Onder die radar. Dana Snyman
section>
Dana Snyman
Onder die radar
STORIES UIT ONS LAND
TAFELBERG
Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.
– N. P. van Wyk Louw
STANINGS
Gaatjiebrood
Patricia is skaars by die agterdeur in, toe vra sy: “En as jy so onderstebo lyk vanmôre? Waar’s Mevrou? Is sy al weer stad toe?”
Ek sit by die tafel voor die venster met die koerant oop voor my, soos ’n padkaart na nêrens: moorde, verkragtings, rooftogte, korrupsie.
Hulle het ook in die nag weer ingebreek by Leon-hulle van oorkant die straat.
Na die suide toe, in Moerie-se-Baai se koers, talm ’n misbank oor die diepsee, merk ek deur die venster. Dit beteken teen elfuur se kant gaan die wind tussen die bossies deur geskuur kom en aan die huis kom ruk en pluk.
Patricia Rabie kom twee keer ’n week van Diazville naby Saldanha af om te kom skoonmaak en om my die omgewing se skindernuus te vertel. “Het jy sleg geslaap?” vra sy. “Wat’s fout?”
“Ek sit sommer en dink.” Ek is nie lus vir praatjies nie.
“O, nè? Jy sit sommer en dink.” Patricia sit haar handsak neer en maak die yskas se deur oop.
My drie honde lê stywebeen op die bank en slaap.
Partykeer kyk ek na my tuin en die lap renosterveld en Kwaaibaai se rotsagtige inham anderkant dit, en dan verbeel ek my ek weet presies wat is fout met hierdie aarde en met my wat dit bewoon. Maar sodra ek woorde daarvoor wil gee, glip die woorde weg, en bly net ’n vae gevoel van verlies oor. Soos vanmôre.
“Ek dink ek moet vir jou gaatjiebrood vir brekfis maak – Jerome-se-gaatjiebrood. Is hier eiers?”
“Wat’s gaatjiebrood?” vra ek. “En wie’s Jerome?”
Sy haal ’n eier uit die rakkie in die deur. “Jerome is ’n vrou wat lank gelede in ons straat gebly het se seuntjie.” Sy sit die eier op die kas neer.
“O,” sê ek. “En?”
“Jerome’t altyd vir homself gaatjiebrood gemaak. Ek het dit by hom gesien. Foeitog.”
Patricia talm nie as sy eers besluit het sy weet wat jy nodig het nie. Gou is die bestanddele bymekaar vir Jerome-se-gaatjiebrood:
Een hoendereier, gelê deur ’n losloophen,
twee gawe snye witbrood,
kookolie,
sout,
peper.
Dan haal sy my oorle ma se basaarpan uit die kas onder die wasbak, skink ’n leksel olie daarin en maak die gasstoof brand, met die vlam klein gedraai. En dan sit sy die twee snye brood opmekaar, vat ’n messie en sny ’n groterige sirkel in die middel uit. Die binnekantste gedeelte – twee broodwieletjies – haal sy uit en sit dit eenkant neer.
In die middel van die twee snye is nou ’n dammetjie – ’n leë dammetjie.
Ek gaan staan by Patricia.
“Ek wonder wat het van Jerome geword,” probeer Patricia my stilte wegpraat. “Hy was daai tyd sommer nog ’n klonkie. Elf, twaalf jaar oud.”
Nou neem sy die twee snye brood met die gaatjie in en lê dit in die pan te ruste, in die lagie olie, wat oënskynlik nie borrelwarm moet wees nie. Dan tel sy die losloophen se eier van die kas af op, kraak dit teen die stoof se rand en laat die eier se geel en wit by daardie gaatjie, daardie dammetjie, inloop. Sjjjj.
Gou slaan ’n vars reukie uit die pan op en die drie honde wip van die bank af en kom nader, vasgevang tussen hul neuse en hul waaiende sterte.
Ek en Patricia staan en kyk na die pan asof dit ’n spieël is wat niks terugkaats nie. Die eier in die gaatjie borrel en bewe.
