Keerkring van die hart. Ena Murray
p>
Keerkring van die hart
Jasmyn
1
“Paps, laat Kas gou vir my die lisensieskyfie teen my motor se ruit sit. En dan wil ek asseblief ’n ou tjekkie hê. Ek wil ’n aandrok vir Saterdagaand kry.”
“Al weer ’n aandrok, kleintjie? Maar het jy dan nie verlede maand …?”
“Ja, Paps, ek weet, maar Saterdagaand is ’n baie spesiale geleentheid. Dis Rob se verjaardagpartytjie, onthou? Ek kan net eenvoudig nie in ’n ou ding gaan nie. Asseblief, Paps!”
Daar uit die hoek voor die liasseerkabinet hoef Kasper Burger nie eens op te kyk om te sien wat sy baas gaan doen nie. Hy hou sy oë stip op die kaarte voor hom terwyl hy sien, sonder om regtig te kyk, hoe Faan Dempers sy tjekboek met ’n toegewende glimlaggie oopmaak en sy pen optel.
“Hoeveel moet dit hierdie keer wees? Jy gaan ’n bietjie kwaai aan, my kind. Jou klererekening kan seker meeding met die koningin van Engeland s’n.”
“O, Paps! Dis nie waar nie! Pa vergroot verskriklik!” Sy lag haar borrelende laggie, gooi die slanke arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen op sy bles. Ook dit sien Kasper Burger sonder om sy kop te draai. Hy hoor haar vervolg in daardie stemtoon waarmee sy, soos ’n ieder en ’n elk op Grasbult al weet, Faan Dempers om haar skraal pinkie draai. “Maak dit nou ’n ou klein grotetjie, dan val ek Paps nie gou weer lastig nie. Toe tog, my ou dierbare, enigste Paps.”
Faan Dempers sug, maar sy hand begin geredelik skryf en dan hou hy die tjek na haar toe uit.
“Nou toe. Hier. En dit moet vir ses maande voldoende wees, hoor?” sê hy kastig streng, maar die teerheid in sy oë verraai hom.
Sy lag en soen hom weer vlugtig op die bles en steek die tjek in haar handsak. Sy is reeds halfpad deur toe, toe sy weer omswaai en vir die eerste keer kyk sy na die man in die hoek.
“Het jy die skyfie al teen die ruit gesit?”
Kas Burger voel iets in hom styfskop. Hy hou sy oë op die kaarte voor hom en hoor hoe haar stem, nou openlik ongeduldig, weer opklink: “Kas! Ek is haastig.”
Hy kyk eindelik op, direk na haar, na die koperrooi hare en die blou-blou oë, en sy opstand verdwyn soos mis voor die son. Hy druk die liasseerkabinet se laai toe, beweeg geredelik na die deur se kant toe. Hier êrens diep agterin hom sê iets hom hy is ’n swaap, ’n lafaard, ’n opregte lamsak om elke keer so geredelik te hardloop wanneer Liesel Dempers net die geringste versoek tot hom rig. Hy ken daardie rympie al uit sy kop. Dis al vier jaar lank wat daardie stemmetjie hom dit elke keer vertel, en hy weet ook presies wat hierop volg. Terwyl hy haar geringste wens uitvoer, sal hy met daardie stemmetjie redeneer: “Kyk, wat kan ek anders doen? Sy is my baas se dogter. Wie is ek om haar teen te gaan, haar ’n slag goed die waarheid te vertel, haar presies te vertel wat ek – en ’n groot deel van Grasbult – van haar dink? Dat sy opgeblase is, gans te groot vir haar skoene, tot in die verdoemenis bedorwe. Hoe kan ek, wat maar ’n vierdejaarklerk by die dorp se bekendste prokureur is, ék, ou Joop Burger se seun, ék, ’n brandarm kerkmuis wat grootgeword het in die onderdorp, vir Grasbult se voorste jong dame vertel dat dit tyd is dat sy haar hooghartige neusie laat sak, dat dit tyd is dat sy moet leer daar bestaan twee woordjies soos asseblief en dankie, dat dit tyd is dat sy moet leer geld en prestige en status is nie alles in die lewe nie?”
O ja, hy ken daardie ou storie uit sy kop. So sal hy staan en redeneer en verskonings aanvoer terwyl hy gelate haar jongste opdrag uitvoer. En wanneer hy aan niks meer kan dink om as verdere verskonings aan te voer nie, sal daardie stemmetjie die laaste woord sê. Hy sê dit altyd. “Jy is en bly ’n sot, Kasparus Burger,” sal hy sê, en hy wat Kas is, sal swyg maar saamstem!
Hy druk die skyfie met ’n finale slag teen die ruit vas en staan dan terug sodat die eienares kan verbykom om agter die stuurwiel in te skuif. Weer flits die blou-blou oë ongeduldig na hom op omdat hy nie dadelik die deur toedruk nie.
