Daar is 'n ou in my aarbei-smoothie. Janie Oosthuysen

Daar is 'n ou in my aarbei-smoothie - Janie Oosthuysen


Скачать книгу
ction>

      

      Eerste liefde: Daar’s ’n ou in my aarbei-smoothie

      Janie Oosthuysen

      Human & Rousseau

      

      Ek gluur na Karike. “As jy weer jou pote in die sitkamer sit wanneer ek pelle het, wurg ek jou.”

      Gisteraand was die laaste strooi.

      Die klomp het hier ingeval, Riaan nogal met ’n Justin Bieber-DVD vir Karike. Vir wat? Hoekom haar aanmoedig? Al wat hy reggekry het, was dat sy die hele aand saam met ons gehang het.

      “En moenie dink die ouens reken jy’s oulik nie!” skel ek verder. “Almal het gesê hoe kinderagtig jy is!”

      Karike swaai om sodat haar rooiblonde hare vonke om haar kop maak. “Ek mag wees waar ek wil, dis nie jóú woonstel nie,” gooi sy oor haar skouer terwyl sy in die gang afnael en haar kamerdeur toeslaan.

      Ek byt op my tande. Laas jaar sou ek haar aangerand het, maar dit was my Nuwejaarsvoorneme om myself te beheer. Wat ’n fout. Al wat ek reggekry het, is dat Karike nou totaal handuit ruk.

      Haar deur gaan op ’n skrefie oop. “Yolandé-Pandé is tog verlief op Riaan!” tart sy.

      Dis so simpel ek vervies my nie eens nie. Riaan is my aartsvyand al van graad twee af toe hy my in die gang gepootjie het. Ek is net min of meer vriendelik met hom omdat ek vir hom jammer is.

      Tog tel ek tot tien terwyl ek kombuis toe stap. Daar is nog al die skottelgoed van gisteraand en vanoggend s’n én honderde ander goed om te doen, en dis klaar laat. Ek sal vir Ma SMS om vis en tjips te bring – ek het ’n wiskundetoets ook nog vir môre – en ’n kunstaak oor ’n week.

      In die kombuisdeur steek ek vas. Daar is grondboontjiebotter op die broodrooster en ’n blerts sop op die vloer. Ek byt op my tande. Toe ek so oud soos Karike was, het ek opgeruim agter my. En wat het ek daarvan? Vandag is ek almal se slaaf. Brom-brom pak ek die skottelgoed in die wasbak. Karike se deur bly toe. Wat is die kans dat sy sal kom help?

      ’n Driekwartier later sak ek weg in ’n warm skuimbad. My gedagtes dryf na die komende sportdag en na hom … die nuwe ou … die donkerkop met die broeiende oë.

      Ek moet ingedommel het, want toe ek my weer kom kry, praat Ma in die kombuis. Bibberend droog ek my af, trek aan en stap soontoe. Karike lê op die bank voor die televisie met haar Nokia en maak of ek nie bestaan nie. Ma is besig om vis en tjips op drie borde te stapel.

      “Hoe was jou dag?”

      “Oukei. En Ma s’n?”

      Sy antwoord nie, druk net ’n haarsliert sommerso met haar visvingers agter haar oor in, en laat val die bom. “Ek gaan Saterdagaand uit. Sal jy by Karike bly?”

      “Vir wat moet Yolandé by my bly? Ek’s nie meer ’n baba nie. En in elk geval, sy’s gemeen!” skree Karike uit die sitkamer.

      Ek is te verras oor Ma se aankondiging om my vir Karike te vererg. “Ma gaan uit? Soos in op ’n date?” Ek begin giggel. “Of het dit iets met die werk te doen?”

      Ma bedryf haar eie besigheid: Moolman’s Plant Hire, ’n bankrotsaak wat sy gekoop het na Pa se dood. Sy huur vragmotors en laaigrawe uit, ry sand aan en grawe swembaddens. Sy trippel beslis nie heeldag op hoë hakke in blink restaurante rond nie. Maar ’n date? Vir wat?

      “Wat is dit van ’n date?” roep Karike.

      “Mamma gaan Saterdagaand uit,” sê ek styf. “So jy beter by ’n maatjie gaan slaap as jy jou lewe liefhet.”

      “Ek sal na Mercia toe gaan,” besluit sy.

      Ek byt my lip. Mercia is Liesl se kleinsus en vir Liesl-tweegesig-drip kan ek nie vat nie.

      Ma onderbreek die dreigende onderonsie. “Ons eet sommer op ons skote,” kondig sy aan en deel die borde uit.

