Die Speletjie. François Bloemhof

Die Speletjie - François Bloemhof


Скачать книгу
ion>

      

      Rillers 1: Die speletjie

      François Bloemhof

      Human & Rousseau

      Aan almal wat al ooit

      met ’n rekenaar gesukkel het.

      F. B.

      1

      _________________________

      Die virus

      Wouter se hart begin woes te klop toe hy die geroeste tuinhekkie oopstoot. Die son het agter ’n wolk ingeskuif en iets sê vir hom hy moet omdraai, maar hy is nou hier en hy moet deurdruk.

      Die tuin is groot en die bome en struike groei dig teen mekaar, sodat dit voel asof die hele plek in skemerte gehul is. Hy probeer in die oop kolle trap, maar die lang gras en onkruid gryp na sy enkels asof dit hom wil terughou.

      Toe hy agter ’n boom met ’n baie dik stam uitkom, is die huis skielik daar voor hom. Dit lyk baie oud en vervalle en die verf dop plek-plek af. Die hortjies voor die vensters hang skeef in hulle skarniere en klap onheilspellend in die wind wat skielik opgesteek het.

      Nou eers besef Wouter hy kry koud. Hy vou sy arms styf teen sy lyf.

      Hy kyk senuweeagtig om hom rond, ruk homself dan reg en klim die sewe trappies op na die voorstoep. Hy haal diep asem voor hy aan die voordeur klop.

      Hy wag ’n rukkie en klop weer, maar daar is geen geluid in die huis nie. Goed so! Nou kan hy waai, hy het ten minste probeer. Hy sal nog vyf sekondes wag, dan …

      Die volgende oomblik swaai die deur oop – hy’t nie voetstappe hoor nader kom nie!

      “Is jy Wouter Lotinga?” vra die man wat in die deur staan. Hy het ’n dikraambril op en ’n lang swart kleed bedek sy vet lyf.

      “J-ja, Oom.”

      “Dan moet jy inkom.” Die man maak die deur wyd oop.

      Wouter sien hy is baie bleek.

      Sonder ’n woord draai die man om en Wouter loop agter hom aan. Die man se kleed flap-flap in die muwwe donkerte van die gang af.

      Hulle loop verby drie toe deure. Dan is daar ’n deur wat oopstaan, maar die vertrek is te donker vir Wouter om behoorlik uit te maak wat daarin is.

      “Hier is die rekenaarkamer,” sê die man en skakel ’n lig aan.

      Wouter verstar – nou kan hy die man se gesig duideliker sien. Sy bleek vel is oortrek met fyn gelerige haartjies. Dit lyk veral vreemd teen die bril se donker raam.

      “Moenie my so aangaap nie,” grom die man. “Kom aan die gang. En onthou, jou werk is hier binne, nêrens anders nie.”

      “Goed, Oom.”

      “Nou toe, maak ’n begin.”

      “Watter soort virus is dit, Oom? Wat doen dit?”

      “Dis mos jou taak om uit te vind.”

      Die man draai om en verdwyn in die gang af.

      Wouter gaan sit voor die rekenaar. Die houtstoel voel taai en klewerig onder hom; hy sweer dit sal aan sy agterent vassit as hy hier klaar is en opstaan. Hy vrek oor rekenaars en programme en goed, maar hy’s nie meer so seker hy het die regte ding gedoen om hierheen te kom nie.

      As dit nie vir sy eie rekenaar was nie, wás hy nie hier nie. Hy moet erken hy kry nogal baie sakgeld, maar as jy eers begin opgradeer, is daar geen einde nie.

      Hy het toe maar ’n advertensie op die winkelsentrum se kennisgewingbord gesit:

      Probleme met jou rekenaar? Laat ek dit vir jou oplos. R100 per uur.

      Onderaan was sy naam en van en hulle telefoonnommer.

      Dit het gewerk, want gisteraand het sy ma hom telefoon toe geroep. ’n Diep stem het gesê: “My naam is Adolf Grimbeek. Ek het jou advertensie gesien. My rekenaar het ’n virus. Kan jy môremiddag kom?”

      Wouter het ywerig ja gesê.

