Rooikop te koop. Ettie Bierman
Ettie Bierman
Rooikop te koop
Jasmyn
1
“ ’n Grasdakhuis is indrukwekkend en natuurlik koel in die somer,” sê die eiendomsagent.
“En in die winter,” voeg Jennie by. “Maar wanneer dit so koud is, is die spinnekoppe minder.”
Die voornemende koper kyk eers na haar en dan na die dak se konstruksie. “Miskien moet ek die gras met teëls vervang.”
Teëls? Jennie kan dit nie glo nie. Dit sal die hele karakter van die huis bederf. Hoekom koop hy dan nie van die begin af ’n plek met teëls as dit sy smaak is nie? Sy volg hulle deur die sitkamer en eetkamer, dan die gang af na die slaapkamers toe. Jennie vra nie om verskoning omdat sy nog nie aan die kant gemaak het nie. Die koper – Le Roux of iets – lyk self asof hy hom die oggend verslaap het; asof hy nog nooit van ’n kam of ’n strykyster gehoor het nie, of van ’n skêr in sy hare nie.
“Al vier slaapkamers kyk natuurlik noord,” sê die agent. “Dis ’n groot bate.”
“Ja,” stem Jennie saam, “want die vensters is toegerank en die hortjies keer baie van die lig af.”
Toe die man aan die luike tik en na die skarniere kyk, weet Jennie wat hy gaan sê en sy spring hom voor. “Ja, hulle kan verwyder word. Die rankplante ook. Dis nóg ’n bate, want ’n klimop lok spinnekoppe … en slange.”
Hy trek die venster toe. “Is hier ’n gesinskamer?”
Jennie stap vooruit by ’n sydeur uit oor ’n stoep en onderdeur ’n ongesnoeide apiesdoring. “My pa het die motorhuis toegebou en dit vir ’n ateljee gebruik. Dit kan seker vir ’n gesinskamer ook deug.”
“Natuurlik ook noord. Natuurlik heerlik sonnig in die winter,” prys die agent die verrinneweerde vertrek aan.
As die vrou weer een keer “natuurlik” sê, gaan sy skree en sê die huis is klaar verkoop of van die mark af, dink Jennie.
Meneer Le Roux kyk weer na die konstruksie. Hy beskou die skuifdeure en die apiesdoring asof hy nie kan wag om ’n hamer en ’n saag in die hande te kry nie.
“Hier is dus nie ’n motorhuis nie,” verduidelik Jennie. “En die dak lek in die hoek, waar die vinke die gras uitgetrek het.”
“Mossies,” korrigeer hy.
Pure dom stadsjapie wat skaars die verskil tussen mossies en duiwe ken! besluit Jennie ergerlik. “Swartkeel-geelvinke en brilwewers,” hou sy vol.
“Brilwewers?” Hy lyk skepties. “Natuurlik! Natuurlik nóg ’n bate. Is daar ’n swembad?”
Jennie bedwing haar om nie ’n dwars antwoord te gee nie.
“Ongelukkig nie, hoewel hier ’n sterk boorgat en oorgenoeg plek vir ’n swembad van Olimpiese grootte is,” antwoord mevrou Deetlefs en wys hom die ruim ingeboude kaste.
Die koper stel nie veel belang nie en draai na Jennie.
“Is hier busse en treindienste naby?” wil hy weet.
“Niks – nie eers winkels nie,” antwoord sy.
“En bure?”
Jennie vervies haar. “Hierdie is ’n kleinhoewe, meneer Le Roux. As u bure op u drumpel wil hê, moet u ’n woonstel in die middestad koop.”
“Hillbrow … Kan jy ’n kaart lees, juffie? Dit is so ongeveer dertig kilometer hiervandaan. Weet jy min of meer hoe lank ’n mens van Halfweghuis af stad toe ry?”
Dit klink asof hy dink sy is vyftien, pleks van vyf-en-twintig. Daarby onthou hy heel duidelik nie eers haar naam nie.
“Ure, meneer,” antwoord Jennie koel. “Op ’n stuk grondpad en oor ’n laagwaterbruggie wat na ’n reënbui gereeld oorstroom is.”
“Dieselfde spruit wat deur jou grond loop?”
Jennie knik. “En gereeld die tuin verspoel.”
Die agent frons en haar kliënt kyk na die strook riete en die waterbessiebome wat haar pa se trots was.
“Weet jy of hier ’n serwituut is, juffie?”
Wat wil hy doen – stootskrapers inbring, die waterbessies vermoor en die spruit toegooi?
Jennie het oor serwituutregte navraag gedoen en ken elke feit op die punte van haar vingers. “Ek weet nie. Hoekom?” vra sy aggressief.
