Moord in die beloofde land. François Bloemhof

Moord in die beloofde land - François Bloemhof


Скачать книгу
weer wegraak nie.”

      “Ek gaan nêrens heen nie. Behalwe nou dadelik, nou moet ek.” Ek kyk op my horlosie. “Ek moet by die werk kom, ek gaan klaar laat wees.”

      “Waar werk jy?”

      “Naspers.”

      “Joernalis?”

      “Ja.”

      “Ek moes geweet het jy sal een word, jy was altyd lief vir woorde.” Sy aarsel. “Wanneer sien ons mekaar weer? Ons kan uiteet of iets.”

      “Binnekort.” Ek onthou hoe sy in standerd vyf die een was om die inisiatief te neem.

      “Net nie duur nie, hoor. Ek is ’n sjampanje-meisie met ’n bier-inkomste!”

      “Ons moet telefoonnommers ruil.”

      “Ek gee jou myne, dan bel jy my. Ek het iets waarop ek kan skryf.” Sy krap in haar handsak en haal ’n pakkie uit. Dit is Kim, sigarette vir vroue.

      Vir ’n sekonde dink ek aan die hoërskoolhoof. Hy het longprobleme, nou kan hy net ’n sagte sigaret rook. Ek het gehoor hy koop Kim en haal die sigarette uit en sit hulle in ’n Peter Stuyvesant-boksie sodat mense moet dink hy rook nog altyd dít.

      Ek sê my nommer en kyk hoe sy dit agterop die pakkie neerskryf met ’n pen wat sy ook uit daardie deurmekaar handsak opgediep het. Dan haal sy die laaste sigaret uit en steek dit aan.

      Ek sê: “Net een ding – ’n meisie van my kan nie rook nie.”

      Sy glimlag en blaas stadig, sensueel rook uit. “Maar ek is my eie meisie.”

      11

      Hy beweeg trappie vir trappie boontoe, en daar staan sy vasgenael soos ’n bokkie. Hy die leeu. Hy kan aan haar gesig sien sy wil weghardloop, maar haar lyf is stil, haar bene wil haar nie gehoorsaam nie. Met nog ’n paar treë is hy by haar. Gryp hy haar aan die skouers.

      En dan kyk hy bloot na haar. Kyk hy haar net aan.

      Wag vir die reaksie.

      Haar asem jaag. “Ek weet nie wat jy wil hê nie,” snik sy heel onlogies, “ek weet nie wat jy wil hê nie!”

      Dít is wat hy wil hê. Die vrees.

      Eers tref sy hand haar linkerwang en haar oë begin water. Sy sak af op haar knieë, probeer dadelik regop kom, maar hy bring ’n gebalde vuis af op haar kop. Haar handsak spat weg, sy het dit nog vasgeklou, dit tref die muur en gaan oop en ’n lipstiffie val uit en rol eenkant toe, ’n pakkie Courtleigh Satin Leaf skiet ’n ent oor die vuil teëls, ’n Bic-aansteker agterna.

      Hy gryp haar aan die hare, pluk haar regop. Sy skree, maar dis meer ’n uitroep van pyn as ’n kreet wat enigeen kan ontbied. Hy weet in elk geval alle geluide sal hier in die trapskag gesmoor word. Nog ’n keer klap hy haar, met sy hand se rugkant teen haar regterwang omdat hy glo in simmetrie, maar sy val nie weer nie, stut haarself teen die muur.

      Hy lees in haar oë dat sy gaan probeer wegkom, dat sy nog nie moed opgegee het nie – die bokkie het steeds ’n bietjie hardloop in haar, maar die leeu nog sy spring ook. Hy wil bulder, wil brul, oerdrif. Die meisie mik-mik, wil op ’n manier verby hom glip by die trap af … maar sy begaan die tipiese fout van die prooi, sy maak haar bod op vryheid te gou. Hy het haar beet, eers aan die voorarm, dan, net toe dit wil lyk of sy gaan wegkom, weer aan die hare. Sy skree toe daarvan losruk, maar sy greep is stewig.

      Genoeg hiervan. Genoeg gewag. Hy het die mag om te kies tussen lewe en dood, en het lankal gekies. Die eerste keer het hy homself belowe dit sou die énigste keer wees, die ander kere het hy gesê dit sou die lááste keer wees, en elke keer was hy gewalg selfs terwyl dit gebeur, nou weet hy die tye tussenin is maar net vir rus, die hitte sal tog weer opbou en daar is net een manier om dit uit sy sisteem te kry. Soos koors moet dit gebreek word. Sy is ’n objek, dis hoe hy haar moet sien, hy moet dit doen en sy is toevallig die een aan wie hy dit moet doen. Hy het die mes uit en hy begin haar gesig daarmee sny. Het nie laas keer ’n mes gebruik nie, daarom gebruik hy dit nou, daar moenie ’n vasgestelde patroon wees wat herken kan word nie. Volgende keer sal dit iets anders wees, maar hy is bly dit is nou die mes, hy sien hoe haar gesig vir hom oopmaak toe die lem reg deur haar wang gaan. Groter intimiteit kan jy nie kry nie. Hy kan haar agterste tande sien, ook een wat met goud gekroon is. Hy sal van sy klere ontslae moet raak sodra hy by die huis kom, sal moet insluip, want bloed spuit in alle rigtings, sy hande lyk asof hy hulle daarin gedoop het.

