Vlis met vlerke (skooluitgawe). Annemari Coetser
Vlis met vlerke
Skooluitgawe
Annemari Coetser
Tafelberg
1.
Die verveligste vakansie ooit
’n Aaklige gil weergalm deur die kombuis. Die geluid kom vanaf die deur wat na die donker gang lei.
Oomblikke gelede het Andine nog op ’n groen stoel by ’n houttafel in ’n vreemde kombuis haar sit en verveel. Zander, haar jonger boetie, het teen die tafel geleun en ’n speletjie op sy PSP gespeel.
Nou sit hy styf langs haar op die stoel en hulle arms klou om mekaar vas. “Wat is dit?” Sy vingers boor in haar arms in; sy ruik sy stowwerige seunskind-asem. “Wat maak so?”
Die ding tjankskree weer en haar nekhare rys. Dis ’n spooky geluid, soos ’n gees wat sukkel om sy stembande weer te laat werk, of soos ’n alien.
“Ek weet nie,” fluister sy.
Sy weet flippen regtig nie, sy wens sy het geweet.
Hoog teen die deurkosyn sweef iets ronderig die kombuis in; ’n weird, sagte, swart vorm. Dit swiep weer terug. Die lig is te dof om mooi te sien, maar elke keer wanneer die ronderige swart ding inswiep, skree die spokerige affêre.
Toe die ding weer die kombuis binnesweef en lelik kerm, gil Andine verskriklik. Sy gryp vir Zander en sleepdra hom in die rigting van die slaapkamer waar die grootmense is.
’n Klomp goed gebeur gelyk.
Die kamerdeur vlieg oop.
“Wat is dit? Wie skreeu so?” Jam hardloop na hulle toe. Sy trek hulle af grond toe en vou haar arms beskermend om hulle, soos ’n hen wat haar kuikens bymekaarmaak.
Oom Frans loop met lang treë verby hulle na die donker gang en roep hard: “Thapelo!”
’n Seuntjie hardloop die kombuis binne. Hy lag soos ’n perd wat runnik; jy sien net sy spierwit tande. Hy swaai ’n swart verestoffer rond en skeur hom vir sy eie grappie.
Jam vlieg van die grond af op. Sy gee net ’n paar groot treë, toe is sy by Thapelo. Haar kort lyf in die bruin sweetpak lyk soos ’n oorlogstenk in volle vaart. Sy trek haar hand ver terug, bal haar vuis en mik na sy kop. Andine dink sy gaan hom met een hou verpletter.
Hy dink ook so en koes. Jam lag en gee hom ’n drukkie. “Eish! Thapelo,” sê sy. “Jy’s nog net so ’n terggees. Jy het ons almal uit ons skoene uit laat skrik, jou otter!”
Sy sit haar hande op sy skouers en draai hom om na Andine en Zander toe. “Hierdie stoutgat,” sê sy, “is oom Frans en tannie Elize se grootmaakkind, Thapelo. Sy ma hou skool, maar hierdie vakansie werk sy aan ’n projek.” Sy skud Thapelo effens. “Sê vir Andine en Zander jy’s jammer, toe. Dadelik.”
“Sorry,” brom hy. “Ek het nie geweet julle sal vir ’n ou verestoffertjie skrik nie.”
“Die kinders is ons gaste,” sê oom Frans kwaai.
“Toemaar.” Jam gee vir Thapelo nog ’n drukkie.
Andine gluur hom aan voor sy weer op die groen stoel langs die tafel gaan sit. Die klein pes. Dit lyk asof hy en Zander ewe oud kan wees, maar hy is ’n bietjie korter as Zander. Haar hart klop nog soos ’n outydse wekker in ’n koekblik. Wat gaan op hierdie weird plek aan? Is Jam mal om hulle hierheen te bring, na ’n plot wat soos ’n scene uit ’n horror movie lyk? En dit net omdat sy verplig voel om haar siek tannie te kom versorg. Sy is hulle au pair – Andine en Zander s’n – nie haar tannie se verpleegster nie. Dis skoolvakansie en sy is veronderstel om lekker dinge saam met hulle te doen. Jam gaan so in die moeilikheid wees as hulle ouers dit uitvind. Nie dat ’n mens die twee met e-pos of hoe ook al in die boendoes van Oezbekistan waar hulle gaan bergklim het in die hande sal kry nie.
Zander is nog doodsbleek. Shame, hy het hom half simpel geskrik. Haar arme boetie is maar ʼn bietjie van ʼn nerd – die ene tande, maer bene en knopknieë, al dink hy hy lyk cool met sy hare wat hy jel om in penne op sy kop regop te staan, net soos Jam s’n. Hy het op die internet gaan kyk waar Oezbekistan is, want hy wou saamgaan. Sy ril. Sy sal sewe floutes kry tussen al die slange en spinnekoppe. Nee wat, in Desember gaan hulle Disneyland toe. Dis meer haar scene.
