Somer van betowering. Schalkie van Wyk
haar oë met haar wysvinger en mompel verskonend: “Jammer. Ek dink die lastige muggies het in my oë gevlieg.”
“Wag, dalk kan ek help,” bied hy aan.
Sy voel sy vingers om haar pols, sy aanraking warm en intiem, en spring agteruit asof sy hand haar gebrand het.
“Muggies én perdebye?” vra hy, onderdrukte lag in sy stem. “Wat laat jou so rondspring, Elbie? Dalk rooimiere?”
“ ’n Mens noem dit selfbehoud,” antwoord Elbie met gedwonge kilheid en lig haar ken. “As iemand jóú onverwags gryp, sal jy ook vinnig padgee.”
“Wel, hoekom probeer jy nie?” vra hy, koggelende lag in sy oë.
“Omdat ek moeg is,” sê sy snipperig en sak op die kort, groen kweek neer, haar rug op hom gekeer.
“Dan het julle klaar getrek?” sê-vra Luan en gaan sit langs haar.
Sy wens hy wil loop; sy wens hy wil bly. Sy wens hy hou op om met haar te praat; sy hoop hy hou nooit weer op praat nie. Sy wens, sy hoop, sy bid dat hy nie die onstuimige geklop van haar hart kan hoor en raai hoe onbeskryflik baie sy van hom hou nie.
“Jammer,” sê hy spytig. “Dit kan nie maklik wees om tot siens te sê vir die plek waar jy grootgeword het nie.”
“Helderstroom is die mooiste plaas in die wêreld,” sê sy met ’n oortuiging wat uit liefde gebore is. “Ek ken elke boom, elke graspol, elke klip op ons plaas. Ek en Karwats, my ryperd . . .” Sy sluk droog, knip haar oë vinnig en lag geforseerd. “Jammer. Ek kon nie vir Pappa of Anneke sê hoe hartseer ek is om afskeid te neem van ons plaas nie.”
“Daar is ’n oplossing: trou met ’n ryk boer wat Helderstroom by jou pa kan koop,” stel hy voor.
Sy betrag hom met ysige afkeer. “Is dit wat jy sal doen: met ’n ryk vrou trou sodat jy haar geld kan vat?”
Hy breek ’n grasspriet af, kou daaraan en hou haar deur vernoude oë dop. “Dis wat die dorpenaars glo: arm Lukas Stegmann se aantreklike seun gaan vir hom ’n ryk vrou vat. Wees gewaarsku: rykes van die kontrei, hier kom ou sukkelaar Lukas se seun om julle dogters te steel. Sluit hulle toe, want al wat hy soek, is geld. Kyk net wat het hy gedoen toe die groothartige Giepie van Graan duisende rande in sy bankrekening gesit het sodat hy universiteit toe kon gaan om onderwyser te word. Die ondankbare Luan Stegmann het die geld uitgedobbel, en een maal per jaar maak hy ’n draai by Giepie om nog meer geld uit hom te kry.” Luan se lag is kort en wrang. “Het ek die prentjie duidelik genoeg geskilder?”
“Duidelik genoeg, maar net jy weet hoe waar dit is. Oom Giepie leef soos ’n kluisenaar, en vra iemand hom uit, hou hy hom doof. Dit help nogal om doof te speel, want die dorpenaars het oorgenoeg oor my pa ook te sê.”
Hy hoor die ondertoon van begrip in haar stem en glimlag dankbaar. “Jy het grootgeword. Ek is bly . . . en jammer. Toe jy ses was, het jy my gevra om met jou te trou. Gaan jy my weer vra, of is jy nou te groot en verstandig?” terg hy.
“Dit was kort na my ma se begrafnis en tant Philippa het gedreig om by ons in te trek en vir my en Anneke ma te speel. Ek was so bang dat my pa met haar sou trou dat ek weggeloop het. Dis hoe ek op julle plaas beland het.” Sy glimlag by die herinnering aan haar kinderlike vrees. “Jy moes toe twaalf of dertien gewees het, maar jy was galant genoeg om my nie af te jak nie.”
“Hoe kon ek? Jy was te mooi en fyn om seer te maak. Boonop was ek gevlei. Ek het beloof om met jou te trou sodra jy klaar geëet het. En jy, wispelturige meisie, het aan die slaap geraak voordat jy jou tweede toebroodjie klaar geëet het. En toe het my pa my na julle plaas toe gestuur om vir jou mense te sê waar jy is.” Hy sug oordrewe. “Die kans van ’n leeftyd . . . en ek word deur ’n toebroodjie gefnuik.”
“Ek hoop daar is meer as net ’n toebroodjie by die huis. Ek is honger,” sê Elbie en staan op, bewus van die naderende nag, maar nog meer bewus van haar verraderlike emosies wat haar soos ’n beginsellose meisie wil laat optree. Dit moet verkeerd wees om te wens dat ’n man jou in sy arms neem en soen. Dit kan niks anders as sonde wees om te voel jy sal enigiets vir ’n man doen, solank hy hom net by jou kan hou nie, dink sy skuldig en sluk droog.
