Die afwesigheid van berge. Louis Esterhuizen
Die afwesigheid van berge
Louis Esterhuizen
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Die afwesigheid van berge mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Vir Marlise.
En vir Chris, my Nederlandse vriend
wat wou weet hoe dit is.
ek wil na die rante gaan
waar die aalwyne brand soos aas vir die sterre
waar die miere vestings bou om ’n bruid
waar ’n vinger in die stof die seisoene voorspel,
ek wil die hemelruim betas,
ek wil op die aarde lê,
ek wil die berge sien loop,
ek wil leef
soos net die dood nog kan lewe
– Breyten Breytenbach
Het was zomerdag.
De doodstille straat lag
te blakeren in de zon.
Een man kwam de hoek om.
Er speelde in de verte op de stoep
een groep kinderen, maar die groep
betekende niet veel,
maakte, integendeel,
dat de straat nog verlatener scheen.
– Martinus Nijhoff
Hoe kan jy vertel hoe dit is
die straat, blinkwit geskrik een middag laat
toe die man aan die bopunt verskyn
en die groepie seuns
met ’n kartondoos vir paaltjies
nog altyd krieket speel in die pad
terwyl twee bejaarde vroue al geselsend
verbygestap kom met iewers
in die buurt ook nog die moeë bouers
se geduldige hamerslae – monotoon,
soos die hond se onsekere geblaf
toe die vreemdeling ’n oomblik lank
huiwer, dan verder,
al met die winter se blaarlose stiltes
langs – dit is hoe dit is in die tuin
waar ’n skeefgedrukte boom
houding probeer vind
teen aanklagte
van heersende wind –
Want sirenes laat in die nag
is soos ’n tuimelaar wat greep verloor
op die sweefstok
en hieieiee-e-e-hô hieieiee-e-e-hô
ruglangs deur wolke glip na waar die net
nog nie gespan is nie
sirenes laat in die nag
is flitsberigte dat iemand oorgeskakel het
van hulpvaardig na hulpbehoewend
met ’n lewe wat ontspoor: hartaanval
of messteek, motorwrak of
rewolwerskoot: noodlot of eie toedoen
selfs hiervoor bestaan daar geen
regverdiging nie, want
sirenes laat in die nag
lewer jou uit, bring jou tuis
as tuimelaar
wat greep verloor
met die terugswaai, laag
in die vaart
sonder om bewus te wees daarvan
dat die tyd opgeskort is,
presies om kwart voor
amper verby –
Terwyl julle slaap hou julle hande vas
asof die nag ’n terloopse verbyganger is en die boom
se lustelose geskuur teen die geut
geen voorspel
tot gure weer is nie
met jul gesigte na mekaar toe gedraai slaap julle
en julle weet nie
dat die tyd van voorneme verander het nie
dat mis uit die grond
losgekom en reeds begin het
om bome
te verwasem nie
dat voëls digter saamgebondel sit en pruil
terwyl die vreemdeling
in die tuin
reeds
die droom wat julle aan mekaar beloof
betree het nie
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.