Aan die einde van die reënboog. Schalkie van Wyk

Aan die einde van die reënboog - Schalkie van Wyk


Скачать книгу

      Aan die einde van die reënboog

      Schalkie van Wyk

      Melodie

      1

      Annemarie de Villiers sit die koppie en afdroogdoek haastig op die groot, witgeskropte kombuistafel neer en draf na die agterdeur toe sy die geklop van perdepote en die geknars van wiele in die agterplaas hoor.

      “Oupa is terug van die dorp af, Ouma. O, ek hoop daar is ’n brief van Jean,” sê sy by die deur, ’n skril ondertoon van spanning in haar stem.

      Tant Gertruida Malan kyk vlugtig na die meisie, ’n kwelfrons tussen haar wenkbroue, droog haar hande aan ’n doek af en stap stadig na Annemarie.

      “Ja, Oupa is terug,” sê tant Gertruida, haar regterhand liggies rustend op Annemarie se skouers, haar oë op die Kaapse kapkar wat voor die witgekalkte stalle tot stilstand kom. “Hy sal wel nuus saambring van die dorp af … laat dit goeie nuus wees.”

      Oom Jacob Malan gee die leisels aan die staljong, klim stram uit die kapkar en kom langsaam oor die agterplaas na die agterdeur aangestap, sy skouers vooroor geboë, sy gelaatsuitdrukking stroef en donker.

      “Daar is nie ’n brief nie,” sê Annemarie gedemp, teleurstelling in haar oë.

      Oom Jacob kyk op en sy groenblou oë lyk dof en leeg onder sy ruie, grys wenkbroue.

      “Dag, vrou, dag, Annemarie,” groet hy, sy stem diep, effens skor. “Is daar ’n koffietjie vir my?”

      Hulle soengroet mekaar woordeloos en beweeg saam na die kombuistafel. Oom Jacob haal sy breërandhoed af en lê dit op die vloer langs hom neer.

      “Oupa?” aarsel Annemarie terwyl sy op ’n stoel oorkant hom by die tafel plaasneem. Hy kyk vraend op, dieselfde verslae uitdrukking in sy oë, en haar vraag stol op haar lippe. Waarom Oupa met vrae treiter as hy so lyk? dink sy skuldig. As hy iets van Jean gehoor het, sal hy hulle wel vertel.

      “Ek het ’n brief van jou kleinneef, Braam Liebenberg, gehad,” sê oom Jacob grimmig, sien die beker koffie in tant Gertruida se hand ruk en steek sy hand uit na die beker. “Gee, vrou. Ek is dors.”

      Oom Jacob neem die beker koffie, proe ’n paar keer daaraan en plaas dit voor hom op die tafel neer. Dan begin hy tydsaam sy kromsteelpyp te stop.

      Annemarie voel afwagting in ’n seer knop op haar maag saambondel terwyl sy elke beweging van sy knoetsige vingers met haar oë volg. Dan het Braam geskryf … eindelik geskryf nadat hy byna twee jaar lank elke brief van haar geïgnoreer het. Nie dat sy hom werklik kan verkwalik nie: hy is ’n Vrystaatse burger en hy was vanselfsprekend nog altyd weg van sy plaas daar naby Kroonstad, êrens saam met die Boeremagte in die veld.

      Weet Braam wat van Jean geword het? O, as haar oupa tog net wil praat!

      “Jean se naam moes Kaïn gewees het,” kom dit met krasse bitterheid van oom Jacob. “Hy is jou broer, Annemarie, die eersgeborene, en ’n De Villiers, maar hy het sy eersgeboortereg vir ’n hand vol goudstof verkoop! Hy het julle erfplaas, Oostergloed, vir ’n appel en ’n ei verkoop en sy erfenis in die strate en kroeë van Johannesburg gaan uitmors!”

      “Jacob … Jacob …” kom dit sag, betigtigend van tant Gertruida terwyl sy haar regterhand op oom Jacob se skouer lê en agter hom bly staan. “Waarom nou weer daaroor praat? Jean was nooit ’n boer nie, en al die dinge het reeds vyf, ses jaar gelede gebeur. Jy het jou plig teenoor Jean en oorlede Engela en Jean-Pierre gedoen. Dit help nie om jouself of hom te blameer nie.”

      “Het ek, vrou?” vra oom Jacob skor en laat sy oë op Annemarie se strak, gespanne gesiggie rus. “Dit was moeilik, Annemarie, moeilik om julle twee reg groot te maak na daardie verskriklike dag toe jou pa-hulle se kapkar daar teen die steiltes van die Hottentots-Hollandberge afgestort het … Jy was maar ses, ’n ou kleintjie, maar Jean was al vyftien, as ’t ware ’n jongman, en hy was van die begin af rebels … altyd stroomop.”

      “Jean het nooit in die wynbou belang gestel nie, Oupa,” sê Annemarie half verskonend, half partydig vir haar ouer broer. “Ek het tog ’n onderwyseres geword, en dalk wou Jean ook liewer sy geleerdheid gehad het. Ek … weet nie.”