      Onderlangs bekyk ek haar. Sy word twee-en-veertig, maar sy het bene en ’n lyf wat skrik vir niks. Ek het al gesien hoe van haar kliënte se gesigte verander wanneer hulle die Moolman van Moolman’s Plant Hire vir die eerste keer ontmoet. Maar ’n date? Gross!

      “Wie issit?” vra Karike. “Gaan julle trou?”

      “’n Baie gawe man wat ek ’n rukkie gelede ontmoet het,” sê Ma, baie, baie bedaard. “Julle sal hom Saterdag ontmoet. En nee, ons gaan nie trou nie.”

      “Nie nóú nie, bedoel Ma.” Karike steek met haar vurk na haar stuk vis. “Of gaan julle saambly?”

      Ma se gesig verroer nie. As ek dit darem gewaag het om so met haar te praat toe ek so oud soos Karike was – maar Karike kom mos met alles weg. Ek eet klaar en staan op. “Verskoon my, ek skryf môre toets.”

      Karike verander die TV-kanaal en ek moet op my tande byt om haar nie iets toe te snou nie. Ek weet wat gaan gebeur. Ma gaan vanaand die skottelgoed was. As dit by Karike kom, is sy mos halfblind.

      Ingedagte stap ek kamer toe. ’n Date? Wat beteken dit? Dat alles gaan verander? In my deur bly ek staan. Skielik lyk die groot pienk teddiebeer op die wit metaalstoeltjie, die porseleinpoppe op my bed en die posters teen die mure nou regtig kinderagtig.

      Hoe kan Ma? Dis nog skaars drie jaar ná Pa. Ek draai die foto op my bedkassie sodat Pa tot diep in die gang kan kyk.

      Toe, met ’n lang sug, maak ek my huiswerkboek oop. Lewenswetenskap bladsy tagtig. Ek buk en haal die handboek uit my tas. Dit val oop by die hoofstuk oor menslike voortplanting. Skielik voel ek naar.

      Wat as Ma …?

      Nee, darem seker nie. Maar dis presies wat grootmense doen wanneer hulle weer iemand kry. En ek weet wat gaan gebeur, ék sal weer heeldag moet baby-sit.

      Ek klap die boek toe en staar voor my uit. Uit die kombuis klink ’n gerinkel op en die stemme op die televisie is dié in Private Lives, Karike se gunsteling. Dis nes ek gedink het: Ma was die skottelgoed en Karike lê voor die televisie.

      Met nog ’n sug haal ek my wiskundeboek uit. Staar vir ’n oomblik daarna. Sien iets roois uitsteek tussen die blaaie. Skud dit fronsend uit. Dis ’n koevert, rooier as rooi, en my naam staan voorop in goue krulletters. Dit lyk na iets wat Ma of Karike liewer nie moet sien nie.

      Met ’n kloppende hart staan ek op en druk my kamerdeur toe. Met my rug teen die deur skeur ek die koevert bietjie-vir-bietjie oop. Ek snak na asem toe ek ’n satynswart kaartjie uithaal met My hart behoort aan jou in sierletters daarop geskryf.

      Dis al, niks meer nie.

      My kop dreun toe ek op my bed neersak met die kaartjie steeds in my hand. My hart behoort aan jou, aan jou … Dit draai soos ’n lied in my hart, die eerste reël van ’n gedig. Wie het dit geskryf? Waar kom dit vandaan? Sê nou net dit was hý, die donkerkop in graad elf op wie al die meisies verlief is?

      Ek staar deur die swart venster na die goue maan.

      Môre kry ek nul vir die toets.

      

      Mia kwyl behoorlik toe ek die kaartjie die volgende dag net voor eerste pouse vir haar wys. “Heng, en dis nie eens Valentine’s Day nie. Van wie kom dit?”

      “Geen idee.”

      Almal het al uitgestap, maar ek het gemaak of ek Mia iets oor die toets wou vra. Toe haal ek die kaartjie uit. En toe verstik sy amper.

      “Hmm.” Sy vryf haar ken. “Kom ons maak ’n wetenskaplike ontleding van die ouens in ons klas. In alfabetiese volgorde is dit … laa’k sien … Frank Aggenbach.” Sy trek ’n gesig. “Hy’s baie gaaf, maar het hy enige verbeelding? Gerrit Barnard is oukei as jy van harige ouens hou. Daar’s Jacques Coetsee met die groot voete … André Conradie, wat asseblief tog sy hare moet jel … Willem Dempers … heel gaaf mits jy elf is. Daar is ook …”

      “Poepies Pelser


Скачать книгу