“Jerome se pa was ’n gemors.” Patricia druk-druk met die spaan op die brood. “Hy’t Jerome se ma geslaat, en dan huil Jerome se ma, en dan kom ek daar, dan staan Jerome voor die stoof. Dan vra ek vir hom: ‘Wat doen jy, Jeromepie?’ Dan sê hy: ‘Ek maak vir my gaatjiebrood, antie Trish.’”
Die eier in die gaatjie is nou byna soos ek daarvan hou: sag maar nie te sag nie, loperig maar nie te loperig nie. En die brood is bruin gebraai, maar nie te bruin nie.
Patricia wikkel die spaan onder alles in en draai die twee snye om. Sjjjj, maak die eier weer.
“Ander kere gaan bad Jerome se pa, dan sê hy vir Jerome se ma: ‘Stuur Jerome vir my.’ Dan stuur sy vir Jerome, en later dan hoor sy Jerome daar binne roep: ‘Eina! Eina!’ Later as ek daar kom, is Jerome by die stoof, dan maak hy vir hom gaatjiebrood.”
Ek kyk na Patricia en ek weet sy weet ek weet nie wat om te sê nie.
“Kry vir jou ’n bord.” Sy beduie na die kas.
Ek haal een van my oorle ma se Swinnertons-borde – Made in Staffordshire, England – uit.
“Een ding moet jy nooit vergeet as jy vir jou gaatjiebrood maak nie.” Patricia tel een van die broodwieletjies op wat sy vroeër uitgesny het. “Hierdie stukkies moet jy altyd weer terugsit, altyd, altyd.”
Sy druk die wieletjie terug in die gaatjie, byna soos ’n prop pas dit daar in. Daarna draai sy die brood om en doen dieselfde aan die ander kant.
“Bring.” Sy vat die bord uit my hand, druk die spaan onder die gaatjiebrood in, lig dit uit die pan en lê dit in die bord neer.
Dit lyk na ’n gewone geroosterde broodjie. Die eier aan die binnekant is my en Patricia se geheim. Ons twee, en Jerome s’n.
Ek gaan sit weer by die tafel en neem die eerste hap. Die wit van die eier het in die brood ingesypel en gee dit ’n soet smaak.
Die misbank oor die diepsee in Moerie-se-Baai se koers is nie meer daar nie, sien ek toe ek deur die venster kyk. Die mis het gelig.
Miskien sal die wind nie vandag waai nie.
Tolbos
So ’n droogte vergeet ’n mens nooit nie. Dit bly iewers in jou sit.
Dit was die jaar toe ek agt geword het, die jaar toe dit wéér nie in ons deel van die Noord-Kaap gereën het nie. Selfs die vaalbos se blare het verlep, en laatmiddag kon jy nie meer die dorpsooms op hul voorstoepe hoor lag nie. Hulle het aan hul kromsteelpype se stele gekou en hul oë het pal deur die lug gesoek, terwyl ’n tolbos oor die dorpsplein rol en hulle praat oor boorgate wat opdroog en perskebome wat nie dra nie.
Die son het die dorpsdam se laaste water kom vat en net ’n laag modder het oorgebly, wat begin kraak en bars en opkrul het, asof die aarde besig was om velaf te gaan.
Dit was asof alles stadiger begin beweeg het: uit Kuruman se koers het oom Gert se vaal Thames-lorrie stadig met ’n vrag voer vir sy dorperskape en sy Jerseykoeie in ’n lugspieëling aangedryf gekom, en in die Commercial Hotel se kroeg het oom Johnny stadig met ’n glas whiskey na sy mond gesoek, want die man van die bank het klaar vir Haasfontein kom opeis.
Soms het so ’n simpel wind vir ons rooi Kalaharisand gebring wat rondom die klapperhaarmatjie by die voordeur saamgepak het.
En later het Pa opgehou om die pampoenrank agter in die jaart met ’n gieter water te gee.
Die wêreld se probleme het vir ons onbelangrik geword. Niemand was meer bekommerd oor die Sappe se oorwinning in ’n tussenverkiesing in Pinetown of die oorlog in Viëtnam nie. Elke aand