Eensaam op Wegdraai. Ena Murray
Ena Murray
Eensaam op Wegdraai
Jasmyn
1
Hulle sit langs mekaar op hul pa se voorstoeptrappie.
As jy nie ’n inwoner van of ou bekende op Jagershoek is nie, kan jy as verbyganger nou tussen twee gedagtespore wik en weeg. Daar skort óf skielik iets met jou oë; óf, as jy miskien ’n skuldige gewete oor die vorige aand het, die voggies het nog nie klaar in jou sisteem gegis nie. Want jy sien steeds twee-twee goed waar net een moet wees.
Nie een van die twee spore waarop jou gedagtes huiwer en hink, sal egter in die kol wees nie. Want wat jy sien, sien jy regtig en in duidelike fokus: twee meisiekinders – die een presies soos die ander, die tweede ’n replika van die eerste, duplikaat van kop tot tone, vinkel en koljander, hoe jy dit ook al wil beskryf.
Soos die twee langs mekaar sit, geld ’n beskrywing van die een ook vir die ander: ligte hare in ’n stywe poniestert met ’n rekkie saamgevat, van voor ’n gordyntjiekop. Die fynbesnede gelaatstrekke is nie te skoon nie, want hulle het so ’n rukkie gelede saam met die dorpseuns op die oop kol aan die onderpunt van die straat sokker gespeel.
Van die skouers af tot by die kaal voete met die identiese tone – tot die skewe middeltoontjies aan die linkervoete kompleet – skraal, amper seunsagtig, totdat jy met ’n meer opmerksame oog die ontluikende vroulikheid voor jou sien.
En dis hierdie ontluikende vroulikheid wat vir die tweeling die oorsaak van baie ellende, kommer en ontsteltenis is. Ontluikende vroulikheid en ... juffrou Estelle Huizeman.
Al hierdie onverwagse en onwelkome omwentelinge het sowat drie maande gelede begin. Tot daardie dag toe was hul lewetjies rustig, vol vreugde en vol gesonde onnutsigheid. Al kommer en hartseer wat hulle geken het, was dat tant An gaan raas omdat daar weer ’n knoop in die slag gebly het terwyl hulle saam met die seuns rugby gespeel het, of dat hul skoolwerk nie na wense gedoen is nie. Verder was dit ’n geluksalige, kommerlose bestaan. ’n Ware utopie.
Van hul eerste kinderjare onthou hulle nie veel nie. Vaag agter in die geheue van die twee blondekoppies is wel nog die herinnering aan iemand – iemand met lang, blonde hare, sagte blou oë en ’n pragtige glimlag: iemand vir wie hulle “Mamma” gesê het.
Hulle was maar net ses jaar oud toe Mamma van die toneel af verdwyn het. Hoewel hulle ook nog onthou van ’n groot hartseer destyds, ’n gesoek, ’n gehunker, het herinnering saam met kindersmart die afgelope jare vervaag.
Wat wel helder in hul herinneringsveld lê, is die afgelope paar jaar – en toe was dit net hulle, Pa en tant An in die groot huis met die twee stoepe, die hoë staandak en die houtveranda met die mooi sierkrulletjies.
Die kortaf pa het die plek ingeneem van die sagter pappa nadat tant An op ’n dag skielik haar verskyning in die huis gemaak het.
“Ek gaan vir julle pa sê” was ’n sinnetjie wat hulle van daardie dag af heel dikwels moes hoor, en só het Pappa toe maar sommer net Pa geword.
Tant An het deel van die huis geword, soos die meubels deel daarvan was. Sy was wel al oud – haar man lankal dood, soos sy die belangstellende tweeling aan die begin vertel het – maar sy was nietemin daar; die persoon wat gesorg het dat daar goeie, gesonde kos op die tafel verskyn, dat die tweeling se klere heel en in orde bly. Ook dat hulle elke aand bad, hul ore uitwas, en hul vingernaels soggens skoon is voordat hulle skool toe gaan.
Tant An het self nooit kinders gehad nie. Ná ’n paar powere pogings aan die begin het sy besluit solank die tweeling gevoed en geklee is, is haar deel van die groot opvoedingstaak afgehandel. Die res, die fynere puntjies van opvoeding, sou sy aan hul pa oorlaat.
Maar Pa, weliswaar baie lief vir sy identiese tweeling, het nie altyd tyd gehad om aandag aan die sensitiewe kwessies van vroulike opvoeding en afronding te gee nie. Hy was ’n baie besige man. Net voordat die tweeling vir die eerste keer skool toe moes gaan, is hy die hoofskap van Jagershoek se wankelende hoërskooltjie aangebied. Dit het op ’n sielkundig kritieke tydstip gebeur. Hy was nog ’n verslae man weens sy pragtige vrou se onverwagse heengaan tydens ’n operasie. Hy het met ’n tweeling van ses jaar oud gesit. Hy self was maar nog dertig. En boonop was dit twee meisietjies ...
