Dokter Julene. Ena Murray
p>
Dokter Julene
Jasmyn
1
Dit was nie een van die Godfather se briljantste idees om my Switserland toe te laat kom nie, dink Julene half bitter toe sy in die ouer vrou se kil oë vaskyk. Sy draai haar blik vinnig weg. Maar, in alle redelikheid teenoor die ander vrou, moet Julene erken: dit moet ’n groot skok wees om skielik met ’n buite-egtelike kind uit jou man se verre verlede gekonfronteer te word.
“Wil jy nie saam kliniek toe gaan nie? Jy sal dit interessant vind.”
“Dankie . . . e . . .” Sy swyg. Die woordjie “pa” val nie spontaan op die tong nie. Tot baie onlangs het sy nie ’n pa gehad nie. ’n Oupa wel. Weer keep die een mondhoek effens bitter in. Eintlik het sy nie regtig ’n oupa nie. “Ek sal graag saamgaan.”
“Goed dan. Ons vertrek oor ’n halfuur.”
Julene knik, maak verskoning en gaan na haar kamer. Nie dat sy enigiets te doen het nie. Sy wil net wegkom uit die versmorende atmosfeer. Sy sal die halfuur in haar kamer om wag.
Toe die lang, blonde meisie uit is, ontmoet man en vrou se oë. Die spanning in die atmosfeer raak byna ondraaglik. “Muriël, ek begryp Julene was ’n groter skok vir jou as vir my. Maar probeer asseblief verstaan! Wat kon ek anders doen as om haar te ontvang? Sy is nou eenmaal my kind. Hoe kon ek weier?”
Die vrou kyk weg. Natuurlik sien sy sy kant van die saak in en natuurlik besef sy hy kon niks anders doen as wat hy gedoen het nie. Maar – en dis die bitter pil wat sy moet sluk – dat ’n ander vrou vir Fritz ’n kind in die wêreld gebring het . . . As sy haar eie kinders gehad het, sou dit makliker gewees het om die wilde saad wat haar man jare gelede gesaai het in die familiekring te verwelkom. Maar hul huwelik is kinderloos, en om skielik – ná byna veertig jaar van getroude lewe – te ontdek dat jou man jou dertig jaar gelede verkul het en dat daar boonop ’n kind uit dié verhouding gebore is . . .
“Ek verstaan dat jy kwalik kon weier om haar te ontvang. Soos jy sê – jy is haar pa. Dis net . . . Jy moet van jou kant ook probeer verstaan dat ek nie in jou vreugde kan deel nie.”
Hy laat sak sy kop. “Ek besef dit, Muriël. Ek is jammer.” Albei wonder op hierdie oomblik waaroor hy jammer is. Daar is so baie om oor jammer te wees. Toe hy opkyk, betrap hy haar oë vol vrae op hom. Hy stap nader, kyk haar innig aan. “Waaroor ek die jammerste van alles is, is dat ek jou, hier aan die einde van ons lewe saam, so diep skok en seermaak. Ek kan maar net hoop en bid dat jy dit in jou hart sal vind om my te vergewe. Ek kan jou die versekering gee dit was die enigste keer dat daar ’n ander vrou in my lewe was. En vandag kan ek nie begryp wat op aarde my destyds besiel het nie.”
Haar stem is laag. “Jy moes baie vir haar omgegee het om . . . so ver te gaan om . . .” Haar stem vervaag.
“Ons het Switserland toe vertrek en sy het geheel en al uit my lewe verdwyn. Vir altyd, het ek geglo.”
“Dis een van die dinge wat my baie hinder, Fritz. Ons halsoorkop verhuising na Switserland. Jy het gesê dat jy liewer hierheen wil kom as om langer onder jou broer se onredelike eise te werk. Ek het jou geglo. Ek het gehoor daar was die een of ander struweling tussen jou en Albert oor ’n operasiegeval, maar jy het dit afgemaak as maar net nog een van Albert se bomenslike eise. Julle twee broers is as vyande uitmekaar en dit het nog altyd gehinder, maar ek weet die Meissners is koppige mense en dat die een broer nie vir die ander sal toegee nie. Maar dat jy sonder om ’n oog te knip van die Meissner-kliniek af weg is terwyl jy ’n meisie agterlaat met wie jy ’n intieme verhouding het . . .”
“Muriël, ek het vir geen enkele oomblik gedroom dat sy swanger kan wees nie!”
Haar oë spot kil met hom. “Werklik? Jy is ’n dokter en jy kan dit vir my sê?”
Hy draai van haar af weg en sê ná ’n pynlike stilte: “Ek was . . . versigtig.” Hy sug, vee oor sy oë. “Versigtig genoeg, het ek gedink.” Hy kyk vinnig na haar, sien haar neergeslane ooglede en ’n koudheid vat sy hart vas. Hy het skielik ’n dogter ryker geword, maar is hy besig om sy vrou te verloor? Hy spartel met woorde om iets te probeer red van ’n mooi huwelik wat oor byna veertig jaar strek: “Ek weet jy het ’n groot deel van jou respek vir my verloor, my vrou, maar jy behoort darem te weet as ek ’n vermoede gehad het sy was swanger, sou ek haar nie summier in die steek gelaat het nie. Dit móét jy glo!”
