Die lente kom weer. Christine le Roux
ction>
CHRISTINE LE ROUX
Die lente kom weer
HUMAN & ROUSSEAU
Hoofstuk 1
Frans Fourie sit onvergenoeg agter sy lessenaar en stoot die papiere op die tafelblad rond. Die oggendson skyn oor sy skouer by die venster agter hom in, maar hy geniet dit nie. Hy stoot die leerhouer vol spelde en skuifspelde van links na regs, manipuleer die vel kladpapier tot dit haaks is – al gebruik hy dit nooit nie – en druk toe vieserig die knoppie wat sy sekretaresse in kennis moet stel dat hy haar benodig. ’n Lang ruk gebeur niks nie en toe die deur uiteindelik op ’n skrefie oopgaan, is dit nie die bekwame mevrou Nel se gesig wat hy sien nie, maar dié van ’n verskrikte bossiekopmeisietjie.
“Waar is mevrou Nel?” vra Frans kwaad.
“Ek weet nie, meneer. Sy is nie vanoggend hier nie.”
“Het sy iets laat weet? Het sy gebel? Wat gaan tog vanoggend hier aan?” Hy vee geïrriteerd deur sy dik, donkerbruin hare.
“Nee, meneer.”
“Nee, wát?”
“Sy het niks laat weet nie, meneer.”
“O,” sê hy sarkasties. “Jy het nie dalk daaraan gedink om haar by die huis te bel en uit te vind wat gebeur het nie? Of moet ek die hele oggend hier sit en wag op iemand? Ek weet julle reken ek het nie eintlik veel werk om te doen nie, maar julle het dit mis.”
Die bossiekopmeisietjie knip haar oë ’n slag en lek oor haar lippe. “Ek sal haar bel, meneer.”
“Dankie,” sê hy oordrewe hoflik. “En sal jy my asseblief dadelik laat weet wat aangaan?”
“Ja, meneer. Seker, meneer.”
Frans trommel nog ’n ruk lank met sy vingers op die tafelblad, maar gelukkig lui sy telefoon en die volgende uur word hy so besig gehou dat hy tydelik vergeet van sy irritasie. Dis eers toe hy weer kyk na die lêer voor hom en die hope werk wat op sy sekretaresse wag dat sy irritasie terugkeer. Net voor hy sy vinger weer op die knoppie kan druk, is daar ’n ligte klop aan die deur en ’n meisie kom binne.
Sy kyk nie reguit na hom nie en hou ’n dik lêer in haar hand. Sy is langerig en skraal en foutloos aangetrek, haar donker hare netjies in haar nek vasgebind en die ronde silweroorkrabbetjies haar enigste juwele.
“Goeiemôre,” sê sy en steek ’n slank, goed versorgde hand na hom uit. “Ek is juffrou Nel. My tante sal nie beskikbaar wees vir die volgende maand of twee nie en sy het my in haar plek gestuur. Ek was reeds by die personeelafdeling en alles is gereël. Ek is jammer dat ek nou eers hier aankom, maar dit het alles langer geduur as wat ek gereken het.”
“Inderdaad,” sê Frans. “Mag ek vra waar mevrou Nel is, of is dit ook ’n geheim?”
“Sy is siek,” sê die meisie en sit die lêer op sy lessenaar neer. “Hier is die werk wat sy tuis voltooi het.” Sy gaan sit op die stoel oorkant hom en hou haar notaboek gemaklik op haar knie. “Ek is gereed,” sê sy en kyk vraend na hom.
“Siek?” vra hy. “Sy het Vrydag nog niks makeer nie.”
“Nee, dis waar. Dit het skielik gebeur. Die dokter het haar verbied om terug te keer kantoor toe – sy wóú, as dit u beter sal laat voel. Hy reken sy is oorwerk en totaal uitgeput, maar selfs tóé wou sy nie kopgee nie. Dit is slegs om haar onthalwe dat ek aangebied het om in haar plek te kom werk.”
“So?” sê hy en sy koue grys oë kyk haar deurborend aan. “En hoe weet ek dat jy wel haar werk kan doen?”
“Ek kán,” sê sy onverstoord en rammel haar kwalifikasies af.
“Indrukwekkend,” sê hy en knik. “En hoe was dit moontlik dat jy op so ’n kort kennisgewing kon oorneem? Wil jy vir my sê so ’n hoogs gekwalifiseerde mens soos jy het sonder werk gesit?”
Sy sug en tik die pen op die palm van haar hand asof sy met ’n moeilike kind te doen het. “Ek het onbepaalde verlof by my vorige werk geneem sodat ek na die baba kon kyk … Sal ons nou begin? Ek was onder die indruk dat u geweldig baie werk het en ongeduldig was om te begin.”