“Sê haar nou! Dis ’n ideale geleentheid. Sê haar nou sy is ’n mislike klein snob!” hou die stemmetjie vol, vandag besonder hardkoppig om terug te gaan na sy lêplek om daar te sluimer tot vanaand wanneer hy in die bed lê en hy dan na hartelus sy siel kan treiter.
“Komaan, Kas, ek is haastig. Wat is dit vandag met jou?”
Hy druk die deur met ’n taamlike slag toe, staan gedwee terug, voel hoe sy hart ineenkrimp toe hy die ietwat spottende hooghartigheid in haar oë lees. Sy weet! Hy is seker sy weet en sy vind dit amusant! Dan sien hy die oë verkil en dis asof hulle ’n direkte waarskuwing na hom uitstraal: “Hou jou op jou plek, Kas Burger! Ons is nie uit een kraal nie!”
Die rooi motortjie trek weg en skiet in die straat af. Dat sy nog nie vir spoed gevang is nie, is ’n wonderwerk. Of miskien ook nie so ’n wonderwerk nie. Liesel Dempers sal die duiwel van sy vurk berowe deur net te glimlag, en ou Daan Visser, hoofverkeersman van hierdie gebied, het in elk geval ’n swak vir mooi vroumense …
Hy sug, stap terug kantoor toe, merk nie eens op toe hy weer stelling voor die liasseerkabinet inneem dat sy baas nie meer agter sy lessenaar sit nie, maar by die venster staan en peinsend na die straat staar waar sy dogter ’n oomblik gelede verdwyn het. Hy sou, as hy nie so moes staan en worstel om weer sy gedagtes by sy werk terug te kry nie, opmerk dat Faan Dempers nie meer so baie na ’n liefdevolle, trotse pa van die mooiste jong meisie op die dorp lyk nie, maar veel eerder na ’n baie bekommerde pa.
Toe Kas by hom verbykom op pad na sy eie kantoor toe, roep sy stem die jong man tot stilstand.
“Kas …”
“Ja, meneer?”
Hy draai weg van die venster af, kyk die jong man stip aan. ’n Aantreklike seun. Nie mooi nie, maar ’n sterk gesig, karakter in die gelaatstrekke. Nog ’n bietjie seunsagtig, nog maar besig om man te word, maar die eerste belowende tekens is reeds daar.
“Hoe oud is jy nou?”
“Twee-en-twintig, meneer.”
“Liesel was pas agtien.”
’n Ligte fronsie pluk aan die jong man se vaal wenkbroue. Ja, dit weet hy. Sy het verlede jaar matriek geskryf, maar vandat sy maar nog in die laerskool was, is sy al ’n grootmensie. Op agtien het Liesel Dempers lankal haar kinderskoene ontgroei.
Hy kyk fronsend terug. Maar hoekom maak Faan Dempers daarvan melding? Wat het Liesel se ouderdom, wat het Liesel hoegenaamd met hóm te doen?
“Gaan jy ook na Rob se partytjie toe?”
“Ék? Nee, natuurlik … nie. Nee, meneer.”
Nou kyk Faan Dempers weg. Dit was ontaktvol van hom, besef hy. Natuurlik sal Kas Burger nie na Rob Rabe se partytjie toe gaan nie. Hy sal nie genooi wees nie. En al was hy ook genooi, sou hy nie gegaan het nie, vermoed die ervare mensekenner. Kas is nie op dieselfde golflengte as die groep jong mense waarin Rob Rabe en sy dogter beweeg nie. Nie net is hulle nie van dieselfde status nie, maar Kas is nie ’n juis een vir partytjies en sosiale verkeer nie. Eintlik is hy gans te teruggetrokke vir ’n jong man van sy ouderdom.
“Ek verstaan.”
“Hoekom vra meneer?”
Die jong oë is skerp. Faan Dempers kyk weg, kug, stap terug na sy lessenaar toe. Ja, hoekom het hy gevra? Sal hy rondborstig erken dat hy gehoop het Kas sal ook daar wees om ’n soort vaderlike oog oor sy pragtige dogter te hou? Maar hoe kan hy so iets verwag van so ’n jong man? Kas is self nog maar ’n seun, weliswaar gebrei deur ’n harde, arm jeug en boonop blind, soos wat hý blind is, vir sy dogter se foute – want Kas se geheim is lankal nie meer net sý geheim nie. Ook die pa weet wat in die jongmanshart omgaan elke keer dat Liesel, soos vanoggend, by die kantoor ingewaai kom net om gou “’n ou tjekkie” te kom haal …
Hy lees dit elke keer in die jong man se oë, in die manier waarop hy haar geringste wens oorhaastig uitvoer. Arme Kas! En dan kry hy selde eens ’n “dankie” daarvoor. Dit weet die pa ook. Hy het al sy dogter daaroor probeer aanspreek dat selfs “ou Kas”,