Grenslose liefde. Malene Breytenbach
Grenslose liefde
Malene Breytenbach
Hartklop
1
Carly loop tussen die ry vaal tente deur na die kantoortent van die Médecins Sans Frontières, of Dokters Sonder Grense, in die vlugtelingkamp. Na ure van inspuitings gee, verbande aansit, beserings behandel, kinders ondersoek, troos en paai, is sy so uitgeput dat sy skaars op haar voete kan staan. Sy moet nou tee met baie suiker drink en iets eet, anders val sy sekerlik flou. Die tou mense waarmee sy gewerk het, was so lank dat sy die einde daarvan nie kon sien nie. Al die ontworteldes in die kamp is uiters hulpbehoewend.
Dit het gereën, en die grond is modderig. Sy probeer die plasse mistrap. Haar skoene is al gekoek van die modder en haar wit verpleegstersuniform vuil. Al lyk sy sleg en is sy moeg, ervaar sy darem die tevredenheid dat sy dié dag baie siek, moedelose en getraumatiseerde mense gehelp het.
Sy spring oor ’n plas water, maar verloor haar balans en gaan sit hard in die modder. Mense kom uit alle rigtings aangehardloop om haar op te help, maar sterk hande vat haar reeds van agter af onder haar arms en lig haar op.
“Now you’ve had a proper mud bath,” terg ’n stem met ’n sweem van ’n Skotse aksent.
Sy draai om. Die blouste oë wat sy nog ooit gesien het, kyk laggend na haar. Die man is langer as sy, met voshare. Hy is lenig met breë skouers en dra ’n doktersjas. Sy glimlag wys perfekte wit tande. Carly is so verstom oor dié verskynsel in die kamp waar almal moeg en afgemat lyk van swaarkry en te hard werk dat sy hom net oopmond kan aangaap.
“Hallo, ek is Colin Mackenzie,” stel hy hom in Engels voor. “En jy is?”
Sy kry haar stem terug en antwoord ook in Engels: “Verpleegster Carly O’Neill. Dankie dat jy my opgehelp het. My voete het eenvoudig onder my uitgegly.”
Sy vat aan haar papnat sitvlak. “Ek lyk seker vreeslik.”
“Nee wat, net vuil.” Die hunk glimlag weer. “Ek moet aanmeld by die personeeltent. Was jy ook op pad soontoe?”
“Ja, ek is nogal dors. Ek wou juis gaan tee en toebroodjies kry.”
“Jy kan my wys waar dit is.”
Sy loop langs hom, uiters bewus van sy verstommende voorkoms, sy lang treë en van hoe hy mense wat hulle teëkom, glimlaggend groet. Hoe almal met verbasing en ontsag na hom staar.
By die tent kom een van die ander dokters, ’n jong vrou met die naam Tracy Stevens, na hom aangeloop. “Colin! I’m so glad you have arrived at last.” Haar oë blink en sy steek albei hande na hom uit. “Ons het die dienste van ’n psigiater baie nodig.”
O, so dan is dié man, wat lyk soos ’n model wat verdwaal het op pad na ’n shoot, al die tyd die psigiater waarvan die ander met ontsag gepraat het en wat eers van Zimbabwe af moes vlieg. Sy kan haar oë amper nie van hom wegskeur nie, maar met wilskrag hou sy haar koel en loop van hom af weg na waar sy vir haar tee en toebroodjies kry. Die ander mense wat daar is, koek om hom asof hy beroemd is. Tracy Stevens hou glad sy arm vas, met ’n besitlike houding wat Carly meteens onverklaarbaar irriteer.
Dokter John Small kom na haar toe. “Ek soek ook tee. Ons twee het vanoggend ’n lang sessie agter die rug.”
Hy vryf liggies oor haar sitvlak. “Wat op aarde het met jou gebeur?”
Sy beweeg weg van hom af. “Ek het in die modder neergesloeg.”
Dit maak haar vies dat hy so voorbarig is om sommer voor almal aan haar agterstewe te vat. Hy is nie onaantreklik nie en redelik gesog onder die ander vroue, maar hy teiken sowaar vir haar wat nie werklik belangstel in iets ernstiger as blote vriendskap nie. Daar is nie sprake van die vibe wat daar tussen twee verliefdes behoort te wees nie.
Mooi mans is net te geneig om ydel te wees. Kyk nou net vir daardie dokter Colin Mackenzie. Kyk hoe geniet hy die aandag. Toor met die vroumense.