Hy staar na haar asof hy sy ore nie kan glo nie. Het dié goedversorgde, hooghartige vroumens ’n baba? Hy vee weer ’n slag oor sy hare en besluit dat sy werknemers se persoonlike lewe niks met hom te doen het nie en dat hy inderdaad baie werk het om af te handel. Hy leun derhalwe terug in sy stoel en begin dikteer en ná ’n uur of twee moet hy erken dat hy tevrede is. Hy het vas geglo dat geduldige ou mevrou Nel die enigste mens is met wie hy kan werk, maar hy moet toegee dat haar niggie flink en vinnig en bekwaam is.
“Is dit al?” vra sy toe hy klaar is.
“Ja.”
Sy klap die notaboekie toe en staan op. Sy praat nie weer met hom nie en hy kyk haar wrewelrig agterna totdat sy die deur saggies agter haar toemaak.
Vir middagete gaan hy en sy kollega en beste vriend, Ben, na die klein restaurantjie waar hulle elke middaguur deurbring. Ben is ’n goedige, effens gesette man met ’n vriendelike, openhartige gesig. Hy en Frans was saam op universiteit en het daarna met min geld as vennote die maatskappy begin. Die eerste jare was moeilik en hulle het swaargekry, maar toe die besigheid op dreef was, kon hulle begin ontspan en die lewe geniet. Ben het getrou met sy universiteitsnooientjie en hulle het reeds twee kinders en ’n mooi huis met ’n swembad. Hy het lankal ophou neul aan sy vriend om in sy voetspore te volg en al wat hy nou doen, is om tydig en ontydig vir Frans te vertel hoe lekker dit is om saans huis toe te gaan na ’n wagtende vrou, ’n warm, gekookte maaltyd, ’n hond wat by jou voete kom lê en kinders met wie jy kan speel.
“Man,” sê hy nou terwyl hulle die spyskaarte bestudeer asof hulle nie buitendien weet presies wat daarop staan nie. “Elsa het gisteraand die heerlikste skaapbredie gekook. Ek lek nou nog my lippe af. Sy wou weet wanneer jy dan weer ’n slag kom inloer – ons het jou lank laas gesien. Jy weet tog jy is altyd welkom en soos Elsa ook sê: dis seker maar eensaam in jou woonstel.”
Frans glimlag verdraagsaam. “Nee, dit is nie. Ons het al hoeveel keer hieroor gepraat. Ek gun jou jou lekker huis en gesin – waarom torring jy altyd aan my om my lewenswyse te verander?”
“Ons word nie jonger nie,” sê Ben en breek ’n warm broodrolletjie oop.
“Dis seker so, ja.”
“En om daar in die lug te sit en afkyk op die wêreld, kan jou nie goed doen nie.” Ben verwys na Frans se dakwoonstel op die vyftiende verdieping van ’n woonstelgebou. Hy voel altyd ’n bietjie meerderwaardig wanneer hy daar kom, want hy met sy uitgestrekte tuin kan nie help om te lag vir die daktuin wat Frans met soveel moeite aan die gang hou nie. “Ieder geval,” verander hy die gesprek tot sy vriend se verligting. “Ek hoor jou mevrou Nel het meteens siek geraak?”
“Ja. Sy is skynbaar oorwerk.”
Ben lag en skud sy kop. “Ek kan dit goed glo. Slawedrywer, dís wat jy is. En nou? Ek hoor sy het ’n plaasvervanger gestuur.”
“Ja. ’n Niggie.”
“En?”
“Sy lyk asof sy kan werk.”
“Is dit al wat jy kan sê?” lag Ben. “Geen wonder die meisies noem jou die Beer nie.”
“Die Beer?” Frans hou op met kou en kyk sy vriend geskok aan.
“O ja,” kom Ben se gemoedelike antwoord. “My bynaam is Teddie en joune: die Beer. Het jy dit nog nooit gehoor nie? Dis nogal raak gesê, as jy doodeerlik wil wees.” Hy haal sy skouers op. “Ek lyk seker soos ’n teddie, dik en gemaklik. En jy gedra jou moontlik soos ’n beer, of hoe sê ek nou?”
Frans stoot sy kos rond soos hy die oggend die papiere op sy lessenaar rondgeskuif het. “Ek vind dit vermetel van die meisies. Bloot omdat ek hoë eise stel en verwag dat hulle hulle gedra en nie in die gange staan en giggel nie, is geen rede om byname te begin gee nie. Die meeste van hulle kom net kantoor toe om met die ander te sit en gesels en skindernuus uit te ruil. Ek duld dit nie en jy weet dit. Ons het hard gewerk om die firma op te bou – jy weet dit tog ook