Engel van my hart. Kristel Loots
ction>
Engel van my hart
Kristel Loots
Hartklop
1
Breggie stoot haar bril teen haar neus op. Sy kan haar oë nie glo nie, ook nie haar ore nie. Sien sy reg? Hoor sy reg? Hoe kan Erik so taktloos teenoor haar wees? Nou, terwyl sy die ondersteuning van haar vriende en familie nodig het?
“Wat het ons hier, Erik?” vra sy en waai die vel papier in haar hand deur die lug. “ ’n Advertensie van ’n oogdokter met ’n wanderlust wat iemand soek om sy vuil werk vir hom te doen?”
Erik leun gemaklik teen die stoepmuur. “Nie sommer só ’n oogdokter nie, hoor,” verseker hy haar. “Hierdie ou is ’n oftalmoloog.”
“So sien ek, ja, ’n professor om die waarheid te sê. Lééf seker met sy neus in ’n boek. Dra heel moontlik ’n bril so dik soos bottelbodem-glas en lyk soos ’n preutse pruimedant met ’n wit jas aan.”
Ek maak my nou skuldig aan presies dit wat ek so in ander mense verpes: ek stereotipeer, besef Breggie met ’n skok.
“Wel, ek sal nou nie weet hoe lyk die man nie, maar onnosel kan hy nie wees nie,” sê Erik. “Hy moet ten minste sy sewe jaar basiese mediese opleiding voltooi het en daarna nog vier jaar in sy vak gestudeer het om hom as oogspesialis te bekwaam.”
Haar ouboet het duidelik nie vandag geduld met haar nonsens nie.
“Foei tog, ja. Hy’t natuurlik gegril vir die baie bloed toe hy as dokter begin praktiseer het en besluit om iets minder morsig te doen.”
“Soos ek verstaan, doen hy steeds ’n hele rits operasies, en dit strek heelwat verder as die verwydering van katarakte. Blykbaar skrik hy nie vir die nuutste tegnologie of om sy hand aan radikale behandeling te waag nie.”
Breggie snork. “Maklik genoeg as dit nie jóú oë is wat op die spel is nie.”
“Ek kry die idee die man weet wat hy doen. Lyk my hy draf soggens sommer voor brekfis al deur ’n hele paar Lasik- en Lasek-operasies.”
Breggie gaap. Sy’s nou eenmaal nie ’n oggendmens nie, en om vroegoggend hierdie gesprek te voer, vra te veel van haar.
“Lasik en Lasek? Dit klink soos die name van ’n tweeling uit die mitologie. Weet jy ooit waarvan jy praat?”
“Natuurlik, Breggie. Jy weet ek stel net soveel daarin belang as jy.”
“Verskoon my! Ek stel juis nié daarin belang nie.”
Breggie wil huil. Dít het sy nie vandag nodig nie – om herinner te word aan haar achilleshiel. Die vrees wat in haar nek blaas en vir jare lank al haar vreugde en haar vrede met soveel wreedheid aanval.
“Lasek is die alternatiewe laserbehandeling vir pasiënte wat nie met Lasik gehelp kan word nie omdat hul korneas te dun is of hul oë te diep in die oogkasse,” verduidelik Erik.
“Ek en elke ander bobbejaan wat al van laserbehandeling gehoor het, weet dit, Erik. Jy beïndruk niemand nie.”
“Dis nie al wat hierdie ou doen nie, hoor. Hy is glo ’n kenner as dit kom by die inplanting van lense.”
“Nogal, nè?”
Erik knik. “Nogal, ja,” antwoord hy onverstoord. “Hy was glo een van die eerstes wat die Tecnis Z9000-lens, wat nagvisie verbeter, in Suid-Afrika begin gebruik het.”
Breggie kan nie help om te lag nie. “Stadig met die jargon, Erik! Dit klink of jy ’n oftalmologiese woordeboek ingesluk het.”
Hy lag saam. “Dis net dat ek die man se kennis en waagmoed bewonder. Lyk my sy werk is sy passie, en vir so ’n ou het ek groot respek.” Erik se hande praat geesdriftig saam. “Hy het ook die AlphaCor kunsmatige kornea aanvanklik aan oftalmoloë hier bekend gestel toe hulle nog huiwerig was om dit te gebruik.”
“Asseblief, Boet, jy verveel my!” probeer sy hom stilmaak. “Ek kry die idee. Die man is dus ’n baanbreker. ’n Voorloper. ’n Waaghals. Ek ken hom nie, maar ek hou uit beginsel nie van hom nie. Ek haat medici wat mense as proefkonyne gebruik om glorie en goud vir hulself in te palm.”
