Ingrid Jonker Versamelde Werke. Ingrid Jonker
met blou madeliefies
Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan ’n kis
Ek maak my gereed vir die Niks
Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood
Julie 1961
Toemaar die donker man
Vir Simone
Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap ’n ou man wat
’n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en ’n rug gebuk aan sy jare.
Wat maak hy, mammie?
Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.
Wat is sy naam, mammie?
Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet
uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toemaar, die donker man
Mammie . . .
Toemaar, die donker man
Ladybird
’n Herinnering aan my moeder
Glans oker
en ’n lig breek
uit die see.
In die agterplaas
êrens tussen die wasgoed
en ’n boom vol granate
jou lag en die oggend
skielik en klein
soos ’n liewenheersbesie
geval op my hand
My pop val stukkend
Die skaduwee waarsku die straat
geslinger uit ’n hoë balkon
deur die skaars jakarandas van die lug
die skaduwee waarsku die son
deur die lied van die penniefluitjies
geval op die dreunende straat
my pop met ’n naam soos ’n liggaam
wat net soos ’n mens kon praat
My pop soos ’n mossie geskiet
korrel-kaal van die vensterbank
of was dit die wind uit die verte
of was dit my eie hand
My pop het geval toe die son
sy brons klok lui uit die lug
toe die wolke die mure wit kalk
val die skaduwee daarin terug
Die skaduwee waarsku die son
porselein met die ver lug bo –
as ek sou val uit ’n hoë balkon
as ek sou breek lyk ek ook só?
Die kind
wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpeville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ’n koeël deur sy kop
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte
van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ’n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld
Sonder ’n pas
Maart 1960
By die dood van ’n maagd
Ek sal hom vertel dat jy nie gesterf het nie
Hy met sy liggaam soos ’n slagveld sal dit weet
opdat sy hande altoos reik na die appels van die dagbreek
Hy sal uitgaan op ’n straat sonder slaggate
en weet waar om sy hart te soek onder die koerante
hy sal weet waar om sy hart te vind onder die mynhope
die makkers die wynvate en die letterkunde van die planke
Die motors sal hul remme aanslaan en die moordenaars
hul lemme terugsteek in hul skede die ligte
sal ’n pluimpie van geel kruise spel vir sy oorgang
Die mense sal hom groet met ’n wedren van hosannas
Hy sal loop soos ’n man in klere sonder littekens
Sy lag sal wees soos ’n oorvloedige druiwetros
hangend in die pers koelte onder die wingerdblare
sy glimlag wat ver paaie en wit gewels naboots
’n hawe sonder oorlogskepe en ’n lug sonder vliegvelde
Hy sal weet dat jy nie gesterf het nie
jou dood was ’n matinée vir kinders
en jou liggaam ’n vokaal vir enige woord
Gesien uit die wond in my sy
Ek het afgekyk van die berge en gesien ek is dood
My geskape slape die twee lammers op die slagpale van goud
en my hande die kroppe van duiwe gebreek met die palms na bo
O dat die woord wat bloei uit my mond
die