Marta. Helena Hugo

Marta - Helena Hugo


Скачать книгу

      

      Marta

      'n Roman

      HELENA HUGO

      Opgedra aan Elize Schutte – my haarkapper.

      Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

       – Matteus 6:33

      Een

      Marta sit die telefoon se gehoorstuk terug. Wat het haar besiel om dit so uit te blaker vir die vreemde vrou – die nuus van Deon en Gunther? Sy het gepraat sonder om te dink. Maar miskien sou sy dit vanoggend, ná haar slapelose nag, vir enigeen gesê het. Nou is dit uit. Sy kon haar vreugde met iemand deel, iemand wat nie die vaagste vermoede het oor hoekom sý so opgewonde is nie. Dit is per slot van rekening ’n wonderlike verrassing vir meneer Swanepoel en veral vir Ciska, wat nie ’n geheim maak van haar verlange na haar seuns nie. Die vrou, dié Marinda Boshoff, kuier daar en Ciska praat. Vrydag, toe Marta haar hare gaan was en set het, het Ciska haar vertel van die vroutjie wat in Hester Visser se huis bly, en wat by hul tuinhekkie verbygestap het en meneer Swanepoel so vriendelik gegroet het. Sy is ’n mooi mens en hy kon nie haar innerlike skoonheid en verfyndheid miskyk nie, ook nie die hartseer nie – sulke seergemaakte oë. Toe nooi hy haar om te kom tee drink. Dit was die regte ding om te doen, want sy is ’n opgevoede mens en ’n ware dame. Sy lees ook uitstekend.

      Dis nie asof Marta nie weet van die vrou wat die groot huis vir haar alleen huur nie. Sy het Valery en haar kleinseun vroeër die week daar sien ingaan en besef dat daar weer mense in tannie Hester se huis is. Later het sy by Tienke Bakker gehoor dat dit net een vrou is en dat sy alleen is omdat sy en haar man probleme het. Wat presies, het Tienke nie geweet nie. Die vrou neem haar middagetes by dominee en mevrou Van Velden en is stil en eenkant hoewel sy belowe het om met die kinders se kunsklas te help. Dit het uitgekom dat sy kunstig is, selfs kunstiger as Emma van Velden – en dít wil gedoen wees.

      Marta sien uit na die ontmoeting. Sy teken in haar afspraakboek aan: Tienuur, kunstige mevrou Marinda Boshoff, highlights.

      Haar pa kyk vir haar uit sy geraamde portret langs die telefoon op die lessenaar. Sy boeke en lêers wat hy gebruik het toe hy skoolgehou het, staan met hul rugkante na haar toe. Sy studeerkamer is aan die koue kant van die huis. Daar hang geraamde almanakprente van leeus en luiperds teen die muur, ou skoolfoto’s van die krieketspanne wat hy afgerig het en leerlinge wat presteer het, een van hom en meneer Swanepoel wat saam ’n toekenning ontvang. Dis die geraamde goudsertifikaat wat tussen die ander hang.

      Die lessenaar blink, die pennehouer en die borsbeeldjie van Albert Einstein staan nog altyd op dieselfde plek. Haar pa was ’n wiskundeman. Sy werkgereedskap – passers, liniale en sakrekenaars – is in ’n laai toegesluit. Hy wou nooit ’n nuwe rekenaar aankoop nie.

      Marta hou die studeerkamer soos dit was. Sy kom in as sy skoonmaak en om die telefoon te gebruik, die huishouding se begroting uit te werk en nou en dan ’n briefie of nota te skryf. Dis al jare dat haar pa dood is, maar sy kry steeds so ’n aardige gevoel as sy in sy stoel sit en skryf, asof hy sal inkom en haar vra wat sy daar maak. Maar dit is lankal haar lessenaar. Sy het een laai leeggemaak. Dis waar sy die bankstate en rekenings byderhand hou. Ander dokumente en goed wat sy vir die inkomstebelastingmense moet hou, is in die liasseerkas toegesluit.

      Marta los die afspraakboek oop. Sy haal diep asem. Die kamer ruik na hout wat pas geolie is en ou papiere. Sy sal môre weer hier afstof.

      Dis Maandag en wasdag. Sy het sesuur die eerste bondel in die masjien gedruk. Aan die geraas wat sy hoor, lei sy af dis die hoogtepunt van die laaste spoelsiklus. Sy sal kan wasgoed uithaal en ophang voor haar eerste en enigste ander kliënt vir vandag opdaag. Dis oom Ollie Olwagen, wat Clanwilliam toe ry vir banksake. Tannie Olwagen het geskakel om te vra of Marta nie sy baard en wenkbroue kan trim nie, die bankmense is nie takhare gewoond nie en hy wil sy stem daar gaan dik maak oor sy rentes wat elke maand minder is.

