Ver pad na Königsee. Ettie Bierman
Ettie Bierman
Ver pad na Königsee
Jasmyn
1
“Daar is niks om voor bang te wees nie,” stel Carl vir Ezette gerus terwyl hy die sportmotor in die rigting van sy ouerhuis stuur. “Jy sal van my broer hou.”
“Belangriker is of hy van mý sal hou!”
Die volgende verkeerslig is rooi. Terwyl hy wag, draai Carl na die skraal donkerkopmeisie langs hom.
“Hy sal. My ouboet is stroomop en moeilik, maar julle twee is eintlik baie eenders. Julle is albei skrywers en ewe lief vir diere. Derek sal ook met sy laaste rand eerder ’n boek as ’n brood koop. Of liewer vir ’n honger, brandsiek brak kos koop as vir homself! Jy en hy sal goed oor die weg kom.”
“Skryf?” eggo Ezette. “Derek het vier boeke geskryf en ek één kortverhaal wat ek minstens drie keer moes oortik. Ek is beïndruk, maar ek glo nie Derek is nie!”
“Hy is drie-en-dertig en jy maar vyf-en-twintig,” troos Carl. “Teen die tyd dat jy so oud soos hy is, spog jy dalk met tien boeke.”
Tien boeke … Ezette twyfel of Carl weet hoeveel werk en lang ure dit agter die tikmasjien sal verg. Sy gee Afrikaans vir standerd ses tot agt en Carl gee liggaamlike opvoeding. Sy vak het geen nasienwerk nie en verg blykbaar min voorbereiding. Carl verstaan nie dat sy nie altyd tyd het om saam rond te ry, partytjies te hou en rugby en tennis te kyk nie. Nog minder verstaan hy dat sy naweke soms wil gebruik om te probeer skryf.
Wat Carl betref, is verhale skryf ’n tydverdryf vir wanneer ’n mens niks beters te doen het nie. Saterdae moet sy op die pawiljoen sit wanneer sy span met ’n skepdoel slaag of ’n strafskop tussen die pale deurstuur. Die aand word dit gevier en Sondae moet sy saam met hom en die manne kuier. Hy is ’n lekker maat, sy is lief vir hom en hulle gaan die einde van die jaar verloof raak. Maar die afgelope tyd wonder Ezette: Is sy en Carl Myburgh werklik geesgenote? Is hulle op dieselfde golflengte?
“Ontspan,” herhaal Carl toe hulle voor die groot dubbelverdiepinghuis stilhou. “Wat maak dit saak wat Derek van jou dink? Ek en hy sit ook nie langs een vuur nie en hy sal waarskynlik nie eers die moeite doen om na ons verlowingspartytjie toe te kom nie. Hy is net twee weke lank in Pretoria en dit sal seker jare duur voordat ons hom weer te sien kry. Hy is nie belangrik nie. Jy hoef nie senuweeagtig te wees nie, want Derek het nog altyd ’n oog vir ’n mooi vroumens gehad. Soos ek, veral wanneer jy lyk soos jy vanaand lyk …”
Carl trek haar nader, sy mond teen die blink, swart hare. “ ’n Diertjie soos jy behoort vir uitlokking gearresteer te word.”
“Carl, wag,” keer Ezette. “Ek het grimering aan en jy maak my hare deurmekaar. Moenie …”
“Móénie, dís wat jou naam eerder moes gewees het,” kla Carl. “Moenie Nel.”
Ezette keer vir haar rok en grimering. Sy wil nie netnou vir Carl se ouers en broer verkreukel lyk nie. “Nee, Carl, los my. Asseblief, moenie …”
“As ek ’n Engelsman met ’n Walliese aksent was, het ek gesê, vergeet die ‘moeney’, ek sal later betaal,” spot Carl.
Ezette vind dit nie grappig nie. “Carl!” roep sy verontwaardig uit.
Carl lag. “Dis ou Billy se grap. Ek het gedink dis vreeslik snaaks.”
“Dit is nie.”
Ezette voel na die deurhandvatsel om uit te klim, maar Carl hou haar terug. “Goed, ek erken die grap was miskien swak smaak, maar hoekom is jý so snaaks?”
“Ons is reeds laat en ek wil nie jou ouers laat wag of die aandete vertraag nie.”
Carl is nie tevrede nie. “Ek praat nie net van nou nie. Jy is al die afgelope paar weke anders. Jy is so afsydig en stil en nie jou gewone, vrolike self nie. Wat is verkeerd?”
“Niks nie. Ek is nie ’n bietjie moeg, dis al.”
“Vir my?”