      “Ja, weet jy, Annemarie: Jean wou niks doen nie, net die ryk erfgenaam speel. Van boekgeleerdheid wou hy nie weet nie, want ek het hom meer as een keer gevra of hy nie na die Stellenbosse Kollege wou gaan nie. Hy het altoos geweier. En toe hy mondig word en Oostergloed erf, het hy halfhartig probeer boer, maar hy was meer in Kaapstad tussen sy vername vriende as op die plaas. En toe verkoop hy julle erfgrond wat al soveel geslagte lank aan die De Villiers’s behoort het.”

      Annemarie sluk droog en trek met ’n senuweeagtige beweging van haar regterhand patroontjies op die witgeskropte tafelblad. Sy besef haar oupa verkwalik haar nie persoonlik oor Jean se optrede nie, nogtans voel sy skuldig wanneer daaroor gepraat word. Jean is haar enigste broer, die ouboet wat haar vertroetel en bederf het toe sy klein was, wat haar getroos het ná die skielike dood van haar ouers. Vir haar oupa is Jean ’n swakkeling en ’n pierewaaier, maar vir haar sal hy altyd ’n held wees … ’n groot broer na wie sy kan opkyk en bewonder.

      “Ag, Jacob, moet ons nou weer oor al dié dinge praat?” vra tant Gertruida verwytend, haar blik simpatiek op Annemarie se bleek gesiggie. “Jy kan tog sien jy ontstel die kind. Oostergloed is nou eenmaal verkoop, en Jean het klaar die geld uitgemors. Waarom nou daaroor kerm? Ek meen die jongetjie het sy les geleer, want dit kon nie maklik vir hom gewees het om as voorman op Braam Liebenberg se plaas te gaan werk nie, al is Braam ook sy eie kleinneef.

      “As dit maar al was!” Oom Jacob slaan met sy gebalde regtervuis op die tafelblad en gluur met toornige onmag onder sy ruie wenkbroue beurtelings na tant Gertruida en Annemarie. “Ons het almal gemeen dat Jean saam met die burgers in die veld is, dat hy help om die twee republieke teen die Britse oormag te verdedig … dalk nog verkenner van De Wet is, maar nou …” Hy pluk ’n brief met ’n heftige gebaar uit sy baadjiesak en hou dit na Annemarie uit. “Lees dit met jou eie oë, kind, want ek hoop nog dat my oë my bedrieg het.”

      Annemarie vou die bief van Braam Liebenberg aarselend oop terwyl oom Jacob sy stoel agteruit skraap oor die vloer, steunend orent kom en by die agterdeur uitstap, sy hoed laag oor sy oë.

      Is al die hartseer en ontsteltenis nodig? wonder tant Gertruida terwyl sy afwagtend naas die tafel bly staan, haar blik op Annemarie wat die brief in stilte lees.

      Annemarie is so ’n mooi kind met haar swart hare en groot, donker oë soos haar oorlede pa, Jean-Pierre de Villiers. Tant Gertruida mymer voort met ’n hartseer glimlaggie om haar lippe. Die kind het ook haar dogter, Engela, se fyn gelaatstrekke en vleklose vel geërf, daarom kan sy soms glo dat sy haar Engela in Annemarie teruggevind het. En daarby het Annemarie oorlede Engela se geaardheid, sag en tog sterk, byna koppig as sy ’n besluit geneem het. Na wie aard die arme, ongelukkige Jean?

      Annemarie vou die brief toe en lê dit op die tafel voor haar neer met vingers wat merkbaar bewe. Sy kyk nie dadelik op nie, maar frons liggies en byt hard op haar onderlip om haar emosies onder bedwang te hou.

      “Kindjie …?” aarsel tant Gertruida, gretig om die nuus te hoor, maar terselfdertyd bang vir die waarheid.

      “Ek glo dit nie, Ouma!” bars die woorde met ingehoue drif oor Annemarie se lippe, haar donker oë flitsend onder haar saamgetrekte wenkbroue. “Braam skryf hier dat Jean reeds in Maart 1900, toe generaal Cronjé en sy magte by Paardeberg verslaan is, sy wapens neergelê het. Destyds het lord Roberts mos ’n proklamasie uitgevaardig dat hy dié burgers wat rustig tuis bly en nie verder aan die stryd deelneem nie, beloof dat hulle nie gesteur of gemolesteer sal word nie. Braam sê sedertdien boer Jean op sy plaas, Swartland, daar anderkant Kroonstad … totdat hy met ander dinge begin het.”

      “Maar sussie …” Tant Gertruida lek oor haar lippe en skud haar kop onbegrypend. “Dis dan nou al Januarie 1902 … en dis al amper twee jaar gelede dat Jean nie langer saam met die burgers veg nie. Waarom het hy dan nooit aan ons geskryf nie?”

      Annemarie sluk hoorbaar en pers haar lippe in ’n dun lyn saam.

      “Ek glo dit nie, Ouma, maar Braam skryf … Hy sê vandat lord Roberts en later lord Kitchener begin het


Скачать книгу