      Marta sug. Sy kon nog nooit genoeg spaar om meer as drie rand ’n maand aan rente te verdien nie, maar rente is ’n algemene probleem onder die afgetredenes wat nie kan werk nie. Hulle kan nie meer op onvoldoende pensioene leef nie. Die lewenskoste raak hoër en die ekonomie knyp en dis gevaarlik om op jou spaargeld te teer. Vra haar, sy weet hoe hulle moet sukkel om deur te kom met haar haarkappergeld en haar ma se pensioentjie.

      Sjoe, die wasmasjien klink of hy homself uitmekaar wil ruk. Oom Hannes het laas die deksel kom afskroef, binne-in gekyk en haar verseker dat dit nie ’n ernstige probleem is nie. Dit klink net so. Vir haar voel dit asof die masjien hom elke oomblik gaan losruk, alles in sy pad bestorm en stukkend stamp voor hy self by die agterstoep aftuimel. Hoor daar! Soms wonder sy of oom Hannes regtig so handig is, maar daar is niemand anders op die dorp wat sulke werkies doen nie en hy vra nie veel nie, net dat sy hare gesny word en ’n koppie tee.

      Die wasmasjien fluit soos ’n trein wat ’n stasie binnestoom, ’n teken dat die eerste bondel finaal afgehandel is en die volgende een dus ook gedoen kan word voor die nuwe vrou aanland en die wanklanke moet verduur. Marta wil vinnig kombuis toe, maar word in haar vaart gestuit deur haar ma wat in haar rystoel aangesit kom. Die wiele fluit ook, nie met dieselfde intensiteit as die wasmasjien nie, maar tog.

      “Jy moet laat kyk na daai masjien!” raas Hetta voor Marta kan aanbied om haar rystoelwiele te olie.

      “Ek het laas week gevra dat oom Hannes kyk, onthou Moeder nie?”

      “Hannes Kramer kyk teen sy oogvelle vas. Kry iemand van Clanwilliam of ten minste Lambertsbaai dat hulle nuwe parte kom insit. Daai ding gaan ontplof en dan is ons al twee in die hospitaal en die huis aan die brand, wil jy dit hê?”

      “Nee, dit sal nie gebeur nie. Oom Hannes het my gewys, dis net die deksel wat skud. Sodra hy die deksel afhaal, is dit stiller.”

      “So, jy moet nou sonder deksel was? Kan hy nie ’n nuwe deksel bring nie?”

      “Dit sal nie help nie.”

      “Hoekom sê hy dan dis die deksel?”

      Marta hou asem op. Hierdie gesprek gaan die hele Maandagoggend oorheers. Sy moet nog ’n bondel insit, en dan begin dit van voor af – die wasmasjien se geraas en haar ma se gekla. Tel jou woorde, Marta, maan sy haarself.

      “Wil Moeder saamkom kombuis toe? Ek moet gaan wasgoed ophang,” sê sy toe sy weer asem skep.

      “Ja, ek wou juis vir jou kom sê my tee is koud, jy moet ’n vars pot maak.”

      “Het Moeder al Moeder se pille gedrink?”

      “Ek weet nou nie … Wil jy nie gaan kyk of hulle nog op die bedtafeltjie lê nie?”

      Marta vat die rystoel se handvatsels vas. “Ek stoot Moeder eers kombuis toe. Dis so ’n lekker dag, miskien moet ek Moeder uitstoot om buite te sit terwyl ek wasgoed ophang?”

      Hetta Koster trek haar skraal skouertjies skeef en vou haar truipante oorkruis voor haar bors. Sy sidder asof dit in die middel van die winter is.

      “Wil jy hê my bors moet weer toeslaan?”

      “Dis windstil en die son skyn.”

      “Dis nog nie somer nie.”

      Marta tel weer haar woorde en voer nie die argument verder nie. Sy parkeer die rystoel langs die tafel. Sy gooi water in die ketel en skakel dit aan. Haar ma trek die tydskrif wat op die tafel lê, nader. Dis ’n redelik nuwe Vrouekeur met ’n artikel oor haarmodes vir die somerseisoen wat Marta vanoggend saam met haar koffie gesit en bestudeer het. Sy koop nooit tydskrifte nie. Van haar kliënte dra gereeld pakke oues aan – sommige wat dateer van selfs drie jaar gelede. Dit pas mos ’n haarkapper om tydskrifte byderhand te hê, maak nie saak hoe oud en gehawend nie, hoewel daar nooit meer as een persoon by haar sit en wag vir ’n beurt nie en iemand selde ’n tydskrif optel. Maar Marta sal nie ’n gegewe perd in die bek kyk nie en haar ma geniet dit om te blaai en hier en daar te lees. Sy ook – veral die stories en artikels oor glanspersone. Net jammer


Скачать книгу