“Sommer vir alles. Vir skoolhou en heeldag se raas en baklei. Vir nasienwerk en kinders wat meer in disko’s as in opstelle belangstel. Vir netbal en kunswedstrydoefening elke middag. Ek wens ek was ’n kluisenaar op ’n Griekse eiland, ver weg van alles en almal af.”
“Ons kan vir ons wittebrood Griekse eilande toe gaan,” stel hy voor.
Ezette haal haar skouers op. “Ek weet nie. Ons sal sien.”
“Wat sien?” Carl sit weer sy arms om haar en steur hom nie aan Ezette se teëstribbeling nie. “Wat weet jy nie? Of ons wél ’n wittebrood gaan hê? Is dit wat jy probeer sê?”
“Nee.”
“Wat dan?”
“Ag, Carl, vergeet dit. Dit is nie nou die tyd om daaroor te praat nie. Ons moet ingaan. Jou pa-hulle het waarskynlik die motor hoor stilhou en hulle sal wonder hoekom ons so lank buite bly.”
“Hulle sal nie wonder nie,” grinnik Carl. “Hulle sal wéét! My pa was ook eenmaal jonk.”
Ezette ignoreer die insinuasie, klim uit en stap aan voordeur toe. Mevrou Myburgh kom hulle vanuit die sitkamer tegemoet, elegant, met ’n nuwe kapsel en ’n syrok wat heel duidelik haar prokureursman ’n fortuin uit die sak moes gejaag het.
“Tant Myra lyk mooi,” merk Ezette waarderend op.
“Niks ouer as sestien nie,” las Carl by.
Sy ma glimlag. “Dankie. Ek weet ’n haarkapster en ’n nuwe rok was ietwat rojaal, maar dis nie elke dag dat ’n ma se verlore seun ’n duisend kilometer of meer ver kom om te kuier nie.”
Carl voel met sy duim en voorvinger aan die geblomde sy. “Maar vir mý trek Mams sommer gewone katoenrokke aan?”
Myra Myburgh sidder. “Katoen, ja, maar jy het my nog nooit in iets slegters gesien nie, my seun! Kom, dis al amper sewe-uur en Derek-hulle wag in die sitkamer.”
“Jammer ons is laat,” maak Ezette verskoning.
“Alles reg. Na die lang rit wou Derek eers bad en ontspan, dus eet ons vanaand laat. Seker eers teen agtuur se kant.”
“En as ons ander honger is?” vra Carl, sy stem nie baie vriendelik nie.
“Dan is daar southappies, saam met ’n drankie.” Mevrou Myburgh kyk na haar aanstaande skoondogter. “Jy lyk ook pragtig, soos altyd, Zet. Jy moet meer dikwels turkoois dra, dit beklemtoon die kleur van jou oë. Is dié rok deel van jou uitset?”
“Ja,” erken Ezette. “Maar ek het gedink dit sal seker nie skade doen om dit een keer voor die tyd aan te trek nie. Vanaand ís darem ’n spesiale aand.”
Die Myburghs se sitkamer was van die begin af vir Ezette ’n vreugde om te aanskou – gemeubileer in roomkleur en wit, met Persiese matte, duur skilderye en ’n hoë plafon wat die kristalkandelaar ten beste vertoon. Sy en Carl sal seker ’n paar jaar in haar eenkamerwoonstel aanbly om vir ’n huis geld bymekaar te maak en Ezette wonder of hulle ooit ’n plek soos hierdie sal kan bekostig.
Meneer Myburgh staan by die vuurherd toe hulle instap. Dis egter nie na hom wat Ezette kyk toe sy tot in die deur kom en dan aarselend vassteek nie. Op die rooshoutbank sit ’n jonger man, sy kop teen die rugleuning gestut en sy bene lank voor hom uitgestrek. Blykbaar Carl se broer.
Derek Myburgh staan hoflik op toe hy Ezette sien. Hy is langer as sy pa en sy broer. Skraler ook, maar met breër skouers. Sy hare is lig, amper blond, streperig deur die son gebleik, en sy oë hou Ezette s’n gevange – donkerbruin, met eienaardige goue vlekkies. Derek is al een wat nie ’n pak klere aanhet nie, net ’n langbroek en ’n swart rolnektrui. Sy klere sit los aan hom, asof hy onlangs maer geword het. Nogtans is Ezette van ’n sensuele manlikheid bewus wat van hom uitstraal, van ’n onderliggende lenigheid wat van krag en gespierdheid getuig. Sy kan nie wegkyk nie. ’n Ontstellend prikkelende en onweerstaanbaar aantreklike man, besef sy, onthuts deur haar onmiddellike herkenning hiervan en haar intuïtiewe aangetrokkenheid tot Derek Myburgh.
“Naand,” groet hy met ’n lui glimlag.