Sy moet versigtig wees om nie soos ’n hulpelose vlieg in so ’n spinnekop se web te beland nie. By die vlugtelingkamp is daar ná die xenofobiese aanvalle ernstige werk om te doen. Hier is nie regtig tyd vir verhoudings aanknoop met die teenoorgestelde geslag nie.
Tracy Stevens bring die psigiater na die teetafel. “Jy is seker honger en dors.”
“Nogal, maar ek het darem iets op die vliegtuig geëet.”
Sy beduie na ’n stoel. Hy gaan sit en sy bedien hom met tee en ’n bordjie toebroodjies. Gaan sit met haar eie koppie tee langs hom. “Vertel my hoe dit in Zimbabwe gaan.”
“Nie juis beter as hier nie as ek die saak so beskou. Ek hoor julle het meer as drie duisend mense hier in die Chatsworth-kamp gehad.”
“Die meeste van die Zimbabwiërs, Malawiërs en Mosambiekers is gerepatrieer,” sê Tracy. “Die oorblywendes is meesal van Burundi en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Maar jy weet hulle wil nie teruggaan na hulle oorloggeteisterde lande nie.”
“Nee, die arme mense verduur seker liewer die xenofobiese aanvalle op hulle hier. Dis so jammer dat hulle tussen die hamer en die aambeeld moet lewe.”
Carly sit naby hulle en kan nie anders as om die gesprek te hoor nie. Die té aantreklike psigiater lyk en praat simpatiek. Sy wonder waarom hy dié soort werk doen. Miskien voel hy geroepe om met die mees weerlose mense te werk. Nes sy, hoewel sy in dié stadium taamlik uitgebrand voel.
“Jy moenie in nat klere rondsit nie.”
Carly kyk verbaas op van haar tee en sien hy hou haar dop. “Nee, ek sal gaan verklee. Ek het darem nou ’n uur vry.”
Tracy Stevens kyk fronsend na haar. “Waarvan praat julle?”
“Dokter Mackenzie het my uit die modder opgetel toe ek geval het.”
“Hoekom is jy dan so lomp?” vra Tracy.
Carly haal haar skouers op.
Die dokter kyk egter met geligte wenkbroue na Tracy. “Ag nee, Tracy, enigeen kan gly in die modder wat ek hier gesien het. Die kamp is in ’n haglike toestand.”
Carly is verbaas. Die man het haar sowaar verdedig.
“O’Neill is ’n Ierse van,” sê hy. “Maar jy klink nie Iers nie, al lyk jy soos die tipiese Ier met blou oë en donker hare.”
“My oupa het van County Tyrone gekom, maar met ’n Afrikaanse vrou getrou. My pa het ook met ’n Afrikaanse vrou getrou. Dis maar my oupa se gene wat die deurslag gee.” Sy staan op. “Verskoon my, ek moet ’n skoon uniform gaan aantrek.”
Toe dink sy aan iets, en draai terug na die psigiater. “Daar is iemand wat jou hulp dringend nodig het. Hy is op die punt om ’n ineenstorting te kry.”
Dokter Mackenzie sit sy tee neer. “Wie is dit?”
“Sy naam is Roger Kirumba. Hy het lankal uit die DRK gevlug en ’n klein besigheid begin. ’n Massa mense het hom aangeval, vreeslik geslaan en sy onderneming geplunder. Hy moes hierheen vlug. Sy arm en ribbes is gebreek en hy is vreeslik in die gesig geslaan. Sy oë was omtrent toegeswel toe hy hier aankom, maar dis nie die uiterlike beserings wat die ergste is nie, dis die trauma. Kan ek hom vandag nog na jou toe bring?”
“Hy moet sy beurt afwag,” sê Tracy. “Daar is baie mense wat hulp nodig het.”
Dokter Mackenzie steur hom egter nie aan haar nie. “Bring hom oor ’n uur na my in die tent langsaan. Ek sal kyk wat ek kan doen.”
“Dankie, dokter.” Weer verbaas hy haar.
Carly kry vir Roger Kirumba voor ’n tent waar hy moedeloos op ’n krat sit, sy een arm in ’n hangverband en nog ’n verband om sy kop. Sy klere en skoene is vuil, en hy sit belangeloos in die niet en tuur. Toe hy haar sien aankom, glimlag hy egter, al lyk dit gedwonge.
“Good day, Nurse.”
“Hello Roger, come with me,” sê sy en sit ’n hand op sy skouer. “Daar is ’n dokter wat jy moet spreek.”
Hy staan moeisaam