Ek kies steeds die kerk. Neels Jackson
tel vroue se intelligensie nie.
Ja, gee sy toe, dit is so dat die Hervormde Kerk, waar sy predikant is, en die NG Kerk verlede jaar vir die eerste keer vroue in hul “topstrukture” verkies het. Maar dit beteken nie alles is nou in die haak nie.
Een probleem is dat daar subtiel teen vroue in die amp gediskrimineer word. Vroue se bestuurstyl is dikwels meer demokraties. Gebeur dit dat ’n vroulike dominee ’n man opvolg wat ’n meer outokratiese bestuurstyl gehad het, of dat sy en só ’n dominee medeleraars word, dan dink mense sy het nie leiersvaardighede nie.
Of dit gebeur dat ’n vrou lank as proponent in ’n gemeente werk. Wanneer ’n voltydse leraar beroep word, is dit ’n manlike proponent sonder ervaring. Dreyer vergelyk die posisie van vroue met apartheid. Formeel is die beleid opgehef, maar dit beteken nie dat ons van rassisme ontslae is nie. Net so is daar in minstens party kerke geen formele diskriminasie teen vroue meer nie, maar dit beteken nie die einde van seksisme nie.
Oor die kerke wat glad nie vroue tot die ampte toelaat nie, sê Dreyer dit is ’n kwessie van Skrifbeskouing. Dit help nie veel om daaroor te praat nie. Maar Dreyer se kommer strek verder as net die posisie van vroue. Sy is bekommerd oor die uitdagings wat die postmodernisme aan die kerk stel. Dis immers nie net vroue wat ’n weersin in gesagstrukture ontwikkel het nie.
Dit is wat mans én vroue betref ’n kwessie van gesag van bo teenoor deelnemende gesag. Postmodernistiese mense laat hulle eenvoudig nie meer voorsê nie.
Die modernistiese raamwerk met sy gesag van bo is ’n onderdrukkende, manlike ding. Die postmodernisme gaan om verskeidenheid. Dit maak plek vir die randgroepe van die modernisme, soos vroue.
Dreyer sê die kerk sal moontlik beter by die postmodernistiese mens aanpas as vroue ’n groter rol in die kerklike besluitnemingsproses speel. Beteken dit dat sy agiteer dat vroue uit die “tevrede groep” hul houding verander?
Dreyer antwoord uit ’n pastorale hoek: Nee, ’n mens krap nie mense se lewe om as dit vir hulle werk nie. Daar hoef nie met tevrede vroue gekarring te word nie.
Maar navorsing toon dat baie vroue aan depressie ly omdat hulle sukkel om ’n werk en ’n huishouding te hanteer en dan boonop gelukkig moet voel as die man help met die skottelgoed.
Sommige vroue ontwikkel probleme omdat hulle dit nie regkry om vrou, ma en beroepsmens te wees nie. Dis aan hulle wat sy sê: Dis nie jou skuld nie, dis ’n onmenslike vrag wat jy probeer dra.
Hoe beskou sy Afrikaanse mans?
Daar is ’n groot verskeidenheid, sê sy. Van “die byste, oopkopste mans” tot die “stoere patriarge” en dit gaan nie noodwendig saam met ouderdom nie. Daar is mans vir wie ’n vrou net ’n huishoudster, broeikas en seksobjek is. As ’n man ander mense met respek behandel, is dit ’n ander saak.
Dít is wat sy ook van die kerk vra: dat vroue met respek behandel word. Vroue moenie net ’n bedienderol speel nie; die kerk moet kyk watter bydrae hulle kan lewer, of dit nou koeksisters of teologie is.
Maar dit gebeur nog te maklik dat vroue subtiel uitgesluit word. Sy noem die voorbeeld van ’n gemeente wat ’n studiekommissie aangestel het om iets oor kinders te ondersoek. In die gemeente was ’n vrou met ’n meestersgraad in maatskaplike werk, maar sy is nie betrek nie. Pleks daarvan het die kommissie bestaan uit mans sonder enige agtergrond oor die saak.
Dreyer is egter huiwerig om kwotas as ’n weg na ’n oplossing van die probleem te bepleit. Die pad wat gestap moet word, is volgens haar dié van bewuswording.
Kwotas kan mense bewus maak van ’n saak, maar dit kan ook ’n teenreaksie wek. ’n Spontane proses neem ongelukkig langer.
Sy wil ’n groter bewuswording in die kerk sien van die bydraes wat vroue kan lewer. Dit beteken nie dat alle tannies wat tot dusver koeksisters gebak het, moet ophou nie, maar wel dat hulle ’n keuse moet hê.
