boek berus nie op persoonlike navorsing of primêre wetenskaplike materiaal nie, maar is uit ’n verskeidenheid sekondêre bronne saamgestel. ’n Bronnelys word aan die einde van die boek verskaf. Enigeen met ’n dieper belangstelling in dwelms, alkohol en verslawing en die behandeling daarvan kan hierdie bronne gerus self raadpleeg.

      Terminologie

      Hoewel ek ’n verskeidenheid terme gebruik wat soms lyk of dit slegs die manlike geslag weerspieël, moet daar nie hieruit afgelei word dat betrokkenheid by dwelm- en alkoholverslawing hoofsaaklik die sfeer van mans is nie. Waar ek slegs die manlike term gebruik, moet die vroulike geslag as daarby inbegrepe verstaan word. Ter wille van eenvoud en toeganklikheid word die terme “dwelm”, “alkohol” “middel”, “gebruiker”, “verslaafde” en “afhanklike” soms omruilbaar gebruik. Daar moet uitgewys word dat in die streng wetenskaplike literatuur hierdie terme streng verskillende betekenisse het. So word die term “verslaafde” in hierdie boek soms ter wille van bondige verwysing gebruik en is dit nie bedoel as ’n gelaaide waardeoordeel nie.

      Nie-diskriminerend

      Dwelm- en alkohol-afhanklikheid tref geen onderskeid nie. Probleme kom voor in goeie en slegte gesinne, by gelukkig getroude pare, rykes én armes, enkelouers, die jonges en die oues, en by mans sowel as by vroue. In ’n neutedop: Dit kan jou of my, jou gesin of my gesin ook tref. Verder is dwelms en alkohol nie “jou” of “my” probleem nie, dis ons probleem. Afsonderlik sal ons maar ’n klein impak maak, maar saam kan ons ’n groot verskil maak. Die eerste stap is om so ingelig moontlik te word.

      HOOFSTUK 1

      Klassifikasie van dwelms wat misbruik word

      Dwelmgebruikers, hul familielede en die groot publiek is oor die algemeen nie goed ingelig oor die verskillende soorte dwelms wat misbruik word nie. Hulle vind die paadjie deur die “dwelmdoolhof” maar moeilik. Die meeste mense vorm ’n mening op grond van emosionele en sensasionele brokkies inligting wat angswekkend lyk, maar waarskynlik eerder wolhaarstories is as wetenskaplike bewyslewering. Sulke brokkies inligting gaan gewoonlik oor die gevaar wat dwelms inhou, die verslawingspotensiaal en problematiese gedragspatrone, sosiale optredes en interaksies wat die gevolg van dwelmmisbruik is. Dikwels ontbreek ’n samehangende insig in die verskillende dwelms wat misbruik word en die werking daarvan.

      Dit is belangrik dat enigiemand wat betrokke is by alkohol- of dwelmverslaafdes in ’n persoonlike hoedanigheid, ’n gesinsverwantskap of binne ’n professionele terapeutiese opset die verskille tussen die soorte dwelms en die onderskeie uitwerkings daarvan verstaan. Dit is lewensbelangrik om ’n oorsig te kry en ingelig te word. As jy of ’n vriend of ’n gesinslid aan ’n fisieke siekte soos diabetes, hoë bloeddruk, kanker of epilepsie sou gely het, sou jy soveel moontlik oor die toestand wou uitgevind het. Dieselfde geld vir dwelm- en alkoholverwante probleme. Die eerste stap om meer ingelig te raak, is om eers ’n oorsigtelike begrip te kry. As ’n mens eers ’n begrip in die breë het, is dit makliker om ’n weg om die probleem te vind. Die meeste mense is dan in staat tot die volgende stap.

      Hier volg nou ’n maklik verstaanbare indeling van dwelms en alkohol waarby die meeste dwelms wat misbruik word, ingesluit word. Onthou, dis slegs ’n vertrekpunt om dwelmgebruik en die daaropvolgende behandeling te verstaan.

      Die groot aantal dwelmmiddels, hul onderskeie chemiese samestellings en verskillende uitwerkings en die tallose kliniese nagevolge skep groot verwarring. ’n Indeling van dwelmmisbruik is derhalwe geweldig moeilik.

      ’n Eenvoudige riglyn vir die indeling van dwelms sou die wettige status al dan nie van die dwelm kan wees. Sommige middels is wettig met onbeperkte toegang (byvoorbeeld kafeïen), terwyl ander wettig is met beperkings op die beskikbaarheid daarvan (byvoorbeeld, alkohol en nikotien is albei wettig, maar nie beskikbaar vir kinders onder die ouderdom van 18 jaar nie, of bepaalde soorte medisyne wat slegs beskikbaar is met ’n voorskrif van ’n professionele gesondheidsorgwerker). In die laaste instansie is ’n klomp ander middels uitdruklik onwettig (byvoorbeeld kokaïen, heroïen en amfetamien). So ’n indeling kan oorsigtelike duidelikheid verskaf, maar is nie noodwendig akkuraat


Скачать книгу