Hoe het ons tog nou weer hier beland? wonder Breggie. Asof sy nie genoeg het om te verwerk nie! Moes Erik nou juis vandag hier aangesit kom met ’n storie oor ’n oogdokter wat ou bakens en grense verbysteek? Tipies! Dwase foeter hoeka in waar engele maar eerder sal verbyvlieg.
“Jy oordeel sonder dat jy die feite ken,” betig Erik. “Nie alle dokters is soos die kwak wat Ouma behandel het nie, Breggie. Hy het duidelik nie geweet wat hy doen nie.” Daar is deernis in sy stem. “Die AlphaCor kan natuurlik ’n wonderlike hulpmiddel wees vir pasiënte wat kornea-oorplantings gehad het wat misluk het.”
Sy weet na wie hy verwys, maar sy hou haar dom. Sy sal haar nie vandag laat uitlok om ou wonde oop te krap nie.
“Ook kan ek nie glo hierdie man wat so hoog aangeskrewe in sy vakgebied is, sal iets aandurf wat nie reeds deur die eksperimentele fase is en behoorlik getoets is nie,” borduur hy voort.
“Aarde tog! Het die ou jou gehuur om sy beuel te blaas of wat? Hoe weet jy in elk geval al hierdie dinge oor hom?”
“Op die internet gaan soek en alles gelees wat ek oor hom in die hande kon kry. Professionele inligting, hoofsaaklik.” Hy aarsel. “Dis net van sy persoonlike sake wat ek niks kon opspoor nie. Die man beskerm beslis sy privaatheid.”
“Dan het hy heel moontlik iets om weg te steek.”
“Miskien. Ek weet nie. Ek hoop nie so nie. Daar was wel ’n beriggie oor hom en sy broer op die sosiale blad van ’n koerant toe hulle saam by ’n liefdadigheidskonsert opgedaag het, maar nie ’n foto nie.”
Breggie luister skaars. Sy stel nie ’n snars belang in een of ander vreemde oogarts se professionele óf persoonlike lewe nie. Sy sug. Sy moet Erik seker innooi. Dis verspot om soos vreemdelinge hier op die stoep te staan en gesels. Maar eintlik sal sy verkies dat hy sy ry moet kry ...
“Nou goed, Erik, ek hoor jou – die man is superslim en verrig wondere. Maar dan wil ek nog altyd weet: wat het dit met mý te doen?”
“Wel, ek het gedink dit behoort jou te interesseer. Dat jy sou belangstel om aansoek te doen vir die pos wat hy adverteer.”
“Ek? Hoekom ek? Net omdat ek ’n bril dra? Laat kwalifiseer dít my vir die pos?” Sy lag bitter. “Jy’s nes al die ander! Sien net my bril raak en te hel met die res. My totale identiteit word met my bril geassosieer. Dit maak my siek!”
“Wag nou, Breg, jy oorreageer soos gewoonlik.”
“Dis maklik vir jou om te praat, Erik. Vir jou was daar meer genade toe daar uit die genepoel geskep en uitgedeel is. Al wat jy van Ouma geërf het, was die staanhorlosie en die familieportrette. Ek was minder gelukkig.”
Erik trek sy gesig in ’n oordrewe gepynigde uitdrukking. “Ai tog, Breggie! Soveel melodrama en dit op my nugter maag!”
Hy’s seker reg, dink Breggie vies. Sy voel ’n bietjie simpel, sy met haar neuroses.
“Dis net ... Liewe hemel, jy behoort teen hierdie tyd te weet ek haat álle oogkundiges! Die laaste ding wat ek wil doen, is om meer dikwels skouers te skuur met een as wat absoluut noodsaaklik is.”
“Dis waar jy die fout maak, jy én Pa. Julle loop wye draaie om die mense wat julle kan help.”
“Of vir ons kan vertel wat ons nie wil weet nie ...”
“Breggie, jy’s laf! Dis nie te sê dieselfde lot wat Ouma getref het, lê vir julle voor nie, veral nie vir jou nie. Jy’s jonk en gesond, jy makeer op die aarde niks.”
Sy sien hoe pluk ’n glimlag aan sy lippe. “Jy het ’n pragtige paar oë. Heeltemal funksioneel ook. Selfs al moet jy, soos derduisende ander mense, ’n bril dra. Niks om ’n Griekse tragedie van te maak nie.”
“Dis nie so eenvoudig nie. Baie oogprobleme is oorerflik. Kyk vir Pa! Kyk wat is besig om met hom te gebeur. Hy