Judaskus. Rudie van Rensburg
die boek, maar kry nie waarna hy soek nie. Die tweede boek, Die Ossewabrandwag – Stormjare, is dun en in ’n swak toestand, die buiteblad hang aan ’n paar garings en baie van die vergeelde binneblaaie is los. Die boekie is in 1953 gedruk en uitgegee deur Boerenasie-uitgewers. Tot sy verbasing is daar wel agterin ’n naamregister. Sy hart klop vinniger toe hy sien daar is op bladsy 48 oor Daniel Knobel geskryf. Die paar paragrawe bevestig mevrou Knobel se storie oor die spoorlyn en die interneringskamp.
Kassie kyk vlugtig na die prys van die boek, besluit dan dis hopeloos te duur vir sy doeleindes. Sy kredietkaart gaan kreun as hy nóg tweehonderd-en-vyftig rand daarop moet laai, en Daniels sal ’n koronêr skiet as hy dit probeer terugeis van die polisie. Hy was juis dikbek oor die rit Hermanus toe. “Ons begroting is in sy moer in,” het hy gemor, maar darem toestemming gegee.
Kassie haal ’n notaboekie uit en skryf die name neer van die vyf mans wat saam met Knobel op 17 Junie 1942 die spoorlyn naby Laingsburg opgeblaas het.
• • •
Victor glimlag toe hy die boek oopslaan en sy ouma se netjiese drukskrif sien. Sy het kortverhale vir tydskrifte geskryf, en sy het een liefdesroman gepubliseer gekry. Dit moet nog hier iewers in ’n boekrak staan.
Sy ma het gesê die eerste twee inskrywings is in die vorm van ’n roman. Sy ouma het nie direk na sy oupa verwys nie, maar die gebeure net beskryf asof dit ’n storie is.
Hy gaan lê op sy bed en strek hom behaaglik uit voor hy begin lees.
17 Junie 1942
Die ses mans se gejaagde asems maak wit pluime in die swart Karoo-nag toe hulle vervaard wegskarrel, wetende die lont is kort na die vyf dinamietkerse onder die spoorstawe. Hulle duik in agter die sementdamwal, hulle hande styf oor hulle ore geklem en hulle gesigte teenaan die grond gedruk. Met oopgesperde neusvleuels en ingehoue asems wag hulle op die groot knal.
’n Onheilspellende stilte volg. Die tyd tik moeisaam verby en hulle wonder of iets verkeerd geloop het. Eksteen kom stadig orent om oor die damwal te loer. Dan word die nag verlig, die ontploffing is oorverdowend. Die geweld van die slag ruk Eksteen van sy voete af en hy val hard op die naat van sy rug. Klein klippertjies reën op hulle, maar hulle lag uitbundig … van verligting én oor die wete dat hul sending suksesvol was. Almal kom met breë glimlagte orent. Hulle ore suis terwyl hulle hand skud en mekaar uitgelate op die blaaie klop.
Louw se bariton-stem weergalm in die oopte van die Karoo-veld. “As ek omdraai, skiet my. As ek val, wreek my. As ek storm, volg my!”
Die ander herhaal: “As ek storm, volg my!”
Moller se regterarm skiet met ’n gebalde vuis voor hom uit. “Sieg Heil!”
Die ander koor agterna: “Sieg!”
Hulle hardloop in ’n groep terug na die spoorlyn. Met hulle flitse verlig hulle die toneel van verwoesting. ’n Donker gat in die grond begroet hulle waar die spoorlyn eens was, die spoorstawe rondom gestrooi asof dit deur ’n groot hand opgetel en in bondeltjies verfrommel is. Almal praat en lag gelyktydig.
“Ons sal nóú moet wegkom. Hulle sou die slag op Laingsburg kon hoor,” maan Moller skielik.
“Wel, hulle het ’n paar myl om af te lê voor hulle hier gaan uitkom,” sê Eksteen. “Teen daardie tyd is ons al lankal op die grootpad Kaap toe.”
“Onthou, hulle patrolleer die spoorlyn. Dalk is hulle nader as wat ons dink,” sê Wagner.
Sy woorde spoor die ander aan om hulself weg te skeur van hul handewerk. Hulle besluit om die volgende dag hul triomf met oorgawe te gaan vier in ’n Kaapse hotel. Te midde van onderlinge kwinkslae hardloop hulle in ’n oostelike rigting van die spoorlyn weg, verby die dam na ’n plaat bome.
