Die kralebruid. Sarah du Pisanie

Die kralebruid - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
tion>

      

      Die kralebruid

      Sarah

      du Pisanie

      Jasmyn

      1

      Die meisie op die rooibruin duin lê doodstil en staar droomverlore na die see wat blougrys in die horison versmelt. Sy vorm ’n eenheid met die omgewing, want haar arms en bene, wat by die kort velrokkie uitsteek, is feitlik dieselfde kleur as die sand waarop sy lê. Dit is egter die spierwit hare wat feitlik vlaswit deur die son gebrand is, wat ’n mens van die stil figuurtjie bewus maak.

      ’n Glimlaggie trek skeef om haar mond toe sy sien hoe Hareb die omgewing fynkam op soek na haar. Isa skuif versigtig ’n bietjie laer af teen die duin. Sy wil nog ’n rukkie alleen hier lê. Hareb babbel soos ’n fontein en sy het vandag stilte nodig. Sy moet die een of ander tyd hierdie onstuimigheid en vreemde verlangens in haar uithaal en bekyk.

      Dit het nou werklik tyd geword dat sy moet seker maak wat dit is wat haar so hartseer en vol verlange maak elke jaar wanneer hulle hier by die see kom.

      Die wind ruk aan haar lang hare en Isa druk dit teen haar kop vas. Met geoefende hande draai sy ’n riempie daarom sodat dit agter haar rug kan hang. Nina hou niks daarvan dat sy die lang hare moet vasmaak nie, maar dit is te ongemaklik wanneer dit so teen haar gesig vaswaai.

      Sy wikkel haar skraal lyfie dieper in die sagte sand in, en haar blik dwaal lui oor die bedrywigheid daar onder by die water. Sy sal nou-nou gaan help mossels soek. Nina sal haar in elk geval nie lank tyd gee om so leeg te lê nie.

      Die mense van hierdie Ounistam is kinders van die veld. Hulle leef van die veld. Dit is net tye soos nou, wanneer die kos in die veld skaars word en die narras nog nie ryp is nie, dat hulle hierdie twee dae lange stap see toe onderneem om te kom visvang en om mossels te soek.

      Dit was juis op een van sulke togte wat hulle haar hier op die strand gekry het – amper dood en feitlik nakend.

      Die sonnetjie brand warm op Isa se kaal arms en bene en ’n genoeglike luiheid kruip in haar ledemate in terwyl haar gedagtes weer daardie tyd helder voor die gees roep. Die klikgeluide van die ander wat daar onder na mekaar roep, verhelder haar gedagtes en word ’n deel van hul gang, en sy sweef terug – ses jaar terug . . .

      Die klik-klak-geluide dring baie stadig tot die halfverdrinkte meisie deur. Moeisaam probeer sy haar swaar ooglede oopmaak. Hulle voel egter taai en te swaar, en sy gee die saak tydelik gewonne. ’n Genadige en vriendelike, swart diepte sluk haar weer in en die vreemde geluide word stil.

      Dan, ver, hoor sy weer die vreemde geluid soos klippies wat met onreëlmatige tussenposes op ’n harde oppervlak val. Iets rem aan die rafels van haar verstand, maar sy het nie genoeg krag om dit te ontleed nie.

      Sy wens sy hoef nooit weer haar oë oop te maak nie. Die lewe het haar tot dusver nie baie vriendelik behandel nie. Sy wil haar oë toehou en dieper en dieper in hierdie vriendelike donkerte insak.

      ’n Milddadige knus en warm gevoel laat haar haar greep op die werklikheid verloor.

      Die klik-klak-geluide kom weer nader. Hierdie keer is daar ’n bietjie meer helderheid in haar verstand. Sy is dadelik bewus van iets sags en warms wat styf om haar vou, en stadig maak sy een groot, blou oog oop. Onmiddellik verdwyn die vreemde geluide en is daar slegs ’n suisgeluid soos wind of branders hoorbaar.

      Die storm! onthou sy skielik. Daar was ’n vreeslike storm op see! Sy moet na Martha en Hannie gaan soek. Hulle is seker al vreeslik bang.

      Isa probeer regop kom, maar haar liggaam pyn en voel swaar en doods. Sy en Martha en Hannie was van Holland af op pad na die Kaap de Goede Hoop. Hulle drie weeskinders is aan ’n herbergier in die Kaap de Goede Hoop verkoop.

      Haar verstand sê vir haar sy moet opstaan en die ander gaan soek, maar haar ledemate wil die bevel nie gehoorsaam nie. Sy wat Anna den Hoon is, is die oudste van hulle drie. Sy wás al twaalf jaar en die ander twee word eers in die somer twaalf. Hulle was die hele tyd in die kajuit toegesluit, want die kaptein kon eers sy geld kry wanneer hy hulle veilig afgelewer het.

