Vaselinetjie. Anoeschka von Meck
Maar dít wat Vaselinetjie wou hê sy moes sê, dit het Ouma nie gesê nie. Dat sy kan huis toe kom. Dat dit een groot fout was om haar weg te stuur en dat sy nooit in der ewigheid weer na hierdie mislike plek hoef terug te kom nie.
“Ons gaan Kentucky eet” of “My pa vat ons altyd vir Wimpy-burgers” luister sy na die gespog van die kinders wat vir die vakansie uitgaan. En al wil sy of die ander wat moet inbly nie hoor van al die lekker goed nie, kan hulle nie help om daarna te luister nie.
“En tjek my, ek beter als inpak, want ek sê vir julle een ding: na hierie hool toe kom ek nie terug nie,” sweer die een kind ná die ander terwyl hul tasse voller en hul kaste leër word.
Dat party wat na pleegouers gaan, dalk nog lank voor die vakansie verby is deur die mense teruggebring gaan word, is nie nou hulle bekommernis nie. Dan lag die ander kinders hulle uit omdat hul plasing misluk het.
“Jy score darem gewoonlik ’n paar weke uit die kinderhuis en nuwe klere wat die mense jou laat hou omdat hulle skuldig voel omdat hulle jou nie kon verdra nie,” sê Killer.
Sommige kinders kom met soveel gesteelde goed terug dat hulle weke ná die vakansie nog geld maak uit die dorspkinders wat pouses horlosies, sonbrille, juwele en selfone by hulle koop. Met hulle winste koop hulle tjips en pies by die skool se snoepie en eet dit saam met hulle tjommies, tot die geld op is.
“Ons het genoeg gehad van Madiba se pap-en-brood, pap-en-brood,” lagsing die uitgaankinders.
Vaselinetjie gaan staan reg onder die REG TOT TOEGANG VOORBEHOU-bord toe die busse met die vakansiekinders vertrek. Sy hou aan met skop teen die paal tot die busse lankal teen die heuwel af verdwyn het. As sy kon, sou sy die hele kinderhuis afskop tot op die grond. Baksteen vir blerrie baksteen.
Om kwaad te wees, is beter as om te tjank.
“Bosman vir pos, Bosman vir pos!”
Die maatskaplike werkers se kantore is gedurende die vakansie gesluit, maar een is altyd op roep. Vir die kinders wie se koppe uithaak omdat hulle moet inbly, of dié wat in elk geval so nou en dan die fyn horries kry sonder enige spesifieke rede behalwe dat hulle lewens suck.
Wie ook al aan diens is, kom loer by die sitkamers in en ruk die grotes wat mekaar aan die nek suig en hiekiemerke los van mekaar af weg en deel die pos uit.
Vaselinetjie is bly dis nie meneer Kedibone nie, want sy het hom nog nie vergewe dat hy haar verniet na die vakansie laat uitsien het nie. Killer sê kinderhuiskinders leer om baie te verdra, maar hoop is die ergste. En die wreedste.
Dis ’n pakkie van die huis af. Sy kan dadelik sien Ouma het dit toegedraai, want die tape is dubbeld geplak. Daarna het Oupa die boks netjies met tou toegedraai en vasgebind. In swart bewerige letters staan daar groot: MEJ. HELENA BOSMAN.
Sy pluk haastig die papier af. Binne-in is ’n klomp eetgoed. Gekooptes en gebaktes. Sy wil nog vir Ouma-hulle kwaad wees dat sy in dié plek moet sit, maar hoe meer sy in die boks grawe, hoe meer gaan haar kwaad weg en klop daar ’n huilverlange in haar keel.
Daar is tandepasta, sjampoe, nuwe pienk roll-on, room én ’n sakkie skeermesse! Sy is skaam om dit voor die vreemde maatskaplike werker uit te haal, want sy het nog nie begin om haar bene te skeer nie. Daar is ook ’n geskenk van die gemeente se anties: twee spierwit waslappies met op elkeen ’n bloedrooi roos met die hand uitgewerk.
Ook ’n briefie met ’n groen noot in. Vaselinetjie het vir Ouma-hulle laat weet hulle moet geld in ’n tandepastaboksie wegsteek. Anders moet sy dit vir die maatskaplike werker gee, wat dit weer vir haar huismoeder gee. En dan kry sy dit net wanneer en ook net soveel soos die huismoeder goed dink. In ’n kinderhuis kort ’n mens altyd geld vir kos en vir bel. En vir omkoop.
Vaselinetjie bied beleef vir die maatskaplike werker ’n pakkie beskuit aan, maar die tannie sê sy moet dit liewer hou, want die ander kinders gaan haar beslis voorlê om ook van die eetgoed te kry.