Die lenige 18-jarige Knobel is die jongste en vinnigste van die groep. Hy is eerste by die Ford en hy sien dit ook eerste raak. Sy gesig is in afgryse vertrek toe hy die ander met ’n skril stem inlig: “Ons het groot probleme, kêrels! Die bliksemse voorwiel is pap!”
Die mans bondel uitasem saam om die Ford.
“Ons het dit waaragtig nie nou nodig nie,” brom Wagner.
“Dit help nie om paniekerig te raak nie, manne, kom ons ruil dit net so vinnig as moontlik om,” sê Moller dringend.
Carelse sluit die kattebak oop en lig die spaarwiel uit. Eksteen neem die domkrag en moersleutel en gaan sit plat op die grond langs die Ford. Hy swets toe hy sukkel om die domkrag op die klipperige terrein staan te maak. Carelse en Eksteen werk in stilte, hul vingers koud en dom in die bytende Karoo-winternag.
“Ligte! Ek sien ligte aankom!” sê Eksteen en wys met ’n vinger in ’n noordelike rigting.
“Sit af die flitse,” beveel Moller kalm. “Ons sal nou maar net moet hoop en bid hulle sien ons nie. Hulle sal hopelik afbeweeg langs die spoorlyn.”
Hulle bondel in die motor in en tuur met ingehoue asems na die ligte wat meteens ontstellend naby aan hulle is. “Dit is meer as een voertuig,” sê Louw.
Toe die ligte in hulle rigting skyn, duik hulle af. Hulle wag gespanne terwyl die gedreun van voertuie onheilspellend nader kom.
“Hulle het dieselfde paadjie as ons geneem,” fluister Eksteen. “Hulle gaan ons hier kry. Moet ons nie uitspring en hardloop nie?”
“Waarheen?” vra Wagner. “Hulle gaan ons net soos springhase jag.”
“Dis te laat,” sê Moller toe die kajuit van die Ford verlig word.
Hulle kom soos verskrikte meerkatte in gelid orent, sien hoe twee polisievoertuie weerskante van die Ford stilhou. Vyf polisiemanne, rewolwers en flitse in hul hande, kom dreigend aangestap.
“Klim uit!” bulder ’n stem. “En hou jul hande omhoog, anders skiet ons.”
Een vir een klim hulle uit: die breedgeskouerde Moller, die skraal Eksteen, die gesette Wagner, die gespierde Louw, die breë Carelse en die lang Knobel. Geen teken van die behaaglikheid van vroeër is meer op hul verslae gesigte te bespeur nie. Hulle hou hul hande gedweë omhoog, hulle oomblik van glorie nou net ’n nare droom.
’n Sersant met ’n welige snor en boepens beduie in die rigting van die spoorlyn. Hy praat dringend.
“Konstabel Wessels, gaan kyk jy watse skade die donners aangerig het en kom rapporteer terug. Jy en Nel sal dan Laingsburg toe moet ry om die stasiemeester te gaan waarsku. Daar is ’n Johannesburgse goederetrein op pad Kaapse hawe toe met voorraad vir ons soldate in die Noorde.” Hy kyk op sy sakhorlosie. “En die tyd is nie aan ons kant nie … oor bietjie minder as ’n uur kom die trein hier verby.”
Terwyl die konstabel haastig na die spoorlyn ry, stap ’n polisieman om die Ford en skyn met sy flits in die kattebak wat steeds oopstaan. Hy buk en haal iets uit, bestudeer dit in die lig van sy flits.
“Sersant, kyk hier,” sê hy, “net soos ons vermoed het. Dis ’n klomp Stormjaers van die Ossewabrandwag.” Hy oorhandig die pamflet aan die sersant. “Daar lê hordes van die goed in die bak.”
Carelse wil iets sê, maar Moller beduie hy moet stilbly.
Die sersant kyk vlugtig na die pamflet. “Gmf,” snork hy, “bleddie Nazi-propaganda.”
Hy kyk onder ruie wenkbroue deur na die groepie mans, sê dan in ’n emosiebelaaide stem met ’n snor wat liggies bewe: “Suid-Afrika is saam met die Geallieerdes in ’n oorlog teen Duitsland gewikkel. Julle is saboteurs, landsverraaiers.” Hy spoeg op die grond. “Julle is niks anders as ’n spul Iskariotte nie!”
Victor maak die boek versigtig toe. Hy staan op en sit dit terug in die onderste laai van die lessenaar. Dit klink soos ’n regte roman. Hy wil nie te vinnig daaraan lees nie.
Hy het tyd nodig om sy gedagtes te orden en hom te staal vir dit wat nog gaan kom.
14
Encrypted message (Hushmail service)