      Arme Hannie! Sy het tog so naar geword. Sy moet opstaan en hulle gaan soek. Martha is reeds so bang vir sulke weer en dit was so ’n vreeslike storm!

      Van vroegoggend af het die storm al gedreig en die seeman wat hul kos gebring het, het gesê hulle was toe omtrent regoor die Seekus van die Dood. Arme Martha was tog so bang.

      Saggies dring die klik-klak-geluide weer tot haar deur, en dan verskyn ’n maer, plooierige, bruin hand stadig voor haar en vee sag die hare van haar gesig af weg. Geskok staar sy na die bruin handjie, en met bomenslike inspanning kom sy regop om dan net weer haar oë geskok toe te knyp en agteroor te val.

      ’n Rooibruin gesiggie met baie kort, wollerige haartjies wat lyk asof dit op die klein koppie vasgeplak is, staar stil en heeltemal uit die veld geslaan na haar.

      Vrees laat haar botstil lê. Dit is een gevoel wat sy baie goed ken. Haar lewe was tot dusver een deurmekaargevlegte begrip van vrees en hongerte en eensaamheid. Gelate en passief wag sy vir die einde. As dit net vinnig en sonder veel lyding wil kom!

      Sy is klein en skraal vir haar ouderdom; ondervoed en ver bo haar kragte ooreis. Volgens die weeshuisowerheid was sy in hul sorg vandat sy drie jaar oud was. Haar ouers kan sy glad nie onthou nie. Die lewe in die weeshuis is al lewe wat sy tot nou toe geken het. Daar het hulle van donker tot donker gewerk en met die minimum kos en klere klaargekom. Iets soos versorging en vertroeteling ken sy glad nie.

      Sy raak bewus daarvan dat sy liggies heen en weer gewieg word. Die warm, knus gevoel is nog steeds om haar en dit verdring die doodsheid en koue wat nog die hele tyd in haar skraal liggaam was.

      Sy sug diep en dit sit dadelik weer die vreemde klik-klak-geluid aan die gang.

      Sy moet hier uitkom en na Martha en Hannie gaan soek. Van hulle drie was sy nog altyd die sterkste – geestelik sowel as liggaamlik. Male sonder tal het sy maar hul werk ook gedoen. Nou is hulle weer vol vrees. Die weeshuislewe was darem bekend, maar wat wag vir hulle in die nuwe werk en omgewing? Sal dit nie dalk veeleisender wees as die werk by die weeshuis nie?

      Die gewieg is anders as toe hulle nog op die skip was. Dié besef dring baie stadig tot haar suwwe verstand deur.

      ’n Sekonde lank skuif die donkerte om haar verstand weg. Daar was in ’n stadium ’n Babelse lawaai, en die gekraak van hout was duidelik hoorbaar. Daarna kon sy niks onthou nie. Dit is asof haar verstand iets wil vrylaat van koue water en hoë gille, maar dit is ver en dof.

      Donker newels skuif weer oor haar verstand, en dit is eers toe iets koels teen haar lippe druk dat sy uit die diep, donker put boontoe kom.

      Toe sy haar oë oopkry, kyk sy vas teen ’n bondel rooibruin plooie wat stadig ooptrek en ’n ry geel tandjies te voorskyn bring. Die gesiggie beweeg op en af en dan word ’n sak met water weer teen haar lippe gedruk. Haar keel voel rou en seer, maar die koel lafenis laat tog die ergste gevoeligheid bedaar.

      Saam met die lafenis wat die water bring, dring dit tot haar deur dat die mens met die rooibruin plooie voor haar dit goed bedoel en haar nie wil seermaak nie.

      Die vreemde klik-klak-geluide bars weer los en dan loer nog twee gesigte oor die rand van die warm ding na haar. Hulle is minder vol plooie as die eerste een, maar nie minder vreemd en skrikwekkend as enigiets wat sy nog in haar lewe gesien het nie.

      Dit voel vir haar asof sy oor en oor dieselfde droom droom. Dit is onsamehangende dele en flitse wat periodiek tot haar deurdring.

      Die warm ding om haar laat haar egter veilig voel. In ’n stadium was dit donker toe sy haar oë oopgemaak het, maar nou voel dit vir haar asof sy deurentyd liggies gewieg word. Soms hou die gevoel klein rukkies op en dan verskyn dieselfde plooigesiggie hier by haar, en drup van die koel water in haar mond.

      Skielik is daar meer helderheid in haar verstand. Daar is ook nou ’n intensiteit in die klik-klak-klanke asof daar meer klippe op die harde oppervlak gegooi word.

      Hierdie beelde het gekom en gegaan


Скачать книгу