“Ek weet nie meer wat om te glo nie.”
“Muriël, jy het die brief gelees wat Albert aan my geskryf het. Daarin erken hy dat Julene se ma hóm wou spreek nadat ek daar weg is, en dat hy geweier het om haar te woord te staan. Sy het nie met my probeer kontak maak toe sy uitgevind het sy verwag nie. Almal het geweet ek is Switserland toe en by watter kliniek ek my bevind. Hoekom het sy dit nie gedoen nie?”
“Dis die probleem met julle Meissners, Fritz. Julle dink dis net die Meissners wat trots het, wat die reg op trots het. Maar ander mense het ook trots. Ek begin al meer simpatie met jou minnares kry. Ek kan verstaan hoekom sy, ten spyte van haar penarie, net maar van die toneel verdwyn het. Eerstens was jy goed tien jaar haar senior. Sy was maar twintig en jy ’n man van twee-en-dertig. Boonop was jy ’n dokter en nogal ’n Meissner – ’n man wat sekerlik veronderstel was om te weet wat hy doen as hy by ’n vrou in die bed klim.”
“Muriël . . .”
“Jammer, Fritz, maar ek praat nou reguit. Jy het gesê jy was versigtig, en met daardie selfde simpele woord het jy haar natuurlik ook oorreed om aan jou eise toe te gee. Jy is ’n dokter. Jy weet wat jy doen. Jy sal versigtig wees. En toe, op ’n dag, is jy net weg. Skoonveld. Toe sy tot die ontdekking kom sy is – ten spyte van al jou versigtigheid – tog swanger en sy by Albert Meissner aanklop, weier hy om haar te ontvang. ’n Jong kind van twintig, swanger . . . en daar is niemand wat haar wil help nie. Niemand tot wie sy haar kan wend nie. Selfs nadat Albert se skokbrief hier aangekom het, het jy steeds geweier om te erken dat jy ’n jong meisie swanger in Suid-Afrika agtergelaat het. Besef jy wat dit aan my gedoen het toe ek lees dat jy destyds ’n verhouding gehad het en dat Albert jou uit die Meissner-kliniek geskop het omdat ’n pasiënt onder jou hande gesterf het terwyl jy aan ’n ander vrou staan en dink het . . .”
“Muriël!” Fritz Meissner is bleek. “Ek glo vandag nog nie dat daardie man as gevolg van mý nalatigheid gesterf het nie,” sê hy skor. “Ek erken my gedagtes het ’n oomblik gedwaal, maar daardie man was in ’n uiters kritieke toestand en ek en die ander dokters het reeds vóór daar met die operasie begin is, getwyfel of Albert hom sou kon deurhaal. Nie eens Albert Meissner kan vandag sê wie verantwoordelik was vir sy dood nie – ek of God. Jare lank het daardie saak baie swaar op my gewete gerus, maar dit is ’n episode wat van my die dokter gemaak het wat ek vandag is. En ook die getroue man wat ek die afgelope jare vir jou was. Jy het reg. Ek het aanvanklik ontken dat ek die vader van ’n kind is, omdat ek tot op daardie oomblik oortuig was dat ek by niemand ’n kind verwek het nie. Maar . . .” en nou is hy weer ten volle ’n Meissner, “die oomblik toe ek gister op die lughawe my oë op Julene lê, het ek geweet: sy is my kind. Sy is ’n Meissner . . . Ek aanvaar haar onvoorwaardelik as my dogter. Wat meer is, sy is ’n dogter om op trots te wees en ek is trots op haar. Ek het haar geweldig gefaal, maar ek sal na my beste vermoë daarvoor probeer vergoed. Ek kan net hoop dat jy my sal ondersteun. Want jy is my vrou en ek is lief vir jou. Ek wil jou nie verloor nie, Muriël. Maar ek kan my dogter ook nie die rug toekeer nie. Dit moet jy verstaan.” Hy tel sy jas op, begin aanstap deur toe.
Muriël sluk swaar. “Gaan jy probeer om haar in die kliniek aangestel te kry?”
“Ek sal dit aan Julene oorlaat. Sy moet self besluit wat sy met haar toekoms wil doen. Maar as sy voel dat sy graag hier wil werk, sal ek my bes doen.”
Die ultimatum is gestel, besef Muriël Meissner. Jy aanvaar my dogter. Of . . .
Sy staan by die venster toe hulle wegry kliniek toe, voel hoe die verdwasing in haar eerder toeneem as afneem. Sy was saam met Fritz by die kliniek toe afskeid geneem is van een van die senior dokters. Ná die geselligheid is sy na haar man se kantoor terwyl hy gou na ’n pasiënt gaan omsien het. Die pos het op sy lessenaar gelê en sy het