Saartjie Omnibus 3. Bettie Naudé

Saartjie Omnibus 3 - Bettie Naudé


Скачать книгу
ction>

      

      Saartjie

      Omnibus 3

      Saartjie se papegaai

      Saartjie se held

      Saartjie se geveg

      Bettie Naudé

      Human & Rousseau

      Voorwoord

      Dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis teen die kant van die heuwel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Op ’n helder, sonnige dag kan ’n mens vanuit Saartjie se venster op die boonste verdieping Johannesburg se wolkekrabbers sien.

      Lynnekom word as ’n voorstad van Johannesburg beskou, maar dit is ’n stil plekkie met ’n tipies plattelandse atmosfeer. Al die inwoners ken mekaar en kom goed oor die weg.

      Op die oomblik is die hele vallei in ’n sagte, rooi skynsel gehul. Dit is skemer – ’n tyd van vrede.

      Maar skielik word die stilte verbreek deur ’n klavier wat hard in dokter Baumann se huis gespeel word. ’n Opgewekte deuntjie weerklink deur die buurt.

      Dan begin iemand sing. Dis ’n pragtige, suiwer stem.

      Menige inwoners se voete begin op maat van die vrolike musiek tik. Hulle glimlag en sê met ’n teer kyk in die oë: “Dié Saartjie … Ai, dié Saartjie …”

Saartjie se papegaai icon_07ssepapegaai.jpg

      1

      Die belangrike brief

      “Saartjie!”

      “Pappa?”

      Die dertienjarige Saartjie Baumann kom soos blits by die trap af. Sy spring van die sesde trap af tot onder op die vloer. Dan hardloop sy na die sitkamer van waar haar pa geroep het.

      “Ja, Pappa?”

      Sy staan voor haar pa en ma wat elkeen in ’n leunstoel sit.

      Dokter Jan Baumann laat sak sy koerant.

      Mevrou Martha Baumann hou op brei. Kopskuddend sê sy: “Saartjie, hoeveel keer moet ek nóg vir jou sê om nie soos ’n wilde barbaar by die trap af te hardloop nie?”

      “Dis nie wild nie, Mamma,” antwoord Saartjie verbaas. “Ek het maar net gehardloop en so bietjie gespring …” en dan vervolg sy half skuldig: “net van die sesde trap af.”

      Saartjie besluit om liewer nie te sê dat sy vroeër vandag probeer het om haar rekord te verbeter en amper haar nek gebreek het nie! Sy het van die sewende trap af probeer spring, maar ongelukkig bly haar rekord vir eers die sesde een.

      Jan Baumann kyk glimlaggend na sy dogter. Hy sien die gesonde blos op haar wange, haar donker krulhare en haar helderblou oë. Saartjie staan nou soet en glimlag, asof botter nie in haar mond kan smelt nie. Haar pa sien haar spierwit tande en die kuiltjies in haar wange. Saartjie is regtigwaar ’n pragtige, gesonde jong meisie, maar ai, só ’n rabbedoe!

      “Pappa het my geroep?” sê-vra sy.

      “Ja, maar ek wonder hoekom jy so vinnig gekom het? Gewoonlik moet ’n mens mos twee, drie keer roep. Ek wonder wat jy wil hê …”

      “En hoeveel dit gaan kos?” voeg haar ma glimlaggend by.

      “Ek weet nie waarvan Pappa en Mamma praat nie,” sê sy uit die veld geslaan. Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar hare.

      “Pappa het my geroep, en toe het ek dadelik gekom.”

      “Soos dit ’n goeie dogter betaam, nè,” sê haar ma sag.

      “Dis reg, Mamma,” sê Saartjie en voeg vroom by: “soos dit ’n goeie dogter betaam.”

      Jan Baumann en sy vrou kyk geamuseerd na mekaar. Saartjie is gewoonlik maar baie traag om te kom as hulle haar roep, want sy is bang sy moet die een of ander werkie vir hulle doen. Maar vandag het sy blitsig en dadelik gekom. Hulle wonder wat hul dogter wil hê.

      “Wel, hier is ek nou, Pappa,” sê Saartjie onskuldig. “Wat kan ek vir Pappa doen?”