      Nou moet sy dood, hy kan nie meer die geluide uitstaan nie. Dit moet klaarkom. Hy steek, hy sny.

      Sy wil nie dood nie. Sy lig haar regterhand asof dit nog ’n verskil kan maak.

      Wat het sy nie alles met hierdie hand gedoen nie? Letters leer vorm, dalk later liefdesbriefies geskryf vir die een of ander seun wat sy gedink het die wonderlikste wese op die planeet is. Sy het hiermee haar liggaam ontdek. Die naels is mooi versorg. Dalk het sy ’n musiekinstrument bespeel, blokfluit, klavier, dalk het sy talent gehad. Sy kon miskien goed bak of was haar netbalspan se ster-doelskieter. Nou is dit alles irrelevant, en tog, vir oulaas het dit nog betekenis, vir hom. Al die lewe wat in haar oorbly, sien hy in die tastende hand.

      12

      In standerd vier kom ek agter van my pa se geheim.

      Dat hy een het.

      Die garage (“motorhuis”, sê my ma altyd) sit regs onder die huis. Ek bedoel die huis sit soort van bo-op dit. Daar is ’n deur tussen die huis en die garage, maar dit was gesluit toe ons hier ingetrek het en niemand weet wat van die sleutel geword het nie. Ek en Erik is nie bedoel om ooit in die garage te kom nie, want my ma sê karre gee giftige gasse af en ons kan siek word daarvan.

      Maar aan die agterkant van die garage is ’n aparte kamertjie waar my pa partykeer houtwerk doen en omdat hy nie siek word as hy tyd daar deurbring nie, weet ek wat my ma sê is nie waar nie. Sy wil ons net daar uithou oor sy bang is ons krap tussen my pa se goed en dan raak hy kwaad.

      Een middag terwyl my ma slaap en Johanna rus en Erik besig is met huiswerk, is ek verveeld. Wens ek kon nou in die fliek sit.

      Eers lees ek twintigsentboekies. Hulle kos nie meer net twintig sent nie, maar hét. Dis boekies met foto’s wat stories vertel en uitgegee word deur RP, wat staan vir Republikeinse Pers. Rocco de Wet: Grensvegter; Die Arend van die oerwoud, met daardie groot, giftige spinnekoppe; Kid die swerwer; Tessa; Saal 10: Ongevalle, met dieselfde meisie, Erna van den Berg, as in Tessa, maar vir hierdie stories dra sy meer klere omdat sy nou ’n verpleegster is en nie ’n geheime agent nie; Dr. Conrad Brand; Mark Condor; Takoeza; Tanya die vegter; Verdwaalde harte.

      Ek hou die meeste van dié met aksie. Maar nou het ek elke boekie al vir die soveelste keer gelees.

      Daarom gaan sukkel ek die venster van my pa se houtwerkkamertjie oop. Ek het twee dae gelede gesien dis op ’n skrefie, maar dis nou eers dat almal uit die pad is.

      En dis nog ’n goeie drie uur voor hy by die huis sal wees.

      Dis nie ’n groot opening nie, maar ek moet myself voete eerste by die venster laat ingaan, dan kan ek op die tafel vastrap. Dis eintlik meer van ’n houtbank en dit is deurmekaar – terwyl alles anders van my pa so netjies is – want oral lê sae en beitels en buisies gom en liniale van metaal. Meneer Krogman wat vir ons houtwerk gee, sou mal gewees het oor dit alles, maar my pa is nie goed met houtwerk nie. Die enigste tafeltjie wat hy gemaak het se pote wikkel en dit was net ’n week in die huis voor hy dit self teruggebring het hiernatoe. Daar in die hoek staan dit.

      Stadig, versigtig laat sak ek my onderlyf deur die oop venster. Ek is kaalvoet. As my ma uitkom en my hier kry …!

      Maar ek is nie bang vir haar nie. Vir hóm, ja.

      Vir ’n sekonde wil ek paniekerig raak. Ek kan nie onder my sien nie, maar ek moes nou al die bank raak getrap het!

      Dan is my regtervoet op die hout. Ek moes dalk maar skoene aangetrek het. Daar is my linkervoet ook nou op die bank. Ek kan iets soos stof onder my


Скачать книгу