Hierdie nuwe betrekking sou weer rigting aan sy lewe gee. Hy het met mag en mening ingeklim in die groot taak om Jagershoek se skool van ondergang te red. Hy het geen moeite en tyd ontsien om die skool weer te probeer opbou nie, en ná sewe jaar het die sukses soos reën ná ’n sprinkaandroogte gevolg. Die skool het weer stewig op sy bene gestaan, daar was geen sprake dat dit sou kwyn of selfs van die toneel af verdwyn nie. Inteendeel. Omdat hy net die beste van sy personeel geëis het, en self so toegewyd was, het die skool wyd bekend geword en selfs kinders van ander dorpe begin trek.
Maar in hierdie opboustryd het die tweeling emosioneel verdwaal, byna weggeraak. Hulle is al hoe meer aan hulself oorgelaat. Hulle het gekom en gegaan soos hulle wou. Solank hul skoolwerk gedoen is en hul rapporte bevredigend was, was daar geen probleem by Pa nie. En solank hul ore en vingernaels soggens voor skool skoon is, was tant An tevrede. Dus, die afgelope sewe jaar was dit vir hulle ’n bestaan van saligheid soos min kinders geken het.
Wanneer daar op Jagershoek van Die Tweeling gepraat word, is dit duidelik met hoofletters. Daar is twee redes. Jagershoek het net een tweeling en hulle is beslis die wildste, slordigste en onnutsigste kinders op die dorp, of hul pa nou skoolhoof is of nie. Waar die predikant se kinders gewoonlik as die stoutste beskou word, was dit op Jagershoek die skoolhoof s’n. Nie dat enigiemand die pa of tant An daaroor verkwalik nie. Wat Henk Beukes vir hierdie skool gedoen het, sal hulle hom ewig dankbaar wees en daarom baie dinge oor die hoof sien, en tant An was al oor die sewentig. Ook nie dat Die Tweeling lelik stout was nie. Hulle het net die gawe besit om aan dinge te dink waaraan ander kinders nooit sou dink nie. Natuurlik omdat hulle te veel tyd gehad het waarin hulle hulself moes vermaak, het die Jagershoekers besef, en maar net die kop goedig geskud.
Die Tweeling het beslis ’n baie sagte plekkie in die hart van Jagershoek se mense gehad, ondanks al die kattekwaad, hul wildheid en die feit dat hulle middae ’n uur ná skool net nog aan die blonde poniesterte uitkenbaar was. Verder het hulle soos hul seunsmaats gelyk – T-hempies, klinknaelbroeke en kaalvoet.
Dit was die utopie waarin hulle gelewe het tot onlangs ... totdat ene juffrou Estelle Huizeman nuut in hul pa se skoolpersoneel aangestel is en Die Tweeling se klasonderwyseres geword het, en totdat haar arendsoog die ontluikende vroulikheid raakgesien het.
Juffrou Estelle Huizeman het meer dinge raakgesien. Sy het gesien dat die tweeling ’n aantreklike pa het, en sy het tot die slotsom gekom dat sy net die ideale vrou vir hom sal wees. Nie dat sy die eerste was wat al tot daardie gevolgtrekking gekom het nie. O nee. Deur die jare het ’n hele paar welmenende dames gedink dit is hul plig om hom te hulp te snel met die opvoeding van die tweeling en hom te verlos van sy eensame wewenaarskap. Tot dusver het niemand nog juis sukses behaal nie. Nie dat daar iets geskort het met Henk Beukes nie. Nee. Hy is ’n doodnormale man.
Hy het wel al soms die afgelope sewe jaar die eensaamheid aan hom voel knaag, die verlange na ’n lewensmaat sterk in hom voel bruis. Maar dan het hy aan sy kinders gedink en wyslik besef dat dit ’n besondere vrou sal moet wees vir wie die tweeling as ’n ma sal aanvaar ... en hier was op Jagershoek, met alle respek teenoor al die gawe, goeie, hubare dames, niemand besonders nie – nie besonders genoeg vir die tweeling nie, het hy instinktief geweet.
So het menige drome maar later verwater en verdwyn.
Maar juffrou Estelle Huizeman het besluit dat dit beslis nie kan kwaad doen om net te waag nie. Sy was al aan die verkeerde kant van dertig, en hoewel sy niks laat blyk het nie, het sy ligtelik paniekerig begin word oor die stand van sake. Maar sy het ’n ander taktiek as die ander uitgewerk. Die fout wat haar voorgangers gemaak het, was om Henk Beukes te openlik te toon waarop hulle afstuur. Sy sal ’n bietjie slimmer wees, meer subtiel te werk gaan. Sy sal met die tweeling begin en deur hulle die pad na sy hart vind.
’n Goeie, verstandige besluit, maar ... sy het die tweeling onderskat.