“Jy en jou ewige honger,” verwyt hy, kom orent en bly voor haar staan. “Ek kuier tot na Kersfees by oom Giepie. As jy na die dam toe kom, so teen skemer, of ’n bietjie vroeër . . .”
“Jy kan na ons huis toe kom, Luan,” nooi sy hoopvol.
“Jy is net agtien, Elbie. Ek kneus nie bloeisels nie. Maar ek sal hier wees as jy wil gesels,” antwoord hy bruusk, swaai byna inspanningloos in die saal op sy perd en ry die nagdonker tegemoet.
2
Elbie trek voortjies met haar vurk deur die groente op haar bord, haar blik nikssiende op die tafelblad. Hy kneus nie bloeisels nie, het Luan gesê. Hoekom voel sy dan gekneus, stukkend, flenters . . . verwerp? vra sy haarself af, maar weet reeds wat die antwoord is.
Luan was saam met Anneke in die klas, saam in matriek, terwyl sy nog op laerskool was. Maar soms het sy Anneke na die hoërskool vergesel om ’n kermis, ’n konsert of ’n sportbyeenkoms by te woon, en dan was Luan daar. Haar Luan. Dit is belaglik om te glo sy het Luan liefgekry toe sy ses was, maar êrens langs die pad van haar grootword het dit gebeur. Sy weet sy het hom onherroeplik liefgekry, want ten spyte van haar gewildheid onder die skoolseuns en jong mans op die dorp kon sy nooit vir hulle dieselfde emosies ervaar wat Luan in haar wakker gemaak het nie. Maar Luan . . . In sy oë is sy ’n onvolwasse kind, ’n dom bakvissie wat dit gewaag het om hom oor te nooi na haar huis toe . . .
“So ja, Pappa het sy tee en sy boeke,” kom dit geselsend van Anneke terwyl sy die eetkamer binnekom. “Ek het heerlike nuus! As jy klaar geëet . . .” Haar woorde stol en sy lê haar handpalm besorg op Elbie se voorkop. “Nee, jy het nie koors nie. Hoekom eet jy nie, Elbie? Moenie vir my sê jy aard na Pappa met sy maagseer nie. Pyn jou maag, Elbie?”
Elbie wens sy kan in trane uitbars; wens sy kan al haar hartseer en verwarring in haar groot suster se arms uitsnik, maar besef dat haar liefde vir Luan so ’n intieme deel van haar hele menswees uitmaak dat sy dit met niemand kan deel nie.
Sy lag halfhartig en skud haar kop. “ ’n Kloekende Moeder Hen – dis wat jy is. Ek makeer niks nie, Anneke. Ek is net doodmoeg en . . . en dis te warm om te eet.”
Anneke sak op die naaste stoel neer en stut haar ken in haar hande. “Noudat jy dit noem: ek is poegaai, gedaan en kapoet. As dit nie was dat . . .” Sy sit orent, haar oë helder van ’n innerlike warmte. “Kan jy dit glo, Elbie? Ek wou nie hê Pappa moes agterkom hoeveel dit my ontstel om dorp toe te trek nie, maar . . .” Sy blik skuldig na Elbie, lek oor haar lippe en vervolg met neergeslane oë: “Die ou opstal op Helderstroom . . . Dit was my huis vir vyf-en-twintig jaar. Twaalf jaar lank was Mamma daar, en tot vandag toe kan ek haar in die sitkamer, die kombuis of buite in die roostuin sien. Helderstroom is in my bloed. Voel jy nie ook so nie?”
Elbie knik stom. “Lu- . . .” begin sy, skraap haar keel en begin weer: “Iemand het vir my gesê ek moet met ’n ryk man trou sodat hy Helderstroom kan koop.”
Anneke trek haar asem sag in en speel met senuweeagtige vingers met Elbie se servet. “Daar is ’n ander uitweg,” sê sy, haar stem byna monotoon in ’n poging om nie haar dieper emosies te verraai nie. “Almal glo dis oom Hans Davel wat ons plaas huur, maar ek weet dis eintlik Tertius wat die boer is. Oom Hans sou lankal sy eie plaas verloor het as dit nie vir die flukse tant Elize was nie. Sy het met ’n hoenderboerdery begin toe Tertius nog op laerskool was en ’n groot sukses daarvan gemaak. Dis ook sy wat gesorg het dat Tertius sy graad in landbou gekry het.”
“Hoe weet jy? Het hy jou vertel?” vra Elbie verras.
“Ons was saam in matriek en hy het dikwels met die grootste lof van sy ma gepraat, maar nooit sy pa gekritiseer nie. Dis Therine wat my vertel het. Sy is wel twee jaar jonger as ek, maar vandat sy by die bank begin werk het, het ons goed bevriend geraak.”
“As tant Elize soveel