Die agent se frons verdiep en haar stemtoon is minder vriendelik. “Juffrou Botha, ek weet u is met studie besig en ons steur u. Ons wil nie onnodig u tyd in beslag neem nie. Ek reken dis verkieslik indien elkeen met sy eie werk voortgaan.”
Jennie los hulle en loop. Sy gaan sit by haar lessenaar in die studeerkamer en trek haar stapel boeke nader. Historiese Opvoedkunde. Teoretiese Opvoedkunde. Die sielkundig opbouende taak van die opvoeder teenoor die ontwikkelende onvolwassene. Al waarin Jennie nie belangstel, is die kind self, wat aan die genade van ’n ondergekwalifiseerde kunsonderwyseres uitgelewer is. Dertig of veertig van hulle per klas, elk met sy of haar eie probleme: ouerprobleme, milieuprobleme, aanpassingsprobleme en probleme om die probleme te verwerk.
Jennie lag vir haarself. As mevrou Deetlefs haar nou kan hoor, skree sy ook. Eiendomsagente is afhanklik van hul kommissie, besef sy. As haar huis vandag verkoop word, sal Thys jubel en juig en haar vir ete uitneem om die goeie nuus te vier. Die probleem is net: Sy is nie seker of sy wíl verkoop nie. Sy het in dié kasarm van ’n ou huis grootgeword en hier is te veel herinneringe. Sy is soos die apiesdoring; haar wortels is hier in die fondasie vasgegroei. En wat van die diere?
Jennie kan nie konsentreer terwyl vreemdelinge om haar ronddrentel, aanmerkings maak en alles wil verander nie. Sy is verlig toe die agent en die stug koper groet en vertrek. Hy dra ’n verkreukelde denimlangbroek en ’n verbleikte T-hemp, maar ry met ’n splinternuwe, rooi sportmotor, die duurste model op die mark, sien sy deur die eetkamervenster. Hy het nie geld vir ’n haarsny nie, maar blykbaar wel vir ’n huis en ’n nege-hektaar-kleinhoewe waarvan die prys te hoog is.
Nogal nie lelik nie, erken sy teësinnig, mits ’n mens van stryerige ouens met ’n halfdag oue, donker baard hou. Is dit modern: dalk die huidige tendens? Sy verkies ’n ou soos Thys: kort, blonde hare; vriendelike, oop blou oë; ’n vrolike geaardheid en altyd positief. Thys studeer vir ’n honneursgraad in argitektuur. Sy wonder of Sy Edele meneer Le Roux standerd twee geslaag het. Al wat hy ken, is ’n pik en ’n hamer: afbreek – nie opbou nie; kritiseer – nie waardeer nie.
Miskien as sy daarop aandring of mooi vra, sal Thys inwillig dat hulle na die troue hier aanbly, al is dit net tydelik, vir ’n jaar of twee, totdat hy sy droomhuis gebou het. Dit gee haar tyd om afskeid te neem en ’n plan met haar diere te maak. Daarna sal sy saamstem dat Halfweghuis ongerieflik ver is en dat grasdakke ’n brandgevaar skep. Om die plek op te knap kos die wêreld se geld en klipvloere is te koud. Die tuin is onprakties en onderhoudskoste te hoog.
Wat is die alternatief: ’n brug oor die spruit, diefwering en ’n alarmstelsel, teëls en volvloermatte, dalk ’n deel van die grond verkoop?
Wat meneer Le Roux beoog indien hy sou koop, besef Jennie, is onderverdeling, anders sou hy nie oor serwituutregte uitgevra het nie. Hy wil seker van die spruit ontslae raak en ’n woonstelgebou oprig.
Haar pa en haar ma is dood en kan haar nie raad gee nie. Hoewel hulle nie erg in Thys gehad het nie, is hy nugter en prakties. Hy is reg – al het sy honde en ’n rewolwer, is dit vir ’n vrou gevaarlik om alleen op ’n hoewe te woon. Sy kan nie ’n tuinhulp bekostig nie, en die plek is besig om te verwaarloos. Die mark is op die oomblik goed. Dit is dalk beter om so gou moontlik te verkoop en die geld op vaste deposito te belê.
As Thys belanggestel het, kon sy die plek tydelik verhuur totdat hulle albei klaar gestudeer het en minder platsak is, maar hy is eerlik daaroor: Hy is ’n stadsmens; hy haat tuinmaak en sukkel; die kragonderbrekings wat kort-kort voorkom, ’n pad wat gereeld verspoel en afvoerpype wat gedurig verstop raak, sal hom rasend maak. Dit is hartseer, maar hy is reg. Sy kan nie aan die