Want, sê sy, as jy vroue in ’n blik probeer druk, rig jy skade aan.
(Uit Beeld, 8 April 1999.)
DAWID WAS ’N DIGTER
(T.T. Cloete)
“Dit was ’n digterlike avontuur,” sê prof. T.T. Cloete in die sitkamer van sy huis in Potchefstroom.
Hy was die afgelope tien jaar besig met die omdigting van die 150 psalms vir ’n nuwe Afrikaanse kerkliedbundel wat volgende jaar verskyn. Nou is sy werk min of meer afgehandel.
Hy plaas die proses teen die agtergrond van die breë literêre verwysingsraamwerk wat hy oor ’n leeftyd van 75 jaar opgebou het.
“Jy weet, ons dweep met die Griekse poësie en ons dweep met die Latynse poësie, maar ons vergeet van die Hebreeuse poësie. Dawid was ’n digter.”
Om die Joodse poësie van Dawid in sy eie taal om te dig, was ’n vreugde, al was dit soms moeilik. Die eindproduk moes aan streng dissiplines voldoen. Dit moes byvoorbeeld getrou bly aan die oorspronklike teks. “Jy kan nie soos ’n Middeleeuse monnik wat iets oorskryf, jou eie ding gaan bydoen nie,” lag Cloete.
Verder moet die eindproduk goeie, digterlike Afrikaans wees. Die moeilikste was die musikale eise. ’n Teks moet ook singbaar wees. Die woord-toon-verhoudings moet reg wees.
“Maar ek het gehou van die dissipline.” Cloete gesels uitvoerig oor die Joodse poësie waarmee hy gewerk het, oor die eienaardighede daarvan; die parallelismes, herhalings en eiesoortige metafore en aspekte soos klankspel wat verlore gaan as iets in ’n ander taal omgesit word.
Soos telkens in die gesprek gebruik die digter ’n beeld om dié verlies te beskryf: “As jy ’n vertaalde teks lees, is dit so goed asof jy deur ’n sakdoek soen.” Tussen die lag deur voeg hy vinnig by: “Maar ek wil darem sê jy kan partykeer lekker soen deur ’n sakdoek.”
Die ander beeld wat hy gebruik, is dat dit is soos om jou voete te was terwyl jy sokkies aanhet.
Maar winste is ook moontlik met die verwerking van ander skrywers se tekste. “Ja, daar is van Shakespeare gesê dat hy gesteel het van digters voor hom, maar die baadjie wat hy gesteel het, pas hom beter as die ou van wie hy dit gesteel het.”
Maar Cloete het nie net op vertaalde weergawes van die psalms staatgemaak nie. Op universiteit het hy self Hebreeus I gedoen. Hy wou immers predikant word totdat polio hom in sy eerste jaar platgetrek het.
Sy hande en arms beduie as hy oor die psalms praat. Dit beduie die drie sirkels waarmee Psalm 121 werk, die parabole wat ’n mens in Psalm 8 kry. Psalm 90, die psalm van Moses, is “die Everest van die psalms.” Hy dink ’n oomblik oor die beeld, speel met “die Olimpus van die psalms” en besluit dan op “die Sion van die psalms, as ek dan nou ’n berg moet kies.”
“Psalm 90 is die biografie van elke mens op aarde. Dis wat met elkeen van ons gebeur. Nee, die Joodse psalms is gedigte deur en deur.” Maar, antwoord hy op ’n vraag, die psalms is ook nie deurgaans goeie poësie nie. Daar is party wat “’n bietjie vervelig” is, “bietjie ondigterlik.” Hy vertel van ’n psalm waar die tien plae ter sprake kom. “Daar is nie poësie in die tien plae nie.”
Maar dit is hoe dit gaan met enige oeuvre. “Die hele Van Wyk Louw is nie goed nie. Die hele Opperman is nie goed nie. Mozart kan ook maar sáág, hoor. En Bach ook. Daarom kan jy sê: ‘Ag, Bach!’ of jy kan sê: ‘Music has its charms, except when it’s Brahms!’ Ek is lief vir Brahms, maar g’n kunstenaar … Van Gogh is nie altyd goed nie, Rembrandt ook nie.”
Hy trek dit verder deur. “Alle Mercedes-Benze is nie goed nie. Daar is mense wat ’n Mercedes-Benz koop en dis ’n flaw.”
Maar die avontuur het ook ’n geestelike kant gehad, “want ek het gevind dit dek ons totale menslikheid.” Daar is sonde, daar is heiligheid, daar is berou en daar is opstand, daar is pleidooie en daar is bakleiery met God in die psalms. (Cloete val homself in die rede om te vertel hoe