Andine stryk met haar rooi naels oor haar nuwe distressed jeans. Dit pas by haar rooi horlosieband en rooi toppie. Sjokoladebruin is glo die nuwe swart. Wanneer Jam klaar is met haar charity-werk op die plot gaan Andine vra dat hulle mall toe gaan sodat sy iets in bruin kan gaan koop. Hoekom praat Jam se oom van kinders? Sy vererg haar sommer. Zander is nege en natuurlik nog pure kind, maar sy is al twaalf.
“Jean-Marie, wat maak julle nou?” roep ’n klaerige outanniestem uit die kamer langs die kombuis.
Zander lag hardop. “Jean-Marie,” terg hy.
“Ek kom tannie,” roep Jam. Sy druk haar wysvinger teen Zander se neus en sê sag: “Die vorige ou wat my so probeer noem het, lê in sale sewe, agt en nege in die hospitaal en …”
“… en jy haat die naam,” val hy haar in die rede. “Jy het gedink JM sal cool klink, maar toe noem almal jou Jam. Ons ken die storie. Toemaar, Jam pas by jou. Jou hare is so rooi soos tamatiekonfyt en jy kook.”
Voor sy by haar tannie se slaapkamer ingaan, gee Jam ʼn paar danspassies om te wys presies hoe cool sy is en hoe sy kook. Oom Frans lag vir haar. So, dan het hy darem ’n sin vir humor, dink Andine. Dis omdat hy weggaan dat Jam hulle hierheen gesleep het om sy vrou op te pas.
“Oom Frans, is daar ’n pakkie hoendersop wat ek vir tannie Elize kan maak?” vra Jam toe sy weer in die kombuis kom. Sy klap haar vingers, gee links en regs bevele en gou is hulle tasse uit die motor gehaal, het sy sop na haar tannie geneem en vir hulle almal ’n macaroni-en-kaasgereg gemaak.
“Nou ja toe,” sê sy na ete. “Ek sal vanaand die skottelgoed was, maar van môre af moet almal help.”
Andine kyk na haar naels. Sy sê niks nie, maar sy dink baie. Sy het nog nooit ’n dag van haar lewe haar vingers in skottelgoedwater of in die grond gehad nie. Sy dink nie dis nou die tyd om te begin nie.
“Ek weet ons het nie ver gery hierheen nie, maar ek dink dis tyd dat julle in die bed kom,” reël Jam asof sy ’n oorslaappartytjie organiseer. “Zander, jy slaap by Thapelo in sy kamer en Andine, jy slaap in die vrykamer.” Sy rol haar oë en maak met haar vingers in die lug aanhalingstekens terwyl sy “vrykamer” sê.
Andine lag. Sy sal dit nooit aan haar ma en pa erken nie, maar sy is mal oor Jam. Dit was die beste idee ooit toe hulle besluit het om ’n inwonende au pair te kry. Sy is nog jonk, net 21. Sy was net vir twee jaar op universiteit, toe skop sy op. Maar sy het sielkunde geswot en dit het Andine se ma natuurlik baie beïndruk. In die oggend gaan doen sy die inkopies vir die huis en so aan. In die middae vat sy vir Zander na sy kunsklasse en vir haar na haar kitaarlesse en spraakterapie.
Oom Frans stap vooruit en sit so ver as wat hy stap ligte aan, maar Andine kry hoendervleis in die lang donker gang. Die blerrie Thapelo – nou skrik sy vir elke skaduwee. Sy loer by die sitkamer in waar blou stoele staan asof hulle al voor die skeppingsdag daar neergesit is, met beige gehekelde lappies oor die rug- en armleunings. Daar is ’n snaakse, muwwe reuk in die vertrek. In die een hoek hang ’n varing in ’n groot pot van die oop dakbalke af. Dit lyk nie asof daar ’n TV is nie. Wanneer almal slaap, kom sit vreemde groen aliens met slurpieneuse seker op die stoele en gesels met mekaar.
Zander kom gee haar ’n drukkie voordat hy en Thapelo na hulle kamer toe gaan. Hy brom saggies “liefvirjou”, so vinnig dat dit soos een woord klink.
Die flippen weird kind, dink sy. Altyd “liefvirjou” of “baieliefvirjou” as hulle mekaar groet of nagsê, asof hy enige oomblik op ’n 9/11-vliegtuig gaan vertrek en wil seker maak sy laaste woorde was dierbaar. Maar elke bekende asem in hierdie scary huis is darem ’n bonus.
Die bad is bruin gevlek en daar is ’n koekie rooi Lifebouy-seep op die wasbak. Gelukkig het sy haar eie seep en badskuim saamgebring. Sy was haar gesig met ’n cleanser voordat sy badwater intap.
In die bad