Sy is reg. Nog voor Vaselinetjie by haar huis in kan verdwyn, keer ’n groep hoërskoolseuns haar in die gang voor. “Aitsa, en wat het ons hier? Ou daar vir ons ook ietsie, Vassie-man!”
Sy hou nie van die seuns nie, want Killer sê hulle is skomgatte en daggarokers, maar sy haal tog ’n pak koeksisters wat stroperig aan die plastiek klou vir hulle uit. Sy kry hulle jammer soos sy haarself jammer kry omdat hulle in hierdie tronk moet agterbly, dié kaal gebou met sy leë gange en verdroogde potplantbakke waarin besoekers hul sigarette dooddruk en waaruit die kinders die stompies weer grawe om verder te rook.
1
Die dag voor haar graad 7-jaar begin, besef sy dit. “Al is ek nog net ses maande van die huis af, is ek klaar iemand anders. Ek is besig om iemand heeltemal anders te word as die Vaselinetjie wat vir Ouma versies opgesê en Oupa se pyp gestop het,” verduidelik sy dit vir haarself in die lang spieël in die meisiestoilet wat net uit skerwe bestaan.
Sy draai skuins voor die spieël wat so oud is dat die binnekant afskilfer en jy jouself vol gaatjies sien. Sy steek haar boude uit om te kyk of dit Boesman- of boereboude is, want sy’t al gehoor dat die groot meisies mekaar só spot.
Ten spyte van als sien sy uit daarna dat die skool môre moet begin. Sy is trots daarop dat sy selfs in hierdie aaklige plek goed genoeg gedoen het om ’n sertifikaat vir Beste Vordering by die prysuitdeling te kry. As dit nog by haar ou skool was, sou Ouma en Oupa in die eerste ry gesit het en sodra hulle by die huis kom, sou Oumie haar sertifikaat op die sideboard in die sitkamer staan maak, en op haar kopkussing sou ’n blikkie kondensmelk lê en wag.
Dit was die ou Vaselinetjie en haar ou lewe.
Sy dink aan die aand met die prysuitdeling. Dit wat die mense gedink het wat hulle voor hulle sien, was nie die waarheid nie.
Sy leun met haar voorkop teen die koue spieël. “Ek ís ’n tweegesig …”
Sy het twee lewens en twee stemme. En die een is nou besig om weg te gaan, om vér agter in haar hart gebêre te word. Want haar praat en haar gesig pas nie by mekaar nie, en as ’n mens se goed nie bymekaar pas nie, is jy soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks. Dis wat Killer sê.
“Ís ek dan wat die kinders sê ek is, hè, Killer?” vra sy vir die spieël met trane wat skielik dreig om in haar oë op te stoot. “ ’n Basterblanke?”
Tannie Snorre kondig af almal moet op die kennisgewingbord gaan kyk, want meneer Hefner, die kinderhuishoof, het lyste opgeplak van wie almal moet skuif. Aan die begin van elke nuwe jaar word daar skuiwe tussen die huise gemaak. Soms, as ’n mens ongelukkig in jou huis is en dikwels genoeg jou maatskaplike werker se deur oopstamp sonder om te klop, reël hulle vir jou om te skuif.
Partymaal word kinders na ’n ander eenheid geskuif omdat hulle té goeie maatjies met iemand is. “Vinnig-innig,” noem Kitcat dit.
“Lepellê sal onder geen omstandighede geduld word nie. Jy sal genoeg tyd en geleentheid daarvoor in die tronk hê,” sê die kinderhuishoof as hy ’n kind op iemand anders se bed vang. Meneer hou ook nie daarvan as die kinders in die winter onder dieselfde kombers voor die TV sit nie.
Of hy laat die huistannies die kleintjies se poppe afvat en dan moet hulle die bene en arms uittrek en in die spens opsluit. Daar staan ’n hele boks vol sulke bene en arms in tannie Snorre se spens, het Vaselinetjie al gesien. Sy weet nie hoekom nie, maar as sy vir die ander vra, dan giggel hulle net en sê sy moenie so vieslik wees nie.
So ’n skuiwery, as jy net begin gewoond raak het aan jou bed en jou duvet, jou bedkassie en kas, jou kamermaats en selfs jou tannie, sal ’n mens net meer verlore laat voel, dink Vaselinetjie op pad na die kennisgewingbord. Los van alles. In dié plek moet jy vinnig leer om aan niks en niemand geheg te raak nie.
Sy beweeg haar vinger teen die lys name af. Sy moet na ’n ander huis skuif, maar Killer en Albie bly. Sy wil nie graag van Killer af weggaan nie, want al is Killer soms lekker bitsig met haar, hou sy van hoe Killer altyd verduidelik wat om hulle aangaan. En wanneer haar goed gegaps word, weet sy ten minste al waar Albie se wegsteekplekke is.