Stil punt van die aarde. Johann de Lange
Stil punt van die aarde
Johann de Lange
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Stil punt van die aarde mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
vir Leon, Antoinette & Jacqueline
I. Josefskleed
I caught the sudden look of some dead master
Whom I had known, forgotten, half recalled,
Both one and many; in the brown baked features
The eyes of a familiar compound ghost
Both intimate and unidentifiable.
T.S. Eliot
Dink & dank
Iewers ontspring dink & dank
aan dieselfde bron & klank.
Sy dit die rook van ’n pasgeslagte offer
wat úit- & óp-adem na die Son,
of bo die kim die sein, die yl rokie
van die San wat na die sterre klim,
of die sakramente wat ons eet & drink:
seën gaan uit na alle Syn, hoe nietig ook,
& heilig álles wat klip is of vlesig of groen,
klein of groot, bont, of sondronk & bruin,
elke vorm denkbaar waar ook die Al dink
is dankbaar deel van dieselfde brein.
’n Digter het gewaarsku
’n Digter het met reg gewaarsku: Kuns is boos.
Die kunstenaar moet diep leer kyk, & onbewoë.
Hoe heg ook die verband, soos tussen vel & roos,
die heling lê in afstand, nie in mededoë.
Diepgang
vir Réna Pretorius
’n Woord gewaks soos swart basalt
kan duister slegs jou frons weerkaats:
sy sin die bly ónvergestalt
soos lig vlug oor sy diepte skaats.
Die digter as perdeby
Hy huiwer voor die taak,
’n donker instrument
gedrewe & potent.
Dié swart derduiwel
rofkas met klei
’n gewikste swael-
stertvoeg, ’n myter-
las in ’n steengroef.
Dan word dit ’n engelebak
vir ’n rei, ’n brommende
sixtynse koortjie,
& later ’n bruin kokon
wat trojaans gaan oop-
breek vir ’n giftige bataljon.
Digter as lewerikspieël
Soms is ’n inval ’n spieël
wat woorde weglok uit hul vlug
van bo of onder seespieël:
soms tuimel swerms uit die lug –
tekens op ’n bot bladspieël.
Sjamaan-taal
1.
Die bos se tekentaal
is verstaanbaar vir wié verby
vorm die funksie kan eien.
Daarom is dié vis
’n witkraagmuskusvark
& die jagluiperd ’n mandjie:
die vis aap
met sy kiewe die vark
se wit nekvlekke na,
& die mandjie se geweefde
lig-&-donker kruispatroon
die kolle van die jagluiperd.
2.
Die sjamaan noem dit
tsai yoshtoyoshto
oftewel, taal dubbeld verdraai:
“Terwyl ek sing, bring die taal-
stringe dinge nader, maar nét nié
naby genoeg nie –
met gewone woorde
sal ek my vasloop
in die dinge sélf –
dus sirkel ek óm die sirkels,
só sien ek dinge
duideliker, soos hulle is.”
3.
Die slangorakel verklaar niks,
& steek niks weg, maar be-teken:
voor die insig lê die swaar vergeet.
Eilandballerina
Wit sifaka-makaak (Propithecus verreauxi)
Hoe glydans sy
glanswit van pels
met haar skadu
haar hande-vir-voete
haastig oor die hete sand
& tussen haar dye
fyntjies ingeskets
in die vag:
’n skoelapper uil-
oog & ligsku.
Watter van die Clifton-gode
1. Laatmiddag
Ek laat sak my pen & merk N.P. aan-
gestap kom, die son ’n laat nektarien.
“Is dit ’n gedig in jou sak,” vra ek,
“of is jy net bly om my weer te sien?”
2. Middernag
’n Vlieswolk skil terug oor die maan, ’n melkige ring
oor sy goue glans, waar ek alleen met woorde goël.
N.P. kom staan buite my leeslamp se goue kring
& vra, “Sal jy om godsnaam nou áfklim van my voël?”
3. Nanag
In die nanag met papier & pen
probeer ek hom van ver af ken:
met my vinger op die plansjet gelê
vind ek hy het alles reeds gesê.
4. Voordag
Voor die oop venster met die oggendlig blouswart agter hom
– swaarder van lyf as toe sy torso in smal heupe kon voeg
soos ’n Griekse beeld, sy elke frase