      “Jy kan hierdie brief gou vir my gaan pos.” Dokter Baumann gee vir haar ’n koevert. “Dis ’n baie belangrike brief.”

      “Goed, Pappa,” sê Saartjie. “Is daar nóg iets wat ek kan doen?”

      “Nee, niks verder nie.” Haar pa skud sy kop en loer agterdogtig na Saartjie. Hy wonder wat is dit wat sy wil hê.

      “En Mamma – kan ek iets vir Mamma doen?” wil Saartjie nou weet.

      Martha Baumann skud haar kop. Nee, Saartjie kan niks vir haar doen nie. Sy kyk haar dogter agterdogtig aan.

      “Nou dan sal ek maar gou die brief gaan pos,” sê sy. “As Mamma of Pappa enige ander werkie vir my het om te doen – sê maar net.”

      Die ouers kyk weer verbaas na hul dogter.

      “Jy voel nie miskien siek nie?” vra haar ma.

      “Nee, Mamma.” Saartjie skud haar kop. Sy voel nie siek nie. Sy voel maar net lus om haar ouers te help. Sy hou mos daarvan om vir hulle allerhande werkies hier by die huis rond te doen.

      Sy sê dit vir hulle met ’n vroom gesig.

      Hulle kan hul ore nie glo nie. Toe Saartjie met die brief in haar hand vinnig by die huis uit is, sit hulle hieroor en dink.

      “Een ding is seker,” sê Jan Baumann toe hy weer sy koerant optel, “Saartjie is nou skielik so gewillig om te help omdat sy iets van ons wil hê. Sy sal natuurlik later, wanneer sy dink sy het nou lank genoeg ’n goeie indruk gemaak, met haar versoek vorendag kom.”

      Martha Baumann stem saam.

      “Ek wonder wat dit kan wees,” sê sy en voeg effens sugtend by: “Ai, dié Saartjie tog.”

      Saartjie hardloop met die brief by die tuinpaadjie af hek toe. Haar lang, bruingebrande bene vlieg oor die aarde. Die wind speel in haar gesig. Dis darem lekker om te lewe, dink sy. En dit sal nog lekkerder wees as sy haar ouers kan oorreed om haar saam met Anna met vakansie te laat gaan! Sy sal die volgende dae eers baie mooi lewe en soet wees – en dán sal sy hulle vra. Dan sal sy hulle mos daarop kan wys dat sy ’n soet en voorbeeldige meisie is en miskien sal hulle haar dan saam met Anna en dié se pa laat gaan.

      By die tuinhekkie gaan staan sy stil. Die sypaadjie is van die hekkie af met betonblokke geplavei. Dit is Saartjie se selfopgelegde taak om altyd van die een betonblok na die ander te spring sonder om aan ’n gleuf tussen die blokke te raak. As sy op ’n gleuf te lande kom, moet sy weer van voor af begin. Saartjie vee net een keer met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop weg en dan begin sy spring.

      Vinnig en sekuur hop sy van die een blok na die ander.

      Net een keer, naby die einde van die plaveisel, kom sy tot stilstand. Sy loer af na haar voete. Haar regterskoen se punt raak amper aan ’n gleuf.

      “Amper maar nog nie stamper nie,” sug Saartjie verlig en hop weer verder. Sy spring nou nie so vinnig nie en maak seker dat sy nie eens naby ’n gleuf te lande kom nie.

      Sonder enige probleme – sy hoef gelukkig nie weer van voor af te begin nie – kom Saartjie by die einde van die betonplaveisel.

      Sy hou die brief – die belangrike brief – nog styf in haar hand vas.

      Net langs Saartjie-hulle in die Johannesburgse voorstad Lynnekom woon die Strydoms. Anna Strydom is Saartjie se ouderdom en hulle twee is al maats vandat hulle eers agterdogtig en toe vriendelik uit hul kinderwaentjies vir mekaar geloer het.

      Saartjie en Anna het saam grootgeword. Hulle was saam op laerskool hier in Lynnekom en is daarna saam na die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad. Hulle is albei in graad agt en sit, soos hul hele skoolloopbaan tot dusver toe nog, langs mekaar.

      Die


Скачать книгу