      “Moet vir niemand sê nie,” het meneer Grimbeek bygevoeg. “Ek wil nie hê ’n klomp van jou trawante moet ook hier aangesit kom nie.”

      Nadat die man afgelui het, het Wouter besef die adres wat hy gegee het, is die een waarvan die kinders so baie praat …

      Hy sug en begin soek. Hy scan die hard drive met die virusprogram wat hy saamgebring het. Dit lyk nie of daar fout is met die Exe files nie. Dis ’n baie nuwe model, met ’n scanner, ’n klankstelsel wat rêrig indrukwekkend lyk en twee verskillende drukkers.

      Dis snaaks dat meneer Grimbeek nie ’n eenvoudige probleempie soos ’n virus kan hanteer nie. Het hy nog nie van CleanDrive of daai soort program gehoor nie?

      Hoe meer Wouter soek, hoe minder kry hy die virus. Toe hy al ’n derde opspoorprogram gelaai het, is daar steeds niks nie. Elke keer wys dit die rekenaar is skoon en daar is niks op die boot sector nie.

      Einde ten laaste besluit hy daar is geen virus nie. Die man het seker maar net iets verkeerds gedoen. Sommige mense het nou wel die geld om ’n rekenaar soos dié te kan bekostig, maar dit beteken nie hulle weet hoe om daarmee te werk nie.

      Hy weet wat hy sal doen – hy sal sê hy’t die virus opgespoor en verwyder. Hy is op die punt om meneer Grimbeek te roep, maar besluit daarteen. Dalk kry hy nie die volle honderd rand as hy so gou klaar is nie!

      Hy het ’n flash disk saamgebring vir ingeval daar iets interessants op die rekenaar is wat hy kan aflaai, nou kyk hy weer deur die files. Hy moet sê dit lyk nie juis belowend nie.

      Maar toe sê hy saggies: “Yes!” Want daar is die woord Murder tussen die directories hier op die C-drive. Dit kan net ’n speletjie wees. Snaaks dat hy dit nie vroeër opgemerk het nie. Langs die woord is daar ’n icon met ’n illustrasie van ’n mes. Wouter klik daarop.

      Die skerm word rooi. ’n Raampie spring op met die woorde THE GOTCHA GAME. Vreemde naam … Oral op die skerm verskyn illustrasies van messe, byle, pistole en ander wapens – goed, ja, dit was by die Murder. Aan die onderkant staan Start.

      Dit lyk interessant genoeg, maar daar is nie tyd om dit nou te toets nie en hy sal by die huis verder kyk. Hy druk sy flash disk in een van die USB ports en begin om die program te kopieer.

      Meneer Grimbeek moet net nie nou hier inkom nie! Wouter onthou hoe geruisloos die man voordeur toe gekom het.

      Hy wag nog tien minute, toe staan hy op. “Oom?” roep hy en gaan loer in die gang af. Jig, dit lyk nog donkerder as ’n ruk gelede.

      “Ja?”

      Wouter skrik amper sy asem weg. Die stem het van reg agter hom gekom.

      Toe hy omdraai, sien hy meneer Grimbeek se mond is op ’n dun strepie getrek.

      “Is jy klaar?”

      “Ja, Oom.”

      “Het jy die virus verwyder?”

      “Ja, Oom.”

      “Hier’s jou geld.”

      Wouter vat die honderdrandnoot by die man. Hy probeer om nie te wys dat hy gril nie – die hand is koud en pofferig en harig.

      In sy ander hand hou meneer Grimbeek die dorp se koerantjie vas. Dis dié week s’n en is oop by die bladsy waar daar gewoonlik foto’s is van mense wat belangrike geleenthede bygewoon het.

      Wouter weet sy pa is op een van die foto’s. Hy’t deur die koerantjie geblaai net voor hy hierheen gekom het. Omdat sy pa ’n belangrike werk het, is sy foto dikwels in die koerant.

      Meneer Grimbeek se mondhoeke pluk-pluk toe hy sien waarna Wouter kyk, asof hy wou hê hy moes sien. Dan beduie hy met ’n vet vinger na die voordeur.

      2

      _________________________

      Die foto

      Wouter hardloop huis toe. Hy wil onder ’n


Скачать книгу